LESERSBRIEF | Ek het my mening verander oor kernkrag - dit ís te ...

NUWE INSIGTE

LESERSBRIEF | Ek het my mening verander oor kernkrag - dit ís te gevaarlik

'n Verbete voorstander van kernkrag sê hy sing nou 'n ander deuntjie.

Image: 123RF/ IHOR CHEREDNYCHENKO

MET verwysing na Jan Horn se artikel “Kernkrag: Jy gee nie vir ’n tweejarige ’n masjiengeweer nie":

Soos gewoonlik is Horn op sy stukke. Ek lewer net die volgende kommentaar:

  • Ek vind sy gebruik van die woord “kontrak” interessant. Ek het eers gedink dit is ʼn tikfout of dat ek dit misgelees het en dit “kontak” moet wees. Dit lyk my of hy dit in die sin van “kontrak met die dood” gebruik het.
  • Ek dink hy is ook ʼn bietjie moedswillig om die rampe by kernkragstasies in dieselfde asem as die atoombom oor Hirosjima te gebruik.

Ek stem deesdae saam met Horn, al was ek voorheen ʼn verbete voorstaander van kernkrag. Ek het selfs op 2 September 2002 nog in ʼn brief in Die Burger geskryf dat kernkrag tans nog die beste oplossing is.

Ek het my siening gebaseer op die uitstekende veiligheidsrekord van honderde kernkragstasies wêreldwyd, insluitende Koeberg op ons voorstoep in Kaapstad. Ek het aangevoer dat, as Koeberg ʼn steenkoolkragstasie was, ons letterlik in sak en as sou gesit het soos my geboortedorp Witbank. In daardie stadium was my siening in pas met ʼn groot deel van die ontwikkelde wêreld en die protes teen kernkrag is afgemaak as manewales van die “screaming greens”.

Die kentering het in Maart 2011 in  Duitsland begin toe Angela Merkel die reeds goedgekeurde hernuwing van die Duitse kernkragkontrakte herroep het, ʼn dag ná die Fukushima-kernramp. Die besluit is ook later ook in die Duitse wetboek geskryf.

Oorwinning vir die Groenes

Dit was ʼn reuse-oorwinning vir die Groenes en ʼn groot aansporing vir die Duitse hernubare energiebedryf. Met tipies-Duitse ondernemingsgees het hulle die uitdaging aangepak en is die hernubare bedryf gesubsidieer. Dit het daartoe bygedra dat die koste van hernubare energie drasties gedaal en kompeterend geword het.

Terselfdertyd het my entoesiasme vir kernkrag ook begin afneem. Die waarskynlikheid dat iets by ʼn kernkragstasie soos Koeberg sal skeefloop, is baie klein, maar nie nul nie. (Die kanse dat ʼn onderdeel van ʼn vliegtuig kan afval en in my tuin op my kop val, is ook klein, maar nie nul nie).

ʼn Duitse professor het my daarop gewys dat geen versekeringsmaatskappy versekering teen so ʼn ramp sal verkoop nie, siende die omvang van eise wat uit so ʼn ramp kan spruit. Soos Horn noem, moet die gebruik van kernkrag liefs deur kundiges beheer word. Deesdae is daar, hier en selfs wêreldwyd, te veel cowboys.

Ek dink dat elke dak in Suid-Afrika toegerus moet word met fotovoltaïese sonpanele en songeisers. Landwyd moet daar ook aandag gegee word aan fasiliteite om energie te stoor, sodat dit energie kan verskaf wanneer die son nie skyn nie en die wind nie waai nie. Om die groot blokke basislas (“base load") te voorsien in mededinging met steenkool- en kernkragstasies is 'n uitdaging. Koos Holtzhausen


X