Hoe skandalig! Ons breek brood eerder as baklei

GENADEDAAD

Hoe skandalig! Ons breek brood eerder as baklei

Die breek van die vas aan die einde van die heilige maand van Ramadan is onlangs by die Wynberg-sinagoge deur Jode en Moslems gevier. Met ’n Christen as spreker. JONATHAN JANSEN vertel hierdie verhaal van versoening.

Image: 123RF/SMILEUS

GENADE is altyd, wel, so half skandalig. En daar is min plekke op aarde waar Christene, Jode en Moslems op so ’n openbare en intense manier saam sal brood breek.

Die Joodse gemeenskap het die Moslem-gemeenskap gevra om saam met hulle die vas te breek in die heilige maand van Ramadan. Op hul beurt sou hulle weer by hul Joodse broers en susters aansluit vir die vrolike vier van Shabbat. En tussen hierdie twee seremonies deur sou ’n Christen met almal gesels oor genade.

‘Genade bevind hom altyd op skandalige grond, het ek die gehoor vertel.’

Eers het ek dié unieke gebeurtenis vir ’n oomblik betrag; sy globale betekenis in hierdie moeilike, stormagtige tye. En dis toe ek hoendervleis en ’n knop in die keel kry. Want hierdie is waaroor ek altyd gedroom het vir ons land: brood breek en gemeenskap eerder as baklei.

Genade bevind hom altyd op skandalige grond, het ek die gehoor vertel. In die raamwerk van die dodelike skietery in ’n Pittsburgh-sinagoge waarin 11 Jode gesterf het en sewe beseer is, en die bomontploffings by die twee moskees in Christchurch in Nieu-Seeland, waar 51 dood en 50 beseer is, was hierdie bymekaarkom van gelowe by die Wynberg Shul ’n magtige stelling in moeilike tye. Dis was verder ’n diepgaande genadedaad en sou dus sekerlik as kontroversieel beskou word in die onderskeie godsdienste se gemeenskappe.

Hierdie was geen ortodokse sinagoge nie. Een van die rabbi’s beskryf homself as ’n progressiewe Jood. Ek het al meer konserwatiewe sinagoges besoek en hierdie een was anders – die vroue het voorgesing, en het ook van die gebede gelei en aan die gemengde gehoor verduidelik wat hulle besig was om te sing en te sê. Die geleentheid was lewendig, en daar was verskeie jong mense asook jong gesinne in die gehoor.

Ek is seker van die ortodokse Jode sou iets te sê gehad het oor hierdie skandalige viering. So ook sou die leiers van die Open Mosque sware kritiek moes verduur en selfs gedreig word deur hoofstroom-Moslem-gelowiges. Hierdie uitreiking na die Joodse gemeenskap was in die konteks van die nimmereindigende krisisse in die Midde-Ooste – en spesifiek die behandeling van die Palestyne deur die staat van Israel – nie aanvaarbaar nie.

Ruimhartige geloof

In een van hulle pamflette maak die Open Mosque dit duidelik: Ons verskil miskien fundamenteel oor die Palestynse krisis, maar dit gee ons redes om gemeenskaplike terrein te soek en om op hierdie manier juis nié brûe te verbrand tussen Moslems en Jode nie. Daardie soort ruimhartige geloof sou sonder twyfel swaar kritiek van ander Moslems ontlok. Genade is immers skandelik.

‘Christelike geskrifte is vol stories van skandalige genade.’

In my kort boodskap het ek die gehoor herinner hoe ons pogings om wit Vrystaatse studente en swart werkers wat hulle op die mees laakbare, rassistiese wyse behandel het te versoen, twee reaksies ontlok het. Die een was die ondersteuning, gelei deur emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, en dan een van verdoeming vir hierdie genadedaad, waar die werkers die studente in die openbaar vergewe het.

Christelike geskrifte is vol stories van skandalige genade. Toe die Joodse Jesus brood gebreek het saam met ’n Samaritaanse vrou by ’n openbare waterput, was dit skandalig om verskeie redes, insluitende die feit dat hulle uit twee verskillende rasse afkomstig was. Baie Christene mis ook heeltemal die punt van die storie van die sogenaamde “Barmhartige Samaritaan”,  wat weer ’n verhaal van veelrassige heling vertel, waar die “heiden” die aangerande (vermoedelik Joodse) man langs die pad help. Skandalig van begin tot einde!

Pyn en rou

Wat by die Wynberg-sinagoge gebeur het, kon nie op ’n meer kritiese tyd in ons geskiedenis gebeur het nie. Waar ek nou in die Stellenbosse wynlandstreek woon, kan mens dié week die pyn en die rou oor die dorp heen aanvoel. ’n Groep swart mans het by ’n dinee ingestap en ’n boer doodgeskiet voor sy (swart) vrou, waarna hulle vort is sonder om iets te steel.

‘Soos in Zimbabwe is die misdadigers losgelaat om hul eie ding te doen terwyl die owerhede weggekyk het.’

Hierdie was die rasgedrewe teregstelling van ’n man wat nie sy privaat eiendom wou oorgee aan mense wat die oproep van sekere van ons onverskillige politici gehoor het om gesteelde land terug te vat nie. Soos in Zimbabwe is die misdadigers losgelaat om hul eie ding te doen terwyl die owerhede weggekyk het.

Hierdie afgryslike verhaal, soos dié van nog ’n vermoedelike ras-teregstelling van twee jong wit mense wie se voertuig sonder brandstof gaan staan het op die Putfontein-pad naby Benoni verlede week, het soos ’n veldbrand in die internasionale media versprei. “Wat het geword van die president se Nuwe Daeraad?” vra baie van ons medeburgers van oor die hele land.

Tydens hierdie intergodsdienstige bymekaarkoms is die jongspan uitgenooi om na ’n ander vertrek te gaan vir die kinderdiens. Ek het toegekyk terwyl die Joodse kinders agter die jeugleier met die kitaar aangehuppel het deur ’n sydeur. En toe, ’n oomblik wat die hart warm laat klop het: ’n Moslem-man het sy twee jong kinders se hande geneem en hulle deur dieselfde deur gelei om ook te deel in die gesamentlike broodbreek van geloof.

Daar is wel ’n ander pad uit ons moeilikhede uit.

• Hierdie rubriek het eers in ons susterspublikasie TimesLive verskyn.


NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!


X