Moedig ons eerder aan as om ons te druk, asseblief

CORONA EN WEERSTAND

Moedig ons eerder aan as om ons te druk, asseblief

Ebrahim Patel behoort te weet gedrag kan verander deur bloot vir mense te sê wat ander doen, skryf MSIZI KHOZA. Dit is tyd vir meer wortel en minder stok.

  • 29 Mei 2020
  • Vrye Denker
  • 4 min om te lees
  • artikel 9 van 27
  • Msizi Khoza
Minister Ebrahim Patel
POR OF KNOR ... Minister Ebrahim Patel
Image: FREDDY MAVUNDA

NAMATE die land sy tiende week van inperking betree, raak Suid-Afrikaners toenemend gefrustreerd omdat hulle by hul huise ingeperk en van hul burgerlike vryhede ontsê word. In die hoofstroom- en sosiale media het die aanvanklike oorweldigende solidariteit en ondersteuning vir die inperking onder baie nou in volstrekte woede en opstand verander.

Dis daarom geen wonder dat mense briesend is oor die Sowjetagtige beperkings van Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, nie. Sy regulasies oor nie net watter soort klere verbruikers mag koop nie, maar ook oor hoe hulle dit moet dra, het met reg heftige kritiek ontlok.

Ek het wel ook baie simpatie met die regering se beleidmakers in hierdie tyd. Hulle moet ’n krisis hanteer waarvoor daar geen handleiding bestaan nie, en moet dus eksperimenteer en leer deur te doen. Dit verskoon hulle natuurlik nie daarvan om dinge eers reg te deurdink of om 'n brutekrag-algoritme op genuanseerde openbare beleidsprobleme toe te pas nie.

Die werklike beleidsprobleem wat Patel probeer oplos is: Hoe verander ek verbruikers se keuses en besluite sodat die uitkoms meebring dat mense so lank moontlik fisieke afstandskepping toepas? Gelukkig vir hom ondersoek gedragsekonome lankal ’n variasie van hierdie presiese vraag. Een van hulle, prof. Richard Thaler van die Universiteit van Chicago, het in 2017 ’n Nobelprys in ekonomiese wetenskap ontvang vir sy werk oor die teorie van “nudging” – maniere waarop mense sagkens aangepor kan word om die regte besluite te neem.

Thaler se teorie is eenvoudig én kragtig, maar kom ons begin met ’n definisie. Aanpor word gedefinieer as enige keuse wat mense se gedrag verander sonder om enige opsies uitdruklik te verbied of die ekonomiese aansporings beduidend te verander.

Om as aanporring te tel, moet ’n ingryping maklik en goedkoop wees om te vermy. Aanporrings is ook nie mandate nie – om byvoorbeeld vrugte op ooghoogtevlak in ’n winkel te plaas, is ’n aansporing vir verbruikers om gesonder kos te koop. Dieselfde geld nie wanneer gemorskos verbied word nie.

’n Keuse-argitek is iemand wat die verantwoordelikheid het om die konteks te bepaal waarin mense besluite neem – nes ’n dokter wat alternatiewe behandeling voorstel, die persoon wat ’n vorm vir ’n winkelrekening ontwerp of ’n verkoopspersoon wat ’n motorvertoonlokaal saamstel.

Volgens die teorie kan jy mense se lewe verbeter en steeds elkeen se vryheid van keuse behou deur doeltreffend aansporings én aanporrings toe te pas. Thaler en andere beskryf dit as vryheidsgesinde paternalisme – die idee dat dit regmatig (en soms nodig) is dat ’n keuse-argitek mense se gedrag beïnvloed om hulle te help om ’n langer en gesonder lewe te lei, terwyl hul keusevryheid behoue bly.

Wat doen die ander mense?

Patel, wat al langer as ’n dekade ’n sentrale rolspeler in Suid-Afrika se ekonomiese beleid is, behoort teen dié tyd te weet ekonomiese teorie aanvaar dat mense rasionele wesens is wat meestal besluite in eie belang neem. Hy behoort ook te weet mense kan nie heeltemal rasioneel wees nie. Mense tree op grond van heuristiek op, ’n deftige woord vir praktiese reëls of metodes – verankering, beskikbaarheid en verteenwoordigheid of gelyksoortigheid.

Dis ook waar dat verbruikers dikwels verstandlose keuses maak en die trop volg, soms tot hul eie verbasing. Wanneer keuse-argitekte dus gedrag deur aanporring wil verander, kan hulle dikwels hul doelwit bereik deur bloot mense in te lig oor wat ander mense doen.

Volgens ’n studie aan die Harvard School of Public Health vergryp Amerikaanse mans hulself dikwels aan drank weens ’n oordrewe begrip van hoeveel ander mense drink. Die universiteit het politieke besluitnemers raad gegee oor die doeltreffendste manier om drankgebruik te verminder: Beklemtoon die statistiese werklikheid, naamlik dat die meeste Amerikaners glad nie drink nie. Dieselfde werklikheid geld Suid-Afrika.

In nog ’n studie het die Wêreldbank bevind dat toe Brasiliaanse huishoudings meegedeel is hoeveel elektrisiteit hulle in vorige weke verbruik het en (akkurate) inligting ontvang het oor die gemiddelde kragverbruik deur huishoudings in hul woonbuurte, die bogemiddelde gebruikers in die komende weke geneig was om hul kragverbruik te verminder. Ondergemiddelde gebruikers het egter ook hul gebruik verhoog.



Kry ons app vir Android- of Apple-toestelle; lees ons e-pos-nuusbriewe; of volg ons op Facebook en Twitter.

Die Spaanse regering het sagte aanporrings met sukses gebruik om orgaanskenkingskoerse te verhoog en spog nou met ’n skenkkoers van meer as dubbel soveel as dié van die VSA en Europese Unie.

Om Wladimir Lenin aan te haal: Dis nie moontlik of wenslik dat die staat alles moet beheer nie. Gedragsekonomie leer ons dat klein veranderings in konteks gedrag in ’n groot mate beïnvloed. Patel moet ophou om edikte voor te skryf oor wat ons behoort te dra en eerder sy gewig ingooi by die heelwat moeiliker taak om Suid-Afrikaners positief te beïnvloed, terwyl hy hul kosbare vryheid help bewaar.

* Khoza is ’n prinsipaal in Absa Korporatiewe & Beleggingsbankbesigheid se afdeling vir beleggingsbanksake.

* Die artikel word gepubliseer met vergunning van Business Day



NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.