EK KEN Laudo Liebenberg al vir jare; 'n gesoute akteur en musikant. Hy is bekend as die hoofsanger van aKING en vir sy rolle in Die Byl, Die Boland Moorde en Projek Dina – hy het ook drie seisoene lank in die internasionale reeks Black Sails verskyn.
Nee, ek jok. Ek ken hom glad nie. As mens met iemand se klankbane grootgeword het en hulle so baie op jou skerm verskyn, word daardie persoon 'n mitologiese figuur waarmee 'n mens identifiseer op 'n persoonlike vlak. Hy het wel een aand in ek en Henk van der Schyf se huisteater Haus Babadada opgetree, saam met Frank Freeman, met hulle Eet Kreef tribute band aan Johannes Kerkorrel.
Die huis was volgepak. Dit was lekker gesellig. Ek het vir 70 mense gekook. Iewers in 'n klein bedompige kroeg agter ons teater het ons 'n vonkprop laat skiet en gelag in lang glase. Ek luister weer vandag na Laudo, en wonder wie is die man met die donker, meevoerende stem, wat selde opkyk van sy mikrofoon.
Dan verskyn hy voor my op my rekenaarskerm; ek is senuweeagtig. In 'n kamer gehul in wit lig sit Laudo in sy wit hemp en wag vir my om die onderhoud te begin. Ek bestel 'n bier. “Jy lyk baie professioneel,” groet Laudo. Hy lyk ernstig. Ek kug. Daar is 'n teerheid in sy stem. Ek kry nog altyd die gevoel Laudo is 'n gentleman.
Vandag gesels ek met die koning van Suid-Afrikaanse melodic-rock oor sy nuwe projek, Run Into Waves. Ek het vir 'n uur gesit en luister na sy musiek in my kar terwyl ek deur lanings orgideëbome teen die Magaliesberge gery en my vergaap het aan die pienk trosse blomme wat oopgebars het aan die kaal takke.
Sy stem neem my terug na 2008, Zeplins, Pretoria, waar ek hom die eerste keer op die verhoog gesien het. My ma het ingestem dat ek aKING kan gaan kyk, selfs al was ek underage. Abrie het my ouers persoonlik kom vra of hy my kan uitneem. Vir jare het hy in my ma se Sondagskoolklas gesit en nog 'n pad saam met haar gestap deur belydenis waar ons af en toe vir mekaar geloer het in die kerk.
Hy was te oud vir my. Nadat ons aKING saam gaan kyk het, het my gaan aflaai by die huis. Hy het nie ingekom vir my ma se pannekoeke nie. By die voordeur het hy my op my kop gesoen: “Ek wag vir jou tot jy op universiteit is. Ek kan nie 'n hoërskoolmeisie soen nie.” 'n Jaar later was my hart wel gebreek. aKING het die klankbaan van my eerste lang verlange geword.
Run Into Waves neem my terug na daardie plek, maar vandag lyk dit anders. Ons almal word ouer. Beweeg aan. Heartbreaks kry nuwe skakerings in die gety van selfbejammerende dromers. “Long time,” groet ek vir Laudo terug waar hy gemoedelik glimlag op my skerm. Ons het mekaar min of meer laas aan die begin van Covid-19 gesien.
Die mistiek omtrent sy musiek het nie vervaag nie, miskien is dit omdat Laudo hom nie meer so vrywillig opoffer vir die verhoog nie. Daar is iets wat hom weerhou van bemarking. Hy is nie 'n social media pleaser of teaser nie. Hy plaas sy musiek daarbuite en beweeg aan. Die eerste snit van Run Into Waves wat vrygestel is, is “Alone at Last”. Die omslag vertoon 'n meisie wat haar rug draai op die wêreld teen die somber lug waaruit 'n sonnestelsel teen rookblou wolke swel.
“Die eerste snit is geskryf tydens lockdown saam met Fred den Hartog,” lig hy my in. “In 2023 het ek nie geweet wat om te doen met die materiaal nie, en Pierre Greef en Hunter Kennedy het ingespring om my te help. Daarna het ek saam met Dolf Willemse 'n track gedoen.”
Ek vra vir Laudo hoe sy skryfproses lyk. “Mens moet maar gaan waar die gees jou lei, anders verloor mens daai oorspronklike gevoel van waar dit gekom het. Die proses lyk elke keer vir my anders. Partykeer is dit net 'n line wat by my opkom en dit bloei uit na iets groter wat ek probeer uitdruk.”
Vat dit altyd 'n dark-moment-of-the-soul om iets te probeer skep? wil ek weet. “Ek dink eerlikheid translate altyd beter as om poetic te probeer wees.”
Laudo het besluit om die musiek nie onder sy eie naam uit te bring nie. Dit het dieselfde melankoliese spanningslyn wat ek met sy vroeër werk verbind, maar hierdie keer is hy nie geback met 'n band nie. Die weemoed wat weerklank vind in sy musiek is dinge waarmee hy alleen moes worstel, maar nie alles is outobiografies nie, stel hy my gerus.
Ek maak vinnige notas terwyl ek na Laudo luister met my oor teen my skerm en skrik my lam vir die kelner wat my vra of ek oukei is. My bril vlieg van my gesig af. “Is die eksorsisme verby?” lag Laudo. Ek probeer gryp na die bril agter my kop en voel hoe my wange rooi word: “Eksorsismes het nog nooit op my gewerk nie.” Ons beweeg aan.
“Die loneliness van creation skop nogal in,” bieg hy met sy hand in sy hare. “Om musiek te maak is vir my terapeuties. Dis goed om 'n spreekbuis te vind vir dinge wat jy moet verwerk. Dis hoekom ek dit nie onder my eie naam uitgesit het nie.
“Van dit is baie persoonlik. Hierdie is vir my 'n proefkonyn-kanaal om aan te hou musiek maak. Deur musiek te maak kan mens daai goed waaroor ons wonder validate, maar dit beantwoord nie die vrae nie.”
“Daar is 'n gevaar in creation. Dit kan maklik net nog 'n vorm van escapism word, en dan raak mens verwyder van die mense en wêreld om jou, daarom moet jy dit net op 'n stadium cut. Burn the car and run away,” deel hy my mee terwyl ek teug aan my bier. “Ek verstaan,” knik ek ingenome. “Ek weet jy doen.”
Die volgende enkelsnit, “The Wire”, is vandag beskikbaar op die skakel in Laudo Liebenberg se Instagram profiel.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.