EN toe word die debat oor die wenslikheid al dan nie van 'n soewereine welvaartsfonds (Sovereign Wealth Fund) vir Suid-Afrika weer deur minister Ebrahim Patel geopper tydens sy onlangse kommentaar in die parlement oor die president se staatsrede; eers agt jaar ná sy eerste openbare melding daarvan, ook in die parlement.
Nie dat die idee binne die meer staatsgeoriënteerde faksie van die ANC ooit laat vaar is nie. Inteendeel, net soos daar 'n voortdurende hunkering binne die ANC is na allerhande sterker beheermaatreëls oor die ekonomie – soos byvoorbeeld nasionalisering en kwantitatiewe verligting – so is daar 'n nimmereindigende hunkering om 'n soewereine welvaartsfonds die lig te laat sien.
Dit is 'n beleggingsfonds waarin die regering onder meer sy “spaargeldjies" en surplus sentrale-bankreserwes belê. Die fonds word natuurlik deur die regering van die dag beheer en bestuur.
Die verklaarde doel van die fonds is baie edel: Om in slegte ekonomiese tye die negatiewe gevolge te versag ten bate van die breër bevolking.
'n Pragtige doelwit, maar ongelukkig het die geskiedenis bewys dat dit heel dikwels nie ten bate van die breër bevolking aangewend word nie, maar om politieke doelwitte mee te bereik.
Soos die geval is met die ANC se ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe: Die onuitgesproke doel is om 'n klein groepie bevoorregte kaders stinkryk te maak en nie om die breër swart bevolking te bemagtig nie.
Of soos met die ANC se grondhervorming tot op hede, of die misbruik van die fondse van die openbare beleggingskorporasie (OBK) wat die staatsamptenare se belange moes voorop stel.
As ons dus na die ANC se geskiedenis kyk, kan ons nie anders nie as om weer eens skepties te wees oor die feit dat daar na alle waarskynlikheid gehunker word na nóg 'n staatsbeheerde instrument om die ANC se kaders te bevoordeel, hierdie keer deur middel van 'n soewereine welvaartsfonds.
Veral noudat kommissies die soeklig laat val op vorige vergrype en sekere kraantjies noodgedwonge toegedraai is, soos toegang tot die biljoene van die OBK.
As daar dalk twyfel bestaan oor óf die ANC tog wel edele motiewe het, neem in ag wie selfs méér na so 'n fonds hunker. Niemand minder as die EFF nie. Nou ja, as dít nie die gevaarligte laat flikker nie, dan weet ek nie wat sal nie. – Piet du Plessis
PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie brief kommentaar te lewer.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.