Vrou vat pad: Kamoefleer in die Karoo

SWEM IN DIE WINTER

Vrou vat pad: Kamoefleer in die Karoo

Ná 'n road trip deur die barste dele van die land met net haar eie gedagtes en 'n playlist as geselskap, koue water om in af te koel en vlugtige kontak met ander enkelinge, vind CELESTE THERON veel te leer by die bye in haar agterplaas.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

DAAR is verskeie stories oor hoe die Moordenaarskaroo sy naam gekry het, maar vir my vertel hierdie stuk van die wêreld een ding: wat dit beteken om agter jou stuurwiel vasgekeer te wees met net jou eie gedagtes in die land se verborge hart. Omdat daar lang afstande is waar jy byna geen ander voertuig, dier of mens sal teëkom nie, is dit die perfekte road trip om alleen aan te pak as jy jouself weer wil hoor dink.

Op die pad konfronteer die idee van die enkeling my en het ek weer aan al my gunsteling-outsiders gedink. Henry van Eeden, in Sewe Dae by die Silbersteins van Etienne Leroux, val my by:

“Ek het aan die dood gedink," sê Henry. “Ek het niks teen u gaste nie.”

“Jy lyk effens onvanpas in jou aandpak,” sê Jock, “maar dit sonder jou uit, maak jou interessanter. Ek veronderstel jy is ’n individualis.”

“Nee, sê Henry. “Dit was bloot ’n misverstand.”

Was jy al ooit so gatvol, dat jy gedreig het om weg te loop, en dan besef jy is ’n grootmens, daar is nie so iets soos wegloop nie? Ek het een Saterdagoggend ná joga gedink ek ry Brooklyn Mall toe (hier in Pretoria) om my salaris op boeke te blaas – en toe ek weer sien is ek alleen met my gymsak in die Moordenaarskaroo vir 'n week. Ek het my kinders net so by my eks-man en partner-in-crime gelos en vergeet van my pa in die hospitaal. Dalk was ek bang vir die dood wat al so lank op ons voorstoep staan en waai.

Dit was nie ’n romantiese ontvlugtingsplan nie, alhoewel daar romantiese elemente aan die landskap was en dit ontvlugting gebied het. Noem dit bloot 'n misverstand, of eerder; ’n nuwe oorlewingsgees wat my uit die bloute beetgepak het waar stilte, vars lug, stofpaaie, windpompe en ’n naghemel besaai met sterre my nuwe werklikheid geword het tussen wildvreemdelinge wat my by hulle huise ingenooi het.

Matjiesfontein

Aan die rand van die Moordenaarskaroo lê ’n dorpie met die naam Matjiesfontein. Ek het blindelings my GPS deur die Karoo gevolg en per toeval by Matjiesfontein ingedraai. Die Moordenaarskaroo is ’n driehoekige streek op die grens van die Wes- en Noord-Kaap, wat rofweg bestaan uit Merweville, Sutherland en Laingsburg (waarskynlik die enigste streek in die land sonder 'n hoofdorp).

Met my Suzuki S-Presso het ek afgedraai by Matjiesfontein vir ’n bier by die Lord Milner Hotel, verstom om te ontdek dat daar nie ’n vulstasie of OTM in die dorp is nie. Ek moes noodgedwonge ’n kan brandstof by ’n boer koop. Die dorpie is in 1884 gestig deur die legendariese spoorwegman James Douglas Logan, wat iets uit te waai gehad het met krieket, en gehul in Victoriaanse sjarme. Dis koningin Victoria se Karoo dié en die Lord Milner se ongeëwenaarde elegansie bevestig dit.

'n Boer met brandstof is goud werd in Matjiesfontein.
'n Boer met brandstof is goud werd in Matjiesfontein.

Ek sluip deur die Lord Milner en draai koperknoppe oop om by kamers in te loer terwyl die personeel, onberispelik geklee in swart-en-wit voorskote en kopdoeke, geselsies by die ontvangs maak. Die interieurs is spoggerig, met groot wit handdoeke, Victoriaanse baddens en kraakvars lakens. Lewensgetroue marmerbeelde van Voortrekkerkindertjies grynslag in die gang. Die hotel se voorportaal spog met ’n lang rooi tapyt wat jou lei na 'n breë stel trappe met weelderige houtrelings onder groot koperkandelare wat swierig wink.

Ek het gehoor mens moet ’n gesmelte kaasbroodjie hier bestel, maar besluit toe net op ’n bier. Die wind waai, dis koud, en die Karoo is al klaar besaai met vroeë blomme voor die blomseisoen weens die swaar reën. Ek luister na die couple langs my se gesprek in die kroeg. Daar word stories met die kroegman gedeel oor bonatuurlike elemente in die hotel terwyl ek my ore spits en langsaam aan my bier teug. Die vrou gee ’n breedvoerige beskrywing van die spook wat sy teëgekom het in haar kamer die vorige nag, terwyl die kroegman stadig sy glase blinkvryf en deemoedig vir my knik.

Effens onvanpas: die Lord Milner Hotel, 'n PT-broek en bier.
Effens onvanpas: die Lord Milner Hotel, 'n PT-broek en bier.

“Is dit waar?” vra ek die kroegman. Hy verduidelik vir my van die paar wat daar is. Ek dring aan om hulle te sien, maar die hotel val buite my prysklas. Uit die hoek van my oog hou ek die vrou se man dop vir enige teken van 'n toegewing dat dit ’n wolhaarstorie is. Ek bespeur die houding van ’n slim man. Daar is iets gemoedelik aan sy glimlag, en die manier hoe sy oë saamlag.

Die couple is maklik 20 jaar ouer as ek. Hulle het daar ingewaai in die kroeg saam met twee ander vriende en hulle puffer jackets. Gegear vir die Groot-Karoo. Daar sit ek met my PT-broek en bibber met ’n bier om die vuur, want my leggings is teen die tyd te vuil om weer te dra, en onder in my gymsak opgerol.

Hulle draai skielik ontfermend na my. “Van waar is jy?” vra Rita met die rooi bos hare en noupassende jeans wat beter spookstories as Langenhoven kan vertel. “Pretoria,” antwoord ek skaam. Ek word oortuig deur vier vreemdelinge om hulle te volg na Sutherland vir sterre, op ’n teerpad sonder sein wat later oorslaan na ’n breë grondpad deur die Moordenaarskaroo met haar skaam skoonheid.

Sutherland: Wes-Kaap na die Noord-Kaap

Die kans om ’n ander reisiger op die R354 raak te loop hier in die Roggeveld se swygende ooptes is skraal. Ek het my playlist vir die pad verfyn en sing heerlik saam tot teen die aandskemering en die Fortuner wat ek volg, vir my flits om af te draai. Ek voel ’n bietjie paniekerig om in hierdie afgesonderde wêreld in die veld af te draai saam met vreemdelinge, waar slegs 'n steenbokkie of 'n skaap sal weet as hulle my vermoor.

Die vier vreemdelinge spring uit hulle Fortuner, beduie na die sonsondergang, en skink vir my ’n groot glas wit wyn. Hulle verseker my daar sal plek wees om oor te slaap in ’n gastehuis met die naam Skitterland, ’n luukse boutique-hotel in die dorp. Daar is egter nie plek vir my nie, en ek gaan klop langsaan aan by Jannie Degenaar by die Blue Moon-restaurant om te hoor of hulle weet van verblyf. Jannie, wat Blue Moon besit, bied vir my ’n lieflike gastehuis aan met ’n breë Karoostoep, Stellar Dust, waar ek die enigste mens die nag sal wees.

Skitterland is 'n gastehuis in Sutherland wat deur Anelia bedryf word.
Skitterland is 'n gastehuis in Sutherland wat deur Anelia bedryf word.

Hier, in die stowwerige, slaperige dorpie – die koudste plek in die land, maar ook die warmste – sit ek om ’n tafel saam met ’n sielkundige, sy vrou, en twee van hulle vriende, om ’n wonderlike bak lamsbredie in die dorp se enigste hotel. Sutherland is bekend vir sy wolklose nagte, maar ek gaan slaap sonder ’n enkele ster in sig.

My gedagtes draai na 'n gedig van N.P. van Wyk Louw, wat hier in Sutherland gebore is, “Spieël en venster in die nag":

O hart, jy gryp nou alles aan
wat speels en blind en groots kan wees
en sluit jou teen die barre maan
en wurg jou eie vrees

Die volgende oggend, voor sonsopkoms, spring ek in Blue Moon se swembad (tot Jannie se ontsteltenis wat vir my filterkoffie aandra). Ek oorweeg die grondpad na Merweville om saam met my nuutgevonde vriende te gaan loer hoe die Kombergpas lyk, maar voel gedruk om weer op die pad te kom. Dis goed om te weet jy kan wel Sutherland se planetarium besoek, sou die weer teen jou draai. Dis ook hier waar Aluciaane Wentzel vir jou die heerlikste koffie sal bedien.

In Prins Albert verorber ek 'n bord romerige butternut-sop by The Rude Chef. Ek laai my kar vol olyfolie en ingelegde olywe vir my ouers. Teen sonsondergang ry ek alleen oor die Swartbergpas, en beland in Meiringspoort. Die Klein-Karoo is daardie vallei in die Wes-Kaap wat in die noorde deur die Swartberg en in die suide deur die Langeberg en Outeniekwaberge omring word, van Montagu in die weste tot by die dorpie De Rust en Toorwaterspoort in die ooste.

Prins Albert na De Rust: Swartbergpas

Daar is selde 'n maklike roete om te kies in die Karoo, maar as jy lief is vir 'n hardepad vol dramatiese haarnaalddraaie, is die Swartbergpas vir jou. Dit is in ’n streek met bisarre rotsformasies vol kalksteengrotte, waarvan die beroemde Kangogrotte maar net een reeks is. Die sandsteen is vroeër vir talle pragtige geboue in en om Oudtshoorn gebruik – ook vir die volstruispaleise toe die volstruisbedryf hoogty gevier het. Plekke waar ruimte en ’n sterbelaaide hemel alledaags is.

Omdat dit so ingeperk is, het die Klein-Karoo van die skouspelagtigste bergpasse en poorte in die land. Daar word gereeld na die Swartbergpas verwys as die “grootvader van alle passe”. Die Suid-Afrikaanse skrywer Lawrence Green het gesê: “In my lewe het ek nog net oor een pas gegaan wat meer dramaties was, en dit was die 15 000 voet hoë pas anderkant Darjeeling op pad na Tibet.” Ek trek af op Teeberg, bo-op die Swartbergpas, by ’n kalkwit tafeltjie met twee bankies, en aanskou die lewerrrooi sonsondergang wat die haarnaalddraaie in ’n warm gloed baai.

Pitstop op Teeberg, iewers langs die Swartbergpas.
Pitstop op Teeberg, iewers langs die Swartbergpas.

Dis pikdonker toe ek in De Rust aankom en my kar vol brandstof maak. Ek besef ek gaan nie deurnag kan ry soos wat ek beplan het nie, aangesien net my brights werk en ek persoonlik weet van ’n paar mense wat onverwags deur ’n koedoe in Meiringspoort betrap is. Ek wals in by Hotel De Rust, en kuier saam met Werner Alberts in sy kroeg wat my alles probeer vertel wat in die laaste 30 jaar hier rond gebeur het, die Koktyls-kalender waarvoor mans in die kontrei kaal poseer om geld in te samel vir die omgewing, en van die stories van Eporia, die meermin van Meiringspoort. Dis natuurlik Etienne Leroux se geboortedorp dié, en ek dink aan hom en C.J. Langenhoven en die ander enkelinge in De Rust.

Werner Alberts van Hotel De Rust spog met die kontrei se Koktyls-kalender.
Werner Alberts van Hotel De Rust spog met die kontrei se Koktyls-kalender.

Hotel De Rust is in 1953 gebou deur Werner se vrou, Bernadette, se oupa, Nicholas Easter Shamley. Sy seun, Michael Roy, het die hotel en bottelstoor oorgeneem, tot daar eendag memorabilia van die Tweede Wêreldoorlog verdwyn het, waarna hy die hotel vir 30 jaar gesluit het – hoewel hy steeds elke dag die eetsaal gereed gemaak het om gaste te ontvang. 

Hy was 'n eksentrieke omie, sê Werner, 'n groot kunsversamelaar en oujongkêrel wat nooit getrou het nie. Hy het 'n liefde en passie vir outydse filmplakkate en stoute tydskrifte ontdek, en ook vir kuns, en baie van sy geld in kunstenaars in die omtrek belê. Elke oppervlakte van die De Rust Hotel is met kuns bedek. Op die koffietafeltjie oorkant my slaapkamer wat behang is met Marilyn Monroe-plakkate, lê 'n versameling van die oom se stoute tydskrifte.

Meiringspoort en ’n granaatplaas

Die volgende oggend gaan spring ek in kristalhelder rotspoele onder die waterval wat 55 m na benede stort. Ongeveer halfpad deur die poort, aan die westekant, is daar ’n sandsteenrots waarop C.J. Langenhoven self op 1 Julie 1929 die woord “Herrie" uitgekerf het. “Jy lyk soos 'n vrou wat besig is om te skei,” groet ’n man my wat besig is om ’n foto te neem van die gedenkplaat voor Herrie se klip. “Ek is ’n sendeling vir Vrye Weekblad. Wie is jy?” wil ek weet. “Ek is ’n prokureur, op 'n road trip, saam met my ouma.” Hy beduie na ’n motor waar sy ouma entoesiasties vir my waai.

Meiringspoort.
Meiringspoort.

Ek slaap twee aande op ’n granaatplaas net buite De Rust, waarvan Werner my vertel het. Die plaas is toe vir die publiek, maar daar word vir my ’n uitsondering gemaak. Dis kalm en koel binne en voel na baie lank gelede, asof die boer se voorouers binnekort gaan opdaag vir aandete. Die boer sê ek is mal om in Meiringspoort te swem, dit het die vorige week nog gesneeu. Hy doop my kar Naughty Noddy, en is verstom dat ek met ’n Suzuki S-Presso dit alleen oor al die grondpaaie gemaak het. Hy betig my oor die olyfolie wat ek in Prins Albert gekoop het, en lig my in dat die beste olyfolie in die land in De Rust te vinde is, De Rustica, wat ek toe onmiddellik gaan aanskaf.

Die plaas op ’n geheime grondpad.
Die plaas op ’n geheime grondpad.

Hy neem my deur die vallei om vir my rotstekeninge op sy plaas te gaan wys. Ek spring parmantig oor die klippe, en beland op my gaai in die Olifantsrivier met my splinternuwe tekkies. Hy trek my op uit die water en lei my na ’n grot teen die hange van die Kougaberg waar ’n hamerkop sy nes in die rotsoorhang gemaak het, en waar mens nog die verbleikte fragmente van rotstekeninge kan sien. Hy wys vir my waar 'n swartarend nesgeskop het teen die hange, en vertel angswekkende verhale van sy plaas. Ná twee dae blaas die granaatboer my bande op en stuur my met songedroogte Evita-vye en ander proviand verder op my reis.

'n Grondpad vir die roekelose swerwer.
'n Grondpad vir die roekelose swerwer.

Die 13 km lange pas van die Swartberg deur Meiringspoort is aangevoor deur P.J. Meiring in 1858, ’n volstruisbaron, wie se plaas die poort en later die dorp De Rust ingesluit het. Volgens legende was sy vrou, Maurice Meiring, so lief om kaal te kom baai in die waterval, dat haar man ’n rentevrye lening bewerkstellig het om die pad te bou sodat sy dit makliker kon bereik. Hierdie pad wat deur die kleurvolle sandsteenkatedraal loop, was lank die enigste verbinding tussen die Klein- en Groot-Karoo. Die hedendaagse pad oorkruis die rivier sowat 30 keer en elke drif het sy eie naambord: Skansdrif, Boesmansdrif, Skelmkloofdrif, Nooiensboomdrif, Steweldrif, Perskeboomdrif, Herriedrif, en so raak die name mooier en mooier ...

 

Aberdeen na Graaff-Reinet en tuis

Dirk, Hannelie en JC voor hulle padstal.
Dirk, Hannelie en JC voor hulle padstal.

Ek stop in Aberdeen, met genade. Ek het glad nie besef dat dit nie moontlik is om weer brandstof in te gooi op hierdie langpad waar sybokhaar al is wat tel nie. In Aberdeen gesels ek met JC van die Kamdebo-padstal, ook bekend as die Geel Padstal, wat ’n groot boekversamelaar is en die moderne oase saam met sy boyfriend en skoonma, Hannelie, bedryf. Hier kan jy kom uitspan en bene rek langs die N9 met ’n roosterkoek en moerkoffie. Hier is ’n wye verskeidenheid van plaaslike handgemaakte produkte te koop en die mooiste sybokhaarkomberse. JC is vriendelik, en laat my toe om in die padstal te sit en werk tot lank nadat hulle toegemaak het. Ek koop ’n boek deur Eben Venter, slaap oor in Graaff-Reinet, en ry die volgende oggend vroeg deur Die Vallei van Verlatenheid.

Waar jy die Vallei van Verlatenheid binnegaan, of verlaat.
Waar jy die Vallei van Verlatenheid binnegaan, of verlaat.

Met my tuiskoms, terug in Pretoria, het die Augustuswind my gemoed op hol. Ek weet ek wil boer en wil onmiddellik weer wegkom uit die stad. Dan besef ek, die boer van die toekoms is ’n stedeling. Al hoe meer mense in die stad het hulle eie hoenderhokke, groentetuine en oorvloedige kruietuine met komposhope, wurmplase, sonpanele en ’n reënwatertenk. Eens op ’n tyd het ek ’n paar byekorwe behartig agter op my erf, tot ek een winter drie swerms verloor het.

Ek besef opnuut ek is ’n boer in beton, ek skrop my byekorwe skoon, gee hulle ’n nuwe laag vernis, en verf hulle wit vir die lente. Dis onmoontlik om heeltemal selfversorgend te wees, tog kan mens daardie verhouding tussen mense, diere en die grond vestig deur betrokke te raak by die breër kringloop. Ek kan myself nie onderhou met die korwe agter in my tuin nie, maar dit maak my bewus van wat dit verg om ’n teelepel heuning in my tee te roer.

Ek roer dat dit spat en stel my korwe weer ywerig op vir die nuwe seisoen. Die Augustuswind dui altyd vir my op verandering.

Bedrywige byeboer.
Bedrywige byeboer.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.