Hoe ek aanvaar het ek’s ’n rockspider, ’n Dutchie, 'n boer in beton

ONDER 'N KLIP UITGEBROEI

Hoe ek aanvaar het ek’s ’n rockspider, ’n Dutchie, 'n boer in beton

Taal is soveel meer as net die woorde wat ons praat, en identiteit soveel meer as etnisiteit. ANNELIESE BURGESS vertel hoe sy as student doelbewus 'n Afrikaanse identiteit gekies het om haar te red van 'n verlammende gevoel van minderwaardigheid in die Engelse wêreld waarin sy groot geword het.

Rockspider en gruis
EK PRAAT OOS-KAAPS ... Rockspider en gruis

EK het groot geword op die Oos-Kaapse platteland. Met 'n klomp tale.

Ons het Engels gepraat met Pa en Duits met Ma. Ouma Suzie was 'n bloubloed-Van der Walt van Middelburg. Met haar het ons Afrikaans gepraat. Maar sy was die enigste een. 

Ons het skoolgegaan by die plaaslike skooltjie op Indwe. Dit was dubbel-medium, maar teen die tyd dat ek hoërskool toe is, was ek en my broers min of meer die enigste Engelssprekende kinders oor. Dit was my ma se toedoen – sy het geweier dat ons na een van die Engelse kosskole gestuur word, soos gebruiklik onder (wit) Engelssprekendes in die Oos-Kaap.

Dit is eenvoudig maar hoe dit was; as jy 'n sekere soort Engelssprekende is, stuur jy in 'n stadium jou kinders weg; na die skole waar jou ma en pa en oupa en oupagrootjie ook was (seuns en meisies natuurlik apart). Daar sal jou spruite sistematies geskool word in die ou tradisies van chapel, en fênsie erebaadjies, fanatiese sport, goeie maniere en properse, opregte Engels. 

Die ‘public school’-tradisies

Die Oos-Kaap het 'n indrukwekkende netwerk skole wat diep gewortel is in die ou Britse “public school”-tradisies. Queenstown, King Williamstown, Oos-Londen en Port Elizabeth het almal vooraanstaande staatskole. Dan is daar natuurlik die peperduur privaat skole van Makhanda (Grahamstad), waar generasie ná generasie opgevoed word nie net in akademie en sport nie, maar ook in selfvertroue en meerderwaardigheid.

Die produkte van Queen's College en Girls’ High, Selborne en Clarendon, St Andrew's en Diocesan School for Girls het een ding wat ons gewone ou ploeteraartjies nie gehad het nie, en dit is 'n sin van diepgewortelde meerderwaardigheid wat jou soos oktaan die lewe instoot. Jy het 'n gemaklikheid met die wêreld om jou, jy weet waar jy inpas (iewers daar bó) en 'n gemaklikheid met bevoorregting wat soos 'n mantel om jou skouers vou.

Daardie mantel het baie te doen gehad – en het steeds te doen – met hoe jy jouself definieer in terme van die sosiale rangorde. En, hier in “settler country", in die hoogs abnormale apartheidstyd van die 1980's, het dit destyds 'n groot iets te doen gehad – en ek dink nog steeds – met 'n neerkyk op die “Dutchies", “rockspiders" en “hairy backs".  Ek. Ons. Want tóé al was ek een. Ek het dit net nie besef nie.

Ashwin se woede

Toe Ashwin Willemse in 2015 sy dramatiese aftog geblaas het by SuperSport, was daar iets wat diep in my hart weerklank gevind het. Ek is obviously nie swart nie, maar daar was iets in sy sellulêre woede wat ek instinktief kon verstaan; daardie kan-nie-my-vinger-daarop-sit-nie-trigger wat ontlont word deur iemand se onbewuste meerderwaardigheid, 'n woede wat soos 'n blindheid op jou neerdaal, wat jou verswelg in 'n primordiale gevoel van nie goed genoeg wees nie, wat jou losmaak van rasionaliteit, wat jou meesleur in 'n wil-nie-meer-nie-gatvolgeit waarvan jy net wil weg.

Die eerste keer wat ek dit begin verstaan het, was in my matriekjaar. Ek was een van 50 hoofprefekte wat gekies is om 'n jeugleierskonferensie in die Kaap by te woon. Dit was 'n ding, my (wonderlike) skoolhoof was skoon bewoë toe hy my meedeel het dat ek een van die uitverkorenes was. Maar wat ek meer as enigiets anders onthou, was die verbysterende gevoel van minderwaardigheid wat soos 'n koors uitgeslaan het in die teenwoordigheid van die “properse Engelse" van Queen's College en Rustenburg Girls' High School. 

Ek, die plaasjapie, met my rollende r'e. Dik van tong, ongesofistikeerd, ongemaklik. Dit was my eerste ervaring buite die gemaksone van my klein, plattelandse skool waar ons almal aangetjommel het in ons eendersheid aan die onderpunt van die sosiale rangorde. 

Ek was vlot tweetalig, maar my Engels was 'n dialek – daardie lieflike (dink ek vandag) brousel van Engels, Afrikaans en Xhosa-woorde wat so baie Oos-Kapenaars praat, opgedis in die rollende, gruiserige uitspraak van die streek. (“Stop being such a gwala; we need to gaba the garden; sommer just get on the back of the bakkie ...”)

Dit was my eerste gewaarwording van hoe taal sóveel meer as die somtotaal van sy woorde is. Dat taal ook gemak is, hart is – huis is – maar ook mag, en magteloosheid, en geskiedenis en oerinstink. Dit is wie jy is, maar ook wat jy vir andere is.

Ek, Engelssprekende, was eintlik 'n boer in beton. Ek moes dit net eers begin verstaan.

Etiketlesse

Toe ek Universiteit Stellenbosch toe is in die laaste troebel jare van die 1980's, het my plattelandse minderwaardigheid nog seer-vlak gelê.

My koshuiskamermaat was 'n gesofistikeerde Afrikaanse meisie uit die noordelike voorstede van Johannesburg. Haar pa was 'n advokaat; haar ma 'n voormalige Mej. Matieland, sy't 'n “post-matric" gedoen by Suid-Afrika se über-Engelse privaat skool, St John's. Sy was baie beter toegerus vir die groot wêreld as ek daar uit die gopse.

Sy't geweet van regte parfuum en hoe om 'n wynglas vas te hou en kon small talk maak sonder om te mompel en te bloos. As ons eerstejaars moes aantree in die vierkant sodat die manskoshuise die mooi meisies kon uitkies vir die Mej. Dagbreek- of Mej. Helshoogte-kompetisies (dit was 'n ding in daardie tyd), was sy gewoonlik een van hulle. 

Ek en Tina het 'n plan beraam. My vlegsels en koffer snaakse klere wat my ma vir my gemaak het, was een ding, maar ek het geweet daai roggelende r’e en g's moes waai. Vir my eie beswil.  

Sagter, ronder, platter. Ek het geoefen. Ons het ooreengekom dat as die Oos-Kaaps in 'n ondeurdagte oomblik deurskemer en ek dit nie agterkom nie, sou sy dit uitwys.  My re-education het verder gestrek.  Soos dat mens sááns “dinner" eet. By ons aan huis was middagete “dinner”. Mens is ook nie “sick”,  maar “ill”. “Sick” is naar. Ek het dit nie geweet nie. In die Oos-Kaap is mens sommer net sick.

Shame, Tina het hard probeer om te help. En haar oorlewingsraad bly my byna 30 jaar later steeds by. 

Protes in Afrikaans

Maar daar was iets baie groters aan die gang in die land. Dit was die 1980's. Die land het gebrand. Een noodtoestand ná die ander het die revolusionêre vure in die townships gewelddadig in bedwang gehou. En op Stellenbosch het die skille baie vinnig van my oë afgeval.

Ek kon dinge sien wat ek nie vantevore gesien het nie, en stelselmatig het ek 'n tuiste gevind in die sogenaamde “alternatiewe Afrikaner”-beweging; in politieke aktivisme, 'n nuwe soort musiek en 'n aggressiewe omarming van Afrikaans as 'n taal van opstand en protes. En dit was soos 'n mes wat my losgesny het van die Oos-Kaap se setlaar-rangorde.

Daar was geen fyn sosiale rangorde om te navigeer nie. Dit was cool om alternatief-Afrikaans te wees. Ons het geprotesteer – en gevloek en geskryf – in Afrikaans. Ons het die taal militant vir onsself toegeëien en die Afrikaner-establishment aangevat. In Afrikaans. Ons het gepraat soos ons wou. André Letoit (nou bekend as Koos Kombuis), Johannes Kerkorrel en die ander Voëlvryers het gesing soos hulle wou. Etnies gesproke was daar net Ouma Suzie se bietjie Van Der Walt in my are, maar ek het in daardie jare my identiteit doelbewus gekies. Nie Afrikaner nie. Afrikááns.

Ek en my ma skinder nou nog in Duits. En ek praat vandag nog my Oos-Kaapse Engels met my broers en my ouers en my dogter. En ek roggel soms my r'e en g's. Sommer aspris. Want dis lekker. En ek gee nie eintlik meer 'n hel om nie. 

Die ‘terrible’ aksent

Terug by Ashwin. En twee klein voetnotas oor die kompleksiteit van die ek-is-nie-goed-genoeg-nie wat in jou selle ingebrand is as jy iewers in die ploeter-afdeling van 'n sosiale rangorde grootgeword het. My ou trigger bly maar steeds die slick Engelse ding.

Meer as 'n dekade later is ek die aanbieder van Special Assignment, die SABC se vlagskip vir ondersoekende joernalistiek. Ná my eerste verskyning skryf Robert Kirby 'n bytende resensie in die Mail&Guardian waarin hy my aanvat oor my aksent. Dit is vir hom soos om te luister na 'n “chainsaw", seg hy.  “Just terrible”, onluisterbaar. Sy rillings oor my improper English het van die bladsy afgebloei. 

Nóg 'n dekade later. Ek is nou amper middeljarig. Ek word genooi na my beste vriendin se 40ste verjaarsdag, by haar ouers se herehuis op die Engelse platteland. Al my ou triggers is terug. Hoe om te praat, hoe om small talk te maak; hoe om 'n wynglas reg vas te hou. My alternatiewe Afrikaanse bravade is weg. Ek val terug op Tina se lesse. Ek probeer my r'e in toom hou; my g's afplat. Ek probeer in die algemeen minder praat. Etenstye om die lang eetkamertafel met die damasgordyne en swaar skilderye raak vir my 'n foltering.

Daar is geen Afrikaanses om die edge af te vat nie, net 'n klomp “properse" Engelssprekendes – Britses en Suid-Afrikaanses. Ek kom agter hoe gemaklik hulle is – met mekaar, met die situasie. Hoe hulle net eenvoudig inpas.

Een middag maak een van die Suid-Afrikaners 'n ou grappie: “Oh my gosh, Anneliese, you are such an old rockspider. Your accent is so funny, man. Maybe you should just try and speak less, because I don't think anyone really understands what you are trying to say."

En daar was niks wat ek kon doen om die verlammende minderwaardigheid te keer nie. Dit was die rooi in my wange, die hand om my keel; daardie ou indringergevoel. 

Maar wat kon ek nou eintlik sê? Dit was net 'n ou grappie. Sy't dit mos nie lelik bedoel nie. En hoekom is ek dan so liggeraak?

Vandag, nóg 'n dekade aan, wil ek finaal my mike afhaal, en nes Ashwin van die verhoog van meerderwaardgheid afstap en sê: “Weet jy wat, Laura, vlieg in jou hel. Ek ís 'n rockspider. Deal with it. En, by the way, ek praat nie Engels nie, ek praat Oos-Kaaps. Deal sommer daarmee ook."


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.