Die Ndlovu-koor, Cyril se drome en die taalmeganismes van die brein

WOORDE MAAK EMOSIE

Die Ndlovu-koor, Cyril se drome en die taalmeganismes van die brein

Onlangse neurowetenskap bewys dat taal ons denke, emosies en aksies kan verander. BARBARA FÖLSCHER meen ons het meer van pres. Ramaphosa se “droompraatjies” in ons land nodig. Nie dat ons al ons probleme onder ’n verbale suikerlagie moet toegooi nie, maar dis tyd om neurowetenskaplike insig in te span om ons nasionale diskoers doeltreffender te maak.

Lede van die Ndlovu-jeugkoor
Lede van die Ndlovu-jeugkoor
Image: TWITTER

VERLEDE week sit ek in die laatmiddagverkeer vas op die N2 terug Somerset-Wes toe nadat ek die dag by my bejaarde, erg verswakkende ma op Bloubergstrand deurgebring het.

Oor die radio gons dit steeds oor Ramaphosa se “misplaaste” droomtaal tydens die staatsrede en die oorweldigende probleme wat onaangespreek bly.

My hart is klaar seer en ek leun vorentoe om die klad van mismoedigheid wat deur die motor sprei, kort te knip. Op die foonstaander klik ek op ’n WhatsApp-video wat my seun met ’n oorstelpte emotikon gestuur het.

Net soos die verkeer weer begin beweeg, begin die klanke van die Ndlovu-jeugkoor se seëviering in Amerika deur die motor spoel.

Die musiek ja, maar veral die woorde breek weer en weer deur die kors in my bewussyn: “My African dream … there’s a new tomorrow.” Toe dit klaar is en ek uiteindelik weer die verkeer voor my kan sien, ry ek in stilte verder. Ek wil vashou aan iets wat binne-in my geskuif het.

’n Blok van die huis af, aan die voet van die Helderberg, hardloop ’n vrou met ’n groot sak oor die skouer in die ander rigting. Haar lang trui bol en sy duik haar kop skuins af teen die winterwind.

Ek is moeg en laat en smag daarna om by die huis te kom, maar toe ek weer sien, draai ek om, tel haar op en ons ry taxistaanplek toe onder in die dorp.

Hoe emosies gemaak word

Wat het in my brein gebeur om my gewaarwording genoegsaam na die ervaring van ’n ander te skuif sodat my beplande aksie in daardie oomblik verander het?

En waarom maak dit saak? Die antwoorde lê in die jongste navorsing oor hoe emosies gemaak word en hoe taal bykans elke aspek van ons bewussyn en gedrag bepaal. Dit maak saak omdat ons die president se “droomtaal” net so nodig het as die uitleg van goeie praktiese planne om ’n nuwe toekoms te skep.

‘Die woorde wat ons hoor en lees, waarin ons kommunikeer en wat onophoudend in ons koppe rondrol, bepaal ons gedagtes, ons gevoelens en uiteindelik ons optrede.’

Die insigte van neurowetenskap word wêreldwyd op ingrypende maniere gebruik om mense se funksionering te verbeter: in sielkunde en ander menslike hulpdienste, in onderwys, leiersopleiding, en tegnologiese en organisatoriese ontwikkeling.

Ek dink dis hoog tyd dat ons neurowetenskaplike insig gebruik om ons nasionale diskoers doeltreffender te maak. Ook in die politiek bied hierdie wetenskap belangrike lesse oor hoe ons met die stories van die land omgaan.

Hierdie skrywe gaan allermins oor my piepklein en weglaatbare individuele gedragsbesluite; ek gebruik slegs my eie breinprosesse as proefkonyn om te illustreer hoe die meganismes van taal ons denke, emosies en aksies kan verander.  

Taal genereer realiteit

Taal is ’n snaakse ding. Soos ons asemhaling is dit alomteenwoordig in elke oomblik wanneer ons wakker is, só alomteenwoordig dat dit uit sig uit glip. En dis ’n fout.

Die woorde wat ons hoor en lees, waarin ons kommunikeer en wat onophoudend in ons koppe rondrol, bepaal ons gedagtes, ons gevoelens en uiteindelik ons optrede.

Navorsing oor die wisselwerking tussen taal, emosies en denke het ’n ellelange stamboom, maar insigte uit onlangse neurowetenskap, neurolinguistiek en kognitiewe studies onthul verbasende bevindings oor die ontstaan van emosies en ons vermoë om ons breingewoontes te kan verander.

Image: PHILOSOPHYFORCHANGE.COM

Die filosowe Ludwig Wittgenstein en Martin Heidegger was reg: Taal genereer realiteit vir ons; dit is ons “house of being” vanwaar ons onsself interpreteer en ons ondervinding van die wêreld voorspel en bou. Taal beskryf nie veranderings in emosies en denke nie, dit ís die verandering, of ons dit besef of nie.

Binneskuiwe

Die binneskuiwe wat my daardie middag genoop het om hulp aan Mabel (soos sy haarself voorgestel het) te bied, is deur ’n verandering in emosie gedryf wat deur die lirieke van die Ndlovu-koor gegenereer is.

My hartseer en mismoedigheid is verskuif deur ’n vlammetjie van opwinding en geluk wat die woorde, melodie en stemme van die koor in my losgewoel het.

Maar wat ek emosie noem, is nie iets wat onwillekeurig met my gebeur nie, volgens die vooraanstaande neurowetenskaplike Lisa Feldman Barrett se verduideliking in haar boek How Emotions Are Made: The Secret Life of the Brain.

Dit is eerder my brein se voorspelling van wat op ’n gegewe oomblik binne my liggaam aangaan om dit met die konteks buite my te verbind. Saam met ’n span wetenskaplikes van onder meer die Harvard- en Northeastern-universiteite in die VSA, draai Feldman Barrett eeue se geloof oor die oorsprong van emosies op die kop.

Hierdie navorsing wys dat ons nie aan die genade van oeroue en onveranderbare emosionele neurobane in die brein oorgelaat is nie. Ons brein gebruik die taalkonsepte wat ons in ons leeftyd stoor om ons emosies te skep. Goed, maar hoe werk dit?

Jou brein is ’n taalrekenaar

Volgens Noam Chomsky, Steven Pinker en ander vooraanstaande taalwetenskaplikes deurdrenk taal die meerderheid van al ons denke; die meeste mense is net nie bewus van hierdie oorweldigende invloed van woorde nie.

’n Baba se eerste kontak met gesproke taal begin ’n statistiese leerproses wat oor ’n leeftyd ’n verbale konseptuele stelsel in die brein opbou. Feldman Barrett sê die basis van hierdie stelsel word binne die eerste lewensjaar in die baba se brein gevestig.

Chomsky wys met sy Strong Minimalist Theory dat hierdie meganismes van taalbou aan alle wêreldtale onderliggend is. Pinker noem die stelsel ’n “mental topiary” en verduidelik dat jou brein die wêreld om jou vertolk deur binne millisekondes soos ’n taalrekenaar deur honderde gedoemde fragmente van interpretasie te ploeg voordat dit met die waarskynlikste raaiskoot vir jou omstandighede voortgaan.

Maar jou brein kan slegs die fragmente (of taalkonsepte) gebruik wat jy deur vorige ondervinding opgebou het. Wat hierdie teorieë dus bewys, is dat ons denke en taal onafskeidbaar is.

‘Die Ndlovu-koor se melodie en woorde het my sentrale senuweestelsel meer aktief gemaak, my hart vinniger laat klop en uiteindelik my traankliere gestimuleer.’

Feldman Barrett sê nou dat dieselfde meganismes ons emosies geld. Ons voel wat ons brein voorspel as verduideliking vir ons interne sensasies.

Ons kan emosie in stemme hoor, ons kan dit in ons eie liggaam voel en sien, maar hierdie inligting is nie die sein self nie. Feldman Barrett en haar span het bewys dat die statistiese reëlmatigheid wat ons brein nodig het om ’n emosie te vorm, van die woorde kom wat in ons geheue verberg is.

Daardie middag in my motor sou die volgende dus gebeur het: Die Ndlovu-koor se melodie en woorde het my sentrale senuweestelsel meer aktief gemaak, my hart vinniger laat klop en uiteindelik my traankliere gestimuleer.

My brein het deur die taalfragmente van al my vorige ondervindings en denke gesif om ’n gepaste interpretasie vir hierdie sensasies in my liggaam te vind, wat dit weer aan die koor se boodskap sou verbind. Hierdie proses – wat Feldman Barrett “interoception” noem – het die emosies geluk en opwinding uit die taalfragmente in my geheue voortgebring.

In Feldman Barrett se werk word selfs gedemonstreer hoe ons ons emosionele vaardigheid kan slyp deur ons emosionele woordeskat te vergroot. Hoe meer verbale keuses ’n mens se brein het om emosies te voorspel, te kategoriseer en dit in ander mense waar te neem, hoe meer kan jy jou gedrag as sulks aanpas.

Ons kan dus ons eie emosionele welstand en emosionele intelligensie bou deur meer emosionele woorde aan te leer, sê Feldman Barrett.

Nou ja, ons weet sover dat die emosies “geluk” en “opwinding” uit die gestoorde verbale keuses in my brein vervaardig is, maar hoe het dit my aangespoor om ’n U-draai ’n blok van die huis af te maak, terwyl ek so graag net by die huis wou kom?

Taal sit agter die stuurwiel

Die Nobelpryswenner Daniel Kahneman maan mense gereeld om meer bewus te raak van die krag van taal om denke en optrede te bepaal. Hy illustreer in sy boek Thinking, Fast and Slow dat ons glad nie die pilare van koel Cartesiese redenering is wat ons gedink het nie.

Volgens Kahneman is ons besluite en reaksies grootliks gegrond op intuïtiewe outomatiese denke wat deur verskuilde emosionele vooroordele beïnvloed word.

Ons weet almal uit ondervinding hoe emosies soos woede, vrees en liefde ons gedrag kan beïnvloed, en die teorieë wat hierbo bespreek word, wys dat daardie emosies deur woorde in die brein geanker word.

Kahneman verduidelik egter dat ons aksies ook meer subtiel deur “linguistic priming” bepaal word. Herhaalde blootstelling aan woorde oor bejaardheid het byvoorbeeld in eksperimente veroorsaak dat mense soos oumense begin loop en beweeg het.

In ’n ander eksperiment het verbale beskrywings van die brein as ’n spier wat met oefening sterker word daartoe gelei dat studente meer toegewyd aan hul studiedoelwitte begin werk het. Hierdie bewyse dat taal gedrag beïnvloed, sluit aan by die ander groot akteur in die verhaal oor taal en die brein: positiewe sielkunde. En daarmee terug na die rit saam met Mabel ...

Mabel se storie

Ek en Mabel begin daardie middag op die plek waar vreemdelinge wêreldwyd begin as hulle onverwags saamgegooi word: die weer. Ja, die naweek se storm was baie erg by haar in Nomzamo, sê sy. Twee dakplate het van haar shack afgewaai en die hele township se elektrisiteit “blew away”.

Gelukkig was die dakplate nie oor die slaapplek nie, want een kind slaap saam met haar in die bed en die ander een op ’n matras langsaan. Koud? Ja, sê sy, maar die volgende oggend het die bure haar gehelp om ander plate te kry en vas te hamer. En sy kon by vriende in Zola gaan warm water haal om te was totdat die elektrisiteit weer teruggekom het.

Teen die tyd dat ons in die onderdorp indraai, het ek ’n beter prentjie: Mabel is ’n enkelouer en werk as ’n huishulp. Haar werkgewer help met die kinders se onkoste. Haar dogter is 12 en haar seun van vyf het downsindroom.

Dit is juis om betyds by sy nasorg uit te kom dat sy aan die hardloop was toe ek haar opgelaai het. Haar man het ’n jaar ná die seuntjie se geboorte die pad gevat. Hy word “Inqenerha lendoda” genoem, sê sy met ’n snorklag. Ek vra haar om die naam vir my te spel. Hy’t nie meer ’n naam nie, sê sy. Dit beteken luiaard van ’n man.

Daar het jy dit nou. Wat beteken woorde van drome oor ’n nuwe toekoms – hetsy van ’n president of ’n koor – in die lig van verlore dakplate, ’n seun wat aan downsindroom ly en ’n enkelma wat op ’n huishulpsalaris en werkgewers se goedgunstigheid aangewese is, wat smiddae ver moet loop na ’n taxistaanplek waarvandaan sy twee taxi’s moet neem om haar seun op te laai en by die huis te kom?

En tog het ek geen sweempie van mismoedigheid of negatiwiteit in Mabel se verhaal gehoor nie. Die manier waarop sy haar lewe beskryf het, haar aanslag en ruim woordkeuses, het getuig van deursettingsvermoë en trots.

Die vreugde waarmee sy haar seun se groot glimlag en liefdevolle drukkies beskryf het, haar fyn spottery met haar man se drostery – ’n gebeurtenis wat ongetwyfeld pyn en probleme moes veroorsaak – het my sprakeloos met bewondering gelaat. En my geïnspireer om meer daadwerklik hulp aan te bied.

Positiwiteit en die president

Wat Mabel onwetend aan my geïllustreer het, was die werking van positiewe sielkunde. Met haar lewendige en veerkragtige aanslag tot haar moeilike situasie, het sy die emosie van bewondering in my ontlok. Hierdie emosie het tot ’n positiewe optrede van my kant af gelei.

Die werk van Martin Seligman, Sonja Lyubomirsky en ander lê reeds dekades lank die beginsels van positiewe sielkunde vas: Mense kan produktiewer dink, kreatiewer wees en groter sukses behaal as hulle positiewe emosies beleef. En ons weet nou dat dié emosies deur woorde gevorm word.

Waarom is dit dan dat ons in ons openbare diskoers verdrink in taal wat dieselfde geykte resep volg om ons gekompliseerde werklikheid in verdoemende, negatiewe taal te beskryf?

Ek probeer glad nie sê dat probleme slegs met woorde opgelos kan word nie, of dat ons die verskriklike dinge wat verkeerd gaan met ’n verbale suikerlagie moet toegooi nie. Maar ek glo ons werklikheid hou meer in as die negatiewe toon wat oor en oor in verskillende vorme van hoofstroommedia herhaal word en verder in die publieke mond vasgelê word.        

Om terug te kom na die president se “droomtaal” tydens die staatsrede en sy uitnodiging aan Suid-Afrikaners “[to] remake our mental and spiritual world”, dink ek sulke taal is nodig, veral nou in ons land.

Ek stem saam met Mamphela Ramphele dat dit ons sal goed doen om saam met die president te droom om die moontlikheid van ’n nuwe toekoms in ons bewussyn toe te laat. Onlangse neurowetenskap wys immers dat ons meer beheer oor ons binnewêreld het as wat voorheen geglo is, en dat ons binnewêreld ’n groot invloed op ons optrede in die buitewêreld het.

Mabel glimlag breed as ons uiteindelik by die taxistaanplek stilhou: “I can catch the earlier taxi,” sê sy. “He’s going to hold my face like this, kiss me wet, wet!” Ek vra wat haar seuntjie se naam is. “Bhekithemba,” sê sy. “It means ‘look after hope’.”

I rest my case.

Daar gaat sy met haar uitgetrapte stewels en reguit rug, met haar gul taal en trotse storie. Sy haas haar op ’n drafstap verby ’n gehawende denneboom wat permanent deur die Kaapse wind skeefgetrek is, verby sypaadjie-smouse met hul piesangs en nartjies, hul blink sonbrille en 10 toffies in ’n sakkie.

Ek dink ons moet sorgsaam met ons woorde omgaan, op openbare en interpersoonlike vlak. Woorde voel dalk vlietend en onsigbaar, maar oor ’n leeftyd gee hulle ons ons vorm, soos die wind oor jare met die denneboom gemaak het.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.