Francois van Coke: Fokof nie gou nie

OUMAN VAN AFRIKAANSE ROCK

Francois van Coke: Fokof nie gou nie

Francois van Coke is dalk die naaste wat Afrikaans aan 'n rock god gekom het. Maar nou is hy ook al twee dekades in die bedryf, hy bly in die burbs en sy outobiografie, Hoe ek dit onthou, het pas verskyn. CELESTE THERON het met hom gesels.

CELESTE THERON
CELESTE THERON

HOE lank is die gemiddelde rakleeftyd van 'n rockstar wie se lewe pal in die openbare oog is? Francois van Coke is al meer as twee dekades op die music scene en het verlede week sy 44ste verjaardag gevier. Tog skryf hy steeds liedjies wat 'n hele generasie se gees vasvat.

Ek het Francois van Coke ontmoet toe ek 14 was, buite Thrashers Skatepark, toe hulle op pad  was na Zeplins, en ek pas my eerste moshpit oorleef het. Fokofpolisiekar se eerste album, As jy met vuur speel sal jy brand, het 'n nuwe beweging ontketen wat die onsekerheid en woede van 'n generasie beklemtoon het – elkeen van die liedjies op daardie album het 'n temalied van frustrasie geword. Francois was die stem van die geslag wat gevoel het hulle word versmoor deur Calvinisme.

Fokofpolisiekar het dit reggekry om die psigiese gaping tussen die gehoor en die band te oorbrug deur saam met hulle crowd te party. Elke ding wat hulle gesê of doen het, is onmiddellik deur hulle aanhangers gedissekteer en op die voorblad van elke koerant ontleed.

Dis byna onwerklik om te dink hoe gereeld die naam op lamppale verskyn het onder die mees banale opskrifte. Ek onthou my suster se plakboek wat elke artikel van Fokofpolisiekar versamel het in die goeie ou dae van JIP (Beeld se jeugbylae). Hulle guerillabemarking was so doeltreffend dat ek op 13  al 'n T-hemp in Tygervallei Mall gekoop het, toe daar nog net 'n twee-snit-EP van hulle beskikbaar was.

Ek het elke vakansie by my ouma-hulle in Durbanville in Tygervallei Mall bestee, in die hoop dat ek hulle dalk sal raakloop. So ook moes ek die lirieke van “Vernietig jouself" van my tas afskrop voordat ek by die graad 7-afskeid toegelaat is. Fokofpolisiekar het dit reggekry om 'n hele gemeenskap van getroue vertrouelinge te kweek, en die wêreld was 'n bietjie minder eensaam. Ek gesels met Francois van Coke oor sy outobiografie, Hoe ek dit onthou, wat verlede week verskyn het.

Rock en rugby

Francois stuur vir my 'n boodskap om 02:00 en vra of ons die onderhoud 'n uur vroeër kan doen. Hy het natuurlik die rugby gekyk, dink ek, terwyl ek my kind se neus afvee wat koorsig op my skoot aan die slaap geraak het terwyl ek nog  besig was om die laaste hoofstuk van sy boek te lees.

Die volgende oggend skuif ek net-net betyds voor my skootrekenaar in. Ek glimlag moeg en verleë vir Francois wat vars op my skerm verskyn. Dit tref my weer dat Francois en Fokofpolisiekar vir 'n hele kulturele revolusie in Suid-Afrika verantwoordelik was, wat die lewens van 'n generasie verander het. Ten goede of ten kwade, wonder ek terwyl ek na Rodney Seale se boek, Rock musiek: Die reg om te weet, op my boekrak loer.

Fokofpolisiekar het uitgeloop op verskeie suksesvolle musiekprojekte soos Van Coke Cartel, Die Heuwels Fantasties, aKING en Die Gevaar. Dis hoekom hulle aanhangers so besitlik begin raak het. Gelukkig was die skrywer en akademikus Annie Klopper daar om alles te dokumenteer. 

Annie was medeskrywer van en raadgewer vir Francois se eie boek. Dit verskil egter van sy vorige projekte omdat dit 'n intieme en intense ontdekkingstog is van 'n kunstenaar wie se persoonlike ervarings nog nooit voorheen blootgestel is nie.

Hoe voel dit om 'n skrywer te wees? vra ek vir Francois nadat ons vinnig gegroet het. “Nee weird,” sê hy, “dit is vir my baie stresvol omdat ek nog nooit voorheen iets soos dit gedoen het nie, obviously het Annie groot dele daarvan geskryf, maar hoe verder ons in die boek beweeg het hoe meer selfvertroue het ek gekry om dit self te skryf.

“Die idee van 'n skrywer is nog vir my vreemd.”

Ek het baie lekker aan die boek gelees, sê ek, al het dit op sekere plekke my intense herinneringe laat oproep wat my post-traumatiese stres-sindroom-simptome gegee het.

Francois is half geskok om dit te hoor: “Ek het gehoop dit sal so half inspirational wees.”

Dit is inspirational, moet ek toegee.

“Jy kan 'n idiot wees en nog heel aan die anderkant uitkom,” verduidelik hy.

Ek is baie bly hy het sy onstuimige lewe oorleef. Natuurlik is ek verheug om saam met hom voor die skerm te mymer oor die musiek wat ons almal se lewens omgeroer het toe ons nog idiots was. Die boek is vir my toeganklik en nederig geskryf. Boonop was ek verbaas dat ek nie Annie se stemtoon kon raaklees nie. Hulle het baie noukeurig met die proses omgegaan om seker te maak die boek is outentiek.

“Het jy die rugby gisteraand gekyk?” wil ek weet. “Ja, ek het die hele week uitgesien om die rugby alleen in my hotelkamer te kyk, en toe suck dit.” Ek lag, “gelukkig was ek besig om jou boek te lees.”

“Hoe het jy en Annie te werk gegaan met die skryfproses," vra ek terwyl ek 'n sluk koffie neem. “In 2020 het ons bietjie tyd gehad in Covid en begin werk aan die idee van 'n boek. Ons het 13 ure se interviews transcribe en toe het ek stories begin skryf wat nie daarin opgeneem is nie, wat ek vir Annie gestuur het. Soms sou ons langs mekaar sit en skryf. Ek wou so ’n Rob Lowe- [Amerikaanse akteur] vibe doen en was geïnspireerd deur sy boek, Stories I only tell my friends.  Die boek is eintlik maar net 'n paar cringe stories van myself, ek wou niemand onder die bus gooi nie."

Agter hom hang 'n landskap van 'n duin met 'n enkele boom. Dan onthou ek, hy is iewers in Namibië die naweek. Francois het grootgeword in La Rochelle, Belville, in “skakerings van beige” soos hy dit stel. Skuins oorkant hulle huis was 'n NG kerk, waar sy  pa gepreek het.

Dis hierdie landskap van sy grootwordjare wat telkens in sy musiek weerklank vind en herbesoek word. Dit was die jare van Agter elke man, Ballade vir 'n enkeling, ThunderCats, Brakanjan, He-Man, MacGyver, Rocky, Rambo en natuurlik rugby. Sy obsessie met rugby het al in die laerskool begin en aanvanklik wou hy nie noodwendig sing nie, al is sy familie musikaal. Hy skerm dat sy rugbyloopbaan in standerd 5 gepeak het, toe hy Cravenweek gespeel het.

“Ek het as kind daarvan gedroom om 'n Springbok te word, maar het op 40 die kans gekry om een te moer. Een van die beste dae van my lewe,”  lui 'n aanhaling uit sy boek. Hy verwys natuurlik na sy boksgeveg vir liefdadigheid teen Derick Hougaard, wat hy gewen het.

Wat my beïndruk het van daardie projek is die ywer waarmee Francois dit aangepak het. Hy noem in die begin van die boek dat hy 'n verskriklike kompeterende kind was. “Omtrent dieselfde tyd as wat ek begin oefen het, skryf ek, Hunter [Kennedy] en Fred den Hartog toe 'n song saam: ‘Ons het gewen’. Ek wou 'n oorwinningslied skryf wat kon uitkom sodra die geveg verby is.” Gelukkig vir Francois het hy gewen, anders sou dit nogal awkward gewees het. Ek besef Francois het 'n sekere gut-gevoel wat hy vertrou met elke projek wat hy aanpak, maar ook dat hy 'n uitstekende kop vir bemarking het.

Aan die einde van Francois se standerd 7-jaar, sing hy iets van Nirvana op 'n sandduin by 'n strandpartytjie, en word ontdek deur Wynand Myburg – wat saam met hom op skool was. Min het hy geweet dat dit maar net die begin van hulle musiekloopbaan was.

Hulle het altyd gejoke dat hulle 'n Afrikaanse punk band gaan begin, maar dit sou eers in Desember 2002 realiseer. Lank voordat hulle hul eerste gig gespeel het, sou die bende die legendariese grafiese ontwerper Matt Edwards nader. Hulle sou die eerste punk band in Suid-Afrika wees wat noukeurig deur elke element van hulle musiek dink: “Ons hou at least twee keer 'n week beplanningsvergaderings, met minutes of meetings en Wynand wat alles byhou in lêers: kalenders, agendas, 'n begroting en to-do lists.”

Daar was flyers in kleur (ongehoord in daardie tyd), en hulle press release is vandag nog poëties. “Ons het besef ons is besig met iets spesiaals, ons was oortuig daarvan. Met roekelose ambisie het ons eenvoudig voortgefok.”

’n Magtige instrument

“Waar of onwaar," wil ek by Francois weet terwyl ek vir hom voorlees uit Rock musiek: Die reg om te weet: Musiek is 'n magtige instrument om mense te beïnvloed – ten goede of ten kwade.” Hy antwoord: “Dit is verseker 'n magtige instrument in die sin dat dit vir lank die enigste rede was wat ek uit die bed geklim het, maar ek weet nie of dit mens ten kwade kan beïnvloed nie." “So jou opinie oor Rodney Seale het nog nie verander nie?" Francois lag, “wel, ek stem saam met hom dat musiek 'n magtige instrument is."

“Ek moet bieg, jou boek saam met Annie Klopper lees vir my as 'n  beautiful self-love journey. Jy het begin musiek maak in 'n Christen- punk band op skool, en later het Fokofpolisiekar byna versplinter weens die hele fok-God-fiasko in die media; waar sal jy sê is jy nou?" “Ek is iemand wat glo in liefde en vriendskap en goeie goed. Dis waar ek nou is."

Ek sê: “Ek gaan eerlik wees, daar was tye in hierdie boek wat ek verbaas was dat jou vrou, Lauren, deur alles met jou gestick het. Dit het my verstom om te lees wat julle al alles moes oorkom om te wees waar julle nou is," sê ek terwyl my kinders wakker word en besig raak om vir hulself ontbyt te maak. “Ek het nog altyd geweet ek wil met Lauren wees en ek het haar lief. En ek was lucky dat alles uitgewerk het soos dit moet."

“Jou boek het my baie geleer oor die waarde van vriendskap en hierdie langtermyn-verhoudings wat jy kon behou en bou oor dekades. Hoe het jy dit reggekry om met dieselfde mense van skool vandag nog mee te werk en selfs met jou eerste groot liefde te kon trou?" “Ek is gelukkig om die regte mense te gevind het. Om 21 jaar saam met dieselfde mense musiek te maak is unheard of. Dis 'n kombinasie van luck en wat jy insit in jou verhoudings."

Ek en Francois gesels nog 'n rukkie, maar ons albei het ander dinge om op 'n Sondagoggend na om te sien. Met heimwee dink ek terug aan al die parties by Hotbox Studios, in Schoemanstraat, waar Fokofpolisiekar gereeld opgetree het. 

In die boek vertel Francois dat hy daardie dae nie mis nie. “Ek is nou byna tien jaar van die sous af en alles is beter. Die eerste twee jaar was moeilik, maar dit raak makliker.”  Hy vertel ook dat hy nooit gaan ophou musiek maak nie en besig is om aan 'n nuwe solo-album te werk.

“Fokof is iets wat ons vir ewig gaan doen, totdat een van ons doodgaan. Ek dink nie ons sal ooit opbreek as gevolg van 'n fight of iets nie; dis nou al meer as twee dekades en ons is regtig vriende.” 

“Wanneer het julle besluit om julle seun na Max du Preez te vernoem?" wil ek laastens weet.

“Jy mag maar vir Max sê ons het ons seun na hom vernoem."

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.