- 13 September 2024
- Vrye Denker
- 12 min om te lees
- artikel 9 van 24
-
Celeste TheronSkrywer
ART Fairs is vir my soos speed dating. Ek sê vir niemand ek gaan nie en ek trek platskoene aan onder 'n blink rok. Die eerste rondte gryp ek 'n glas vonkelwyn en besluit binne 10 minute met watse werk ek eerste meer wil kommunikeer. Indien ek iemand raakloop wat ek ken, probeer ek oogkontak vermy.
Dit is maklik om oorweldig te word deur die aantal kunswerke wat mens se aandag behoort te geniet. Gewoonlik vang my oog iets binne die eerste 20 minute waarop ek slightly verlief raak. Ek oordeel versigtig en besluit watse kwaliteite van die werk ek van hou. Dan werk ek myself vinnig deur die res van die vertrek en keer weer terug na die kuns met wie ek nommers wil ruil.
Dis natuurlik bietjie van 'n modeparade en jy kan net sowel iets moois aantrek, of hou jou sonbril op as jy lus is om iemand te intimideer. Art Fairs bied die geleentheid om met 'n groot verskeidenheid werk in verbinding te tree wat jy onder ander omstandighede nie sou raakloop nie.
Die laaste kwart van die jaar is 'n ideale tyd om kuns te gaan kyk. Daar is verskeie fairs en uitstallings waar jy weer krag uit kuns kan put. Kunstenaars, handelaars en versamelaars speel almal saam. Ek het die naweek 'n draai gaan maak by die FNB Art Joburg en vanoggend by die Pretoria Kunsmuseum na die Sasol New Signatures-uitstalling gaan loer. Indien jy die FNB Art Fair misgeloop het, is daar nog die Open City-inisiatief tot 29 September.
Ten spyte van die onderdrukking en onreg die laaste eeu, het Suid-Afrikaanse kuns 'n optimisme en speelsheid behou wat weer in nuwe werk gevier word. Daar is 'n verskuiwing terug na dekoratiewe kuns en 'n meer formalistiese aanslag. Ek geniet dit. Die werk voel vir my minder polities gelaai en meer optimisties. Daar is 'n haptiese kwaliteit waar teksture sterk op mekaar steun deur met mening om te gaan met die materiële kwaliteit van die werk. In 'n wêreld waar ons heeldag met skerms verkeer, voel dit of my oë 'n glas water gedrink het nadat ek by die FNB Art Joburg uitstap.
Ek vergaap my aan Joan Miro, verdrink in die baarmoeder van Penny Siopis, en verdwaal in 'n veelvlakkige abstrakte landskap van Gerda Scheepers – maar dis 'n werk van Gerhard Marx waarmee ek wil wegstap.
Die afgelope 17 jaar het FNB Art Joburg 'n instrumentele rol gespeel in die ontwikkeling en ondersteuning van 'n kommersiële bedryf wat fokus op Afrika se diaspora-praktisyns.
Die mark word in ses gespesialiseerde afdelings verdeel, en dit verg vernuf en stamina om die meeste van die aanbiedings te maak. Nes speed dating dink ek 'n mens behoort 'n Art Fair lighartig aan te pak. Nie alles gaan in jou smaak val nie, sekere werk is afstootlik of selfs afgryslik, maar jy behoort met 'n nommertjie daar uit te stap wat jy weer wil sien.
Kuns het die mag om kritieke oomblikke te artikuleer, op 'n persoonlike vlak, maar ook breër in die lewe van 'n nasie en op 'n spirituele vlak wat verby 'n persoonlike geweeklaag van verlatenheid of 'n politieke vloermoer strek. Dit bied weerstand teen onderdrukking, konfronteer dogmas en bied nuwe perspektief.
Deur kuns kry mens weer 'n blik op die verlede, begrip oor die hede, en insig in die toekoms. Ek glo nie daar is enige verkeerde rede waarom 'n mens by sekere kunswerke inskakel nie, en sommige werke 'n mens weer koud laat nie. Dis wel interessant om jou gedagtes te ondersoek om die oorsaak van daardie vreugde of afkeer op te spoor. Daar is eintlik nie iets soos kuns nie. Daar is net kunstenaars.
Ons land het fantastiese kunstenaars. Ek wil lesers aanmoedig om weer 'n uitstalling by te woon en ons kunstenaars te ondersteun terwyl jy die agtergrond van ons land se unieke kunserfenis in ag neem. Ek gesels vinnig met die kunstenaar Johan Louw Stegmann oor wat hy gedink het van FNB Art Joburg.
Johan Stegmann is 'n kunstenaar en kurator van Johannesburg bekend vir fyn gedetailleerde etse en houtskooltekeninge asook vir sy Pierneef-geïnspireerde linosneë. Hy stel belang in die stories van Suid Afrika en die integrasie van diverse perspektiewe. Hy het 'n graad in meganiese ingenieurswese en werk as die gehaltebestuurder by die Workhorse Bronze Foundry waar hy veral te doen het met die produksie van William Kentridge se bronsbeelde.
1. Wat was die hoogtepunt van die FNB Art Joburg vir jou?
Cathy Jane Abraham se solo by Untitled Gallery was 'n kalmerende oasis. Stevenson se aura was sterk met uitstaanwerke deur onder andere Thenjiwe Niki Nkosi en Deborah Poynton. Die Goodman-galery was ook op vorm met mooi werke deur William Kentridge, Clive van der Berg en 'n fantastiese stuk deur Marsi van de Heuvel, “Daughters of District Six”.
My gunsteling was Helen Sebidi se “Women in Conversation"-beelde by Everard Read.
2. Wat is die doel van fairs in Suid-Afrika?
Fairs is die suster van veilings – hul hoofdoel is om kunskopers se entoesiasme aan te spoor en te kanaliseer in verkope. Dit gaan oor geld. In terme van prestige dink 'n mens dus eerder aan Kaapstad se Investec Art Fair, en in terme van pret en spektakel wen RMB se Latitudes Art Fair. FNB Art Joburg is egter goed geposisioneer om hulle te bemoei met die cutting edge van wat Afrika bied. Dus is dit verblydend dat hulle 'n sterk fokus op galerye van die res van Afrika geplaas het. Die teleurstelling lê in die uitvoering.
In Suid Afrika se konteks is art fairs meer as blote rykmens- uitverkopings. Hulle aspirasionele trekkrag is 'n belangrike bestanddeel in die smeltkroes van kontemporêre Afrika-kuns. Mens moet onthou dat tot vandag toe kan geen kontemporêre ruimte werklik aanspraak maak op die antwoord op hierdie vraag nie: What is African art?
Dit was egter nie alles 'n flop nie en ek moet weer erkenning gee aan Everard Read vir hulle aanbieding van Helen Sebidi se “Women in Conversation”-bronsbeelde. Dit is uitgestal in 'n aparte konstruksie van lap en hout wat 'n gevoel van intimiteit en gravitas skep – asof jy “agter die skerms” inluister op 'n sensitiewe gesprek tussen drie matriargale figure.
Dit was 'n pragtige voorbeeld van wat FNB Art Joburg kan wees, maar tog nie was nie: 'n weldeurdagte openbaring van Afrika se stories.
3. Wat is die trajek van Suid-Afrikaanse kuns tans?
Die vinnige antwoord, soos met die res van die Westerse kunswêreld, is identiteit. Maar dan moet ons in ag hou dat dié identiteit-fetish nou al heelwat meer as 10 jaar oud is. Die SA kunswêreld vandag, teenoor 10 jaar terug is inderdaad ’n nuwe dier: Kunstenaars verkoop aanlyn net soveel of meer as deur galerye, en die “nuwe” gees van feminisme, LGBTQ+ en DEI het gematrikuleer van ’n manier vir ryk mense om te maak asof hulle woke is na ’n nuwe status quo – of so neem mens aan. Dit moet egter gesien word saam met die feit dat kuns se fundamentele ekonomiese waarde steeds daarin lê om ryk mense te laat goed voel oor hulself.
In Suid Afrika word die globale idee van DEI egter oorskadu deur ’n meer egte gestoei met ’n meer egte probleem: die definisie van kontemporêre Afrika-kuns. In August House Studios waar ek gebaseer is, neem ek met entoesiasme hierdie verskynsel waar. Een swart kunstenaar sal byvoorbeeld vir ’n ander raad gee: “Bro you are not making money because you are not selling the traumatised African well enough.” Die geskiedenis van kuns in Afrika het ontwikkel van geestelike artefakte wat ’n doel dien in ’n spesifieke konteks, na objekte wat as gyselaars gehou word in ’n kontekslose wit ruimte.
Kunstenaars moes aanpas om te oorleef, en doen dit nog steeds. Maar swart kunstenaars bevind hulle aan die begin van ’n era waar hulle moontlik self kan besluit wat kuns is. Nelson Makamo en Banele Khoza is pioniers wat besig is om die gallery-stelsels van ouds op die kop te draai. Tien jaar gelede was swart kunskopers nie ’n ekonomiese mag soos dit vandag is nie. ’n Nuwe klas van smaak-makers begin nou hul eie stempel te kerf en af te druk. FNB Art Joburg is vasgevang in die woeste weste van ’n oorgangsperiode, en ons sien uit na die dag wat die pap papie geboorte gee aan ’n Afrika-vlinder.
’n Geskiedenis van geweld
Hoe dit ook al sy, art fairs is die jongste episode in die lang stryd van Suid-Afrikaanse kuns om 'n plek in die internasionale son te vind.
Struweling om 'n nasionale identiteit: 1900’s tot 1940’s
Hierdie tydperk word hoofsaaklik met Jakob Hendrik Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubser, Alexis Preller en Walter Battiss verbind, aangesien swart kunstenaars se werk nie behoorlik gedokumenteer is nie. Daar is eers estetiese waarde aan die kunswerke deur swart kunstenaars gedurende die 1960’s geheg, maar dié wat wel rondom hierdie periode kon naam maak, is Gerard Bhengu, Gerard Sekoto en John Koenakeefe Mohl. Kuns in hierdie periode was hoofsaaklik gesentreer op landskapkuns en wit kunstenaars se beheptheid om 'n eiesoortige kunstradisie te skep wat eg Suid-Afrikaans was. Kuns wat nie deur wit setlaars geskep is nie, is as artefakte afgemaak. Ironies genoeg is hierdie “artefakte” versamel deur museums eerder as die kunswerke wat uit 'n Westerse tradisie ontwikkel het. Swart kunstenaars is uitgesluit uit galerye en kunsuitstallings.
Proteskuns: 1970’s en 1980’s
Kuns het 'n groot rol gespeel in die stryd teen apartheid. As gevolg van kolonialisme het Suid-Afrika lank aan Westerse estetiese waardes verknog gebly. Suid-Afrikaanse kunstenaars wat nie langer die onreg kon verduur nie, is landuit, soos Sekoto, Ernest Mancoba en Thami Mnyele, om maar net 'n paar voorbeelde te noem. Maar in die 1970’s en 1980’s het plaaslike proteskuns hoogty gevier. Die visuele beelde van hierdie periode is gekenmerk deur geweld, soos Paul Stopforth se “Elegy” (1981), Lucas Seage se “Death Trap” (1985) en Jane Alexander se “Butcher boys” (1985).
Dan was daar die kunstenaars wat die geweld ontgin het deur iets epies te probeer verkondig, soos William Kentridge en Penny Siopis, of Helen Sibidi en Deborah Bell. Hierdie kunstenaars was minder gefassineerd met die spesifieke aard van die teenwoordige aggressie, maar het steeds diep ontstellende beelde ontketen in hulle werk.
Vryheid en Geregtigheid: 1990’s
Met die ANC se groot oorwinning met die eerste demokratiese verkiesing in 1994, het Westerse instellings begin belang stel in die kuns wat hulle voorheen verwerp het. Marlene Dumas het veral voorkeur geniet. Die kommersiële sukses wat Suid-Afrikaanse kuns internasionaal begin behaal het ná die eerste demokratiese verkiesing, is grootliks te danke aan die Goodman-galery in Johannesburg se direkteur, Linda Givon. Haar galery het 'n groot rol gespeel in die bemarking van kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns in internasionale kringe van die 1970's af. Hierdie mark wat sy geskep het, het weer plek gemaak vir nuwe galerye soos Monna Mokena se MOMO, in 2003 gestig, en Warren Siebrits se galery in 2004.
Die kunstenaar Sue Williamson het twee boeke gepubliseer waarin sy Suid-Afrikaanse kuns kontekstualiseer en dit opgevolg met die webwerf www.artthrob.co.za. Ntone Edjabe van Kameroen het die tydskrif Chimurenga gestig met 'n fokus op gemarginaliseerde kunstenaars, en Brendon en Suzette Bell-Roberts het die tydskrif Art South Africa op die been gebring. Dit het die spreekbuis vir Suid-Afrikaanse kuns in 'n internasionale sfeer geword, terwyl Warren Siebrits en Michael Stevenson se kunskatalogus van elke kunsuitstalling deel van 'n Suid-Afrikaanse perspektief op kuns gevorm het.
Die verkope van kuns was skielik belangrik en die Arts and Culture Trust, Business Arts South Africa en die National Arts Council is gestig.
Die kuns van die 1990's het 'n gleuf gebied vir wat dit moontlik kan beteken om vry te wees, deur ons te herinner dat die strewe om 'n volwaardige mens te wees nooit verby is nie. Dit het 'n Suid-Afrikaanse identiteit probeer verbeel wat nog nie voorheen bestaan het nie deur te strewe na 'n kritiese humanisme. Die politiek van verteenwoordiging was eksplosief.
Ek dink veral aan die collage deur Willie Bester, “Steve Biko”, wat hom agter tralies met happende bekke uitbeeld. Diere as tema het na vore gekom in baie van die werk in die spel met die idee van humanisme. Kyk maar na die werk van David Koloane en Nandipha Mntambo, of die sarkasme in Marlene Dumas se kamma-sentimentele gedig:
First God created the animals
Then he made those others – the humans
And then the theatre started
The Devil played the snake (2 - 4:39)
Dekolonisering en 'n kritiese humanisme: 2000’s
Postmodernisme is eers heelwat later deur Suid-Afrikaanse kunstenaars omarm. Dit het nuwe mediums meegebring soos installasie, videowerk, digitale fotografie, klankkuns en konsepsuele performances; waarvan Okwui Enwezor se installasie in die 1997- Johannesburgse Biënnale 'n grensverskuiwende voorbeeld is.
In die era van dekolonisering is dit steeds belangrik om ag te slaan op Suid-Afrika se geskiedenis van geweld. Dit openbaar waarom Suid-Afrikaanse kuns steeds verbind is tot die strewe om vryheid en geregtigheid.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.