BROLLOKS & BITTERGAL | Ikarus Magashule, Lindiwe se...

DIE SKINDERBEKKE

BROLLOKS & BITTERGAL | Ikarus Magashule, Lindiwe se slopemmers en Bathabile se koeterwaals

Ace Magashule is hierdie week uiteindelik deur die ANC in die bek geruk en Brolloks en Bittergal voorspel dat sy vlerke nóg korter geknip gaan word. Kameraad Lindiwe se emmersvol beloftes maak min indruk, Bathabile Dlamini se bisarre bedankingsbrief laat ons huil én lag en die jintelman-premier van die Noord-Kaap is 'n voorbeeld in nederigheid.

  • 14 Junie 2019
  • Vrye Denker
  • 7 min om te lees
  • artikel 4 van 25
Ikarus
Ikarus
Image: 123RF/HOIKA MIKHAIL

DIE Griekse meester-ambagsman Daedalus wou van die Griekse eiland Kreta ontsnap waar hy deur koning Minos gevange gehou is. Hy het vir hom en sy seun Ikarus vlerke gemaak wat met byewas aanmekaar gesit is en van die eiland af gevlieg. Maar Ikarus was windgat en het teen sy pa se raad in al hoër gevlieg. Toe smelt die son die was en die arme drommel stort in die see neer.

Ace Magashule, wat Cyril Ramaphosa se voorkeur-kandidaat vir sekretaris-generaal, Senzo Mchunu, by die ANC-leierskapverkiesing in Desember 2017 met net 24 stemme (uit meer as 4 000) geklop het, was die laaste agtien maande baie seker van homself.

Hy het skaars 'n maand na die ANC se Nasrec-konferensie by 'n vergadering aan van sy volgelinge gesê hulle moet ontspan, “ons gaan die ANC binnekort terugvat”.

Hy het sy ondermyning van Ramaphosa met toenemende arrogansie voortgesit met half-verskuilde kritiek op hom (sonder om ooit sy naam te noem), met sy gekonkel om sy faksie se ondersteuners hoog op die ANC se kandidatelys vir die verkiesing te kry en deur enkele dae voor die verkiesing op 8 Mei te beweer dat “die staat” se werktuie gebruik word om hom en mense soos hy in die ANC te monitor en te agtervolg.

Cyril Ramaphosa en Ace Magashule wens mekaar geluk ná die verkiesing by die ANC se Nasrec-konferensie in Desember verlede jaar.
BETER DAE ... Cyril Ramaphosa en Ace Magashule wens mekaar geluk ná die verkiesing by die ANC se Nasrec-konferensie in Desember verlede jaar.
Image: SIMPHIWE NKWALI

Magashule is nooit in die bek geruk nie. Prominente lede van die ANC-terugvegbende soos Carl Niehaus, Tony Yengeni, Mzwandile Masina en Andile Lungisa het hom deurentyd op sosiale media in sy kwaad gesterk.

Ace het begin dink hy is onaantasbaar en het ál hoër begin vlieg. Hy is uitgevang waar hy 'n terugveg-kajuitraad saam met Jacob Zuma en Supra Mahumapelo in KZN bygewoon het.

Hy het met Zuma se gebedsgroepie, die SA Council of Messianic Churches, begin heul en dit het tot die stigting van die African Transformation Movement (ATM) gelei. (Ontevredenes in dié kerkgroep het self met die inligting na die ANC toe gegaan.)

Die ATM moes die ANC se steun in veral KZN afwater sodat Ramaphosa die skuld daarvoor kry, en die ou Gupta-handperd Jimmy Manyi is ook betrek. Ongelukkig vir hulle het die ATM toe net 0,44% van die stem kon trek.

Net ná die verkiesingsuitslag raak Ace toe in 'n bekgeveg met Fikile Mbalula betrokke oor die rol wat Ramaphosa in die verkiesing gespeel het. Mbalula het gesê Ramaphosa was 'n “game changer”, waarop Ace geantwoord het dat die uitslag niks met persoonlikhede te make gehad het nie.

Laasweek het Ace toe nóg nader aan die son gevlieg toe hy na die nasionale uitvoerende komitee se lekgotla die besluite “aangepas” het om populistiese ekonomiese eise in te sluit. Die rand het in een dag met 4% geval en die minister van finansies, die goewerneur van die Reserwebank en die presidensie self moes vinnig vure doodslaan.

‘Ace se vlerke het nog nie afgeval nie, maar die byewas wat dit aanmekaar hou, het begin smelt.’

Die party se dagbestuur het daarop besluit dat sy sekretaris-generaal nie weer oor sake rakende die ekonomie mag praat nie en dat dit die domein vir die hoof van ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, is.

Alle amptelike verklarings van die party moet ook voortaan deur die presidensie goedgekeur word.

Ace het versuim om in sy nuuskonferensie na die lekgotla te sê dat daar besluit is dat 'n paneel van oud-president Kgalema Motlanthe en Frene Ginwala sy betrokkenheid by die stigting van ATM moet ondersoek.

Dit is 'n ernstige oortreding vir 'n partylid om 'n ander politieke party by te staan. As Motlanthe en Ginwala hom skuldig vind, kan hy selfs uit die party geskop word – soos wat 'n paar jaar gelede met Julius Malema gebeur het.

Ace se vlerke het nog nie afgeval nie, maar die byewas wat dit aanmekaar hou, het begin smelt.

Dit is maar die begin van sy probleme. Die nasionale vervolgingsgesag ondersoek onder meer sy rol in die Estina melkplaas-skandaal en die bewering deur 'n gewese Vrystaatse LUK, Mxolisi Dukwana, voor die Zondo-kommissie dat Ace maandelikse betalings van Tony Gupta ontvang het.

Om by die vlerk-metafoor te hou: dan word hy perdalks 'n tronkvoël.

Minister Lindiwe Sisulu
Minister Lindiwe Sisulu
Image: TREVOR SAMPSON

Lindiwe se emmers

Hier is die nuwe minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in 'n aankonding dié week: “Ons sal die stelsel van slopemmers (bucket system) uitwis. Kom vra ons weer oor die stelsel na ses maande.”

Goeie nuus, kameraad minister. Maar vergewe ons sinisme, want ons onthou dat Thabo Mbeki presies dieselfde in 2007 gesê het en jou voorganger dit weer in 2014 herhaal het. Dit is nou 2019. Dieselfde beloftes is die laaste 20 jaar gemaak oor kinders wat in kleihutte of onder bome skoolgaan en daar is nog honderde sulke skole.

Premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul
Premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul
Image: SUNDAY TIMES

Saul die Nederige

Daar is darem goeie nuus komende van die Sesde Administrasie, soos ons sien die Ramaphosa-regering soms na hulself verwys.

Die tesourie het pas nuwe regulasies uitgevaardig wat wil verseker dat munisipaliteite ophou geld mors. Streng beperkinge word geplaas op die gebruik van konsultante, die aankoop van voertuie vir politici, reis- en verblyfkoste, borgskappe, konferensies, studietoere en advertensies. Nou moet ons wag en kyk of dié nuwe regulasies streng toegepas en gemonitor gaan word.

Ons hoop die nuwe premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul, gaan 'n voorbeeld vir alle premiers en burgemeesters word. Hy het 'n verbod op die aankoop van nuwe motors vir senior amptenare geplaas en die geld op broodnodige ambulanse bestee.

Dalk moet die Liewe Cyril self dié boodskap kry en skerp sny aan die begroting vir sy veiligheid. Hy ry steeds rond met 'n konvooi van 11 of 12 duur swart karre asof hy Donald Trump is. Selfs die Britse premier word net deur een motor met lyfwagte en 'n motorfiets vergesel, en daar is 'n bedreiging van terroriste-aanvalle in Brittanje wat ons nie het nie.

Bathabile Dlamini
Bathabile Dlamini
Image: TIMES LIVE

Bathabile se bisarre swanesang

As jy gedink het oudminister Bathabile Dlamini was 'n nasionale verleentheid en 'n charlatan, dan sal haar bedankingsbrief as parlementslid elkeen van jou vooroordele bevestig. Dit is byna ondenkbaar dat iemand wat byna 'n dekade lank ‘n minister was, so 'n absurde, lagwekkende dokument kon skryf.

Die meeste mense onthou net haar manewales oor sosiale toelaes en voor die konstitusionele en ander howe en vergeet dat sy in 2006 al weens bedrog skuldig bevind is omdat sy haar reistoelae gekook het en dat sy in 2017 R2 miljoen moes terugbetaal nadat sy familielede met SASSA-geld laat oppas het.

Die brief is pure koeterwaals (die woordeboek sê dis die Afrikaans vir gobbledygook), vol taal- en spelfoute en sommige sinne is onverstaanbaar. Maar sy laat geen twyfel nie dat sy bankvas in die anti-Ramaphosa-patronaatskapkamp is en mense soos Pravin Gordhan in haar visier het.

Lees byvoorbeeld hier (dit is onvertaalbaar): “I am convinced that our country is far from developing or improving because there are those amongst us that have the support of the media, that have mastered the art of demonising some of us and unfortunately they are seen as very committed, clean and innocent when they have shares in some of these institutions.” (Dit is 'n klaarblyklike verwysing na die EFF se valse propaganda dat Gordhan aandele in banke het.)

Sy stoom voort: “Presently we are all quite (sic) because we are afraid of asking relevant questions. We are afraid of talking about a system that had been taken to another level and was destroying those that behave as if they are defending the country when they are defending monopoly capital.”

Dlamini verwys na die maatskappy waaraan sy as agent vir die lewer van toelaes geklou het, Cash Paymaster Services (dit is verbatim): “When people speak one hears nuisances that I says I had something to do with CPS. Those that made profit through CPS through by their wives are known, but because they are well respected by the organisation. Nothing has been said to them. I have been made a scape goat and an easy target.”

Wat 'n verligting om dié vrou die sonsondergang in te sien stap.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.