Skuur skouers met meesters

GOEIE GESELSKAP

Skuur skouers met meesters

‘Ou meesters hoort nie in laaie nie.' Só sê die kurators van 'n buitengewone kunsuitstalling in Pretoria, waar MICHÈLE MEYER besoek afgelê het.


EK het 'n glinsterruimte in 'n intimiderende kunsgalery verwag. Dis immers van 7 April tot middel Mei die tuiste van 'n uitsonderlike uitstalling deur 15 beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaars. 'n Samekoms van meesters waaroor kurators Johann van Heerden en Miekie Lourens van Johann van Heerden’s Art lank droom. Om in die hartjie van voorstedelike Garsfontein die gestroopte eenvoud van die uitstalvertrek binne te stap, is 'n verrassing.
So onpretensieus is die plek dat jy maklik skrams verby die meesterstukke loop, soekend na die verhogie met kolligte waar jy jou voorstel hulle pryk. Dis darem name soos Battiss, Boshoff en Meerkotter wat hier wag. Bouers skarrel met die installasie van rolstoelopritte oor trappe, buite teem 'n elektriese saag.
Iewers hang 'n Jan Visser, twee Diane Victors en etlike Anna Vorsters. Voor die galery druis Jacqueline-rylaan se verkeer dringend verby glasdeure waardeur herfslig stroom. Omdraai om te kyk na waar nog oprit-planke ingedra word bring opeens die besef – ek is pas verby die meesterwerke.
Vloeiende seegroen lyne van Anna Vorster se Welwitschia verklap die geheim.
Dis moontlik om te bloos oor eie voortvarendheid voor vier stil mure vol kuns. Miekie verskyn en lag oortuigend dat dit presies is waarvoor sy gemik het met die uitleg van die uitstalling.
Sy deel Duggie du Toit, nog 'n meester hier verteenwoordig, se woorde oor sy werk: “My work does not shout. It whispers.” Die werke wat hier deel vorm van die kollektiewe Suid-Afrikaanse kunserfenis eggo sy stelling.Kuns met hierdie gravitas het nie 'n verhoog, kollig of luidspreker nodig nie. In die geval van gestorwe meesters is staatgemaak op bystand van kinders, kleinkinders en familielede van kunstenaars ten einde hulle werke te kon bekom. In die proses vergemaklik dié verweefdheid die bewys van herkoms en egtheid van elke kunswerk.
'n Ongedateerde Otto Klar-skets van twee springbokkies op ’n flerts reeds vergeelde papier beslaan 10 x 17 cm teen die muur. Klar se kleindogter het dit uit 'n lêer opgediep. Net links daarvan hang 'n 1983 syskerm-druk van Wendy Malan. Dit gloei in skulppienk, ysblou en bleek goud. Dié vonds kom iewers uit 'n laai. Van die werke is uiters delikaat omdat dit so oud is, dikwels argeloos geberg.
Om so naby die waardevolle stukke te mag wees voel soos heiligskennis. Twee Klar-sketsboekies loer onder ’n perspeksskerm uit. Met wit handskoen-hande blaai Miekie daardeur. Van sy oefeninge daarin dateer uit voor die Tweede Wêreldoorlog toe Klar nog in Oostenryk gewoon het. Ek is bang ek haal te hard asem oor die meester wat lankal dood is se tydlose werk, hier lewend voor my. Dít, sê Miekie, is juis wat sy wil regkry. “Ou meesters moenie in laaie lê nie, hulle moet hang om bewusmaking te pleeg.” Om kuns wat net in handboeke leef bloot te lê,  toeganklik te maak. Vir almal, gratis.
By Diane Victor se ontstemmende Running out of patients staan ons woordeloos. Hoe langer jy kyk, hoe meer detail begin kriewel binne die raam. Die sosiale kommentaar onthuts. Dis nodig, verduidelik Miekie. Kuns moet laat dink en wonder, weke lank spokende gedagtes laat van die kunstenaar wat die moed het om skokkende waarhede oop te skilder. Maar kuns kan jou ook laat uitroep: “Kyk hoe mooi, die kleure, die kwasmerke!” Sy wys na die subtiele druptegniek op die imposante 1996 Jan Visser-naakstudie. “Hy was sy tyd 30 jaar vooruit. Kan jy sy respek vir die vroulike figuur voel?”
Die galery is ’n miernes van kunsgerigte aktiwiteite in die gemeenskap. Erkende kunstenaars bied kort kursusse aan in ’n verskeidenheid mediums. Kunstenaars besigtig mekaar se werk, drink koffie op die stoep. Besoekers zoem in en uit. TUT-studente kom doen hulle praktiese blokke hier. En as die kurators hulle sin kan kry, sal die Meesters-uitstalling ’n jaarlikse instelling word.
Op pad uit is dit stil. Die saag en die rylaan het tot ruste gekom. Al wat ek hoor, is 'n gefluister agter my, daar uit die meesters se geledere.
Johann van Heerden’s Art, Jacqueline-rylaan 593, Garsfontein, Pretoria. Die galery is oop van 9vm tot 4nm, Dinsdae to Vrydae, en naweke van 9vm tot 3nm. Navrae 082 445 3917/ 079 780 9807.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.