Het ons werklik nog ’n boek oor SA se grondvraagstuk nodig?

DIE POLITIEK VAN GROND

Het ons werklik nog ’n boek oor SA se grondvraagstuk nodig?

Wat kan in hierdie stadium nog bygesê word oor 'n onderwerp wat omtrent al sufgepraat is, vra ANDRIES DU TOIT. Blykbaar nogal heelwat – en Tembeka Ngcukaitobi se bydrae met Land Matters is meer as net nog ’n relaas oor die inhoud en punt van grondbeleid.

  • 28 Mei 2021
  • Vrye Denker
  • 10 min om te lees
  • artikel 12 van 28
  • Andries du Toit

HET ons werklik nóg ’n boek oor Suid-Afrika se grondvraagstuk nodig? In die laaste paar jaar het die politieke krisis rondom onteiening sonder vergoeding ons reeds ’n stewige pak leesmateriaal besorg: Finding Common Ground deur Wandile Silhobe, The Land Wars deur John Laband, The Lies of 1652 deur Patric Mellet en The Land is Ours deur advokaat Tembeka Ngcukaitobi. Nou het Ngcukaitobi nóg ’n grondboek uitgebring: Land Matters: South Africa’s Failed Land Reforms and the Road Ahead, ’n gedetailleerde opsomming van die geskiedenis van koloniale besetting, onteiening en grondhervorming in Suid-Afrika. Nóg ’n paar honderdduisend woorde oor ’n onderwerp wat al klaar omtrent sufgepraat is. Wat kan in hierdie stadium nog bygesê word?

Blykbaar nogal heelwat. Ngcukaitobi se bydrae is meer as net nog ’n relaas oor die inhoud en punt van grondbeleid. Hy probeer inderwaarheid om die debat op ’n ander voet te plaas. Hoewel hy duidelik ’n groot voorstander van grondhervorming is, is die kern van sy argument dat die gesprek op die verkeerde vraagstukke konsentreer. ’n Ander gesprek is nodig oor grondhervorming – een wat oor groter en moeiliker vraagstukke handel: nie oor grond nie, maar oor politieke gemeenskap, ons identiteit as ’n nasie, en wat ons as burgers vir mekaar skuld en kan vra.

Met die eerste oogopslag lyk Ngcukaitobi se argument redelik eenvoudig. Hoewel dit duidelik is dat daar ’n onteenseglike saak te make is vir grondhervorming, verwerp hy dat dit nodig is om die Grondwet te verander. Die Grondwet is nie ’n hindernis vir grondhervorming nie. Die beskerming van eiendomsreg in Art 25 bemoontlik grondhervorming; om die waarheid te sê, die Grondwet vereis dat ons grond hervorm. En meer: Ngcukaitobi se boek is ’n pleidooi vir ’n uitgebreide, vrygewige interpretasie van die Grondwet as ’n handves vir sosiale transformasie, en die skep van ’n regverdige, menslike en gelyker samelewing. Tot dusver, sê Ngcukaitobi, het ons die Grondwet aangehaal, bewonder en geheilig. Ons daadwerklike taak is om die ding van die boekrak af te haal, af te stof en te gebrúik...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.