DIE begrafnis van pres. Andrew Jackson van Amerika in 1845 is erg ontwrig toe sy geliefde Afrika-gryspapegaai, Poll, kliphard begin swets het.
Eerw. William Norment het gedokumenteer dat Poll opgewonde was oor al die mense “and let loose perfect guts of cuss words”. Hy het die papegaai laat verwyder, want die begrafnisgangers was “horrified at the bird’s lack of reverence”. (Fox News het toe nog nie bestaan nie.)
Meer onlangs het vyf gryspapegaaie wat deur verskillende eienaars aan die Lincolnshire Wildlife Park in Engeland geskenk is, mekaar begin aanstook om vreeslik te vloek. Hulle het later ook op besoekers begin vloek, wat met hulle eie swetsery geantwoord het, totdat die owerhede ordentlikheidshalwe die voëls uit die openbare oog verwyder het.
Read this article in English:
Papegaaie en ander voëls wat menslike spraak kan namaak, het nie stembande soos mense nie, maar forseer lug deur hulle gorrelpyp om die klanke te maak.
Navorsers het bevind dat die voëls nie eintlik die woorde verstaan wat hulle namaak nie, hoewel hulle meestal die konteks begryp – soos om te groet as jy die vertrek binnekom.
Hulle reageer ook sterker wanneer daar spanning, drama of emosie om hulle is. Luister na die keurige taalgebruik van dié papegaai toe sy nuwe eienaar die hok waarin hy voorheen mishandel is, verwoes het:
Pt.2 #cursing #parrot #fyp #foryoupage #foryou #xybca | TikTok
Voëls in die kraaifamilie, parakiete, kokketiele en Indiese spreeus kan ook geleer word om menslike spraak na te maak. Spreeus se na-apery kan selfs nader aan menslike spraak as papegaaie s’n wees, soos dié een wat sê: “I can talk, can you fly?”
Die instink om klank na te boots, hou verband met voëls se begeerte om in die swerm aanvaar te word. Dit gebeur elke dag in die natuur en dit is volgens kundiges nie anders wanneer so ’n voël in ’n huishouding geplaas word nie.
Kraaie en rawe word algemeen as die intelligentste voëls gereken.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.