Kaapse Vlakte: die bangte bly

DIE HERE HELP ONS

Kaapse Vlakte: die bangte bly

Halleluja vir die weermag, sê dié wat gesmeek het daarvoor. Hoeliha, sê die ander. En vir ANASTASIA DE VRIES ruk dit weer die roof af wat oor vergeet gegroei het.

Die weermag is nou op die Kaapse Vlakte ontplooi.
STEEDS BANG ... Die weermag is nou op die Kaapse Vlakte ontplooi.
Image: ANTHONY MOLYNEAUX

TWEE, drie, hoeveel woordjies.

En dai weetiehoekommiemaariejirrehelpons bloei soos ’n ou wond terug in my lyf in. Bang. Sê ek vir myself. Ek is bang en ek weet nie vir wie of wat en of ek eens bang moet, mag wees nie. Maar daar staan dit, daar hoor jy dit:

Weermag op Kaapse Vlakte.

Hoe het ons hier gekom? Halleluja, sê dié ná ’n leeftyd van soebat en smeek. Hoelieha, dié wat teen die karre skop. Dis nie die oplossing vir so ’n komplekse krisis nie. Dis om julle te help, sê sommige. Ja, ons. Elders is dit lig en lag. Haal asem. Haal. Asem.

Die bangte lê my hele lyf vol, vat my kop. Dis weer Desember 2008.

Vir wie moet ons bang wees, het iemand gevra toe die twee soldate saam met ons in die bus klim, een voor, die ander agter, man-man met ’n ma se lang geweer teen die sy af. Ons was sowat 25 joernaliste uit verskillende wêrelddele, en dít die derde dag van ’n 10 dae lange kursus oor “the advocacy role of the media”. Soldate? Veiligheidsmaatreël, het die koördineerder gesê.

Wie is die vyand, het ’n vrou uit die Oekraïne gespot en aan haar vriendin uit Georgië gestamp. Kan ons net vir een dag ophou met die vrae, het die koördineerder gesug. Iemand het ’n venster oopgemaak. Soos een man het die soldate op hulle afgeswerm. Die een wat ek vanuit my sitplek kon sien, het in sy taal geblaf, sy oë star. Protes in ’n duisend moedertonge het die bus gevul. Geweld, onsigbaar, maar skielik net dáár. Iewers het iemand morsig begin asemhaal, snurkend. Bang, het ek myself hoor sê. Bang. Breathe, het die ander Suid-Afrikaner in my oor gesê, just breathe. Breathe, het die ander gekoor.

Die oompie van die bus het uit die voorste sitplek verrys. You people from developing countries, het hy gesê, sy kop geskud. Hy’t sy een mou opgetrek en toe met sy hand op die kaalte van sy arm geklap. Só. ’n Elegante gebaar. Time is time, het hy gesê. Half onheilspellend. En die vensters moes toebly, het hy onder ons gespotlag deur gesê, vir ons eie veiligheid. Jôr oun sei-fi-tie!

‘Want as hulle só vroeg begin, soek hulle iemand of iemande en sal skiet tot hulle dood is.

Daarna was hulle oral, ons soldate, in die omtes van die buurt se McDonald's waar ons twee of drie keer saans ná klas in ’n groep kon gaan eet, op ons staptogte, voor die kerk, oral. Ek het nog nooit so onveilig in annermansland gevoel soos in dié een nie, het ek vir die Suid-Afrikaner gesê. Gelukkig het hulle nog nie ons kamerdeure kom oopskop nie, het hy gesê. Soos in die dae van die goeie ou Suid-Afrika. Toe hulle ook so oral was. Op onse kampusse. Onse woonbuurte. Onse huise. Onse alles. Ja, het ek gedink, miskien moet ons dankbaarder wees. Ons hoef nooit weer só bang te wees nie.

Maar jy weet wat gedink gemaak het. En hoe dun die roof is wat oor vergeet kom groei het. Hoe gister se beelde en goete sommer op ’n dag soos rêrag in jou kop kom leef, ineenvloei met vandag se bangtes.

Vir hóm wat so drie, vier maande gelede vir jou ’n video gebring het as bewys dat hy nie aspris die klas gemis het nie. En die geweld wat hy elke dag en nag van wie weet wanneer af al moet trotseer word joune. Jy is die ma in dai video wat “Here, help” gil terwyl die skote klap.

Die kind wat rigtingloos heen en weer hardloop, om onder die koeëls uit te kom, huilend, die mond en oë oopgesper van vrees. Jy steek jou hand uit, wil haar help en dan besef jy jy kan nie, dis net ’n video. Die bendes soos die cowboys en crooks in ’n goedkoop fliek sonder ’n musiekklankbaan. Met al die moves van mik en koes, nogals. Dwa-dwa-dwa! 

‘Ek ken nie ’n leefwêreld wat gekrimp het tot twee agterkamers nie. Omdat dit veilig is só. Omdat jy dáár nie die skote kan hoor nie. Mense om jou sien sterf nie.’

Hulle’t dai dag al van sesuur begin skiet, het ek hom hoor sê. Sy ma was besig om reg te maak vir werk toe die skote klap.

Sy kom vandag weer nie by die werk uit nie, het sy gesê. En hy nie by die klas nie. Weer nie. Want as hulle só vroeg begin, soek hulle iemand of iemande en sal skiet tot hulle dood is. Hy het nie meer verskonings oor vir afwesigheid nie. Hy kan nie bekostig om te druip nie. Hy’s derdejaar. Ons sterstudent. 

Waar was jy, het ek gevra. Waar was jy toe die skote begin klap? Agter, het hy gesê. Hulle kom nooit meer in hulle voorhuis nie. Elke nou en dan darem in die kombuis. Maar die gordyne moet toe bly. Die vensters ook. Vir hul eie veiligheid. Hul woonstel se voorkant is in die oopte, in die skietlinie.

Ek ken nie ’n leefwêreld wat gekrimp het tot twee agterkamers nie. Omdat dit veilig is só. Omdat jy dáár nie die skote kan hoor nie. Mense om jou sien sterf nie.

En toe, nou die dag toe is ek banger as wat ek al ooit in my lewe was. Vir hom. Vir ’n ma wat die Here bly aanroep. Vir ’n kind wat haar rigting verloor in ’n wille weste-wêreld. En ek wonder of hulle, of hý veiliger sal voel as die weermag op die Kaapse Vlakte ontplooi word. Of dan ten minste tog net veilig, regtig-egtig veilig.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.