SOUS les ponts de Paris, il n’ya plus de crottes qui flottent, soos die immer onvolprese Eartha Kitt lank gelede gesing het. Over geset synde: Onder die brûe van Parys dryf daar nie meer drolle nie.
Meneer Duby, wat hard probeer het om my Frans te leer, sou trots op daai sin wees.
OK, ek grap net, maar Eartha sou dit deesdae kon sing, sou sy wou.
***
Daar dryf inderdaad nie meer drolle in die Seine nie en vir die eerste maal in meer as ’n eeu is dié romantiese rivier se E.coli-vlakke laag genoeg dat mense daarin kan en mag swem.
Want die Olimpiese Spele neem daai dorp vir die volgende twee weke oor.
Die Britse driekampers gaan nietemin vooraf ingeënt word teen tifus en hepatitis A voordat hulle in die water spring, met ’n stewige antibiotika-kursussie daarna, net vir die wis en die onwis.
La France perfide et tout ce jazz. (“Bedrieglike Frankryk en al daai jazz")
***
Dis die Olimpiese Spele in die Stad Van Lig en jy kan jou immers van ver af verbeel jy’s daar. Alles lyk redelik bekend.
Strandvlugbal by die Eiffel-toring.
3x3-basketbal en skaatsplank-kaskenades? Place de la Concorde.
Boogskiet by die Invalides, waar alles van Napoléon buiten sy penis begrawe lê.
***
Goed en gaaf, kom ons handel dan maar die sinisme eerste af.
Die Internasionale Olimpiese Komitee laat selfs die wêreldsokkerliggaam Fifa na relatiewe koorknapies lyk.
Parys staan glo ’n kans om 'n effense wins uit die gedoente te maak, wat redelik selde gebeur, maar al wat werklik in die dollars rol ná so 'n Spele is die skaamtelose baadjiedraers van die IOK.
Die Hollanders het ’n strandvlugbalspeler wat pas uit die tronk gekom het ná 'n vonnis oor kinderverkragting.
Binne twee weke nadat die gewigoptel afgehandel is, gaan die helfte van daai medaljewennende Kaukasiërs met die kopborsstukke seker weer gevang word dat hulle roids sluk saam met hul gebraaide lam.
Moerse klomp Chinese swemmers neem onder ’n wolk deel. Surprise, surprise.
Vir talle sporte – sokker, gholf en tennis om mee te begin – is Olimpiese goud nie eens naastenby die grootste prestasie wat deelnemers daarin kan behaal nie.
***
Die Spele hoort eintlik te dien vir einste daai sporte waarna mense net elke vier jaar kyk.
Die skaatsplankers, pluimbalspelers en kunsswemmers. Laasgenoemde synde die ou gesinchroniseerde swem, wat eerlikwaar drie Speles nodig gehad het om te besef gesinchroniseerde swem (solo) maak geen sin hoegenaamd nie.
Daar is sóveel haas onkykbare bogsporte dat jy nie almal kan noem nie. Skaatsplankers en sierswemmers is kykbaar en piekfyn, maar lugpistoolskiet is onaanskoulik op watter afstand of met watter kaliber ook al.
Die meeste Olimpiese sporte is egter kykbaar, want die Olimpiese Spele is redelik eenvoudig om te verstaan. Soos in wie het hoe ver gespring of hoe vinnig gehardloop of die water hoe skoon getref ná daai duikslag.
Jy hoef niks te verstaan of verduidelik van opskietverdediging of doodsboulers, second downs of 4-2-3-1 nie. Jy kan maar net agteroorsit en kyk hoe goed wie wat kan doen as dit saak maak.
***
So cheer ek dus in my volslae onkunde maar met verwagtinglose blymoedigheid vir onse swemmers Tatjana Smith en Chad le Clos; die baanatlete Wayde van Niekerk en Akani Simbine, 'n aflosspan; die fietsryer Alan Hatherly en sommer Jordy Smith op die branderplank in Tahiti ook terwyl ons dan nou wens.
Ek wens vir die Blitsbokke, maar teen die tyd dat hierdie verskyn, is hul kersie dalk reeds gesnuit.
Iemand anders sal ons verbeelding darem ook sekerlik aangryp vir twee Sondagkoerante se rakleeftyd.
***
’n Paar outydse Olimpiese clips vir gees?
Jim Thorpe in 1912:
Paavo Nurmi presies 100 jaar gelede, ook in Parys:
Usain Bolt in 2008, 2012 en 2016:
En Wayde van Niekerk in 2016:
***
Waarna kan ons veral uitsien oor die volgende twee weke?
- Die terugkeer van Simone Biles, die beste vrouegimnas ooit, wat ’n ligte choke gevang het in Tokio, drie jaar gelede.
- ’n Amerikaanse basketbalspan met werklike NBA-legendes soos LeBron James, Stephen Curry en Kevin Durant, maar wat nietemin nou die dag hittete op hul moer gekry het teen Suid-Soedan. Die Franse en Serwiërs is veel gedugter as Suid-Soedan.
- Sha’Carri Richardson, wat Tokio moes misloop omdat sy ’n zol gerook het ná haar ma se dood. Kyk, as daar nou ’n ding is wat jou nie onregverdiglik gaan bevoordeel oor 100 m nie, is dit nou einste ’n zol. My geld is op haar vir flambojante goud:
- Die eerste en bes moontlik enigste breakdance-kompetisie ooit op die Olimpiese Spele, daar dit nie weer in ’28 gaan gebeur nie. Die Spele is waarskynlik nie die regte platform vir dié vertakking van hip-hop nie, maar dit gaan nietemin lekkerder wees om te kyk as byvoorbeeld dressage, handbal, skerm en alle kategorieë van korrel met windbukse:
- Rafael Nadal se beste tennisdae is ver agter hom, maar wie wil nie sien hoe hy en Carlos Alcaraz in die dubbelspel saamspan vir Spanje op Roland Garros se rooi klei nie?
- Rayssa Leal, die feetjieprinses van die skaatsplank, is maar 16 jaar oud, maar daar is klaar nog jonger en hongerder skaatsers wat na die Brasiliaan se hakke hap.
- En elke vier jaar vind ek dat ek en 'n paar pêlle bier sit en drink totdat ons ook deskundiges is of ons eerder verbeel ons is oor sporte waarvan ons niks weet nie. Dis die helfte van die pret. Vanjaar sal seker meer van dieselfde oplewer.
***
Die gedagte dat dié Spele wêreldvrede en sport-etiek sal bevorder, is bemarkingsmense se koorsdrome, maar vir sowat twee weke kan baie van ons ons wysmaak dat dit tog saak maak en ’n bietjie op breinvakansie gaan weg van die nimmereindigende werklike wroeginge waarmee die ware wêreld ons laat tande kners.
Wat ook al elders gebeur, spoel daar darem vandag minder stront in die Seine af as ’n eeu gelede en dis seker ook nie te versmaaie nie.
***
Daar’s beter Parys-deuntjies as Spele-deuntjies, so ons hou vandeesweek by Parys-deuntjies, of hoe? Paartie paartie paartie!
Soos Charles de Gaulle gesê het: “Hoe kan jy 'n land regeer wat 246 soorte kaas het?” Een van hierdie kaasgeure is Daft Punk vanuit Versailles se grootste treffer en al die perdesport vind juis om dié paleis plaas:
Pure Parys, egter, hierdie ene van Les Rita Mitsouko:
’n Bietjie ’ip-’op, onder andere oor die tans redelik onbeskyte Seine:
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.