LESERSBRIEF | My eerste ervaring van staatshospitale

GESONDHEID

LESERSBRIEF | My eerste ervaring van staatshospitale

Dis 'n lang wag, maar tog nie ondraaglik nie ...

  • 12 Julie 2019
  • Vrye Denker
  • 4 min om te lees
  • artikel 27 van 29
Image: 123RF/TORWAI SUEBSRI

VIR ’n afspraak by ’n spesialis in ’n stad parkeer jy in die naaste parkeergarage – die ontvangsdame stempel jou kaartjie en die parkering kos jou niks nie. Dan meld jy stiptelik by die spreekkamer aan. Die kleurskema in die wagkamer is rustig, stylvol. Alles is skoon.

Indien die dokter laat is, is dit nie langer as vyf of 10 minute nie. Die dokter staan op en groet jou vriendelik oor die blad van die geelhoutlessenaar. Dan vra hy jou rustig uit oor jou mediese geskiedenis, ouderdom, waar jy woon. 

Die moontlikheid van ’n operasie word genoem – nie in Junie of Julie nie, want dan woon die dokter, onder meer, ’n simposium in Europa by. Die vooruitsig van ’n operasie pla jou nie, want jy weet die hospitaal behandel pasiënte soos vakansiegangers by ’n luukse oord. Jy is rustig in die wete dat jou mediese fonds sal betaal.

Dis soos dit was. Maar dinge het verander ...

Buitepasiënt op Mosselbaai

Ek maak ’n afspraak by die buitepasiënte-afdeling van die provinsiale hospitaal op Mosselbaai. Hulle sê ek moet negeuur kom, maar ek sorg dat ek en my bromponie net ná agt daar is. Ek is nommer 24. By ontvangs kry jy ’n kaartjie – pienk, blou of geel – met ’n nommer en word aangesê om te wag tot jy geroep word.

Ek vra haar waar ek koffie kan bestel. Sy kyk my verstom aan, maar besef dan dat dit ’n grappie is. Sy lag floutjies.

“Pienk 12!" Dis my buurvrou. Sy verdwyn in ’n lang gang af.

’n Ouerige vrou sit in ’n rolstoel wat só staan dat mense oor haar voete moet klim. ’n Portier kom met ’n waentjie in die gang af en stoot haar stoel eers eenkant toe. Toe hy omdraai om die waentjie te kry, bots hy teen ’n ander man. Hulle val al twee op die vloer, spring vinnig op, sê skuus en stap haastig aan.

Nog ’n portier sien ’n sigaretstompie. “Wie het dit hier gegooi?" vra hy kwaai. Niemand antwoord nie. “Dis ’n hospitaal hierdie, magtig!"

Ek reageer nie dadelik toe “Pienk 24" geroep word nie. My buurvrou stamp aan my en wys na die kaartjie in my hand. Ek moet by ’n venster aanmeld, waar ek ’n amptelike nommer, lêer en afspraakkaart kry. Dan moet ek ook met die gang af. Ek wys my nuwe kaart aan ’n verpleegster wat sê ek moet buite gaan sit, hulle sal my roep.

Die bank is hard en ek staan op en begin heen en weer loop.

Dan word ek weer aangesê om by ’n ander deur te gaan wag. Verder af in die gang huil ’n baba.'n Vrou spring op en gaan neem die baba by die ma, wat verdwaas toekyk.

Dié episode het die groep aan die gesels gesit en elkeen het ’n storie om te vertel. Die hulpvaardige vrou en haar man vertel van hul dogter wat al jare lank epileptiese aanvalle kry. Hulle wys ’n foto – dis ’n pragtige kind.

Geen tyd vir praatjies nie

Ek word geroep en geweeg en gemeet en dan kom ’n dokter my haal. Ek probeer gesels, maar sy stel nie belang in my praatjies nie. Daar is nog baie pasiënte wat wag.

 Ja, ek sal moet gaan vir ’n sonar. Ek moet by die venster om die draai ’n afspraak maak, maar eers wil sy ’n biopsie neem – in 'n ander vertrek. Die uitslag sal reg wees op dieselfde dag wanneer ek kom vir die sonar. Eers moet ek bloed laat trek. Terug na die eerste kantoor met die verpleegster, wat weer sê ek moet buite gaan wag.

Halfdrie kan ek op my skoeter klim.

 ’n Maand later. Die provinsiale hospitaal in George. Die beste in die land, word gesê.

Ek wag halfses die oggend vir die HealthNET-bussie van Mosselbaai na George. Daar is 13 van ons en dis koud en winderig. Die bussie daag eers ná nege op. Ons kom halfelf in George aan.

Daar is baie mense en min sitplek. Almal wag en luister na ander se stories.

Ek word na die x-straalafdeling gestuur. Wag weer. Sien die spesialis wat sê ek moet oor drie weke weer kom. 

Die bussie wat vieruur moes vertrek, vertrek eers ná sewe.

Drie weke later wag ek weer

Drie weke later kry ek ’n geleentheid saam met ’n dierbare mens wat die hele dag saam met my wag – sy in die kafeteria, ek saam met talle ander in die tou.

Die meeste spesialiste is in privaat praktyke en doen goedgunstiglik soms ’n middag lank diens by die hospitaal. Dan kom pasiënte van Oudtshoorn, Stilbaai, Riversdal, Albertinia, Knysna, Sedgefield en ander plekke om ’n spesialis te sien. 

Die spesialis kan my eers oor twee weke sien. Die dokter wat waarneem, sê sy sal my bel. Sy doen dit stiptelik twee weke later. Die spesialis sê hy sal moet opereer, maar dit kan eers in September gebeur.

So is dit nou. Tog is ek dankbaar vir die nuwe ervaring. – Annelize van Rooyen

(Hierdie brief is verkort. – Red.)

PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie brief kommentaar te lewer.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.