LESERSBRIEF | Mabuza se aanstelling soos ’n muishond se stank

STANK VIR DANK

LESERSBRIEF | Mabuza se aanstelling soos ’n muishond se stank

Ramaphosa se verbeterings in die kabinet sal nie dié kompromis kan verskoon nie.

David Mabuza
David Mabuza
Image: MASI LOSI

AS inwoner van Mpumalanga die afgelope 23 jaar, het ek die twyfelagtige voorreg gehad om ons adjunk-president, David Mabuza, in al sy glorie waar te neem. Ek was voorheen een van sy senior amptenare en hy was my provinsiale minister en later premier.

Glo my as ek sê, sy aanstelling deur president Ramaphosa (dis mos hoe die agbare Tito wil hê ons plebs hom moet aanspreek) is 'n klad op die president se naam en sal ’n donker skaduwee bly wat hom soos 'n slegte gewete sal agtervolg. Erger nog, dit laat 'n onaangename reuk agter wat soos 'n muishond se stank die vernuwingspartytjie van Ramaphosa se “Nuwe Dagbreek” by voorbaat bederf.

Jammer om te sê, pres. Ramaphosa, maar baie van die ander verbeterings in die kabinet sal in my boek nie hierdie kompromis kan verskoon nie. Myns insiens maak dit 'n klug van die  “integriteitsveldtog” en stuur dit net mooi die teenoorgestelde boodskap uit.

Vir baie van die beter kabinetsaanstelling gaan ek nie dankie sê nie, maar eerder die president gelukwens dat hy gedoen het wat van hom verwag is, naamlik die aanstelling van (meerendeels) bekwamer en eerliker kabinetslede. - Piet du Plessis 


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.