Dubbelspel: Christiaan Olwagen en Herschelle Benjamin

Fliekflooi

Dubbelspel: Christiaan Olwagen en Herschelle Benjamin

Binne die oplewing in die plaaslike filmbedryf wat hy ‘ ’n tipe African New Wave' noem, is CHRISTIAAN OLWAGEN voor in die koor. Hy is die maker van Johnny is nie dood nie (2016), Kanarie (2018) en Die Seemeeu, wat tans in teaters te sien is, en werk aan die afronding van Poppie Nongena. HERSCHELLE BENJAMIN, ’n meestersgraadstudent in drama en teaterstudies, het op 23 reeds ’n string teaterpryse agter sy naam, mees onlangs die Woordtrofee-toekenning vir Beste Opkomende Kunstenaar by vanjaar se US Woordfees vir sy toneelstuk In Slavenhuis 39. Hy knoop die gesprek aan.


Herschelle: Christiaan, baie dankie vir die geleentheid om met jou te kan gesels. Ek is verstom deur toeval en kans dat ek my in hierdie posisie bevind. Net nou die dag in Ryneveldstraat tydens die feesgety van die US Woordfees loop ek soos ’n sot amper in ’n boom vas soos ek jou onderhoud met Jan-Jan Joubert in die INK lees.
By die Adam Small Teaterkompleks ploeter ek myself uiteindelik op ’n stoel, gryp ’n pen uit my rugsak en begin onderstreep sinne soos ek aanklank daarmee vind. Daar staan stellings soos: “[Die teks] is ’n bouplan; nie ’n bloudruk nie”, en dat ’n “relatiewe tevredenheid” jou strewe is. Ek kan tot in vervelings aangaan oor hoe treffend die berig nog staan in my korttermyngeheue. Ek vind myself gedurig so in ’n posisie van “leer van die lewe” en ek wonder daar en dan in die oomblik… met jou werk tot dusver… blyk dit steeds dieselfde vir jou?
Christiaan: Ek hoop nie dit verander ooit nie. Ek probeer leer uit my foute. Leer deur die mense met wie ek my omring en “leer van die lewe”. Ek dink ek sal altyd nuuskierig wees. Altyd ’n “student” bly.  Ek moet leer om dan en wan te geniet wat ek doen. Daarmee sukkel ek soms. Die onmoontlike strewe na tevredenheid laat dit nie altyd toe nie. 
Herschelle: Jammer as die jongeling in my ’n doring steek hier en daar waar dit nie hoort nie. Jy was ook eens daar. Dis vreesaanjaend en bewonderend in plesierige waansin om ons te wees – jonk en innie kunste! Hoe tot op hede navigeer jy jou passie vir stories en skep deur die jare soos die industrie verander (of nie), hoe bou jy ’n loopbaan wat sterk gewortel is in stories met integriteit, en skep sonder limiete?
Christiaan: Mag die vergenoegdheid nooit kwyn nie. Mag die liefde vir stories vertel 'n teëgif vir bitterheid bly. Wat 'n voorreg om dit vir ’n lewe te kan doen. Hoe “navigeer” ek hierdie skeppingslewe? Ek pas aan. Ek bly leer. Ek probeer projekte doen waarop ek 20 jaar van nou af steeds trots sal wees.
Herschelle: Ons lees die teks van Johnny is nie dood nie van Malan Steyn in ons honneursklas. Ons gaan later die rolprent deur jouself en Saartjie Botha verwerk. Ons behandel dit as onderwerp in die klas en skryf ’n opstel daaroor. My bruin vriende vra vir my: “Hoekom vind jy aanklank by ’n storie wat verwyderd van ons stories en ons mense is? Hoekom is dit belangrik dat ons nog in 2019 sulke Afrikaanse flieks moet kyk?” Ek staan kontverstom en ons begin ’n ellelange redekawel wat tot vandag in my oog steek. Kanarie vlieg net daarna op die silwerdoek en weer onderlangs murmureer soortgelyke opinies. Wat sou jy sê oor die belangrikheid van stories wat ons Afrikaanse gemeenskap(pe) moet dien in sy verskeidenheid en voortbou aan nuwe narratiewe waarin die skeidingslyne vaag staan?
Christiaan: Films is empatie-masjiene. Dit laat ons toe om op ’n baie intieme manier na mekaar se lewens te kyk. Te empatiseer. Te verstaan. Insig te kry oor ons verskille, asook ons gedeelde menslikheid. Ek kyk als. Films van reg oor die wêreld. Dis vir my moeilik om die vraag te antwoord – dit is nie die verskille nie, maar die ooreenkomste in my medemens wat my fassineer. So kan mense elders in die wêreld argumenteer – wat het films oor mense aan die suidpunt van Afrika met ons te doen? Die wêreld sal baie arm wees as ons net films binne ons eie verwysingsraamwerk kyk. As ’n tipe buitestaander of toeskouer maak ek juis films om begrip te kweek oor die ander. Dit gesê, is die geprek meer kompleks as dit: Toegang tot geleenthede is nog te min en die industrie nog te klein om al die nuwe stemme te verwesenlik. Daar blyk wel ’n baie opwindende oplewing te wees, 'n tipe African New Wave. Die afgelope jaar of wat het Suid-Afrikaanse film en TV meer gewaag met genre-eksperimente en ’n groter verskeidenheid van stories is vertel. Daar is selfs geluide van internasionale skaal: Ellen, Nommer 37, Five fingers for Marseilles, Inxeba en Kanarie het almal vêr getoer die buiteland in. Natuurlik is daar nog baie stories wat soortgelyke blootstelling verdien, en mag die beweging vele daarvan oplewer.
Herschelle: Johnny en Kanarie “herverbeeld” ook die verlede vir die hede met sy kontemporêre kwessies. Sal jy saamstem dat dit dalk ’n Afrikanerwees ondersoek wat in die hede onopgelos van trauma en skadelike/vooropgestelde ideologieë wil voortbestaan? Dalk is dit nie so maklik opsombaar nie, vergeef my. Hoe sien jy jou aantrekking tot juis hierdie stories?
Christiaan: Ek sien daardie films as moderne refleksies in ’n antieke spieël. Beide films speel af in die 80's. Ek het ’n fassinasie met daardie tyd. Ek kan nie vir jou sê hoekom nie. Ek was maar ’n baba in die baarmoeder tydens al die bomontploffings van daardie moeilike oorgang in ons geskiedenis. Miskien is dit ’n tipe waarheid en versoening met die verlede. My poging om te verstaan wie ons was, is en wat ons kan wees.
Herschelle: Skies as ek reeds te vinnig te vroeg gewaagd raak. Ons al twee was by die Stellenbosse dramadepartement. My ervarings daar en in die dorp, Stellenbosch, het my goedgesind en traumaties genoop om my toneelstuk In Slavenhuis 39 te skryf en na die planke te bring. Hoe was jou universiteitsdae in die Akkerland en wat het jy daar geleer wat jy steeds met jou dra?
Christiaan: Om Johnny is nie dood nie te quote: “ ’n Wonderlike tyd wat goddank verby is.” Ek het maar soos meeste rondgefoeter vir die eerste paar jaar en skielik in my derde jaar verstand gekry. Ek het nie sonder my eie trauma daar weggeloop nie, maar ek het ook die voorreg gehad om wonderlike mentors en medestudente te hê wat my gedruk en geïnspireer het om te kom waar ek nou is.
Herschelle: Jy lyk nie soos iemand wat bang is nie, maar ook nie dom dapper sal vertoon nie. Jou werke Dogma, Die Seemeeu (die verhoogstuk), Woza Andries? en ander timmer altyd waar nodig. Is dit by die wegspringplek belangrik dat ’n storie moet onverpoosd ruk waar nodig en hoe bestuur mens dit dat dit ook “opbouends” help (of nie)?
Christiaan: Ek dink ek is relatief vroeg in my loopbaan bestempel as iemand wat lief daarvoor is om op tone te trap. Ek doen dit regtig nie aspris nie. Vat byvoorbeeld die vloekery in my films. Dis nie dat ek daarvan hou of ’n tekort aan woordeskat het nie. Maar in al drie gevalle was dit deel van die DNS van die karakters. In Johnny het jy te doen met anti-establishment-studente. Kanarie speel af tydens basiesie opleiding in die lugmag. En in Die Seemeeu kyk ons in op die binnekring van teatermakers. In al daardie gevalle praat die mense ongelukkig maar soos matrose. My lojaliteit is aan “authenticity” en aan ’n soeke na die waarheid (wat ook al dit mag beteken). Mense wil dikwels hulself in ’n positiewe lig sien eerder as ’n eerlike een.
Herschelle: Daar’s iets verslawends daaraan om te skep. Ek wil heeltyd skryf en maak alhoewel ek weet hoe baie dit elke keer verg uit mens se murg. En ek begin maar nou eers. Is dit steeds “verslawend” vir jou? En raak dit erger of beter?
Christiaan: Dis vir my nogal pynlik. Ernest Hemingway het gesê skryf is om voor ’n tikmasjien te sit en te bloei. Dit raak beter.
Herschelle: Die Seemeeu kyk ek verlede jaar by die kykNET Silwerskermfees. Die rolverdeling, soos in meeste van jou werke, staan sentraal briljant voordat mens verder kyk. Die verhoogstuk lê vlak in my brein en ek wou dan en nou dieselfde vra: “Hoe het die idee aangeland by jou en wat in Tsjechof se teks maak dit in ons Afrikaanse slaaftaal so naby en relevant?”
Christiaan: Dit was nie sommer ’n idee wat oornag geland het nie. Saartjie Botha het my vertel van haar toer in Rusland en dat die Russe haar aan die mense van Bethlehem in die Vrystaat laat dink. Ek’t ook ’n kontemporêre produksie van Drie Susters in Londen gesien. Toe ek weer die teks voor oë kry, het ek by myself gedink: Hierdie mense is nader aan Afrikaners as Engelse. Mens sal dit waarskynlik oral kan verplaas. Tsjechof is die meester van mense. Sy insig tot hulle neurose en onvergenoegdheid is verbysterend. Daarom bly dit universeel. Maar dit was wel wonderlik om dit in Afrikaans met daardie groep spelers te doen.
Herschelle: Ek weet als is politiek. Ons lewe deesdae in ’n wêreld wat meer reaksionêr is en sonder integriteit ’n menswees laaste stel in die oorlewingstryd van die 21ste eeu. Steur jy jou daaraan? En wat doen mens om te verseker dit meng nie in met jou eie ontdekkingsreis in jou werk en jou lewe nie?
Christiaan: Ek probeer dat dit nie inmeng nie. Maar dit is wel problematies en vreesaanjaend, hoe polities kuns of die maak daarvan geraak het. Wie mag wat vertel en wanneer. Mens se verbeelding verstaan nie noodwendig daardie perke nie.
Herschelle: Die politiek is ook belangrik. Dit bring die gebottelde emosies en lewenservarings van mense in Afrikaans en van ons Afrikaanse gemeenskap(pe) na vore. Dit laat ons weer kyk na gelykheid, teenwoordigheid van verskillende mense in stories en dat minder mense gemarginaliseerd voel. Jordan Peele van Get Out en Us neem onlangs standpunt in en sê dat hy nie homself sien as “casting a white dude as a lead” vir sy flieks nie, want daardie fliek het hy alreeds gesien. Vir jou as kunstenaar in Suid-Afrika en deel van die Afrikaanse taalgemeenskap, hoe voel jy oor hierdie kwessies?
Christiaan: Ek verstaan binne sy konteks hoekom hy so voel en dit is sy volste reg. Ek sal nie noodwendig persoonlik so 'n sterk standpunt inneem nie. Ek kan nie sien hoe ek myself sal wil “limit” met wie ek werk nie. Die storie sal bepaal.
Herschelle: Christiaan, ek trek verlede jaar na Kaapstad. Ons provinsiale hoofstad wat vir ’n kaalvoet plattelandse klong van Piketberg fassineer, interesseer en soms die bloed laat kook. Jy’s nou al seker lank hier en doen baie van jou werk hier. Jy skiet ook nou Elsa Joubert se Die Swerfjare van Poppie Nongena in die omtes. Sonder om te veel die sluier te lig, wat omtrent hierdie storie en ook die skiet daarvan in Kaapstad laat jou passievol staan agter hierdie projek?
Christiaan: Daar is min tye in jou lewe wanneer ’n projek oor jou pad kom wat jou lewe onherroeplik verander. Die boek het my gebreek. Om dit na die silwerdoek te bring is my grootste voorreg. Ek kan nog nie te veel daaroor sê nie, maar dit was ’n ongelooflike ervaring.
Herschelle: By hierdie vraag het jy seker reeds vir jouself omlyn wie en wat ek mag dalk wees in jou kop. En as ek nou myself so moet doop as “jong teatermaker/skrywer”, wat sal jou advies wees vir my nou in hierdie oomblik? Nie net vir my nie, dalk ook vir die ander jonges wat talentvol en hardwerkend hul spore probeer vind?
Christiaan: Hou net aan. Moenie opgee nie. Hou aan skep. Hou aan leer. Dis dalk als clichés, maar dit is die waarheid.
Herschelle: Watter stories nog wil jy aanpak in jou loopbaan?
Christiaan: Daar is klomp. Maar ek wil graag my ouers se storie, Dogma, silwerdoek toe bring. [Dogma is 'n toneelstuk wat Christiaan in 2014 geskryf het oor sy ouers se stryd met georganiseerde godsdiens nadat veelvuldige sklerose by sy pa gediagnoseer is.]
Herschelle: Ek lees ander onderhoude en berigte ook van jou. Jy noem dat dit altyd ’n spanpoging is. In teater en nog meer so in die filmbedryf. Ek stem saam. Ek sien al hoe meer die belangrikheid raak van samewerking tussen kunstenaars wat passievol en met integriteit skep sodat die eindproduk kan praat. Was dit maklik om daardie mense te vertrou met jul werk en is dit maar ’n konstante verhouding wat gediens moet woord van tyd tot tyd?
Christiaan: Ek probeer myself met mense omring wat die beste in my uitbring en hopelik ek uit hulle. Film meer as enige van die ander mediums is totaal op die span gedrewe. Dit is ’n verhouding wat konstant gediens moet word. Jy werk met mense, nie masjiene nie. In die drukkoker van films maak, moet mens so baie fokus op wat fout is, dit reg maak en aanbeweeg. Die masjien moet konstant aanhou. Dis moeilik om te onthou om die positiewe ook uit te lig. Meer onlangs probeer ek daarop fokus om vir my medekunstenaars te komplimenteer wanneer goed werk.
Herschelle: Ek droom en tob elke aand daaroor, so kom ek vra dit sommer vir iemand wat dit reeds is: Om ’n volwaardige kunstenaar te wees vandag, wat sal jy sê het mens nodig?
Christiaan: Dankie vir die kompliment. Maar waaraan meet mens dit? Wie bepaal wie “volwaardig” is? Ek dink as jy kuns maak, is jy ’n kunstenaar. Om ’n lewe uit dit te maak is ’n ander storie. Dan het jy baie geduld en ’n bietjie luck nodig.
Hooffoto: Rolanda Marais as Nina in Die Seemeeu. Foto verskaf deur Marche Media.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.