Die dwaling van die Waterkloof-dweper

ONDERWYS EN DIE GRONDWET

Die dwaling van die Waterkloof-dweper

Waarom sou ouers van leerders die geestelike opvoeding van hulle kinders op half-onbekende onderwysers afskuif, wat waarskynlik nie toegerus is daarvoor nie? En hoekom sou ’n skoolhoof soos ’n tentpastoor optree? is van die vrae wat aan ALI VAN WYK knaag.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

’n MENS skud die kop in ongeloof as jy na die nuutste voorstedelike oorloggie kyk wat uitgebars het rondom die skoolhoof van een van Suid-Afrika se grootste en vooruitstrewendste skole, Hoërskool Waterkloof in Pretoria.

Die rede vir die ongeloof is dat dit so duidelik soos daglig is dat indien Waterkloof se beheerraad hulle burgerlike en wetlike pligte oor die afgelope dekade nougeset en ernstig opgeneem het, sou hulle die skip ver óm hierdie onstuimige, troebel en vlak vaarwater kon stuur.

Om in staat te wees om hulle wetlike pligte met onderskeiding te kon nakom, vereis nie van enige lid van ’n beheerraad om ’n regskenner te wees nie, maar bloot om die relevante deel van die Grondwet te verstaan [artikels 15(1) en 15(2)], die relevante deel van die Nasionale Skolewet (artikel 7), en om ’n paar verhelderende artikels te lees oor regskenners se interpretasie van hierdie dele en die verskeie hofsake in verband met hierdie dele oor die jare.

Wat sê die wet?

’n Mens kan die Grondwet en die skolewet se hantering van godsdiens in skole en enige ander staatsinstelling redelik maklik verduidelik. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bou nie ’n muur tussen godsdiens en die staat, of gemeenskappe se geloof en die staat nie [artikel 15(1)].

Die Grondwet aanvaar dat ons ’n multikulturele en multigodsdienstige gemeenskap is, en dat ’n wet nie ’n streep kan trek om te sê tot waar ’n mens se godsdiens en geloof ’n rol kan speel of beoefen kan word nie. Vryheid van geloof is ’n reg in ons Handves van Regte.

Om godsdienstige byeenkomste in ’n skool te hou of selfs vir ’n skool om ’n Christelike aard aan te neem word nie eksplisiet deur die Grondwet of die skolewet verbied nie.

Maar altwee dié wette het ’n tweede en derde vereiste en dit is eintlik dié bepalende vereistes wat beheerraadslede skynbaar nie aldag op ag slaan nie.

Om die skolewet aan te haal: “Behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ’n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ’n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders vry en vrywillig is.” (Eie kursivering)

Die tweede vereiste is dus dat godsdiensbeoefening op ’n billike wyse geskied, wat eintlik beter as “equitable” in die Engelse weergawe uitgedruk word.

In ’n artikel in 2015 op sy blog Constitutionally Speaking wys die grondwetkenner prof. Pierre de Vos daarop dat dit onwettig is vir ’n staatskool om direkte of indirekte dwang op leerders te plaas om ’n spesifieke godsdiens of enige vorm van godsdiens te beoefen by openbare geleenthede, hetsy in ’n klaskamer of ’n saalbyeenkoms.

Hy sê waar ’n skool godsdiens beoefen by ’n openbare geleentheid, moet dit ’n duidelike alternatief verskaf aan kinders wat nie wil deelneem nie. Hierdie alternatief mag ook nie aangebied word op so ’n manier dat dit indirekte druk op ’n kwesbare kind plaas wat sensitief is vir groepsdruk nie.

Godsdienste moet gelyk hanteer word

Die belangrikste deel van die Grondwet en die skolewet wat egter in baie gevalle gerieflik vergeet word, is die “billike” of “equitable” gedeelte. De Vos sê: “Waar ’n skool godsdiens in klasse beoefen, of onderrig met ‘Christelike Waardes’ wil beliggaam, sal die skool twee strome van opvoeding moet verskaf in die vorm van verskillende klasse – een klas wat onderrig verskaf wat beliggaam is met die Christelike etos en ’n ander klas wat vry is van sulke opvattings en waardes. ’n Skool wat skaamteloos ’n Christelike etos bevorder en geen duidelike en billike alternatief verskaf nie, tree ongrondwetlik en onwettig op.”

De Vos beklemtoon die billikheid weer spesifiek: “Selfs waar ’n skool reëls geformuleer het om seker te maak dat kinders nie direk of indirek gedwing word om aan godsdiensbeoefening deel te neem by openbare geleenthede nie, het dit steeds ’n plig om verskillende godsdienste billik (equitably) te hanteer. Dit beteken nie dat verskillende gelowe presies dieselfde hanteer moet word nie, maar dit beteken dat die skool verbied word om die lering van een godsdiens eksklusief te bevorder, of om godsdiens in teenstelling met nie-godsdiens te bevorder.”

As jy dit steeds nie mooi verstaan nie: Die billike gedeelte beteken dat selfs as daar net een ateïstiese kind in ’n skool is, moet die “Christelike” skool seker maak dat daar altyd ’n alternatiewe leerstroom is vir daarde een leerder, wat dieselfde hulpbronne na hom of haar kanaliseer. Dit beteken aparte klasse en onderwysers.

Die Grondwet en die skolewet en die grondwetlike regter Kate O’Regan in haar uitsprake, stel dit so sag as moontlik, maar dit beteken dat dit basies onmoontlik is vir ’n skool om die etos van ’n spesifieke godsdiens aan te hang. Dit staan beheerrade vry om kinders toe te laat om byvoorbeeld pouse biduur te hou, selfs in ’n klaskamer of saal, maar dit maak dit vir die skool bykans onmoontlik om een godsdiens te bevorder.

Die halstarrige hoof

Ten spyte van hierdie duidelike wetlike vereistes, stoom veral die meeste Afrikaanse staatskole eenvoudig voort om onwettig op te tree. Vat die einste Hoërskool Waterkloof. Op die skool se webwerf, onder die hofie “Missie", staan daar die volgende: “Om die Christelike en Afrikaanse waardes van Hoërskool Waterkloof te bewaar en uit te bou, op só ’n wyse dat leerders as jong volwassenes in die samelewing volgens potensiaal en vermoë kan presteer en om as opvoedingsinstansie, plaaslik, nasionaal en internasionaal op die voorpunt van opvoedende onderwys te wees.”

Kom ons kyk na die geval van die skoolhoof wat tans geskors is: mnr. Chris Denysschen. Die herrie rondom hom het verskeie aspekte, waarvan Netwerk24 en Rapport die meer sensasionele aspekte veral belig, soos mnr. Denysschen se beweerde onbehoorlike seksuele opmerkings teenoor vroue en meisies, sy fisiese gedrag teenoor vroue, en sy beweerde wanbestuur van ’n groot bouprojek op die terrein, dié van ’n ouditorium.

Maar wat baie duidelik uit die beriggewing blyk, is dat mnr. Denysschen die skool se milieu hanteer het as ’n vrye ruimte om met geesdrif sy weergawe van die Christelike etos te evangeliseer.

Hy het die skoolsaal sy “tabernakel” genoem. Hy raai dogters af om skouers of knieë te wys op dae waar die kinders toegelaat word om civvies skool toe aan te trek, omdat dit kwansuis verleidelik sou wees vir mansonderwysers en seuns.

Toe ’n sekere seksie van die skool se leerders hewig hierop reageer, het hy in ’n saalbyeenkoms die skool biddend op sy knieë om verskoning gevra, terwyl verskeie kinders hom die hande opgelê het, aldus Netwerk24.

Hy doen glo in saalopeninge voorbidding vir kinders wat voor almal in die saal moet opstaan. Hy het na bewering vyf rugbyspelers by die skool gedoop, en hy het ook glo ’n onderwyser en sy vrou in sy kantoor laat trou.

Al hierdie gedragsprobleme wys tog baie duidelik na ’n man met ’n simplisties fundamentalistiese Christelike lewensbeskouing, en sy entoesiasme hiervoor en sy planne vir die skool sou sekerlik in sy aanvanklike onderhoud met die beheerraad duidelik na vore gekom het.

Beheerraad is ’n groot verantwoordelikheid

Dit wil voorkom of ’n groot gros van die ouers wat hulleself as beheerraadslede verkiesbaar stel, nie besef dat hulle onder meer ook ’n beskermer vir die Grondwet en die onderwyswette word nie. Hulle is veronderstel om hulle persoonlike voorkeure opsy te skuif indien dit in stryd is met die wet.

Nietemin kry mens eerder ’n strydlustige en weerstandige gevoel by verskeie beheerrade oor die hele land dat die Christelike etos saam met die Afrikaanse taal ingegooi word by ’n soort oorlog teen die regering vir die voortbestaan van ’n sekere kulturele identiteit en standaarde. Die lang geskiedenis van ’n bewonderenswaardige weerstand teen die ontstaan van die Bela-wet en die opruiende uitsprake van premier Panyaza Lesufi in Gauteng, is ook ’n konteks waarin godsdiens deur baie mense gesien word as deel van die pakket wat beskerm moet word.

Ook anonieme ouers ondersteun mnr. Denysschen met uitsprake op Netwerk24 soos: “Hy is besig om ordentlike meelewende volwassenes vir die samelewing te skep. Ek het nie ’n probleem daarmee as hy op sy knieë vir ons kinders bid nie. Ons kom self nie in die kerk nie.”

Ek vermoed wanneer mense in groot groepe so onverbiddelik raak oor hulle oortuigings dat hulle blind raak vir ander nuanses rondom hulle, dan gaan dit in baie min gevalle regtig waaroor hulle sê dit gaan, en in werklikheid oor ’n soort trop-psigose, ’n soort verskansing, ’n vorm van chauvinisme, ’n soort identiteitsvorming, ’n ingewikkelde bondel vrese. Dit gaan nie oor die evangelie van Christus nie.

Die skool ís nie die kerk nie

Ek het hierdie argument al voorheen gevoer, maar dis die moeite werd om te herhaal. Ek is nie gelowig nie, maar as ek was, sou ’n skool die laaste plek gewees het aan wie ek my kinders se geestelike opvoeding oorlaat. ’n Skool is eenvoudig nie toegerus daarvoor nie.

Selfs as ons nie van ander gelowe praat nie, en net die wilde boeket vat van beskikbare Christelike strominge en denominasies, van die Spade Reën Sending tot die Hervormde Kerk, van ’n progressiewe Christelike hippie-kommune tot die Rooms-Katolieke Kerk, van die Apostolies tot die Sewendedag Adventiste tot die Mormone … Dis soos ’n reeks verskillende gelowe.

Ek kan my nie indink dat ’n Russies-Ortodokse ouer graag sou wou sien dat ’n Hottentots-Holland-rasta wat ook ’n aardrykskunde-onderwyser is sy kind begelei in die fyner nuanses van die gebruik van bergkruie nie, of dat ’n Blourok-ouer gelukkig sal wees met die geestelike beginsels van ’n Dopper LO-onnie nie.

Ek het nog altyd gedink dat die Grondwet die breë Christelike geloof eerder bevry as inperk. Waarom sal jy as ’n ware Christen deel wil wees van ’n beweging wat homself bewapen as deel van ’n kulturele oorlog, en wat dwang en kompromie wil gebruik om kinders te intimideer? Wie wil nou diktator, regter en laksman wees?

Christelike ouers het twee magtige instellings tot hulle beskikking om hulle kinders in die “regte” rigting te begelei: Die ouerhuis en die kerk van hulle keuse.

Daarom wil ek vir daardie anonieme Waterkloof-ouer en ondersteuner van mnr. Denysschen, wat vir Netwerk24 gesê het: “Ek en my huis, ons sal die Here dien”, sê: “Dis reg ou bul, maar doen dit dan net in jou modernistiese Waterkloof-kasarm met die golwende tuine.”

♦VWB♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.