Mogoeng bevlek sy luisterryke regsloopbaan in sy skemertyd

WIE BEREG OOR DIE HOOFREGTER?

Mogoeng bevlek sy luisterryke regsloopbaan in sy skemertyd

Die hoofregter het nie aanspreeklikheidsreëls ten volle nagekom nie, take gedelegeer wat hy moes uitgevoer het en in sensitiewe politiek gedelf, skryf LAWSON NAIDOO.

DIE onlangse opskudding oor opmerkings van hoofregter Mogoeng Mogoeng bring belangrike kwessies oor die status en bestuur van die regbank in Suid-Afrika na vore.

Ons stelsel van grondwetlike bewind bring drie verskillende maar interafhanklike bene van die staat byeen: wetgewend, uitvoerend en geregtelik. Dit bied die boublokke vir die inherente wigte en teenwigte in die grondwetlike argitektuur, om te verseker die oppergesag van die Grondwet word gerespekteer en dat enige optrede wat van die Grondwet of reg afwyk, uitgedaag word.

Hierdie drie bene van die staat moet sodoende die mag en gesag van die ander respekteer, en net tussenbeide tree wanneer dit nodig is om die Grondwet en reg te beskerm. Dit geld veral die regbank as 'n nieverkose instelling waarop die formele bewaring van die Grondwet nietemin berus. Die Grondwet bepaal dat “die howe onafhanklik moet funksioneer, en net aan die Grondwet en reg onderworpe moet wees, wat hulle onpartydig en sonder vrees, guns of vooroordeel moet toepas … Staatsorgane moet deur wetgewende en ander maatreëls die howe bystaan en beskerm om die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die howe te verseker.”

Die kantoor van die hoofregter het in 2010 tot stand gekom as ’n nasionale departement, afsonderlik van die departement van justisie, om die institusionele, administratiewe en finansiële onafhanklikheid van die regbank te versterk. Die Wet op Hoër Howe van 2013 bepaal dat die hoofregter verantwoordelikheid moet uitoefen oor die vestiging en monitering van norme en standaarde van regsfunksies vir alle howe.

Die kantoor word beheer ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en moet daarom aan die parlement rapporteer. Dit het nie in die praktyk gebeur nie, aangesien die hoofregter meen dis voldoende om “aan die publiek” te rapporteer deur die kantoor se jaarlikse verslag via die media uit te reik. Die kantoor se besteding in 2018/2019 het R1.12 biljoen beloop, regters se salarisse van R1.02 biljoen uitgesluit. Die Grondwet vereis uitdruklik dat alle staatsorgane aan die Nasionale Vergadering aanspreeklik moet wees, en tog beskou die hoofregter dit as onnodig. Hy skep ’n betreurenswaardige presedent wat die grondliggende grondwetlike beginsel van aanspreeklikheid ondermyn.

Gebrek aan leiding

Hy het onlangs nie daarin geslaag om duidelike leiding en rigting aan die hoër howe te verskaf oor hul werksaamhede tydens die Covid-19-inperking nie. Mogoeng het dit aan die regterpresidente van die verskillende hooggeregshowe oorgelaat om self hul modus operandi in hierdie tyd te bepaal, wat tot ’n teenstrydige benadering deur die howe gelei het. Dit het ernstige implikasies vir gelyke toegang tot geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners. Hoewel sommige howe by die veranderende tye aangepas het en steeds met virtuele verhore voortgaan, kla ander oor die gebrek aan voldoende IT-infrastruktuur soos webbevoegde rekenaars om hulle hul regsfunksies te help uitvoer.

Mogoeng het benadruk hoe belangrik dit is dat die howe beskikbaar moet wees om sake aan te hoor, insluitend dié oor dringende uitdagings rakende regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur, maar het min gedoen om dit te fasiliteer. Hy moes minstens seker gemaak het dat regters voldoende toegerus is om hul werk te doen.

Nog ’n opvallende tekortkoming is die trae manier waarop die Regterlike Dienskommissie (RDK) tot dusver klagtes oor regslui gehanteer het. Daar was ’n vlaag van klagtes oor regters van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, soos regterpresident John Hlope, adjunk-regterpresident Patricia Goliath, regter Gayaat Salie-Hlope en regter Mushtaq Parker. Dis glad nie oordrewe om te sê dit het ’n beduidende impak op die doeltreffendheid en integriteit van die hof gehad nie (tien regters het in die openbaar aangevoer dat hulle nie gewillig was om saam met Parker by verhore te sit nie), en tog toon die RDK geen dringendheid om hierdie klagtes af te handel nie.

Die hoofregter word deur die Wet op die Regterlike Dienskommissie aangewys om die komitee vir regsgedrag te lei. Hy het egter besluit om hierdie verantwoordelikheid aan adjunk-hoofregter Raymond Zondo oor te dra, ondanks sy swaar werklading by die kommissie van ondersoek na staatskaping. Dit het klaarblyklik die doeltreffendheid van hierdie kommissie beïnvloed, asook die spoed waarmee dit klagtes hanteer.

Die Wet op die Regterlike Dienskommisie vereis ook dat die kommissie ’n jaarlikse verslag aan die parlement voorlê – in die praktyk word sulke verslae by die kantoor van die hoofregter ingedien en nie na die parlement verwys nie. Hierdie gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid deur die regbank is ’n belediging vir die land se grondwetlike waardes en beginsels.

Die hoofregter se 12-jaar-dienstyd by die Konstitusionele Hof eindig in 2021. Dit lyk asof hy nou sy tyd afwag en voorberei op sy lewe ná die regbank. Hoe regsbeheer nou daar uitsien, tel skynbaar nie onder sy prioriteite nie.

Sekulêre samelewing, iemand?

Sy onlangse opmerkings waarin ondersteuning aan Israel ten koste van die fundamentele menseregte van die Palestynse nasie gebied word, het met reg wydverspreide verdoeming meegebring. Maar dit was nie die eerste keer dat hy sy amp misbruik as ’n kansel vir evangeliese posering nie. Dis nie ’n kwessie van vryheid van spraak of ’n eng interpretasie van die geregtelike gedragskode nie.

In ’n sekulêre samelewing behoort die wet en godsdienstige oortuigings nie maklike bedmaats te wees nie, ongeag die betrokke kwessie. Dis ’n kwessie van etiese en verantwoordelike leierskap wat op die beginsels van menseregte, menslike waardigheid en respek vir ander instellings van die staat gegrond behoort te wees.

Neem deel aan die gesprek

Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Die regbank lyk nou leier- en koersloos. Watter voorbeeld stel Mogoeng vir ander regsbeamptes – is dit ’n uitnodiging aan regters van ander gelowe om vanuit hul godsdienstige oogpunte by hierdie debat aan te sluit?

Ons sal dalk weer moet dink oor die idee om een persoon aan die stuur van die regbank te plaas, sonder doeltreffende oorsig en die nodige meganismes vir aanspreeklikheid. Die parlement en uitvoerende gesag moet seker maak die projek om regsbeheer te verseker, is voltooi, en dat die institusionele raamwerk inderdaad die onafhanklikheid en integriteit van die regbank bevorder en beskerm. Ons Grondwet verdien niks minder nie.

In wat waarskynlik as die hoogwaterlyn van sy dienstyd beskou sal word, die Nkandla-uitspraak, het die hoofregter die president se grondwetlike verpligtinge benadruk – “om bewonderenswaardig en met grasie te volhard en alle verpligtinge wat aan hom opgelê word na te kom”. Dit sal goed wees as hy kan besin oor wat dit vir sy eie posisie en nalatenskap beteken.

* Die artikel word gepubliseer met vergunning van Business Day


Kry ons app vir Android- of Apple-toestelle; lees ons e-pos-nuusbriewe; of volg ons op Facebook en Twitter.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.