Die kabaal om die Khoi-San-lofsanger

FAMILIE-SAKE

Die kabaal om die Khoi-San-lofsanger

Ons is nog steeds ’n deurmekaar familie, sê JAN HORN van Suid-Afrikaners. Die beheptheid met ras en rassisme is besig om ons probleme onder die mat te vee.

Bradley van Sitters
Bradley van Sitters
Image: CITY LIFE

SO tussen tandeborsel en die honde kosgee luister ek na Lynette Francis se program “Praat saam” op RSG. Die onderwerp is die kabaal om Bradley van Sitters se Khoi-San-lofsang by die staatsrede vroeër vandeesmaand.

Lynette het drie swaargewigte as ankers genooi om die gesprek te lei. Cecil le Fleur, Barend van Wyk en Sylvia Vollenhoven. Swaargewigte, nie in postuur nie, maar aan die titels waarmee sy hulle voorstel.

Vir Sylvia ken ek persoonlik omdat sy destyds die opdragregisseur by die SAUK was vir my dokumentêr oor die Taung-skedel. Toe al het ek besef dat die SAUK-kantoor vir haar te klein was. Sy moes haar vlerke wyer sprei. Sy praat lekker. En is nog net so vol vuur en vlam soos destyds.

Sylvia sê dat sy al van Jan van Riebeeck se dagboek en briewe kon agterkom dat ons hier aan die suidpunt geswore individualiste is. Ons kan oor niks saamstem nie. Selfs in een huisgesin kan ons nie saamstem nie. Vandag stem ons vir die ANC omdat hulle mooi beloftes maak en môre vir ’n ander party omdat hulle ook mooi beloftes maak.

Dis in ons DNS, sê sy. Aanvaar dit nou maar net so.

Nou hoe bou jy nou ’n nasie as elke persoon ’n volk op sy eie is?

Khoi-San-kultuur

Barend vertel hoe hulle moes skarrel om ’n Khoi-San-lofsanger in die hande te kry. Hoe lofsang ’n mens nou in elk geval in Khoi-San-kultuur? Die man wat – huiwerig – instem, is Bradley van Sitters. Hy het Nama by die universiteit in Windhoek geleer en hy sal probeer, sê hy.

Hy stap toe by die staatsrede in, kompleet in tradisionele drag met ’n paar massiewe koedoehorings, en trek weg.

Die uitdrukking op die gesigte van die stoere parlementsitters was iets om te aanskou. Eers moet hulle koes vir die wilde koedoehoring wat rakelings by hulle verbyswiep. Die groot skok was egter toe hulle besef hulle, wat al wat ’n Afrikataal magtig is en selfs Afrikaans kan volg, nie ’n woord verstaan wat Van Sittert sê nie!

Eintlik het byna niemand daar verstaan wat hy gesê het nie. Dis toe dat die herrie losbreek. Die Namibiese joernalis Emil Seibeb beskuldig Van Sitters dat hy die hele volk ’n rat voor die oë gedraai het omdat hy net ’n paar Khoi-San-woorde gebruik het en die res was in Khoekhoegowab. Khoekhoegowab het blykbaar geen verbintenis met die Khoi-San-taal nie, sê Seibeb.

Nama, Griekwa, Khomani, Koranna ...

Nou is ek heeltemal deurmekaar. Die kenners sê dat Khoekhoegowab die taal was wat die meeste Khoikhoin gepraat het voor die Europeërs hier aangekom het. Ek ken ’n paar woorde in Nama, ek ken van Griekwa en van Khomani en Koranna, maar wat is die Khoi-San-taal dan nou?

Die gesprek in “Praat saam” draai na grondeise en leierskap. Barend van Wyk verduidelik hoe daar al jare vertoë aan die regering gerig is vir grondregte in die Noord-Kaap vir die oorspronklike inwoners van die streek.

Maar, sê hy, elke groep baklei vir sy stukkie grond – wat dikwels sommer oor iemand anders se grond oorvleuel. Só eis die Namas hulle deel, die Griekwas hulle erfenis en die Korannas en Khomanie elkeen hulle eie, regmatige stukkie Suid-Afrika.

“So baie van onse grondherstel is in die hande van ons swart leierskap,” sê Barend van Wyk. “Daar is papiere ingedien (Griekwas, Korannas, Khomani-San,) maar dis ’n deurmekaarspul en as jy weer hoor die ding is gesettle, dan het ander mense die grond gekry.”

Cecil le Fleur beaam dit en praat van die mengelmoes leiers, hoofmanskappe en koningskappe wat nou oral opwip.

Nasie van individualiste

Ek besef Sylvia het ’n punt beet. Ons is ’n nasie van individualiste. Dwarstrekkers en korrelkoppe. Dalk is dit nodig vir oorlewing in Afrika, want as al die Afrikaners by die Dorslandtrek aangesluit het, was daar nie vandag Afrikaners oor nie!

Nou hoe gaan ons die land vorentoe vat as elkeen vir “onse mense” se regte baklei? Want “onse mense” was amper die wagwoord as jy aan die spesifieke “Praat saam” wou deelneem. Helaas het geen van die luisteraars ingebel nie. Dalk omdat die program nie 57 miljoen individualiste se opinies in een uur kon hanteer nie.

Later in die dag eet ek ontbyt saam met ’n vriend van my, ’n bruin man wat homself “a South African of mixed descent” noem. Ons praat oor die deurmekaarspul in ons familie.

Ek noem aan hom die opwelling van Khoi-San-gemoedere wat nou opstoom in die kookpot van identiteite. Hy sê dis nonsens. Die identiteitspolitiek van “onse mense” is net nog ’n manier van verdeling.

En hy wil nog minder te doen hê met die rasding. Rasse en rassediskriminasie. Hy sê die verskille tussen Suid-Afrikaners het niks met ras te doen nie. Ons is almal een ras.

Hy reken dat om mense skuldig te bevind en in die tronk te gooi op ’n aanklag van rassisme is teen die Grondwet se beginsels. Want die Grondwet stel dit duidelik: Suid-Afrika is ’n nie-rassige staat. Hoe kan jy dan iemand aankla van rassisme?

Interessante punt!

Ek vra: Nou hoe gaan jy die verskille aanspreek?

Almal Suid-Afrikaners

Volgens hom lê die verskille nie in ras nie, maar in etnisiteit. Hy praat van ’n “South African of Indian descent” of ’n “South African of German descent”. In sy geval ’n “South African of mixed descent”. Ons is almal Suid-Afrikaners, sê hy.

Die gesprek draai na Thuli Madonsela se voorstel om ’n kongres van maatskaplike geregtigheid in Stellenbosch te hou om onder meer die probleme van kolonisasie en rassisme aan te pak.

Nou wonder ek: Gestel ons hou so ’n inklusiewe kongres. Daar is egter een voorwaarde: Die woorde ras, rassisme en rassediskriminasie word uit die woordeboek uitgewis. Dit bestaan nie meer nie. Die woorde mag glad nie op die konferensie gebruik word nie.

Sou dit al ons probleme, van die dinge wat ons in kampies verdeel, oplos? Sal die probleme net verdwyn?

My vriend het so ’n rukkie sit en dink en gesê nee, die probleme sal nog almal daar wees.

Maar dan is rassisme mos nie die probleem nie!

As jy oor enige kultuur, kleur, geloof of politieke groep iets sê en die spesifieke groep hou nie van wat jy sê nie, dan is jy outomaties ’n rassis. Die beheptheid met ras en rassisme is besig om ons probleme onder die mat te vee.

Is dit nie dalk tyd dat ons wetgewing invoer om die gewraakte woorde “ras”, “rassisme” en “rassediskriminasie” te verban nie? Dan kan ons aandag gee aan die werklike probleme wat ons familie so deurmekaar krap.

PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.