MIKE se dood was die eerste item op die Zimbabwiese e-nuusbrief waarop ek ingeteken is. Die laaste keer dat ek hom gesien het, was buite sy plaashuis sowat twee uur se ry van Harare af in Mei 2002, twee jaar nadat die plaasinvalle begin het.
Dit was ’n Saterdag. Dit was my afdag en ek het by ’n elegante dog tawwe 90-jarige dame genaamd Ma gekuier. Sy was toe pas uit die hospitaal ontslaan. Hoewel sy nog redelik gekneus en gewond was, kon sy feitlik niks onthou nie van die man, of mans, wat haar in die bos aangeval het skaars ’n klipgooi van haar huis op die plaas waarop haar jongste seun toe geboer het.
Ons het tee gedrink en nie te veel oor haar wonde gepraat nie, maar sommer oor ditjies en datjies. Enige iets om nie oor die toenemende geweld in soveel plaasgebiede te praat nie.
My ou Nokia het gelui. Dit was Mike, wat sowat 20 minute daarvandaan geboer het. Hy was erg omgekrap en wou hê ek moes na sy plaas toe kom omdat hy ’n moeilike dag gehad het met die mense wat al lank sy plaas beset het. Mike het lankal ophou saai, maar het nog met beeste probeer boer.
Natuurlik het ek gegaan. Om een of ander rede het die boere wat so dag en nag geteister is, geglo ons joernaliste kan help. En hulle wou hê ons moes weet wat aangaan.
Ons kon egter nie van veel hulp wees nie, hoewel die grondgrypers, gewoonlik loonwerkers, soms danksy ons teenwoordigheid die pad gevat het. Die verhaal van wit boere se grond wat afgevat is en die geweld en moorde op van dié plase is wyd en syd in die Westerse wêreld verkondig.
Self het ek baie daarvan beleef: In die omgewing van die Victoria-waterval, ver oos na die Mosambiekse grens, suidwaarts na die beesplase naby Suid-Afrika, en noord in die hartjie van die tamaai tabakbedryf.
Die einde
Die mense wat Mike se plaas wou oorneem, was naby aan die einde van hul missie. Hulle het gewerk vir veterane van die vryheidsoorlog wat 20 jaar gelede geëindig het. Die loonwerkers het die hekke na die hoë veiligheidsheining om die opstal beman en was taamlik aggressief toe ek opdaag en vra om ingelaat te word. Hulle het geweier en ek het probeer mooipraat en verduidelik dat ek ’n vriend van Mike en sy vrou is.
Hulle het botstil voor die hek bly staan. Ek vra toe of hulle van Umkhonto we Sizwe weet. Die langste van die klomp het ’n oomblik gehuiwer en toe gesê ja, hy het al van die MK-vegters gehoor. Ek vertel hom toe dat ek van hulle geken het. En daar maak hulle die hekke oop.
Wat ek daarna gesien en gehoor het, was ontstellend. Hulle het al die beeste binne die heining om die opstal bymekaargemaak. Hordes beeste, of mombes soos ons hulle genoem het, het rondgetrap, oor bosse gestruikel en uit vrees gebulk. Hulle was absoluut paniekbevange.
Binne-in die huis het ons egter rustig oor ’n koppie tee gesels. Mike het geweet die einde het aangebreek. Dit sou sy laaste dag op die plaas wees en daardie aand sou hy die tuiste verlaat waar hy grootgeword het en waar sy pa voor hom geboer het. Mike se seun het ook op die plaas gewerk, maar toe reeds die pad gevat.
Die beeld en klank van soveel vreesbevange beeste rondom die huis was onthutsend. Toe dit skemer raak, was dit tyd vir my om te gaan. Ek kon niks meer doen as om te luister nie. Die polisie wou nie op enige versoeke om hulp van wit boere reageer nie.
Mike het daardie aand uitgetrek. Hy het dit reggekry om sy plaasimplemente en persoonlike besittings saam te neem, maar nie die beeste nie.
Steeds het die fone gelui
Kort nadat Mike vort is, is Ma, haar seun, sy vrou en hul drie dogters met honde, hase, meubels en al van hul plaas, Merryhill, af gedwing. Hulle was suksesvolle tabakverbouers wat hul oes en beeste kwyt was, maar steeds die lening moes terugbetaal wat hulle vir daardie seisoen moes aangaan. In ’n poging om te diversifiseer het hulle olyf- en ander pragtige bome aangeplant.
Hul huis was net ’n ent weg van die ou klubhuis waar die meeste van die boere en hul seuns in die somermaande krieket gespeel het. Dié klubhuis staan nou verlate en vervalle, maar Mike se huis word darem as ’n skool ingespan.
Daar word nie regtig meer kommersiële gewasse in daardie streek verbou nie.
Die plaasinvalle het nog ’n paar jaar voortgeduur en ons het aangehou om ons fone te antwoord. Soms was dit laat in die nag wanneer boervroue met ons wou praat, of net met enige iemand wou praat, om hul leed te deel en hul vrese oor die grondgrypers – dikwels jong manne wat vir diegene gewerk het wat die plase wou hê – wat goed gevodka aan die plaashuis se deure en vensters sou kom hamer, klippe op die dak gooi en vure naby die huis aansteek. Soms het hulle in ’n skrillende teenstelling die mooiste liedere gesing.
Mike het na Harare verhuis – hy was een van die min boere wat ’n huis in die dorp gehad het. Hulle was dus gelukkig en niemand het boonop seergekry nie.
Sy weduwee woon steeds in Harare, in ’n klein aftreeoord, want Zimbabwe bly maar haar tuiste.
Kort voor die einde van die grondgryp-sage was daar een welgestelde gebied sowat 70 km noord van Harare wat jare lank ’n opgeleide sekuriteitspan gehad het wat die distrik snags met knuppels en honde gepatrolleer het. Ek dink daar was sowat 500 honde. Maar nou was daar nie meer plase om op te pas nie, en só is ons uitgeroep om te aanskou hoe die honde deur veeartse uitgesit word wat van oraloor kom help het.
Ek het probeer kyk en notas neem, maar het kort-kort my oë toegeknyp, want dit was net te erg. Die sekuriteitswagte het van droefheid staan en bewe. Hulle het hul werk én hul honde verloor.
Een van die veeartse sou die volgende dag Australië toe vlieg. Hy het gesê hy is opgelei om diere te genees, maar die laaste paar jaar moes hy van plaas tot plaas ry en perde, donkies en ou honde skiet.
Die gevolge
Zimbabwe kan al die afgelope 19 jaar nie sy mense voed nie, en verlede somer se droogte het die stand van sake vererger. Kleinskaalse boere wat kos vir hul families kweek, het feitlik niks geoes nie.
Daar is meer as 170,000 tabakboere waarvan almal behalwe sowat 2,000 ’n maksimum van 2 ha tabak verbou en hul familie as arbeiders gebruik. Hulle maak eintlik ’n goeie bestaan – beslis beter as wat hulle gevaar het toe die regering vir hulle klein plotte gegee het van plase wat by wit boere afgeneem is.
Zimbabwe verbou selfs meer tabak as voor die plaasinvalle. Maar derduisende hektaar bome is vir vuurhout afgekap omdat die kleinboere nie steenkool kan bekostig om hul tabak te droog nie.
Die laaste twee jaar het Zimbabwe boonop te veel tabak produseer en van dit is steeds nie verkoop nie en lê iewers in pakhuise. Die prys het dus drasties gedaal.
Vrugtebome is afgekap en so ook van die vroeë makadamia-plantasies. Die meeste van die rasegte beeste is weg, al die skape, asook die proteas, die rose van Amsterdam en die koffie- en sojabone. Op die sewe miljoen hektaar grond wat destyds afgeneem is, is daar geen wild meer oor nie. Alles is opgeëet. En daar is soveel uitstekende grond in goeie reënvalstreke wat braak lê.
Ma is vyf jaar later oorlede en haar seuns het haar stilletjies terug “huis” toe geneem en in ’n ongemerkte graf langs haar man gaan begrawe.
Drie jaar daarna is ons familieplaas tussen die pragtige Bvumbaberge naby die Mosambiekse grens op ’n heelwat minder gewelddadige wyse afgevat. Dit was ’n uitvoerplaas vir tuinbougewasse met onder meer orgideë en ander bome in kweekhuise tussen digte, vogtige bergwoude.
Agter die hoofhuis – waarin niemand nog ingetrek het nie omdat die gees van die oorspronklike plaasvrou blykbaar nog daar ronddwaal – is die begraafplaas. ’n Hele paar grafstene met name daarop gegraveer is gelukkig onaangeraak deur die grondbesetters gelaat.
Chris, wat die plaas geërf het, het verlede Julie teruggegaan en is nie deur die mense wat tans daar woon verwilder nie.
Hy het die plante wat familie en vriende se grafte oorgroei het, verwyder en totsiens gesê. Vir oulaas. En in vrede.
PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.