LESERSBRIEWE | Regte gedekoloniseerde onderwys beteken...

SKOLE

LESERSBRIEWE | Regte gedekoloniseerde onderwys beteken wegdoen met skole

Ons skole verval omdat dit ontwerp is vir ’n industriële/koloniale samelewing wat nie meer bestaan nie.

Image: 123RF/KARANDAEV

DIE EFF en die FeesMustFall-beweging het gedekoloniseerde onderwys op die agenda geplaas, maar baie Suid-Afrikaners wonder wat op aarde dit beteken.

Die frustrasie met die onderwys gaan vêr terug. Dit het waarskynlik sy oorsprong in die promulgering van die Skolewet in 1996. Dit het die grondwetlike reg op onderwys probeer realiseer deur skoolbywoning verpligtend te maak. Die wet neem egter aan dat skoolbywoning outomaties tot onderwys gaan lei. Drie-en-twintig jaar na die promulgering van die Skolewet word dit egter toenemend duidelik dat skoolbywoning nie noodwendig die reg op onderwys realiseer nie.

 Volgens die wet is ’n skool 'n instelling wat leerders inskryf vir grade. In skole word leerders opgedeel in groepe volgens ouderdom, en kennis opgebreek in vakke. Vir 12 jaar moet leerders in hierdie groepe staatsvoorgeskrewe vakkennis in hulle korttermyngeheue prop, dit uitspoeg tydens toetse en eksamens en weer vergeet.

Die vraag is of hierdie stelsel tot doeltreffende onderwys lei. Finland, wie se onderwysstelsel as een van die mees suksesvolle in die wêreld beskou word, het geen gestandaardiseerde toetse nie, behalwe die matriekeksamen.

 Die bevorderingsbeleid van die departement van basiese onderwys maak selfs voorsiening daarvoor dat dit moontlik is om skool by te woon sonder om onderwys te ontvang. Volgens hierdie beleid mag ’n leerder ’n graad slegs een keer per fase herhaal.

Daar is selfs planne om dit te verander dat geen graad herhaal mag word in die grondslagfase nie. Dit beteken dat ’n leerder van graad een tot graad 12 kan vorder sonder om ooit bewys te lewer dat enige onderwys ontvang is.

Publieke skole

Publieke skole het in die industriële eeu ontstaan om burgers te vorm wat instruksies kan volg en repeterende werk in ’n fabriek of burokrasie kan doen. Die klok by die skool berei dus eintlik jong mense voor vir die klok van die produksielyn of die koloniemyn.

Prof. Jonathan Jansen bevestig dit tydens ’n toespraak voor die SA Property Owners’ Association op 20 Junie 2019 toe hy gesê het die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is gebaseer op “dumbing down". Die staat gebruik ook publieke skole om sy ideologie oor te dra aan die volgende generasie, om te verseker dat hulle bly stem vir die heersende orde. Op 18 Maart 2014 tweet minister Angie Motshekga: “It is my duty to help educate the people of South Africa on how to vote for the ANC.

 Die koloniale stelsel was ’n integrale deel van die industriële state, want kolonies moes ru-materiaal verskaf vir die geïndustrialiseerde state. Om daardie rede is publieke skole in die kolonies ingevoer, en so het publieke skole ’n koloniale erfenis geword. Dekolonisering van die onderwys beteken daarom: ons beweeg weg van die uniforme stelsel van publieke skole, wat ontwerp is om die belange van die 20ste eeuse industrie en die staat te bevorder, na ’n diverse stelsel van onderwys wat aangepas kan word om die beste belange van elke individuele kind te bevorder.

Diversiteit

Ons vind dus dat publieke skole verval omdat dit ontwerp is vir ’n industriële/koloniale samelewing wat nie meer bestaan nie. Die burgerlike samelewing het verantwoordelikheid daarvoor geneem om kinders voor te berei vir die 21ste eeu en gevolglik het ’n sterk groeiende alternatiewe onderwysbeweging ontstaan. In alternatiewe onderwys is daar 'n diversiteit van vorme en benaderings. 'n Diversiteit van vorme sluit in onderwys wat in gesinne, families, gemeenskappe en formele instellings soos skole gegee word.

'n Diversiteit van benaderings sluit in: tradisionele kurrikulums, klassieke onderwys, eenheidstudies, Uncapped Education, Charlotte Mason, Montessori, eklektiese onderwys, Waldorf, skoollosse onderwys en veel meer. Hierdie diversiteit maak dit moontlik om onderwys aan te pas by die behoeftes van individuele gemeenskappe en individuele kinders.

Die EFF het onder andere gedekoloniseerde onderwys op die agenda geplaas. In sy manifes belowe die party om gratis gedekoloniseerde onderwys te verskaf. In dieselfde manifes staan egter ook : “The EFF government will criminalise all parents who do not take their children to school.”

Die EFF wil ouers dus kriminaliseer wat nie hulle kinders na koloniale onderwysinstellings stuur nie. As politieke partye sulke teenstrydige bewerings maak, is dit geen wonder dat verwarde burgers vra wat gedekoloniseerde onderwys is nie.

 Die strewe na gedekoloniseerde onderwys vereis ’n diepgaande hersiening van die onderliggende paradigmas van die onderwysstelsel. Dit is veel meer radikaal as die EFF se benadering om ’n Afrika-sousie oor die koloniale stelsel te gooi en ouers te kriminaliseer wat nie hulle kinders na hierdie falende stelsel wil stuur nie. - Bouwe van der Eems, voorsitter van die Pestalozzi Trust, ’n regsfonds vir tuisonderwys en klein skole


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.