Sunnyside: My regmatige plek in Suid-Afrika

'N SUNNYSIDE-DAGBOEK #1

Sunnyside: My regmatige plek in Suid-Afrika

Sunnyside is meer Zoid as Zen, besef hy ná 'n week weg van die familieplaas. Niemand gil van jaloesie as hulle hoor jy trek Sunnyside toe nie. Maar die waarheid is dat dit presies is waar hy wou bly. Al vir lank. GIELIE HOFFMANN vertel hoekom.

  • 14 Junie 2019
  • Vrye Denker
  • 7 min om te lees
  • artikel 15 van 25
  • Gielie Hoffmann
Sunnyside se jakarandas
BLAARDAK ... Sunnyside se jakarandas
Image: GIELIE HOFFMANN

SORRY, Pa, ek moes die plaas verlaat, maar ek mis die diskoligte te veel. 

In Sunnyside maak die inwoners die voëls wakker.

Teen 05:00 is dit 'n volskaalse aanslag op jou sintuie: taxi’s wat blasend hul potensiële gebruikers nader roep, karre wat vinnig wegtrek om die verkeer te probeer vryspring, bure se deure, hekke en kattebakke wat toeklap, en kinders wat die ewige stryd voer teen opstaanwekkers.

Teen 06:00 is daar 'n konstante dreuning soos die laatslapers meter vir meter hul weg oopkruip na die volgende verkeerslig, die snelweg en parkeerterrein nog ver af in die wapad. Die filter waardeur dit alles beskou word, is een van wasem en rook en groen en rooi strale. Die laaste herfsblare hoop op teen die sypaadjies en die leë takke strek hoog hier waar bome nou al eeue lank groei, boontoe, neffens baksteenverdiepings.

En dan, teen 07:00, met die son pas uit, begin jy eers voëls hoor. Die verkeer stabiliseer êrens tussen tweede rat en 'n droë hoes. Die taxi’s se crescendo plat af. Dié wat nou nog nie op die pad is nie, weet hulle moet vir eers wag; die oggendbus is vir eers verby. Probeer liewers môre weer.

Hier kan jy nie wegkruip vir die lewe nie.
IETS VAN ALLES ... Hier kan jy nie wegkruip vir die lewe nie.
Image: GIELIE HOFFMANN

Meer Zoid as Zen

My wakkerword het 'n nuwe gedaante aangeneem: Hier eis die oggendambisies jou aandag reeds op terwyl die nanag-gedagtes nog louwarm sloer. Die binnegesprek is meer Zoid as Zen; 'n talmende tydsaamheid het nou plek gemaak vir 'n deeglike dringendheid.

Vir 'n week is ek nou al weg van die familieplaas. Met een groot treklorrie, drie volgelaaide karre en een aflewering van 'n aankoop het ek die stad ingery. Die aanvanklike pakwerk was sekuur en stewig, die laaste goed los in sakke tot teen die dak opgestapel in my nutsvoertuig. Huis opsit is nie 'n eendagwedstryd nie, weet ek nou. Op my lysie van wat ek nog kort, is my wasgoedmandjie en asblikke wat kordaat staan op hul plekke terug in die huis waar ek grootgeword het. Dalk moet ek hulle maar daar los.

Sunnyside in Pretoria
VER VAN DIE PLAAS ... Sunnyside in Pretoria
Image: GIELIE HOFFMANN

Niemand gil van jaloesie as hulle hoor jy trek Sunnyside toe nie. My opwinding is net geëwenaar deur vriende en kennisse wat reeds hier bly; die res het 'n ordentlike vaagheid in hul oë en stem gekry met die aankondiging. Dit het my in so 'n mate ontstem dat ek begin sê het ek trek Clydesdale toe – net oorkant die Walkerspruit. Of ek gaan nou naby Loftus bly. Of net onderkant Muckleneuk.

‘Elke keer wanneer ek die stad van Centurion se kant af inry en die blaardak en Unisa my begroet, dink ek: Dis die Pretoria waarvoor ek lief is.'

Maar die waarheid is dat ek hier, in Sunnyside, wou bly. Al vir lank. Elke keer wanneer ek die stad van Centurion se kant af inry en die blaardak en Unisa my begroet, dink ek: Dis die Pretoria waarvoor ek lief is. Of as die Gautrain om die draai Pretoria-stasie nader, en dan weer deurdruk Hatfield toe, voel ek of ek in 'n wêreldstad is.

Tydens my studentejare het die wonderlike Lientjie Wessels haar legendariese Li-Bel, nou geslote, oopgemaak op die hoek van Johnston en Jorrison. Hier kon jy op die sypaadjie 'n Bob’s Blend drink, 'n bord kos sonder sy gelyke in die hoofstad eet, en sien hoe 'n Nigeriese model verbystap met 'n wit luislang om haar nek, op pad om gou iets te gaan koop by die groentewinkel. Vir haar.

Daarmee saam bly vriende al jare lank 'n paar blokke weg van hier en elke kuier by hulle het geëindig met: As hier ooit 'n plek oopgaan, laat my weet. Daar was 'n paar amperse trekslae, maar dit het net nooit reg gevoel nie. Vir eers het ek die lewe aanskou, en soms betree, vanaf die rand van die stad.

Om die plaas te verlaat sou ek die regte plek moes kry; iets waar ek kon tuis voel, soos op die plaasstoep. En toe die einste vriende sê hulle het 'n plek in El Sol wat oopgaan, het ek nie twee keer gedink nie. Die instelling staan statig wit op die punt van die straat; onbeskaamd Spaans-Koloniaal, gebou in die middel van die vorige eeu.

Voor ek kon vra wat dit gaan kos, het ek reeds begin droom van 'n bougainvillea wat teen die die muur opkruip. Die opgestapelde huisies staan teenaan mekaar, omring deur die mooiste tuine; 'n oase in die stad. Dit was 'n maklike besluit. Ek het my bokse begin pak. En só word ek 'n boer in beton, begin 'n stadsprokie vir hierdie plaaskind.

El Sol is onbeskaamd Spaans-Koloniaal.
OASE IN DIE STAD ... El Sol is onbeskaamd Spaans-Koloniaal.
Image: GIELIE HOFFMANN

’n Rooi gloed in die voornag

Ek word wakker van 'n rooi gloed buite my venster. Dis nog voornag, maar die krag het vroeër afgegaan en ek is in daardie bedremmelde staat waar my sintuie reeds afgeskakel het. My eerste reaksie is 'n huis brand af. En, omdat dit nog net na tien is, flits daardie beelde van Hillbrow op Oujaarsaand onwillekeurig in my gedagtes rond.

Ek vind my voete en maak die venster oop. En sien my buurman staan en braai op sy balkon. Saam met van ons ander bure. Ek ken hulle nog nie, maar wil oorstap. In die donker, honger koue maak niks meer sin as 'n vuurtjie en 'n vleisie nie. Ek het net nog nie houtskool vir my braaier gekoop nie. Hulle sien my en waai.

Ek waai terug en klim in my bed. Nog 'n vooropgestelde idee bly in die slag. Die buurman sal moet oorkom vir 'n braai.

Die naweek het ek nog 'n eerste beleef: om te stap na 'n kuier. 'n Kennis wat naby my bly, het my oorgenooi vir 'n ete. Ons het gemeenskaplike vriende en ek moet 18:00 daar wees.

Teen 17:50 sit ek al vir 20 minute op my sitkamerbank en wag. Ek is klaar, reg om te gaan, volgens my plaasklok. Waar enige kuier ten minste 30 minute weg was. Maar nou gaan ek hoogstens een minuut stap. Ek hoef nie eers in my kar te klim nie. Of my drankies te tel nie. Of te vroeg ry omdat ek maar skrikkerig is vir die grondpad so laat in die nag nie.

Teen 17:55 stap ek oor. Ek is vroeg. Laatnag stap ek terug huis toe, wawyd wakker. Geselse oor vegetariese kerries, gap-jare in Japan en Finse glasware het my senupunte deurmekaar.  

Op 'n staptog deur Sunnyside lyk alles anders as deur 'n kar se venster.
TUIS ... Op 'n staptog deur Sunnyside lyk alles anders as deur 'n kar se venster.
Image: GIELIE HOFFMANN

Almal is waar hulle moet wees

Teen 08:00 is die geskarrel verby. Staatsdienswerkers is op kantoor. Kinders is by die skool. Akademici is op kampus. Yuppies is by die gim. Entrepreneurs teug aan hulle flat whites terwyl hulle wag vir iemand wat laat is. En kreatiewes skuif agter die tafel in, op soek na húl hersenskim.

Ek besef ek het gesoek na die diversiteit wat Sunnyside is. Gesinne. Enkellopendes. Paartjies. Gay en straight. Wit en swart. Suid-Afrikaans en van elders. Welaf en op die broodlyn.

‘Op die straat kan jy nie wegkruip vir die lewe nie.'

Die Nuwe Ooste, die wêreld anderkant die snelweg, sou nie daardie geïntegreerde lewe vir my bied nie. Ek wou mense ontmoet en daagliks groet wat ek op geen ander manier sou leer ken het nie. Ons eendersheid ontdek en ons andersheid geniet. En, het ek reeds nou gesien, almal is dieselfde as hulle vroegoggend of laataand in hulle slaapklere gou UberEats gaan afhaal by die hek. Honger is universeel.

Hier is natuurlik ook hekke en kontroles en heinings. Dit is deel van die landskap. Dis egter nie die hele storie nie. Ek gaan stap doelbewus elke dag in 'n ander rigting. 'n Paar blokke. Alles lyk anders as deur 'n kar se venster.

Op die straat kan jy nie wegkruip vir die lewe nie. Dis groenteverkopers, karwagte, ou mense, studente en munisipale werkers. Ek, as wit man, is heeltyd oral in die minderheid. Op die plaas was ek in die meerderheid. In die voorstede sou ek ook wees. Maar hier, êrens tussen Clydesdale, Muckleneuk, en ja, Sunnyside, neem ek my regmatige plek in Suid-Afrika in. En ek voel reeds tuis.

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.