Laurie Ackermann: die mens

'N UITSONDERLIKE SUID-AFRIKANER

Laurie Ackermann: die mens

Regter Laurie Ackermann, 'n stigterslid van die konstitusionele hof, wat tussen 1994 en 2004 as regter van die hof gedien het, is op 25 Mei in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Sy lewenslange vriend en kollega, JOHANN KRIEGLER, bring hulde aan hom.

  • 05 Julie 2024
  • Vrye Denker
  • 10 min om te lees
  • artikel 12 van 27
  • Johann Kriegler
Image: © JEFF RANKIN

DIE onlangse heengaan van Laurie Ackermann, eertydse regter van die konstitusionele hof, het heelwat openbare aandag geniet. En tog, ondanks die mooi woorde en gulle rubriekruimte, het ek so vaagweg afgeskeep gevoel. In die ganse koor van lofuitinge kon ek niks van my oorbeskeie lewenslange vriend as méns bespeur nie, niks van hom of sy haas vergete leefwêreld nie.

Die verhaal begin as’t ware by die doopvont. Die eersteling van tandarts en mev. Ackermann is naamlik vroeg 1934 in die nasleep van die Depressie die wêreld ingestuur onder die swaarwigtige voorname Lourens Wepener Hugo. Op sy oudag vertel hy dat hy reeds kleintyd daarvan gedroom het om eendag ’n regter te wees. Wel, of dit nou die druk van sy stoere heldenaam of wel sy fatsoenlike opvoeding was, weet ek nie, maar reeds in die Laerskool Pretoria-Oos was Laurie ’n sedige outjie – op die speelgrond nie juis pieperig nie, maar so ’n bietjie waardig terughoudend en nooit ná speeltyd eintlik so stowwerig soos die res van ons nie.

Begaafd was hy ongetwyfeld, en daar is vroeg reeds beplan dat hy mettertyd sou meeding om ’n Rhodes-beurs, destyds en stellig vandag nog, dié studiebeurs, een wat die ontsaglike hupstoot van ’n Oxford-graad binne die bereik van gewone middestand-Suid-Afrikaners kon bring. Die keuse van hoërskool was ook effe buitengewoon, naamlik Pretoria Boys’ High School en nie Affies nie. Daar presteer hy akademies en op die sportveld voldoende om sy vooruitsig op die gesogte beurs blink te hou, en matrikuleer in 1950 as hoofseun. Toe reguit Stellenbosch toe vir ’n BA Regte cum laude, ’n plek as o.19-senter en, natuurlik, die Kaapse Rhodes-beurs in 1954.

Onuitwisbare stempel afgedruk

Oxford het op die jong Laurie Ackermann, soos op derduisende bevoorregtes oor die eeue heen, sy onuitwisbare stempel afgedruk, nie net akademies nie, maar ook op sy gedagtewêreld en persoonlikheid. Die organisatoriese verbintenis het geblyk lewenslank te wees: Oor die dekades eresekretaris van die Rhodes-trust in Suid-Afrika, medestigter van die Mandela Rhodes-stigting, ere-fellow van Worcester College.

Intellektueel was die band des te sterker. Byna ’n leeftyd later, toe ons saam in die konstitusionele hof dien, het Laurie steeds, of eintlik opnuut, filosofiese leiding en rugsteuning opgediep uit die bronne waarin hy hom op Oxford ingegrawe het. Dis daaruit wat hy sy grondliggendste insigte in veral die wesenskern van die individu se reg op menswaardigheid, privaatheid, liggaamlike en psigiese integriteit en persoonlike vryheid geboetseer het.

Terug op Stellenbosch verwerf hy ’n LLB en, baie belangriker, verwerf hy ook sy éérs begaafde lewensmaat, Denise du Toit, ’n ambassadeursdogter en Laurie se sosiale en intellektuele pasmaat. (Sy sou later internasionaal bekend raak as feminis-teoloog.) Dit was bes moontlik die slimste besluit wat Laurie ooit geneem het: Hy ’n raps stillerig-inkennig ernstig, Denise uitgaande, vrolik en sjarmant; Laurie ’n fynwynghoeroe, Denise ’n fynkoskunstenaar. Ete by die Ackermanns word weldra ’n gelééntheid en groei met die jare tot legendariese status.

Vroeg 1958 staan die pas afgestudeerde Laurie se kop natuurlik regswêreld toe en neem hy die waagmoedige besluit om by die Pretoriase Balie aan te sluit – waagmoedig om verskeie redes. Ten eerste weet hy g’n snars van die regsberoep en het hy geen kring bevriende prokureurs van wie hy brevette kan verwag nie. Die meer gebruiklike roete vir voornemende advokate was juis om eers via die prokureursberoep ’n bietjie touwys te word en ’n kring professionele kennisse op te bou.

Regbank word toenemend Afrikaans

Laurie spring sommer in – en die water was bra koud, nie bloot omdat hy ’n nuweling was nie. Die 1950's en 1960's is die bloeitydperk van herrese Afrikaner-nasionalisme, asook die geesdriftige verkondiging en vestiging van apartheid, met Pretoria die noordelike intellektuele kragpunt. Die regsberoep en by name die advokatuur is geesdriftig in hul steun. Daar word met mening teruggekeer na ons Romeins-Hollandse wortels, Engelsregtelike indringings word uitgeken en uitgeroei, en die regbank word toenemend Afrikaanssprekend.

Pretoria en by name sy Balie was bepaald nie ’n gunstige atmosfeer vir ’n polities “andersdenkende”, half-Engelssprekende en Rhodes-gepoleerde Stellenbosser nie. Die Ackermanns het nietemin met oop oë tog besluit dat Laurie dáár sy naambordjie moet ophang, en dit hét aanvanklik maar swaar gegaan. Om die pot aan die kook te hou het Laurie as deeltydse dosent by Unisa ingeval en die huishoudelike rieme is maar dun gesny.

Inmiddels groei die egpaar se gesin (daar’s mettertyd drie kinders, later ook sewe kleinkinders) en hulle word by diverse gemeenskapsake en die gebruiklike nie-regterlike verantwoordelikhede betrek: skoolbeheerrade, welsynsorganisasies en dies meer.

Advokaat Laurie het deur die jare ’n stewige praktyk opgebou, niks opspraakwekkend of uitspattigs nie, maar betroubaar stewig. Hy neem toenemend deel aan Balie-aangeleenthede, later in leiers-hoedanigheid, meermale as lid van die Pretoriase Balieraad en ook by geleentheid op nasionale vlak. Sy praktyk ontwikkel, hy aanvaar in 1975 senior status, word dan en wan genooi om as regter waar te neem en word in 1980 permanent op die Transvaalse provinsiale regbank aangestel.

Nugter gesien, het advokaat Ackermann eintlik eers tot sy reg gekom as regter Ackermann. Maar dan moet onmiddellik bygevoeg word dat hy in laasgenoemde hoedanigheid uitgestyg het. Daarvan getuig reeds sy vroegste gerapporteerde uitspraak ruimskoots: Die verslag Bruyn v Centenary Co (Pty) Ltd 1977(3) SA 37 (T) is werklik iets heel besonders. Dit gaan om ’n oënskynlik betreklik beuselagtige geding oor die betwiste besit van ’n Volkswagentjie, maar die groentjie van ’n waarnemende regter neem ’n geruime tyd om sy uitspraak voor te berei en lewer ’n uitspraak waarop menige destydse regter trots sou gewees het, trouens dit was bo ’n paar se vuurmaakplekke. Ná ’n behendige ontleding van die feite en geskilpunte, bestryk die uitspraak die ganse denkbare gesagsveld: Dit skop af doer in die roersele van die Romeinse reg, gooi ’n deurtastende draai by die Hollandse, Duitse en Franse gemeneregs-bronne en verken dan ’n menigte eietydse akademiese menings en relevante regspraak.

Aansien verstewig, maar land woel

Ewenwel, Laurie dien tot 1987 op die Transvaalse regbank en geniet die reputasie dat advokate graag na sy hof toegewys word. Dis ’n plesier om voor hom te verskyn. Dis altyd rustig, aangenaam hoflik, uitsprake is deurdag en word stiptelik gelewer. Regter Ackermann se aansien as juris én as voorsittende regter word gestadig verstewig, maar die land daarbuite is aan’t woel. Die veiligheidstoneel vertroebel, geweld en spanning laai op en die regbank word uiteraard betrek.

So, byvoorbeeld, moet Laurie in ’n netelige veiligheidsaak teen ene Leepile etlike uitsprake lewer. Een daarvan, gerapporteer as S v Leepile (6) 1990(3) SA 988 (W), bied ’n aangrypende beeld van die persoonlike etiese beklemmings wat die magstryd op owerheidsvlak terselfdertyd geskep het op die vlak van gewone feilbare mense. Die pleegmoeder van ’n ANC-kader wat op veiligheidsaanklagte teregstaan, word deur die oormag van die staat gekonfronteer omdat sy weier om teen haar pleegkind te getuig. Blykens die uitspraak is almal pynlik bewus van die engte van die reg.

In 1987 word Laurie en Denise voor ’n bitter moeilike keuse gestel: Laurie het die moontlikheid van ’n benoeming as die stigtingshoof van ’n baanbrekende leerstoel in menseregte op Stellenbosch – maar die owerheid (na bewering die Groot Krokodil self) weier dat hy sy verworwe diensvoordele behou. Roepinggedrewe verlaat hy nietemin sy gevestigde bestaan en leefwêreld.

Tydens sy termyn by die Harry Oppenheimer-leerstoel in Menseregte bring hy tyd deur by Columbia Universiteit en die Max Planck-instituut, dien hy in die appèlhowe van Lesotho en Namibië en neem hy as lid van ’n Suid-Afrikaanse paneel van staatsregkenners deel aan ’n viertal ondersoekende gesprekke met die ANC se grondwetkomitee in ballingskap.

Hy tree in 1992 uit by die menseregte-leerstoel en word in 1993 heraangestel as regter, dié keer in die Wes-Kaap. Die daaropvolgende jaar benoem president Nelson Mandela hom as ’n persoonlike keuse vir die nuut gestigte konstitusionele hof. En dís daar waar Lourens Wepener Hugo Ackermann eers werklik sy roeping vervul. In die 10 jaar tot sy uittrede in Januarie 2004 speel hy ’n onmisbare rol, nie net in die formele hofbeslissings nie, maar in die lastige take wat buite-geregtelik vervul moes word.

Dit was ’n splinternuwe hof met ’n splinternuwe gesagsveld en prinsipieel byna skrikwekkend verantwoordelik. Ons het bowendien nie voorsien net hoe veeleisend die magdom bykomende reëlings sou wees nie. Ons moes byvoorbeeld van meet af aan spesifiek sonder presedent of tradisie, die formele hofreëls en verhoorprosedure bepaal, hoftermyne, sittingsdae en -ure vasstel, besluit oor ampsdrag, voertaal, oortolking, aanspreekvorms, taalgebruik en skryfstyl. Ons onderlinge werkswyse, die rol van internetskakeling en beraadslaging, die gebruik van sekretariële en navorsingsteun – dit moes ons alles uit die niet saamstel. Intussen is ons tydelik gehuisves en moes ons ’n bouperseel identifiseer, ’n eie gebou laat oprig en die hof se formele werklading opneem.

By hierdie beslommernis was Laurie se menings en aanbevelings altyd oortuigend en gewoonlik deurslaggewend. Daarbenewens het hy as voorsitter van die biblioteek-komitee ’n wêreldklas-fasiliteit vir die ganse Afrika-vasteland opgerig en uitgebou. Dit is vir toeriste wat die hof besoek die absolute hoogtepunt om die manjifieke boekeskat in sy unieke vleuel van die gebou te kan besigtig.

Dis egter bysake. Laurie se rol as regswetenskaplike anker van die eerste groep grondwetlike regters is wel ten tyde van sy aftrede besing, maar na my beskeie mening is daar selfs toe nie na behore opgeteken wat sy rol was nie. Ja, hy was wel die outeur van ontginnende uitsprake wat insigte betreffende grondliggende menseregte ontleed en gesistematiseer het. Dit was Laurie wat vir ons aanknoping kon vind met die Duitse grondwetreg, met die Oxford-mensereg wysgere. Dit was hy wat by uitstek daarop bedag was om ’n breë stel deurgronde beginsels op die onbevaarde terrein van die menseregwetenskap uit te stippel as voorligting vir die Suid-Afrikaanse regswêreld. Maar daaroor kan die akademici uitwei.

Sy onbesonge rol

Vir my gaan dit hier eerder om sy onbesonge rol as kollega, ’n egte sámewerker. Ons het ons terdeë daarvan bewus gehou dat ons riglyne neerlê vir die beroep en was daarom bedag daarop om hoegenaamd geen vaagheid, dubbelsinnighede of onbewuste blyke van tweespalt te openbaar nie. Die oorweging van die beslissing(s) en die formulering en bewoording van elke uitspraak is gevolglik voorafgegaan deur uitvoerige debat, oorweging, presisering en versoening. Hierin was Laurie ’n meester, nougeset, amper puntenerig, by die redigering van iedere uitspraak wat die hof lewer, nie net sy eie maaksels of dié waarmee hy saamstem nie, maar ’n ieder en elk: Vervang hier ’n woord, sinsnede of paragraaf; herformuleer daardie stelling; stel dit liewers só; kom ons verswyg dat. Stilweg, onopsigtelik en taktvol. Altesaam was hy, hetsy alleen, hetsy as medeskrywer, betrokke by sowat 50 uitsprake van die hof.

Ná sy uittrede en solank sy gesondheid dit toegelaat het, het Laurie sy bande met die biblioteek behou, die leiding geneem in die stigting van ’n instituut vir gevorderde navorsing in konstitusionele, publiek-, menseregte- en volkereg. Hy het vakkundige publikasies die lig laat sien en hom besig gehou met van die Rhodes Trust se sake in Suid-Afrika.

Nou ja, hopelik het ek hiermee nie net hulde gebring aan ’n gewaardeerde kollega en lewenslange vriend wie se raad en geselskap ek tot kort voor die einde kon geniet nie. Ek wou ook die leser voorstel aan ’n heel besondere Suid-Afrikaner, ’n dienswillige openbare dienaar.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.