Peperduur Madiba-kuns: foefie vermoed

Ware kuns?

Peperduur Madiba-kuns: foefie vermoed

’n Nederige skets deur oudpres. Nelson Mandela met ’n allemintige verwagte verkoopprys word op 2 Mei in Amerika opgeveil. MELVYN MINNAAR ruik lont oor die opgeblase reklame – want hoe eg is die netjiese handtekening? Hoe skilder ’n mens met kryt? En hoeveel het sy “kunsonderwyser” hom bygestaan?


Sestien jaar nadat die stof gaan lê het oor een van die mees onverkwiklike projekte van Nelson Mandela se later jare, kondig die Britse kunsafslaer Bonhams met groot geskal aan dat hy ’n “skets” deur die oudpresident op 2 Mei in New York ter veiling aanbied.
“Powerful work” is die opgeblase reklame-voorbrand vir groot geld waarmee Bonhams die beskeie tekening, The Cell Door, Robben Island, aan die wêreld bekend maak. Nou ja, “powerful” is nie juis waaraan ’n mens dink wanneer jy dit bekyk nie, maar die verwagte opbrengs wel: tussen $60,000 en 90,000 (R840,000 en R1,3 miljoen).
Die prent van waspastelkryt in pers, geel en swart, ongeveer 60 x 40 cm groot, word deur Mandela se dogter dr. Pumla Makaziwe Mandela verkoop. Mandela se netjiese handtekening is duidelik regs te sien.
Hierdie handtekening is ’n kernaspek van die diep agtergrondstorie oor hierdie sogenaamde Robben Island-prente.  ’n Mens wonder of Bonhams se voortvarende reklamesmouse enigsins hiervan bewus is. 
So byvoorbeeld beskryf Bonhams se direkteur van eietydse Afrika-kuns, Peppiatt, die prentjie in die mediavrystelling: “The personal history and cultural gravitas that Mandela captured in this work is of great significance. Centred around the symbolic key in the lock, showing hope where previously there might have been none, the work demonstrates his indomitable spirit with characteristic honesty and clarity…”
Slim strategie
Die aanvallige beskeidenheid van hierdie skets met sy soort kinderlike spotprentagtigheid (ironies, natuurlik, wanneer ’n mens die man se geskiedenis en die plek in ag neem) verklap ’n slim strategie waarmee die ouerwordende president skynbaar om die bos gelei is.
Die prent is een van 22 tekeninge wat in 2002 voorberei is om as litografiese afdrukke gereproduseer en ten duurste verkoop te word. Tien prente is gekies en toe uitgereik as My Robben Island en Reflections of Robben Island. (Daar was ook ’n reeks met hande, maar dié was nie te gewild nie en is nogtans verkoop.)
’n Groot oplaag is gedruk en met groot fanfare geloods. (Die internasionale media is Robbeneiland toe gevlieg vir die bekendstelling. Ek was daar.)
Dit was die satiriese tydskrif Noseweek wat gou eerste ’n siniese oog gegooi het en later die slenter oopgekloof het. Die skema is deur slinkse advertensiemense bekonkel; die motief was geld vir die rolspelers.
In Augustus 2003 vra die tydskrif: “Het Madiba skielik in sy laat-80’s as maestro ontwaak wat sy sketse vir duisende dollars kan verkoop of is sy prokureur net skeppend met die waarheid? ... Word ‘Mandela-kuns’ vir vinnige wins nagemaak?”
Vervalsings die wêreld volDie geldstorie is deeglik deur Noseweek oopgevlek  en dit was duidelik dat verskeie karakters voordeel getrek het uit die 85-jarige Mandela se naam. Die “kunswerke” hang in talle rykes se wonings, die bedrogspul verswyg. Nodeloos om te noem dat vervalsings ook die wêreld vol is.
Wat die “kuns” betref, het Noseweek geskryf hoe ’n jong kunsstudent van Kaapstad, Varenka Paschke, glo die oudpresident “bygestaan” en “onderrig” het. (Alhoewel talle foto’s bestaan waarin Mandela met die “kunswerke” te sien is, wys nie een dat hy sy hand daaraan slaan nie.) Vir kunswaarnemers het die prente besonder bekwaam voorgekom, kwalik amateuragtig soos ’n mens van ’n ouerige man met sy eerste tekenpen sou verwag.
Net om hulself darem ’n ontsnaproete te gee, skryf Bonhams in die katalogus: “He painted under the watchful eye of his art teacher Varenka Paschke, who aided with the basic composition of the sketches and method of the colour applications.” (Nie dat ’n mens met kryt “skilder” nie! Wie glo deesdae die twak wat die kunshuise opdis?)
Ware handtekening
Wat die beroemde handtekening (wat op honderde blaaie van die portefeuljes moes verskyn) betref, het Noseweek ook The Ghostwriter opgespoor: ’n netjiese masjien wat enige handtekening presies, oor en oor kan namaak. Dit kan glad nie van die ware handtekening onderskei word nie.
Pumla Mandela het sekerlik alle reg om haar prent te verkoop. Maar ’n mens moet tog wonder oor die motiewe van kunsafslaers en die stories wat hulle oor “kunswerke” vertel. Vat dit maar met ’n knippie sout.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.