Afrikaans: Hoe om die Laakbare Lesufi hok te slaan

VOORWAARTS!

Afrikaans: Hoe om die Laakbare Lesufi hok te slaan

Suid-Afrika het ʼn sentrum vir veeltaligheid nodig, skryf HANS PIENAAR. Sodat swart tale op dieselfde model as Afrikaans uitgebou kan word. Die taal moet ont-identifiseer word. En Afrikaanse mense moet die geveg om veeltaligheid aan die gang sit.


DIT lyk vir my Sy Laakbare Lesufi gaan man-alleen ’n nuwe fase in die Afrikaanse taalstryd inlui. Sy uitsprake oor Afrikaans is onaanvaarbaar, onkonstitusioneel, grens aan haatspraak en getuig van diep onkunde oor die gebied waaroor hy heers: opvoeding in Gauteng. Maar ons kan spoeg en spring en hartaanvalle kry; een feit staan soos ’n paal: Lesufi is ’n held onder ’n groot groep mense, wie se getalle waarskynlik meer as die moedertaalsprekers in Afrikaans is.
Een groot rede hiervoor is dat hulle, soos hy, Afrikaans sien as sinoniem met apartheid, en daarom met veel wat in hul lewe fout is. En wat hulle sien wanneer AfriForum en die Vryheidsfront Plus optree in wat hierdie twee organisasies beskou as in die belang van Afrikaans, is dieselfde mense wat weerstand bied teen die bietjie wat die ANC vir hulle doen: grondhervorming, swart ekonomiese bemagtiging, korrupsie deur familielede wat soms hul enigste bron van hulp is …
Ek skryf egter nie hierdie artikel om gal te braak oor regse groeperinge nie. ’n Ewe sterk feit is dat hierdie organisasies daar is. Hulle het ’n groot klomp Afrikaanse mense gemobiliseer.
En die redes vir hierdie mobilisering is dikwels emosioneel verstaanbaar, as reaksies van burgers wat net menslik is op soms traumatiese gebeure in hul lewe: plaasmoorde, diskriminasie in hul werk, veiligheid, korrupsie wat besig is om die land te vernietig …
Trojaanse Perd
Ek het myself nog altyd as ’n taalstryder gesien, al in die dae toe ek by UDF-organisasies ingeskakel het. Een van die redes wat my beweeg het om saam met sielsgenote soos Max du Preez aan ’n Afrikaanse anti-apartheidpublikasie te begin dink, was die behandeling wat ek as vryskut by die Weekly Mail gekry het: Kort nadat my en Hein Willemse se Die Trojaanse Perd deur die polisie verbied is, het ek die boek na die redakteur, Anton Harber, geneem, wat dit op sy lessenaar gesmyt en uitgeroep het: “What the fuck must I do with this?”
Ek is deel van die Gelyke Kanse-groepering oor Afrikaans by Universiteit Stellenbosch nadat ek in vroeër jare al by ondersteuningsgroepe aangesluit het. Ek het al etlike artikels hieroor geskryf en my dikwels as skrywer op verhoë ten gunste van minstens twee Afrikaanse universiteite uitgespreek.
Waarom hierdie aanhef skryf? Want nes nie-Afrikaanse mense Afrikaans profileer soos ek hierbo skryf, neem te veel regse Afrikaanssprekendes aan dat jy anti-Afrikaans is as jy jou teen AfriForum of die VF Plus (of selfs Steve Hofmeyr) uitspreek. Dit doen Afrikaans net nog meer skade aan as wat hierdie organisasies reeds doen.Hoe moet ons dan oor taal dink? Een van die probleme is dat vir ’n land met 11 amptelike tale, en vele meer dialekte, daar so min taalkundiges of taalfilosowe is. Voeg daarby die gebrekkige insette van die regering en die Potemkin-dorpe wat sy taalinstellings is, en dis geen wonder nie dat houdings oor taal op stereotipes gegrond is, en deesdae op sosialemedia-histerie. Aan alle kante.As ek enige sê oor die saak het, sal ek enige instelling ’n debat aan die gang laat sit oor die kwessie van taal en identiteit. Want die verdelings en vooroordele hierbo genoem is duidelik ’n uitloper van die identiteitspolitiek wat tans die wêreld oorheers en gesorg het dat die ANC weer aan die bewind gekom het ten spyte van ’n misdadige regeringsrekord.Derrida en ‘différance’Want taal en identiteit is nie dieselfde nie; inteendeel, ’n mens sou kon redeneer dat hulle aan teenoorgestelde pole staan. ’n Eienskap wat feitlik alle filosofiese rigtings in die 20ste eeu gemeen gehad het, was om die verglydende aard van taal te probeer hanteer. Ferdinand de Saussure het die grondslag gelê deur te wys hoe die verbande tussen simbool en ding en klank heeltemal aribitrêr is, Jacques Derrida het die idee van “différance” ingebring, en Ludwig Wittgenstein en J.L. Austin het gewys hoe die betekenis van woorde afhang van hoe hulle gebruik word.’n Mens hoef egter nie akademies te raak nie: Neem bloot jou naaste tweetalige woordeboek (Frans, Engels, Nederlands, maak nie saak nie) en volg enige woord se betekenis oor en weer in die twee afdelings na. Jy sal ná net enkele sulke stappe vind dat die laaste woord aansienlik van die eerste verskil.Identiteit daarenteen, gaan daaroor om simbole te vind vir sake wat almal gemeen het. Een van die illusies wat mense het, is dat taal genoeg is om hierdie identiteit vas te lê. Dit is ’n illusie, want taal kan nie vasgepen word nie, soos ons gesien het. Van buite af word die illusie bevestig deur stereotipes (hierdie boere klink almal dieselfde), maar van binne is verskille so groot dat pogings om taal as identiteit te gebruik uit die staanspoor gepaard gaan met beskuldigings van afvalligheid en onsuiwerheid (almal wat nie van Steve Hofmeyr hou nie, is libtards).Etniese identiteitDinge loop skeef wanneer hierdie illusie dan op mense afgedwing word, soms met geweld, meer dikwels met emosionele dwang. Dit word gereïfiseer (verdinglik), soos Steve en Kie. maak as hulle die ou Suid-Afrikaanse vlag probeer gelykstel aan ’n sekere gefabriseerde etniese identiteit wat ander se negatiewe belewenis daarvan ontken. Sulke gedwonge simbole se dinglikheid maak hulle leweloos en dus nutteloos sodra hulle buite die klein omvang van ’n konsert, ’n skoolsaal, ’n kerk of ’n kroeg beweeg – dink maar aan die totale verveling wanneer jy “Die Stem” op skool moes sing.Dit is dus die eerste uitdaging wat voorlê: Hoe gaan ons Afrikaans ont-identifiseer? Dit sal help as AfriForum en Kie. net hulle bekke hou oor Afrikaans, maar so iets is onrealisties.Een baan wat reeds gevolg word, met wisselende sukses, is om die Afrikaanse taalstryd te sien as deel van ’n veel groter taalstryd: om alle minderheidstale se regte te bevorder. Die probleem is dat kolonialisme en apartheid veroorsaak het dat daar ’n reusagtige gaping is tussen die ongemoderniseerde swart tale en ’Engels, die taal van ekonomie, kultuur en tegnologie.
Swart tale is nie genoegsaam gestandaardiseer nie; die standaardisering wat wel daar is, is besmet met die tuislandvlek. Omdat taal nie ’n bron van identiteit kan wees nie, bestaan daar ook nie “natuurlike standaardisering” nie, en gebruik veral stedelike mense swart tale in ’n mengelmoes wat plesierig is en ’n wêreld skep wat heeltemal uniek is. Die gevolg is die houding: As jy dan nou wel ’n standaardtaal onder die knie móét kry, waarom nie Engels nie? Dan hoef jy ook nie af te sien van jou mengeltaal nie.
Waarom, inderdaad, moet ’n mens ’n taal geleer word, soos Lesufi vra?
Die ander groot kenmerk van taal wat nie altyd op die voorgrond gebring word nie, is dat dit ’n universum is. Maar dis ’n universum met gate, soos Wittgenstein in die eerste iterasie van sy taalfilosofie gewys het. Dit kom veral na vore met vertaling: Jy kan nie sommer die Afrikaanse woord “sommer” met die Engels “just because” vervang nie. Eweseer kan jy nie die New Yorkse “Know what I’m sayin” goedsmoeds vertaal met: “Jy moet liewer in jou spoor trap” nie.
Daar is net enkele mense met genoeg taalintelligensie om werklik hierdie gate te vul, deur die skryf of skepping van gedigte, verhale, advertensies, goeie joernalistiek. Dit beteken dat net enkele mense wat ’n tweede taal moet aanleer – soos ons almal moet maak met Engels, want Engels is onontbeerlik vir enigiemand in die Westerse wêreldsfeer – dit so goed kan doen dat hulle met moedertaalsprekers van Engels kan meeding.
Vul die gate met veeltaligheid
Maar omdat alle tale universums is, kan alle tale enigiets wat in ander tale gedoen kan word, ook aanpak. Mense wat wiskunde in Estlands geleer het, het al die Nobelprys gewen; dieselfde kan gebeur met iemand wat wiskunde in Afrikaans of Venda leer. ’n Ander manier om die gate in jou taal te vul, is dus deur ander tale aan te leer.
Ons as Afrikaanssprekendes doen dit feitlik elke sekonde wanneer ons Engelse woorde soos “nice” of “song” of “love” in gesprekke of ons gedagtes gebruik: Ek love daai nice song oor die taalstruggle.
Veeltaligheid is dus ’n enorme aanwins – ʼn ware intellektuele hulpbron – maar dis ook al ou nuus. Daarmee saam moet ons oor ’n derde aspek van taal dink: sy of haar onvoltooidheid. Soos die Engels dit beter uitdruk: It’s a work in progress.
Afrikaans is ’n mengeling van universums, en ons het nog lank nie die einde daarvan gesien nie. Die bewys is daar vir almal om te sien: die Woordeboek van die Afrikaanse Taal wat vasgehaak het by die een of ander letter (ek kan nie eens onthou watter een nie).
Al hierdie dinge kan dien as argumente in die taalstryd, en word wel in die een of ander vorm gebruik. Maar die uitdaging is om iets daadwerkliks reg te kry, om die Laakbare Lesufi’s hok te slaan, se angels te trek. Ál mag wat ons het, nou dat rede kennelik nie wil seëvier nie, is dié van die verbeelding, veral die politieke verbeelding waarmee Afrikaanse mense skynbaar so ryklik bedeeld is.
Dit is duidelik dat Afrikaanse mense die geveg om veeltaligheid self aan die gang moet sit. Maar die houding moet nie wees om instansies te skep as front vir die Afrikaanse taalstryd nie. Dit moet gaan om Afrikaans self te verbeter, om ons Suid-Afrikaanse multiversums uit te bou en diensbaar vir almal te maak en om die gevare van identiteitspolitiek te oorkom.
Een moontlikheid is om hulp aan Lesufi aan te bied. Skoolrade kan onderneem om skole met swart tale te deel, of om minstens onderwysers in swart tale in diens te neem en/of in townshipskole te plaas en/of by Afrikaanse skole te plaas. Afrikaanse organisasies kan onderneem om tekste in swart tale te vertaal. Natuurlik sal dit geld kos, maar AfriForum of die Afrikanerbond kan mos help. Ek is seker daar is reeds sulke inisiatiewe; ek staan nie in die onderwys nie en kan dus nie sê wat alles gebeur en wat alles moontlik is nie.
Myns insiens, teen die agtergrond van bogenoemde, is daar egter ’n basiese denkfout wanneer dit by taalbeleid op alle vlakke kom. Omdat dit so op opvoeding en ontwikkeling gerig is, val argumente dikwels vas in ’n paradigma van die tydsduur vir opvoeding in die moedertaal. Die debat gaan oor watter standerd die laaste is waarin onderrig in die moedertaal moet geskied – dis ’n onder-na-bo-benadering.
Ek wil ’n bo-na-onder-werkwyse bepleit. Om die staat te probeer betrek is ’n mors van tyd. Die ANC is ’n neokoloniale formasie wat Engels gebruik om nuwe skeidslyne tussen ’n stadselite en die res te trek, ’n nuwe taalgebaseerde apartheid. Die ANC verlaat homself op identiteitspolitiek, dit beoog ’n allesverswelgende swart nasionalisme, en is eintlik ’n geesgenoot van organisasies soos AfriForum. Hulle is soos bakleiende broers, soos Kain en Abel.
Maar die Grondwet stel ons in staat om ons eie instellings te skep. Wat nodig is, is ’n sentrum vir veeltaligheid wat haar daarop toespits om swart tale uit te bou op dieselfde model as Afrikaans. Die ideaal moet wees om dit te koppel aan eenhede by universiteite wat hulle op hul beurt laat lei deur regionale omstandighede om hul werk in die taal van daardie gebied te doen.
Die werk sal gerig wees op die standaardisering van ’n taal in ’n bepaalde gebied, die skep van terminologie, produksie van boeke en die opleiding van onderwysers met die oog op die uiteindelike instelling van onderwyserkolleges in ’n bepaalde taal. Natuurlik is dit ’n langtermynprojek en geld gaan nodig wees, en dus tog hulp van die staat. Maar die hoop sal wees dat plaaslike amptenare sal inkoop in sulke projekte en geld daarheen kan herlei. ’n Mens kan ook dink aan hulp van organisasies soos die Verenigde Nasies se kultuureenhede.
Die betrokkenheid van universiteite sal ’n hoofgegewe wees. Dis eintlik voor die hand liggend: ’n Universum soos ’n taal kan net gehuisves word in ’n instelling gerig op universums, soos ’n universiteit.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.