Buenos Aires: Om die geskiedenis raak te drink

DORS

Buenos Aires: Om die geskiedenis raak te drink

Ander mense reis om geskiedkundige besienswaardighede en natuurwonders te besoek. Hy verkies om ʼn land deur sy ou, tradisionele kroeë te leer ken, sê JACQUES PAUW. Want hoe lank kan jy nou eintlik na ʼn waterval kyk?


MY verhaal oor Argentinië gaan oor ’n kroeg. En nie sommer net enige kroeg nie.
Ek’s ’n kroegvlieg. Almal weet dit. En dis nie dat ek net van die drank op die rakke hou nie, maar in elke glas, elke bottel en in elke kroegvlieg skuil ’n kroniek van voorspoed en teenspoed, welvaart en armoede, liefde en haat.
Ek praat nie van drinkplekke in winkelsentrums waar gespierde Blou Bul-rinkhalse pers konkoksies in hul meisies se kele afgooi of sjiek bistro-bars in luukse buurte waar die dranklys wys hoeveel Platter-sterre sy wyne het nie.
Ek praat van kroeë waar sy vlieë se sweet en aromas oor dekades heen in elke hoekie en gleufie ingesyfer het. Tydloos. Dof verlig. Baie hout. Hoë plafonne. Brandskilderglas. Ou banknote en knipsels. Vergete goeters teen die mure. ʼn Televisiestel in ʼn hoek wat sokker wys. Die vloerteëls by die ingang en rondom die toonbank is hol getrap. ʼn Paar vlieë tuur stip voor hulle uit.
Dié plekke is met nostalgie geparfumeer. Dis toevlugsoorde waar kroeglopers terugkaats op gebeure, waar revolusies en komplotte gesmee word, sokker- en rugbywedstryde deurtrap word, terugslae vertroos word, oorwinning gevier word en verliefdes ooreenkom om ʼn wyle in mekaar se arms te koer.
Hulle het almal een ding gemeen: oorlewing. Hulle het ontwikkelaars ontduik en oorloë, brande en plae oorleef.
Die oorspronklike Vrye Weekblad van die laat 80’s is in die Yard of Ale by die Markteater in Johannesburg deurd(r)ink. Dit was ʼn klipgooi van ons kantore af en ons het daar geboer. Ons subredakteur, Koos Coetzee, het saans in die enigste toilet aan die slaap geraak en geweier om uit te kom. Ons het die komplot om polisiemoordbendes oop te vlek en Dirk Coetzee na die ANC in Londen te smokkel in die Yard gesmee.
Suid-Afrika was eens ryk aan sulke kroeë, maar hulle moes plek maak vir ontwikkeling. In Johannesburg is daar nog die Radium Beerhall (1929) en Kitchener’s (1906), Kaapstad het Persies (Perseverance Tavern, 1836) en Firemans Arms (1864), Stellenbosch het De Akker (1872) en Kimberley spog met Star of the West (1870). Op die platteland is daar nog juwele soos Bathurst se The Historic Pig and Whistle Inn (1832), wat hom daarop roem dat hy die oudste kroeg in die land is.
Oor die “ou wêreld” heen word geskiedkundige kroeë soos goud bewaar. Al Brindisi in Ferrara, Italië, het sy deure amper duisend jaar gelede oopgemaak. Die astronoom Copernicus het in ʼn kamer bokant die kroeg gewoon en daar geboer. Dis met sy elmboë op die kroegtoonbank dat hy glo sy teorie vervolmaak het dat die son die middelpunt van ons heelal is.
Seán’s Bar in Ierland het sy deure in die jaar 900 oopgemaak en het vir ʼn tyd aan die sanger Boy George behoort. Die Sewende Graaf van Derby, James Stanley, het in die 1200’s sy laaste maaltyd in Ye Olde Man & Scythe in Bolton in Engeland geniet voordat hy net buite die deur onthoof is vir sy aandeel in ʼn mislukte revolusie.
Die meeste reisigers fynkam hul bestemmings vir katedrale, museums en winkels. Waar ek kom, kies ek koers na ʼn ou, tradisionele kroeg. Ek het in my omswerwinge in honderde sulke plekke gekuier en vasgeval.
Ek snuffel “ondergrondse” kroeë op die onmoontlikste plekke uit, soos die ander dag in Kaïro, Egipte, toe ek en my medereisiger, Anton Espost, stegie op en stegie af is op soek na dié metropool se skaars watergate.
Kaïro se kroeë (ek praat nie van dié in die Sheraton of Hilton nie) is meesal ongemerk en daar is geen waarborg dat jy aan die regte deur klop nie.
Ons gunsteling was verberg agter plastiekdruiweblare en het geroosterde kwartels saam met plaaslike wyn voorgesit. Ek was in die hemel.
Ek was in van die beste en oudste kroeë in die wêreld en het gedink ek het alles gesien en beleef.
Totdat ek einde verlede jaar in Bar El Federal in Buenos Aires in Argentinië ingestap het.
Ek hou nie van vlieg nie. Dis ʼn moderne manier van martel. En dan moet jy boonop betaal daarvoor. My wraak teen lugrederye wat my in ʼn piepklein hokkie inkerker en kos voer wat na niks proe nie, is om so min as moontlik daarvoor te betaal. Ek krap altyd êrens ʼn spotgoedkoop kaartjie uit.
Ek het verlede jaar Egipte toe en terug gevlieg vir R4 500. ʼn Paar maande later het ek ʼn retoerkaartjie van Johannesburg na Rome, Italië (ʼn direkte vlug), gekoop vir R5 500. ʼn Jaar voor dit het ek van Kaapstad na Porto in Portugal gevlieg vir minder as R5 000.
Toe ek dus in Oktober verlede jaar besluit het om vir ʼn maand Suid-Amerika toe te gaan, het ek ʼn vliegkaartjie begin soek. Regstreekse retoervlugte van Johannesburg na São Paulo in Brasilië met SAA en Latam kos sowat R13 000.
Ek het ʼn retoerkaartjie op die Angolese lugdiens TAAG gekry vir R6 500. ʼn Paar woorde oor TAAG: Dis nie Emirates, Cathay Pacific of Air France nie. Die vliegtuie is in ʼn goeie toestand – die redery het immers toestemming om in die Europese Unie te land – maar aanboord-vermaak bestaan nie eintlik nie en die kos is so-so. Die grootste rede om TAAG te vlieg is nie net die prys nie. Die redery vlieg met enorme Boeing 777-300’s en 777-200’s na hulle Europese en Suid-Amerikaanse bestemmings en is selde meer as halfvol.
Jy’s amper van ʼn oop sitplek langs jou gewaarborg – veral as jy my metode van instap gebruik. Ek doen dit al jare lank en dit werk soos ʼn bom. Kies ʼn sitplek agter in die vliegtuig wanneer jy bespreek. Net nie die heel laaste ry nie, want sou jy daar móét sit, is jy by die toilette. Kies die tweede of derde laaste ry.
Die belangrikste is om laaste in die vliegtuig in te stap. Wag vir die hekke om omtrent toe te maak. Jy’s daai vent wat laaste instap wat elkeen laat wonder of jy die leë sitplek langs hom gaan vat. Vermy liewer passasiers se oë.
As die vliegtuig tjok-en-blok is, het jy geen keuse nie as om in jou bespreekte sitplek te gaan sit. As die vliegtuig nie vol is nie, gaan jy verby die oop sitplekke stap soos jy afbeweeg in die vliegtuig. Jy kan letterlik kies waar jy wil sit omdat die ander passiers reeds aan boord is.
Op TAAG behoort daar heelwat te wees. Koop ʼn bottel rooiwyn met ʼn skroefdop op die lughawe, kry ʼn goeie boek en skop jou skoene uit.
Baie mense sukkel om vlugte op TAAG te bespreek. Dis bykans onmoontlik om ʼn bespreking op dié redery se webwerf te doen en die meeste reiswebwerwe werk nie met nie TAAG nie.
eDreams is die beste webwerf om ʼn vliegkaartjie op TAAG te koop. Ek het vinnig geloer, en met die skryf van dié artikel kon ek in Mei 2019 van Johannesburg na São Paulo en terug vlieg vir R6 100!
So daar gaan jy!
My reisgenoot vir Suid-Amerika was weer eens Anton Espost, ʼn Riebeek-Kasteelse instelling. ʼn Paar woorde oor hom: Hy is, nes ek, ʼn kroegvlieg. Ons vriendskap is oor (wat anders as?) wyn gesmee. Hy is self ʼn wynmaker en sy (ongesertifiseerde) wyne dra die name van ʼn liefde in sy lewe (sy het hom intussen onder sy gat geskop) en ʼn rooiligdistrik in die Amerikas.
Anton is die eienaar van die Wine Kollective in Riebeek-Kasteel, loshande die uniekste wynwinkel in die land. Neffens Art Deco-lampe staan van die land se gesogste wyne uitgepak: Eben Sadie se Treinspoor, Mevrou Kirsten en Skurfberg, AA Badenhorst se Family White Blend, en Mullineux se Schist Chenin en Schist Syrah. Hy verkoop hulle teen kelderpryse.
Dis moeilik om te glo dat die kaalvoet Anton ʼn geoktrooieerde rekenmeester is wat eens deur Anglo American gewerf is as een van hulle oogappels op die goudvelde van die Noordwes-provinsie. Hy’s dank die hemel weer vinnig daar weg.
Anton het oor baie jare Suid-Amerika deurkruis en praat ʼn snarsie Spaans. Hy’t aanbeveel dat ons vir bykans ʼn week in Buenos Aires bly en dat ons ʼn Airbnb-woonstel in San Telmo kry.
“Hoekom San Telmo?” wou ek weet.
“Glo my, dis waar jy wil wees. Dis die oudste barrio (woonbuurt) in BA met geplaveide strate, markte, antieke winkels, restaurante en kroeë. Veral die kroeë. Dit gaan jou asem wegslaan.”
“O ja?”
“Die eerste ding wat ons doen as ons daar aankom, is om Bar El Federal toe te gaan. Jy sal nooit weer wil huis toe gaan nie.”
Ons Suid-Amerikaanse avontuur het begin by die Iguazú-waterval op die grens tussen die Brasiliaanse staat Paraná en die Argentynse provinsie Misiones. Anton was al daar en nie seker of hy wou teruggaan nie. “Dis net ʼn waterval. Ons moet in Buenos kom.”
“Dis nie net ʼn waterval nie,” het ek teruggekap, “dis een van die sewe natuurlike wonders van die wêreld.”
“Hoe lank kan jy nou vir ʼn waterval kyk?”
Een van die beste dinge van Suid-Amerika is jou magtige en immergroen Suid-Afrikaanse paspoort. Jy’t nêrens ʼn visa nodig nie en doeanebeamptes kyk skaars na jou voor hulle ʼn 90-dae-visa in jou paspoort intjap.
Ons het die toeristeding gedoen en met ʼn treintjie deur die Atlantiese reënwoud gekronkel tot op die oewer van die Iguazurivier naby die waterval. Op die stasie het allerhande diertjies rondgeskarrel, waaronder wasbere, meterlange likkewane en kapokhaantjie-ape. In die woud is daar jaguars en die wêreld se grootste knaagdier: kapibara, wat tot 65 kg kan weeg.
Dit was klam, bedompig en warm. Iguazú bestaan uit 275 watervalle wat oor ʼn 2,7-kilometer-skeur in die Iguazu tuimel.
Dis soos om vir die eerste keer in die Notre-Dame in Parys in te stap, die Rooiplein in Moskou te betree of jou blik te vestig op Angkor Wat in Kambodja se hooftempel. Dit word in jou geheue afgeëts.
Ons was twee dae by Iguazú en het die hoofwaterval van Garganta Del Diablo (die duiwel se keel) af bekyk. Daar’s tientalle ander uitkykpunte, maar ons het nooit by hulle uitgekom nie.
Die rede?
ʼn Churrascaria (Portugees vir ʼn braaihuis) aan die Brasiliaanse kant van Iguazú. Anton hou van systrate en local plekke en is bult-op en -af op soek na die regte plek om my voor te stel aan die befaamde vleis van Brasilië en Argentinië.
Ek sal nooit weer ons churrascaria kry nie. Dit was meer kantien as restaurant. ʼn Mamma met ruim voorarms het ʼn kelner met ʼn gebleikte wit hemp en skewe strikdassie beveel om na ons te kyk. Ons was die enige toeriste. ʼn Braaivleisreuk het in die lug gehang. Anton het na my gekyk, gegrinnik en sy kop geknik. Ons was op die regte plek.
ʼn Brasiliaanse churrasco (braai) het net drie bestanddele: ʼn briketvuur, growwe sout en dik Black Angus-steaks. Churrascarias ryg die vleis soos sosaties aan lang staalpenne en die kelner kom sny skywe in jou bord by die tafel. Daar was ook lam, hoender, vark, bloedwors en afval. Anton het aan laasgenoemde gesmul.
Die Picaña – ʼn Brasiliaanse en Argentynse snit wat aan die bokant van die bees se kruis sit en ʼn heerlike laag vet het – het my mond laat blink en perfek afgegly met ʼn Argentynse malbec, of was dit die Chileense sauvignon?
Ure later sê Anton: “Ek dink ons moet ʼn taxi terugvat hotel toe.”
“Nou wat van die waterval? Ons het nog nie alles gesien nie.”
“Ek het mos gesê: Hoe lank kan jy nou na ʼn waterval kyk?”
Ek het my kop geknik. “Jy’s reg.”
Ek en Anton het laataand van Iguazú af in Buenos Aires aangekom. Aerolíneas Argentinas is duur, maar nou is daar die laekoste-redery Flybondi, soortgelyk aan Kulula of Safair. Hulle land helaas op ʼn ou militêre lughawe in die buitewyke van Buenos Aires.
Ons het ons tasse in die woonstel neergesit en op die klipstraat uitgestap. Dit was laterig – seker so halftien – maar die straat was gepak. Baie mense eet dan eers aandete.
Die kroeg onder ons woonstel het vir my na die ware Jakob geklyk en dit was. Skinkborde empanadas, Argentinië se nasionale peuselkos, was in skinkborde op die toonbank uitgepak. Dis klein pasteitjies met ʼn vulsel soos beesvleis, hoender, ham, kaas, spinasie of humita (soetmielies met ʼn witsous) wat gemeng word met soetrissies, uie, olywe en hardgekookte eiers.
Anton het my aan die arm gegryp en daar uitgetrek. “Ons kan later terugkom. Ons gaan nou eers Bar El Federal toe.”
Bar El Federal was eens ʼn bordeel, ʼn slaghuis en ʼn algemene handelaar voor hy sy deure in 1864 as ʼn drinkgat oopgemaak het. Dié kroeg is die tweede oudste in Buenos Aires en is een van 73 Bares Notables (geskiedkundige kroeë) in dié stad. Dit help nie ek probeer om Bar El Federal te beskryf nie, want hy moet gevóél en geruik en aan gevat word. Dis alles wat ʼn kroeg moet wees en hoewel dit ʼn toeristetrekpleister is, is dit dieselfde vlieë wat jaar in en jaar uit teen tienuur elke oggend onder die gekromde houtmantel inskuif wat oor die lengte van die toonbank span. Dié oordadige en uitspattige mantel is versier met groen brandskilderglas, flambojante houtwerk en ʼn antieke klok. Dis vulgariteit op sy beste.
Soggens is dit ʼn cortado (espresso met warm melk) en ʼn medialuna (ʼn Argentynse croissant). Laatmiddag of vroegaand is die vlieë terug, dié keer vir ʼn fernet con coca – Fernet Branca en Coke, Argentinië se gewildste dop. Argentinië is die tuiste van die enigste ander Fernet-distilleerdery buite Italië.
Ek het besluit op ʼn Milanesa Napolitana, ʼn platgekapte steak wat in krummels gerol en gebraai word. Daarna word dit in die oond afgerond met mozzarella, ham en tamatie en met tjips voorgesit. Dis heerlik en die porsies ruim – teen skaars R100.
Teen daai tyd was ek en Anton op ʼn Torrontés – ʼn chenin blanc-agtige witwyn wat volgens die Argentynse wynsnobs speelse ondertone het van rose, jasmyn en geranium. Anton het aanvanklik sy wynneus vir Torrontés opgetrek, maar later het ons beteres geproe. Dit steek egter skerp af teen Chili se wonderlike sauvignon blancs.
Ons het ons eerste besoek aan Bar El Federal met ʼn tuisgemaakte limoncello en crème caramel afgesluit. “En wat dink jy van Bar El Federal?” wou Anton weet.
“Nes jy gesê het. Ek wil net hier bly. Ek gaan nêrens heen nie.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X