Nuwe alliansies: Mmusi moet na Cyril vry

POLITRIEKS

Nuwe alliansies: Mmusi moet na Cyril vry

Hoewel die DA ’n voet in die deur by die OB het, is daar ’n bloedstryd onder sy kiesers. En met die DA en die EFF se huwelik skynbaar op die rotse, is die tyd ryp vir die DA om na die ANC te begin vry, al is dit net om die metropole te red. Maimane sal egter eerste moet flikkers gooi, en góú, skryf PIET CROUCAMP.

Maimane spreek die media toe na afloop van 'n koukusvergadering.
MAAK 'N PLAN ... Maimane spreek die media toe na afloop van 'n koukusvergadering.
Image: @Our_DA (TWITTER)

DIE huwelik tussen die DA en die EFF in die groot metropole van Gauteng stotter ten einde in ’n stadium wat die swak en korrupte bestuur van plaaslike besture groot nuus is.

Die ouditeur-generaal, Thembekile Makwetu, se jaarverslag maak dit duidelik dat die finansiële bestuur van die plaaslike rade wat die EFF en die DA ingevolge ’n informele ooreenkoms bestuur, almal benard is. Dit maak die deur vir die ANC oop om weer hul invloed te laat geld in veral Tshwane en Johannesburg. Die DA het nie die absolute meerderheid in dié metropole nie.

Indien die EFF en die ANC besluit om voortaan die begroting van dié stadsrade in ’n informele ooreenkoms te bestuur, is die kasregister waarskynlik weer oop en sonder toesig.

So ’n ooreenkoms kan daartoe lei dat verskeie verkose amptenare en burokrate binnekort weer met kaders vervang word wat deur die ANC se provinsiale uitvoerende komitee aangewys sal word.

Dit is juis die inmenging van die provinsiale leierskap van die ANC wat plaaslike regering in agt van die nege provinsies korrumpeer. Die onbestendigheid wat in Nelson Mandelabaai tot ’n koalisie tussen onder meer die UDM en die ANC gelei het, kan met dieselfde patroonmatigheid die grootste stedelike ekonomieë van Gauteng in die hande van die EFF en die ANC laat.

Suurmelk

Die vraag is: Wat behoort die DA se strategie rakende die bestuur van die metropole te wees?

Die EFF het dieselfde intervensionistiese bestuurstyl en ideologiese intensies as die ANC, maar omdat Julius Malema en sy bestuurspan ook obstruksie en geweld as onderhandelingsmeganismes gebruik, kan ’n samewerkingsooreenkoms of alliansie met die ANC net so onbestendig wees soos die onvanpaste verstandhouding tussen die EFF en die DA.

Die kans op doeltreffende administrasie en ’n skoon oudit onder die DA is skraal, maar onder ’n EFF-ANC-alliansie is dit waarskynlik onmoontlik.

Die verhouding tussen die ANC en die DA is ook suurmelk, en die skuld daarvoor kan net soveel voor die DA as voor die ANC se deur gelê word. Ná 25 jaar van demokrasie ding dié twee partye steeds nie om die lojaliteit van dieselfde steunbasis mee nie.

Selfs die mees vervreemde ANC-ondersteuners sal nie in beduidende getalle vir die DA onder die leiding van Mmusi Maimane stem nie. Die ANC het waarskynlik opgegee op die onvoorspelbare politieke gedrag van die Wes-Kaap se bruin kiesers en het geen rede om wit kiesers te probeer werf nie.

Die bloed spat 

Die feit dat die wit Engelse liberales van die DA steeds te koloniaal is in hul versugting na ’n soort Westminster-geordenheid maak dat die DA van bakboord na stuurboord strompel asof die 1820-setlaars so pas geland het.

Om ten spyte van kolonialisme en apartheid steeds onwrikbaar aan die tepels van liberalisme te kleef is nie net stiksienig nie, maar dit maak ook dat die DA ’n 20%-party sal bly, soos wat die EFF ’n 10%-party sal bly.

Ons Grondwet is liberaal-demokraties, maar soos voete ’n stel skoene lostrap, só sal die eiesoortigheid van ons komplekse politieke kultuur definisie aan ons Grondwet gee, en nié andersom nie.

Die geweldige verlies van 300,000 wit konserwatiewe stemme wat na hul natuurlike politieke tuiste – die Vryheidsfront Plus – teruggetrek het tydens 2019 se nasionale en provinsiale verkiesings, verinneweer ook die konsensus binne die DA.

Minstens twee denkskole wroeg oor dié saak. Helen Zille en Ryan Coetzee, wat sy stem teen die agtergrond van Brexit se wit geruis laat hoor, steun die filosofie dat geen steunbasis verhandelbaar is nie, en dat die onrustige wit stem weer gewerf moet word.

Indien die DA ’n 20%-party wil bly, is dit ’n goeie idee, maar daar is geen groeipotensiaal vir ’n party wat ’n steunbasis koester wat wit bevoordeling tot elke prys wil beskerm nie.

Swart koukus sluk swaar

Die swart koukus van die DA sluk stil-stil ook baie swaar aan dié strategie om weer met die wit gevaar te flikflooi.

Maimane se politieke loopbaan is in alle geval byna verby, maar dit kan op ’n baie lae noot eindig indien die swart koukus van die DA hom openlik verwerp.

Die afgelope week het hy hom in vae terme van Phumzile van Damme se gedrag gedistansieer en in dieselfde asem hom met die teorie vereenselwig dat plaasmoorde ’n spesiale-kategorie-misdaad kan wees.

Dit is nie pragmatiese uitsprake deur ’n partyleier nie; dit is ideologiese uitsprake wat gevolge het vir die gespanne verhouding tussen steunbasisse binne die DA.

Die DA se swart kiesers beskou dit as ’n ideologiese posisionering ter wille van konserwatiewe wittes, maar die werklikheid is dat daar weinig politieke kapitaal te maak is daaruit om ’n etniese belang binne die DA te pamperlang.

Dit gaan nie binne die volgende twee of dalk selfs drie verkiesings moontlik wees om die konserwatiewe wit stem vir die DA terug te wen nie. En pogings om dit te doen gaan die swart en uiteindelik ook die bruin stemme binne die party net verder vervreem.

Helen Zille
Helen Zille
Image: ESA ALEXANDER

Soveel partye, soveel keuses

Kallie Kriel van AfriForum het voor die verkiesing daarop gewys dat dié drukgroep se lede ’n politieke tuiste in sowel die DA as die VF+ het. Dit is waarskynlik nie meer die geval nie – die AfriForum-lede is nou finaal VF+ toe. Die wittes wat in hierdie verkiesing steeds vir die DA gestem het, is bereid om risiko’s te neem en aansluiting by ’n breër stel politieke alliansies te vind.

‘Om een of ander eienaardige rede het Suid-Afrika nie werklik ’n politieke party wat die sosiaal-demokratiese filosofie hul eie wil maak nie.’

Ondanks die ANC se diepgewortelde sinnigheid vir staatskaping en patronaatskap is die redelike stemme binne die ANC steeds meer legitieme politieke vennote as AfriForum.

Baie bruin kiesers in die Wes-Kaap het met die onlangse nasionale en provinsiale verkiesing hul twee stemme tussen die DA en die ANC verdeel, en ’n beduidende persentasie het vir die ACDP gestem. ’n Belangrike aanduiding van ’n steunbasis wat bereid is om nuwe politieke ooreenkomste oor gevestigde grense heen te sluit, is juis een wat sy stemme verdeel.

Dit is hierdie gewilligheid om risiko’s met nuwe alliansies te neem wat die DA nóú moet gebruik om die politieke landskap totaal te verander.

Die DA sal ’n nuwe, eenvormige ideologie moet kry wat die party links van die middel kan verenig, en dit gaan beslis nie liberalisme of konserwatisme wees nie.

Om een of ander eienaardige rede het Suid-Afrika nie werklik ’n politieke party wat die sosiaal-demokratiese filosofie hul eie wil maak nie. ’n Doeltreffende, teenwoordige staat wat die markekonomie pragmaties reguleer, behoort egter ’n voor die hand liggende keuse vir ’n meerderheid Suid-Afrikaners te wees. ’n Sosiaal-demokratiese filosofie inkorporeer meer as een ideologiese narratief en is daarom tekenend van ’n idee wat op kompromieë of alliansies gevestig is.

Mmusi in die weegskaal

Daar is dalk ’n oseaan tussen Mmusi Maimane en Cyril Ramaphosa wat politieke volwassenheid betref, maar ideologies is hulle nader aan mekaar as enige ander rolspelers in Suid-Afrikaanse politiek. ’n Samewerkingsooreenkoms in die metropole kan die platform skep vir ’n meer bestendige verhouding tussen die kapitaaleienaars en die politieke elite. Maar Maimane moet die stap om toenadering tot die ANC neem, want sy party het minder keuses as Ramaphosa s’n.

‘Zille se begrip van komplekse politieke teorie is steeds vlymskerp, maar haar emosionele intelligensie in die sosiale media is dié van ’n kleindorpse moegoe.’

Daar is geen rede hoekom Ramaphosa enige respek vir die politieke statuur van Maimane hoef te hê nie.

Maimane is tans in ’n bloedstryd gewikkel om die uiteenlopende stemme binne sy eie party tot orde te roep, en sy leierskap sal beslis aan die einde van sy tweede termyn tot ’n einde kom.

Sy teatrale toesprake in Amerikaanse styl is eenvoudig nie oortuigend nie. Zille, Lindiwe Mazibuko en Patricia de Lille was as leiersfigure ’n veel meer bevrydende beeld van waarheen die DA op pad kon wees.

Daar is egter nou die ideale geleentheid om nuwe alliansies en ooreenkomste met historiese opponente te sluit wat weer tot nuwe steunbasisse vir die DA kan lei. Dit is nog nie te laat vir Maimane om die liberale politiek van wit Suid-Afrika finaal vaarwel toe te roep nie.

Patricia de Lille
Patricia de Lille
Image: SUNDAY TIMES

Zille nie bestuurbaar

Dit is nie ironies dat Maimane met beide Patricia de Lille en Zille koppe gestamp en verloor het nie. Zille was waarskynlik die doeltreffendste Suid-Afrikaanse politieke bestuurder sedert 1994, maar vandat sy afstand gedoen het van die partyleierskap, het dit ook duidelik geword dat sy nie bestuurbaar is nie.

Haar begrip van komplekse politieke teorie is steeds vlymskerp, maar haar emosionele intelligensie in die sosiale media is dié van ’n kleindorpse moegoe.

Selfs die verveligste opinie van ’n sosialemediadroster word met bloed om die lippe beveg. Tog was sy in byna elke opsig Maimane se meerdere.

So ook De Lille, wat waarskynlik een van Ramaphosa se beste keuses as minister was. Ten spyte van haar swakheid vir magsmisbruik en wit leuens is haar vermoë om komplekse stelsels te bestuur goed geoefen.

Haar departement gaan die onteieningswet skryf en sy beplan om eienaarskap van en toegang tot stedelike grond radikaal te verander. De Lille het nie die DA nodig nie, maar die DA kan haar dalk in die toekoms nodig hê.

Die DA gaan nog vir Cyril mis …

Die DA het ’n “vriend” in die openbare beskermer (OB) gevind in hul stryd teen Cyril Ramaphosa, maar hul werkwyse kan dalk net so roekeloos soos dié van die EFF wees. Ramaphosa moet inderdaad verantwoordelik gehou word vir wat ook al Bosasa se betrokkenheid by sy CR17-veldtog was.

Maar die DA se onvolwasse leierskap koester duidelik ’n verskroeide-aarde-ingesteldheid jeens Ramaphosa eerder as verantwoordelike oorsig.

Selfs indien Ramaphosa onskuldig blyk te wees aan dít waarvan die DA hom by die OB, Busisiwe Mkhwebane, beskuldig, kan dit die president terminaal verwond in die aangesig van sy vyande binne die regerende party.

Soos Suid-Afrika sal Maimane vir Ramaphosa mis wanneer een van Magashule, Mabuza of Malema as die sesde president van Suid-Afrika ingehuldig word.

PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.