SIR John Kotzé, ’n regter wat in die 1800’s in die Wes-Kaapse premierswoning, Leeuwenhof, gewoon het, was die eerste een wat die verskyning van dié landgoed se spook, ene Gysberta, geboekstaaf het. Maar dis nie die enigste plek in Kaapstad waar dit blykbaar spook nie.
Uit argiewe en geskrifte blyk dit dat daar allerhande spoke of geeste in baie van die historiese geboue en wonings hier ronddwaal.
Volgens die geskiedenis was Gysberta ’n jong meisie in die tyd toe Leeuwenhof nog ’n plaas was wat groente en ander vars produkte aan skepe voorsien het.
Sy het swanger geraak met ’n matroos se kind, maar haar ouers het nie die verhouding goedgekeur nie en die man na Nederland laat verban. Gysberta het glo geweier om te eet en van die honger weggekwyn.
Kotzé het geskryf hoe hy ’n vrou in ’n wit gewaad met ’n baba in haar arms gesien het op die trappe na die boonste vloer van die huis waar die slaapkamers is.
Vuurdoop vir nuwe intrekkers
My eie ervaring van Gysberta was dat sy net ongelukkig of rusteloos geraak het wanneer nuwe mense op die landgoed en in die staatswoning ingetrek het. Ná ’n paar maande het sy gewoonlik rustiger geraak en nie meer so aggressief opgetree nie.
Ek het in Mei 1995 by Leeuwenhof as die huishoudelike bestuurder begin werk toe Hernus Kriel die inwonende premier was.
Ek het op die landgoed gewoon in die huis in Botuin langs die ou slawekwartiere, seker sowat 100 treë van die hoofhuis af.
Daar was drie huishoudelike personeellede, Anna, Rachel en Una, wat al ou hande by Leeuwenhof was toe ek daar begin het. Hulle het my sommer gou van Gysberta vertel.
Ook die tuinboubestuurder, wat destyds al langer as tien jaar by Leeuwenhof gewerk het, het my vertel hoe hy Gysberta ’n paar keer voor sonsopkoms deur die mistigheid in die tuin sien beweeg het.
Rachel het vertel hoe sy een keer ’n bad in een van die badkamers gewas het, en hoe iets haar teen die badrand vasgedruk het.
Ek self het ’n paar keer tydens my inspeksies op die boonste vloer gevind dat van die boonste kasdeure in die badkamer oopgestaan het of ’n dakluik in ’n kamer regoor die badkamer oopgeskuif was.
Net ’n bietjie agtergrond voordat ek verder vertel: Leeuwenhof is ’n dubbelverdiepinghuis met ’n plat dak. Vensters en deure is nooit oopgelaat nie, en daar kon dus geen wind deur die huis trek om dakluike (waarby jy slegs met ’n leer kon uitkom) te laat skuif of boonste kasdeure oop te waai nie.
Mnr. Kriel was enkellopend, maar is in Julie 1997 weer getroud en het tot in Mei 1998 saam met sy nuwe vrou daar gewoon, waarna ’n nuwe premier, Gerald Morkel, ingetrek het. Mnr. Kriel het my vertel dat hy gereeld in die nag wakker geword het met gangligte wat brand nadat hy dit definitief afgeskakel het.
Verdagte ligte en ernstige voorvalle
My twee honde, ’n Dalmasiër en ’n Malteser, het saam met my in Botuin gewoon. Hulle het gereeld wanneer ek saans rustig gesit en TV kyk het, op en af begin hardloop en gehuil.
My woning is deur ’n twee meter hoë muur omring. Daar was ligte teen die een muur wat aan die personeelkwartiere gegrens het. Die skakelaar vir dié ligte was in die ou slawekwartiere, wat net vir spesiale geleenthede gebruik is.
Soms wanneer ek buitentoe gekyk het, het ek gesien die ligte brand en dan het ek gaan oopsluit en dit afgeskakel. Dit het ook dikwels gebeur dat die ligte weer sou brand wanneer ek by die huis kom nadat ek saans tot ná twaalf by ’n funksie gewerk het.
Dit het my so ontstel dat ek elektrisiëns laat kom het om te kyk of daar iewers ’n ander skakelaar was wat sekuriteitswagte of ander personeel kon aanskakel. Maar daar was geen spoor van dié “verdagte” skakelaar buite die slawekwartiere nie.
Toe het ek besluit om vir Gysberta ’n briefie te skryf en te sê dat ek geen kwade bedoelings het nie. Ek het die brief in die slawekwartier gelos, en sowat drie maande ná my intrek was dit asof sy eindelik bedaar het en daar was geen verdere voorvalle nie.
Dak val in
Totdat die nuwe mev. Kriel natuurlik in 1997 ingetrek het ... Skilderye is onverklaarbaar skeef gedraai, ligte is in die middel van nag aangeskakel, groot blompotte met blomme in die eetkamer het sommerso omgeval. Ná ’n paar maande het Gysberta egter weer rustig geword.
Toe die Morkels intrek, het sy van voor af met haar manewales begin. Dié keer was dit nogal ernstig.
Al die vertrekke in Leeuwenhof het ’n versierde randafwerking waar die mure en plafonne bymekaarkom. Dié gevormde afwerking is ongeveer 10 cm breed. Een naweek toe mev. Morkel uitstedig was, was mnr. Morkel die aand alleen tuis toe hy besluit het om te bad. ’n Strook van sowat 2 meter van die randafwerking het skielik uit die dak geval en hom rakelings gemis. Daar was geen teken van verweer of ’n rede vir die ongeluk nie.
Die bad en stort het ook onverklaarbaar begin lek deur die vloer na die eetkamer onder die badkamer. In die drie jaar sedert ek by Leeuwenhof begin werk het, was daar geen sulke voorvalle nie. Die huis is gereeld geïnspekteer en in stand gehou.
Mev. Morkel het my ook vertel hoe mnr. Morkel een nag benoud wakker geword het met ’n gewig bo-op sy bors wat hom vasgedruk het. Maar ’n maand of drie later het Gysberta gelukkig weer bedaar.
Ek is einde 1999 by Leeuwenhof weg. In die nuus het ek gelees dat Helen Zille ook ’n paar ervarings met ligte en die geluid van voetstappe gehad het.
Stel dus tog maar vir premier Alan Winde gerus. Gysberta sal wel bedaar wanneer sy hulle eers deurgekyk het. Sy hou wag oor Leeuwenhof en al sy skatte! – Cecile Pretorius
PRAAT SAAM: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.