En almal het nie lank en gelukkig saamgelewe nie

FAUX PAS IN DIE WYNLAND

En almal het nie lank en gelukkig saamgelewe nie

Die boekuitgewer NADIA GOETHAM betrag ’n voorval by die pas afgelope Franschhoekse Literêre Fees – 'n voorval wat haar laat twyfel oor haar besluit om die fees by te woon.



GEMAK, in al sy vorms, is ’n moet wanneer jy ’n boekfees bywoon. Enige fees eintlik. Dis Vrydag 17 Mei en dag een van die Franschhoekse Literêre Fees (FLF) in die Wynland van die Kaap. Dis my eerste besoek aan hierdie langverwagte jaarlikse geleentheid in die Suid-Afrikaanse boekwêreld.
Ek neem my lyf se gemak heel ernstig op en dra ’n los langbroek, ’n lang, los top en bont serp teen die byt in die lug. Aan my voete is amper uitgetrapte tekkies waarmee ek lekker vinnig tussen paneelbesprekings kan beweeg in die uitvoering van my take as uitgewer.
As die stadsaal in die hoofstraat die FLF se brein is, is die Green Room, in ’n gastehuis ’n blok weg van die stadsaal, sy hart. Hier kom skrywers, uitgewers, paneelleiers en almal op soek na ’n gratis glas bymekaar om te rus, te gesels of hopelik nuwe boektransaksies te beding. Hoe minder ’n mens sê oor die eetgoed hier, hoe beter. Ek probeer hou by die ordentlike filterkoffie en die aarbeiskons sonder die room en dan sien ek uit na ’n koue glas rosé aan die einde van die dag.
Ek het pas een van ons skrywers oorgelaat aan haar bewonderaars wat ná haar paneelbespreking om haar en haar reisboek kom kloek. Ek is op pad na die Green Room en loop vas in ’n voormalige kollega wat weg is by ons maatskappy toe sy en haar gesin Kaapstad toe verhuis het.
Ons is in die middel van ons gesprek en sy het my pas aan haar dogter voorgestel toe ’n ouerige wit vrou my geesdriftig op die regterskouer slaan en uitroep: “BlackBird Books! BlackBird Books! Ek is so bly om jou weer te sien!”
Ek is baie lief vir my suster-vriendin en mede-uitgewerskameraad Thabiso Mahlape, die eienaar van BlackBird Books. Dis ’n druknaam van Jacana Media, waar ek ’n uitgewer is. Ek en Thabiso bekla ons lot en besing ons suksesse gewoonlik met ’n bord goeie kos en dawerende lagbuie. Ek het ’n helse respek en diep, diep liefde vir haar en haar vermoë om ’n goeie swart (Suid-) Afrikaanse storie raak te sien en om onbekende skrywers se drome te bewaarheid.
Die faux pas
Maar een ding is seker, behalwe ons liefde vir stysel, boeke, die dryfkrag om geld te maak om ons geliefdes te versorg en dalk ons aansienlike borste en boude, lyk ons glad nie na mekaar nie. Daar is geen manier wat hierdie ouer vrou my kan aansien vir Thabiso of andersom nie, veral as jy my van die kant af sien met my geskeerde kop wat nou deels bedek is met lang, swart sintetiese vlegsels. (Ons kan ’n ander keer praat oor Coloureds wat swart haarstyle approprieer!)
Ek draai weg van my ekskollega, kyk die vrou in haar oë en vra beleef: “Verskoon my?”
Sy borrel behoorlik: “Ek’s so bly om jou weer te sien, Thabiso ... so bly ... Dis ek, Jenny!”
Ek besef sy misgis haar en laat dit verbygaan. Kyk, die meeste van die tyd is ek ook nie goed met gesigte uitken nie, so ek aanvaar sy besef nie sy maak ’n fout nie.
Maar ek sal jok as ek nie sê dat ek effens geïrriteerd is toe ek terugdraai na my ekskollega nie en my oë, wat reeds klein getrek het, vernou. Ek draai weer na ene Jenny en sê miskien effens te afgemete: “Ek is nie Thabiso nie. Ek is nie BlackBird Books nie, maar ek sal vir haar sê jy sê hallo.”
‘Julle lyk almal dieselfde’
Ek bly kyk vir haar en dit voel vir my ek is nou in Jenny se brein, wat nou in hoogste versnelling is. Die ratte draai, want sy weet sy het ’n fout begaan – ’n fout wat enigeen, ook my, kon oorkom.
Om een of ander rede wys paniek in haar oë, ’n tikkie berou flits oor haar gesig, maar dan keer die selfvertroue terug en nog ’n faux pas volg: “Jy weet, net soos julle mense ons daarvan beskuldig dat ons almal dieselfde lyk, net so lyk julle almal dieselfde.” Ek kan net aflei sy praat van bruin en swart mense.
Ja, Jenny, ons lyk almal dieselfde. Mxm.
Ek draai my hele vol figuur nou na Jenny, stoot my een heup effens uit en kyk haar reguit in die oë terwyl ek voel hoe ’n toornigheid stadig maar baie seker oor my toesak. En ek dink by myself, ai, Jenny, jy moes gestop het in die paniekfase, verskoning gevra en geloop het.
Maar nee ... nou lag sy vir haar eie “grappie” en verwag duidelik ek moet saamlag. Ek beloon haar met ’n moeë, uiters neerbuigende glimlaggie en sê weer: “Ek sal vir Thabiso sê jy het hallo gesê. Dankie.”
Sy vertrek met ’n joviale wuif terwyl my borskas oppof van een of ander emosie, maar sy sal dit nie raaksien nie. Hulle sien niks raak nie (ja, dis my poging tot ’n veralgemenende rassistiese opmerking).
En daar staan ek in Franschhoek. Op die hoek van Kom-Kyk-Self en Jy’s-Gewaarsku. Verslaan.
Die enigste gemaklike ding op hierdie oomblik is die klere aan my lyf en die skoene aan my voete – alles produkte van my keuse met ’n duidelik gedefinieerde resultaat. Gemak. Die uiterste gemak.
Ongemaklike vrae
Maar daar hou dit op. Ek voel hoe ek die geveg betree met my verstand, gees, brein en hart. Jenny se “grappie” bring die vrae terug. Al die vrae wat ek myself en my kollegas gevra het voor ek finaal besluit het om die FLF by te woon, dwarrel deur my kop:
’n Skynbaar onbenullige voorval, maar is dit hoekom ek bang was om na die FLF te kom?
Is dit die gedrag waarteen swart stemme uit vorige jare ons gewaarsku het?
Behoort ek standpunt in te neem en te weier om deel te wees van dié fees omdat iemand my onvermydelik sal beledig en sal wegstap met ’n skouerophaling en ’n laggie?
Behoort ek hierdie ruimte te infiltreer en dit my eie te maak ... net om herinner te word dat ek ’n besoeker is?
Is ek bang om te assimileer en vrees ek waarop ek sal afkom in hierdie enklave van bevoorregting en sal ek dan moet kies om dit aan te vat of te verdedig?
Is ek bekommerd oor my bywoning terwyl die mans en vroue van wie ek kom, in die omringende wingerde werk om die wyn te help maak wat ek gaan drink ná ’n lang dag waartydens ek my siel verryk het met poësie en prosa?
Is ek reeds verleë oor die bruin kelnerin wat my middagete gaan bedien voor ek my weer haas na die volgende paneelbespreking met skrywers wat ons swaarkry fiksionaliseer en ons liggaam en gees antropologiseer?
Innerlike stryd
Die stryd in my is presies dit: ’n stryd diep binne my. Ek kan nie praat namens enige ander bruin of swart mens wat die FLF bywoon, hier werk of hieraan deelneem nie. Ja, soms is daar ’n veelseggende blik tussen my en ons swart skrywers wanneer ’n wit gehoorlid hulle komplimenteer met hul perfekte elokusie. Ja, ek knik my kop instemmend of grinnik saam met ’n mede- swart uitgewer wanneer ons weet die boek wat so geprys word, moes eerder deur ’n swart skrywer vertel gewees het.
Die vrae hier bo oor my stryd bly draal ’n week ná die fees. Ek herbesoek die gevoelens, die situasies, die ervarings en ek praat dit deur met vriende, familie en eweknieë.
Toe ek vir ’n vriend vertel ek gaan hierdie meningstuk skryf en weet nie mooi hoe om dit wat ek by die FLF beleef het te verwoord nie, het hy gesê: “Moenie rassisties wees nie. Moenie ’n Coloured wees nie. Wees ’n wêreldburger.”
My antwoord, effens geparafraseer, was: “Ek is ’n Coloured wat identifiseer as swart, want dis wat ek sal wees as ek op enige ander plek in die wêreld is. Swart.” Die helderheid waarmee ek hom geantwoord het, hou my hoopvol en op die regte pad.
So as die feit dat ek die ongemak van my lyf, my verstand, my brein en my hart uitwys soos wat dit deur wit bevoorregting en die duidelike gebrek aan transformasie by die FLF of enige ander ruimtes veroorsaak is, van my ’n Coloured maak, ’n moeilike vrou, ’n uitgewer met ’n agenda om die landskap te transformeer, laat dit so wees.
Ek is die eerste wat sal erken dat die besluit om die FLF te besoek, hoofsaaklik ’n sakebesluit was. Ek het skrywers na wie ek moet kyk. Ek het boeke om te verkoop. Ek het ’n werkgewer wat verwag dat ek die maatskappy verteenwoordig.
Maar ek kan en sal nie wegskram van die feit dat al die gehore by vanjaar se FLF so lelieblank soos Jenny was nie. Of die feit dat die swart paneelleiers óf ad nauseam hergebruik word óf geroteer word om plek te maak vir die nuutste held of heldin pleks daarvan om die poel van swart deelnemers te laat groei om te verseker die FLF word meer verteenwoordigend van Suid-Afrika se demografie en sy leserspubliek nie.
En daardie ou storie dat swart mense nie lees nie en daarom moet ons die gehore wat wel lees, behaag ... Kom ons verwerp dit met die minagting wat dit verdien. Kom ons fokus eerder daarop om boeke meer bekostigbaar te maak, meer toeganklik vir swart gemeenskappe en om die narratiewe meer verteenwoordigend te maak van die meerderheid Suid-Afrikaners.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.