Kuns + natuur + plesier by die Norval-stigting

KWAAK

Kuns + natuur + plesier by die Norval-stigting

Die Norval-stigting in die Kaapse voorstad Tokai is die grootskaalse skepping van ’n kunsfilantroop – ’n moderne kunsmuseum met ’n beeldhoutuin vol verrassings, en ’n paddakoor. ANNELIZE VISSER vertel waarom dié museum haar so bekoor het.


DIE westelike luiperdskurwepadda is ’n gereelde besoeker aan die Norval-stigting, die moderne “kunspaviljoen” wat ’n jaar gelede langs Steenbergweg oopgemaak het. Dié kleurvolle paddabevolking is aan die krimp, onder meer as gevolg van talle padda-padsterftes wat voorkom wanneer die luiperdskurwepadda besige paaie oorsteek om te gaan vry.
Die paddavriendelike ontwerpers van die Norval-stigting het egter gesorg vir sementslote wat onderdeur Steenbergweg loop sodat die luiperdskurwepadda heelhuids by die vleiland agter die museumgebou kan uitkom. Die langwerpige gebou self dien as ’n versperring tussen pad en vleiland, met die gevolg dat snorkgeluide van die vryerige manlike padda deesdae toenemend in die beeldhoutuin en amfiteater gehoor kan word. Teen Augustus gaan die paddakoor soos ’n trekkerenjin klink!
Beeldhoutuin
“Die Norval-stigting se beeldhoutuin is ’n sleutel tot die verhouding tussen kuns en natuur,” sê Elana Brundyn, wat vyf jaar gelede haar kommersiële kunsgalery toegemaak het om haar by die Zeitz-museum vir Kontemporêre Afrikakuns (Zeitz MOCAA) aan te sluit en nou die uitvoerende direkteur van die Norval-stigting is. Die tuin is die gesamentlike projek van tuinghoeroe Keith Kirsten en die stigting se kuratorspan, en met die plasing van elke beeld word daar veral aandag gegee aan hoe die besoeker dit in die tuin gaan “ontdek”.
William Kentridge en Gerhard Marx se Fire Walker lyk byvoorbeeld vanuit die meeste invalshoeke soos ’n abstrakte werk. Maar, sê Elana, wanneer jy met die voetpad rondom die beeld stap, ontdek jy ’n vroulike figuur met ’n vuurpan vol kole wat ’n storie vertel oor ’n “vergete en onderverteenwoordigde identiteit” in ons geskiedenis.
Net so word Nandipha Mntambo se Ophelia langs ’n bruggie oor die vleiland “ontdek”. Hier dryf Shakespeare se tragiese heldin in haar waterbad – ’n brons-en-staal-Ophelia omring deur brons- en regte waterlelies.
Daar is iets opgeruimds en selfs humoristies aan die rangskikking van dié beelde deur belangrike kunstenaars, asof die tuin ’n soort speelplek is vir die Norval-stigting se kurators – almal jonk en begaafd met CV’s propvol projekte en pryse.
Die musiekkurator Kyle Shepherd is ’n bekroonde jazzpianis en komponis van onder meer die klankbaan vir Noem My Skollie. Khanyisile Mbongwa, die kurator van uitvoerings, was voorheen medekurator van Infect the City (’n multidissiplinêre openbare kunstefees in die Kaapse middestad) en uitvoerende direkteur van die Handspring Trust for Puppetry Arts. Portia Malatjie is ’n voormalige raadslid van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery en direkteur van Kaapstad se AVA-galery (Vereniging vir Visuele Kunste), én sy’s op pad na ’n doktersgraad by Goldsmiths by die Universiteit van Londen.
Die hoofkurator, Owen Martin, is soos Elana ’n Zeitz MOCAA-alumnus (hy was uitgeworpe kurator Mark Coetzee se regterhand), en selfs die knap bemarkingsbestuurder, Luke de Kock, het by Zeitz MOCAA gedros om by die Norval-stigting in te val.
Underdog
Dié migrasie is natuurlik water op die meul vir mense wat graag die rol van mededingers aan Zeitz MOCAA en die Norval-stigting toedig. Dis twee wêreldklas-kunssentrums wat die Kaap binne een jaar getref het, met laasgenoemde die underdog by die gebrek aan massiewe graansilo’s, ’n waterfrontligging en natuurlik ’n sappige skandaal.
Elana stem nie saam nie. “Ons sien Zeitz MOCAA as ons eweknie, net soos die A4-kunsstigting [in Distrik 6], Iziko and vele ander instansies oor die land heen. Ons het almal dieselfde oorkoepelende doelwitte – die groei van ’n kunsliefhebbende gehoor in ons land, en die groei van ons huidige en toekomstige kunstenaars. Daar is eenvoudig geen ruimte vir wedywering nie.”
Eenders maar anders
“Die verskille is sterk, en dit moet so wees om die diversiteit en diepte van Suid-Afrika se kunslandskap uit te beeld,” sê Elana en voeg by dat die kuratoriese programme en fisieke geboue hoegenaamd nie meer uiteenlopend kon wees nie.
Zeitz MOCAA is ’n opspraakwekkende tour de force deur Thomas Heatherwick, die enfant terrible van Britse arigitektuur. Die stemmiger Norval-stigting is ontwerp deur die plaaslike argiteksfirma dhk onder voorsitterskap van Derick Henstra wat, net soos Louis Norval self, meer winkelsentrums as kunsmuseums op sy kerfstok het. Die span het gaan kers opsteek by onder meer Frank Gehry se hipermoderne Louis Vuitton-stigting wat eweneens in ’n groen strook (Parys se beroemde Bois de Boulogne) geleë is.
Serge Alain Nitegeka
Gegewe die ligging tussen die berg, die paddas se opsitplek en ’n besige pad,is die Norval-stigting ’n lineêre gebou met sy rug gedraai na die pad waarlangs gepantserde voertuie daagliks Pollsmoor-gevangenes hof toe vervoer, en met sy arms oop na die landskap. Die besoeker ervaar dit ook in ’n lineêre volgorde, wat ewe rustig in die ruim ontvangsaal begin, waarna jy in jou spore vassteek by ’n enorme installasie en doolhof wat die kunstenaar Serge Alain Nitegeka, ’n voormalige vlugteling uit Burundi, hier in die hoogvlieënde atrium uit swartgeverfde planke aanmekaargetimmer het.
Structural Response III bevat verwysings na ontwrigte lewens, ontheemding en die tydelike strukture waarin vlugtelinge noodwendig teregkom, of jy kan die taal van Russiese konstruktivisme daarin lees, maar iedergeval gaan jy dit nie gou vergeet nie.
Yinka Shonibare
Dieselfde is waar van Trade Winds, ’n uitstalling deur die Brits-Nigeriese kunstenaar Yinka Shonibare wat jy in ’n galery op die boonste vloer raakloop. Dié uitstalling is die werk van ’n dekade en word oorheers deur ’n ellelange boekrak met amper 5,000 boeke wat almal met Dutch Wax-materiaal oorgetrek is, meestal met die name van invloedryke Afrikane in vergulde letters op die rugkante aangebring.
Speelse figure getiteld Boy Balancing Knowledge II en Butterfly Kid (Girl) IV beset die vloer van die galery, en aan die oorkantste muur loop jy jou vas in ’n fotoreeks wat sy titel leen by Francisco Goya se satiriese ets Sleep of Reason Produces Monsters.
Wat dié uitstalling saambind, is die tema van Dutch Wax-materiaal, wat jy waarskynlik as Vlisco ken – genoem na een van die Nederlandse maatskappye wat in die middel-19de-eeu met die massavervaardiging van Indonesiese batikstof begin het en dit toe na Wes-Afrika uitgevoer het.
Dieselfde veelbeduidende kleure en patrone is deur die venster te sien aan die vel van Wind Sculpture (SG) III, nog ’n beeldhouwerk van Shonibare wat nou ’n tuiste in die tuin gevind het.
Dié werk is onlangs aangeskaf deur die Norval-familie se Homestead Art Collection – een van die wêreld se grootste private versamelings van moderne Suid-Afrikaanse kuns – waar dit skouers skuur met onder andere Gerard Sekoto, Dumile Feni, Maggie Laubser, Alexis Preller, John Muafangejo en Irma Stern se werk.
'n Nuwe gehoor
“Ydelheid,” het party mense natuurlik gesê toe die skatryk eiendomsmagnaat en voormalige amateur-gholfkampioen begin bou het aan ’n museum wat sy uitgebreide kunsversameling sou huisves. Maar dis eerder die grootskaalse skepping van ’n kunsfilantroop, en volgens Elana is die Norval-versameling self ook filantropies van aard. “Dis ’n argief van historiese en diverse kuns wat uiteenlopende stemme toelaat om kommentaar te lewer op Suid-Afrika se sosiopolitieke landskap,” verduidelik sy.
Die Norval-stigting wil wêreldklaskuns vir gewone mense toeganklik maak en terselfdertyd ’n nuwe kunsgehoor skep. Maar om dit te doen, moet hulle natuurlik eers die gewone mense deur die hek kry. Dit word bemoeilik deurdat dit ’n “bestemmingsmuseum” is – jy moet in jou motor klim en soontoe ry en as jy nie ’n motor het nie, is openbare vervoer ongelukkig skaars.
Nog ’n doelwit is dat elke liewe skoolkind in die Skiereiland dié museum minstens een keer besoek; ’n voltydse opvoedkundige koördineerder werk saam met skole om dié droom te verwesenlik, en jy’s natuurlik welkom om dié projek deur middel van ’n bydrae in die donasiehouer te ondersteun.
Museumtoegang is R160, maar gratis vir paddas en kinders onder 18. Vanaf Mei skakel die museum in by die First Thursdays-kunsbeweging waarna almal op die eerste Donderdag van elke maand gratis toegang sal geniet. Die beste plan is om ’n lid te word teen R350 per jaar met gratis toegang, uitnodigings na nuwe uitstallings en 10% afslag by die Skotnes-restaurant en kroeg, wat op sigself ’n rede is om ’n draai in Tokai te maak.
Restaurant en museumwinkel
Genoem na die kunslegende Cecil Skotnes bied die restaurant, onder leiding van sjef Phil de Villiers, ’n riff op tradisionele Suid-Afrikaanse kos – soos pampoenkoekies met camembert en kaneel-en-fynbosheuning, en jaffels met beesbors en perskeblatjang – asook ’n dek met die beste uitsig oor vleiland, berg en beeldhoukuns. (Elana, wie se eerste persoonlik kunskopie ’n Cecil Skotnes-houtsnee was, beveel terloops die Maleise piekelvis aan.)
Daarna kan jy by die museumwinkel aandoen vir die Irma Stern-koffiebeker of Gerard Sekoto-legkaart wat jy nooit geweet het jy begeer nie. Of jy kan natuurlik die eerste verhaal in ’n reeks kinderboeke aanskaf oor die avonture van Vincent, die westelike luiperdskurwepadda.
*Hierdie artikel is op 21 April aangepas. Die Zeits Mocaa is deur Thomas Heatherwick ontwerp en nie, soos aanvanklik berig, deur Thomas Heidecker nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.