‘Die stront van sensuur’: Anton Kannemeyer oor kuns en kurators

Bitter blues

‘Die stront van sensuur’: Anton Kannemeyer oor kuns en kurators

Die kunstenaar Anton Kannemeyer gesels met ELSABÉ BRITS oor die hart van satire, die gevaar van sensuur, wedywerende liberale, kreatiewes wat konformeer en die verbranding van kuns. Hy sê sensuur gaan al die ‘kunskurators’ in hul gatte kom byt


OP 50 is Anton Kannemeyer nog net so onversetlik oor sy kuns en die reg om ander mense uit te daag om dieper te dink as toe hy ’n student was. Die verskil is, deesdae is daar ’n verset teen satire.
Die verset het stadig teen Bitterkomix, Kannemeyer (ook bekend as Joe Dog) en Conrad Botes se publikasie, begin toeneem. Nie net teen dié enigmatiese en uitdagende strokiesprente nie, maar ook teen die wyer handelsmerk wat in Suid-Afrika gevestig is.
Internasionaal het dit begin kort ná die aanvalle op die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo op 7 Januarie 2015. “Dit was ’n absolute ommekeer wêreldwyd. Aanvanklik was almal ‘je suis Charlie’, maar dit het net so twee maande gehou.”
In Oktober 2015 het Kannemeyer, wat ook groter kunswerke maak, die laaste keer in Suid-Afrika uitgestal.
“Toe reeds was daar gesprekke tussen my en die Stevenson-galery oor watter werke ek mag uitstal en wat nie. In Januarie 2015 het hulle vir my gesê my werk is die beste werk wat ek nog gemaak het, en in Oktober kon dit nie uitgestal word nie. (Daar was ’n golliwog-gesig op die werk.) Ek verstaan daar is goed soos neigings en modes, maar as jy kuns maak, staan jy ’n bietjie weg van dié dinge. Ek dink aan my kuns in terme van 40 en 50 jaar van nou af.”
Hy is van die Stevenson-galery se lys afgehaal en ’n periode van vernuwing het begin. Deesdae stal hy in Frankryk en België uit en hy het onlangs teruggekeer van ’n uitstalling saam met Botes op Réunion. Bitterkomix en ander publikasies is ’n groot sukses oorsee.
“Die skokkende ding vir my is dat ek nog altyd deur die liberale media gesteun is, en dié het eenvoudig verdwyn. Niemand is meer bereid om hulle nek uit te steek en te sê: Die kunstenaar gebruik verskeie implemente, soos allegorie, stereotipe, hiperbool, metafoor, humor, sarkasme, obseniteit en ironie om satire in te span nie. Almal is so bang hulle gaan hulle werk verloor en aangeval word.
“Een van die groot ironieë van my loopbaan is dat die reaksie wat ek [nou] van sogenaamde liberale kritici kry presiés dieselfde is as wat ek in die 90’s van konserwatiewe kritici gekry het.
“Mense kyk na ’n werk en besluit: Hierdie en hierdie ooglopende aspekte van die werk laat my ongemaklik voel of maak my seer, en dus is die werk onaanvaarbaar. Destyds het die liberale joernaliste gesê: Maar my got, jy verstaan dit nie! Kyk hierna – daar is miskien ’n ooglopende seksuele beeld, maar wat ek probeer oordra, is iets anders.”
Sensuur of kuratorskap?
Dié gesprekke het gestop en niemand praat nou verder daaroor nie. Die kuns moet summier verwyder word. “Sodra jy iemand beskuldig dat hulle besig is met sensuur, is die antwoord dat hulle besig is met kuratorskap,” sê hy.
Die kuns, soos kurators dit vandag kies, is werke wat inskiklik is. Dan is dit nie kuns nie, wat hom betref. “Jy het goedjies gemaak wat soet is.” Dit is wat by die kunsskole gebeur: Hulle sê vir die studente wat hulle moet doen – werk wat konformeer.
“Maar die werke wat uiteindelik in museums hang, is die werke wat toe nie gekonformeer het nie. Die groot kunswerke van die geskiedenis. Wat help dit nou jy het kurators en direkteure wat ’n klomp kak werk ten duurste koop?”
“ ’n Wit meisie mag nie vandag ’n skildery maak van ’n swart persoon in New York nie, want dan buit sy swart mense uit, of sy is besig om geld te maak uit swart smart. Dis alles stront. Maak werk wat boeiend is – dit is tog die ding van krities dink.
‘Hulle verloor hulle eie regte’
“Ek sal jou sê, die sensuur wat nou plaasvind, gaan terugkom en almal in hulle gatte byt. Ek dink nie mense besef wat besig is om te gebeur nie. Hulle verloor hulle eie regte, sonder dat hulle dit weet. Dit is vir my ongelooflik dat dit deur ’n sogenaamde liberale, polities korrekte polisie tot stand gebring is en gepatrolleer word.
“Jy weet, mense sê hulle is een ding, maar hulle is die teenoorgestelde. Dit is soos (Julius) Malema en sy trawante. Ek het nou iets gelees van die Brownshirts (die Nazi’s se oorspronklike paramilitêre eenheid wat ’n groot rol gespeel het om Adolf Hitler se mag te versterk) in die 1920’s, en die manier waarop Malema optree, is presies dieselfde. Hulle is absolute fasciste,” sê Kannemeyer.
Die rede hoekom mense dit nie insien nie, is omdat mense nie die geskiedenis ken nie, sê hy. Net soos die geskiedenis en konteks weggelaat is by die Universiteit van Kaapstad (UK) toe die standbeeld van Cecil John Rhodes verwyder is en studente 24 kunswerke verbrand het.
“Wat by die universiteit gebeur het – én die feit dat so min mense daaroor kommentaar lewer ­– is ’n ramp. Ek was heelwat in kontak met David Goldblatt [die bekende fotograaf wat sy werk ná die gebeure daar verwyder het]. Hy het vir my gesê hy is verstom dat daar nie ’n groter reaksie van die liberale pers was nie.
Rhodes moes gebly het
“Ek het ook ’n probleem met Rhodes, maar omdat ek in geskiedenis belangstel, voel ek persoonlik dit (die standbeeld) moes gebly het, want hoe anders gaan jy dit onthou? Die verwydering daarvan was natuurlik onwettig.
“Ek vind dit absoluut veragtelik [met verwysing na die verbranding van die kunswerke deur studente]. En die feit dat daar geen gevolge was nie, is net verskriklik. [Die aanklagte teen drie studente is teruggetrek.]
“Ek is verstom dat niemand oor dié goed praat nie. As jy ’n kar verbrand, is daar baie wat jy nog in die fabriek kan maak. As jy ’n skildery verbrand, is dit soos in Nazi-Duitsland. Die gevolg was dat die universiteit ’n verdere 75 werke gesensureer het. Hulle reaksie was dit is nie sensuur nie, maar dat hulle besig is met kuratorskap,” sê hy.
In 2018 het Kannemeyer skielik ’n brief van die UK ontvang waarin hulle gevra het dat hy werke moet skenk vir ’n veiling om geld vir studentebehuising in te samel. Die kunswerke wat op 16 Februarie 2016 verbrand is, was juis tydens ’n protes oor behuising.
Ikeys het nie geantwoord nie
Hy het vir die UK geskryf en gevra of dit ’n grap is. Of hulle weet hoe sy werke lyk en dat dit verbrand sal word nog voordat dit opgeveil kan word. “Ek het ook gevra hoekom daar niks gesê word oor die sensorskap van die ander werke op kampus nie.” Hulle het nie hierop geantwoord nie.
Brett Murray, ook ’n plaaslike kunstenaar, en Kannemeyer het geweier om werke te skenk. “Almal wat ek ken, het werke gegee. My fok, jy weet! Niemand praat oor die goed nie, almal probeer net geld maak. Wat het geword van ideologiese aksies sodat die stront ondermyn kan word?
“Offensiveness is a democratic right. Ons Grondwet gee vir ons dié reg, maar die gemeenskap duld dit glad nie. Dit was eers drukkers wat nie ons Bitterkomix wou druk nie, toe boekwinkels wat weier om dit te verkoop, en daarna jou galery wat nie die werke wou uitstal nie omdat hulle voel dit is te kontroversieel. En toe die uitgewer Jacana wat nie die boek The Erotic Drawings of Anton Kannemeyer, gegrond op Picasso: Erotic Sketches, wou uitgegee nie. Dit was te offensief, maar het ’n sosio-politiese boodskap gehad.”
In 1995 het hy twee werke voorgelê vir ’n uitstalling by die destydse Sasol-kunsmuseum van die Universiteit Stellenbosch: Boerenooientjies hou van Pielsuig. Die mense wat daaroor gekla het, was wit, Afrikaanse vroue.
Wit patriargie
“Ek was verras, omdat die werk wit patriargie aangeval het ... Ek het toe besef die vroue steun wit patriargie. Vir my was hulle gedrag in teenstelling met die tye van bevryding, van vryheid van uitdrukking.”
Die werke is toe nooit in Stellenbosch uitgestal nie omdat daar na die klagtes geluister is. In Durban, waar dit wel uitgestal is, het iemand dit gevandaliseer. Kort daarna is die universiteit oorval met briewe wat eis dat Kannemeyer, wat toe ’n nagraadse student en deeltydse dosent was, uitgeskop moet word.
Die hele ding van kuns en geld is ’n probleem, want daar is mense in magsposisies wat die besluite neem en jy moet na hulle pype dans, anders is jy nie deel daarvan nie. “Gelukkig is daar mense wat ons steeds ondersteun. Ek is ten minste ’n vry mens in my werk en nie ’n slaaf van ’n dogma nie.”
Een van die groot kwessies is dat mense na sy werk kyk en lag. En dan beweer hulle hulle het gelag omdat hulle “besef” het Kannemeyer is rassisties. Dan is dit nie meer snaaks nie. “Met satire probeer jy mense uitlok, en ek werk met humor. As jy lag, moet jy jouself afvra hoekom het jy gelag.
“Ek het nie ’n politieke strategie nie, ek probeer net die regte vraag vra. Ek sien goed wat my pla en dan probeer ek ’n vraag stel sodat dit mense prikkel. En ek het nie antwoorde op die vrae nie. Mense verstaan dit heeltemal verkeerd.
“Ek is nie ongelukkig nie; dit is glad nie die geval nie. Ek is net verstom deur die domheid van die hele reaksie. Ek is verstom deur die aanvalle op kunstenaars en skrywers. Kulturele toe-eiening is ’n groot ding, veral onder skrywers. Dit is eintlik liberale wat ander liberale aanval en intussen is die verregses besig om totale verwoesting in die sosiale media te saai en niemand het beheer oor hulle nie. Hier is belaglike binnegevegte oor wie die beter liberale mens is. Dis een groot masturbasie en dit lei tot niks nie, buiten onbeduidende orgasmes hier en daar.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.