Nuwe rolprent wys Bram Fischer se stryd om Mandela van galg te red

UIT DIE GESKIEDENIS

Nuwe rolprent wys Bram Fischer se stryd om Mandela van galg te red

BETAALDE ARTIKEL | An Act of Defiance, nou in Suid-Afrika te sien, het reeds verskeie internasionale toekennings ontvang.

Peter Paul Muller vertolk die rol van Bram Fischer in An Act of Defiance.
HOFDRAMA ... Peter Paul Muller vertolk die rol van Bram Fischer in An Act of Defiance.

Nelson Mandela is ’n wêreldbekende ikoon van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu. Maar was dit nie vir die heldhaftige stryd wat gevoer is deur Afrikaanse advokaat Bram Fischer en sy regspan nie, was dit dalk nie die geval nie.

’n Nuwe rolprent, An Act of Defiance, wat nou in Suid-Afrikaanse filmteaters te sien is, vertel hoe Mandela tydens die Rivonia-verhoor in 1963 van die doodstraf gered is. Die apartheidsregering wou vryheidsvegters ter dood veroordeel, nie net as ’n waarskuwing vir hulle mede-aktiviste nie, maar ook om van die bekendste aktiviste ontslae te raak en sodoende die vryheidsbeweging lam te lê.

In regisseur Jean van de Velde se film sien kykers hoe die polisie op ’n wintersdag in Julie 1963 ’n klopjag op ’n plaas aan die buitewyke van Johannesburg uitvoer. Nege swart en wit leiers van die verbode ANC en Umkhonto we Sizwe word in hegtenis geneem. ’n Tiende lid wat vroeër gearresteer is, word by die groep van nege gevoeg – Nelson Mandela.

Verskeie regsgeleerdes word om hulp genader deur die gesinne van die verdagtes, maar hulle is bang of onwillig om betrokke te raak.

Ook Fischer, ’n gerespekteerde advokaat, huiwer. Hy is die voorsitter van die Balieraad, die regsadviseur vir verskeie mynmagnate en ’n afstammeling van ’n vooraanstaande Afrikaanse familie. Maar hy koester ook ’n geheim waarvan slegs ’n paar mense, insluitende sy vrou, Molly, weet: hy was net per toeval nie op daardie plaas tydens die klopjag nie, anders sou hy die elfde aangeklaagde gewees het.

Hy besluit egter wel om die verdagtes te verdedig. Tydens die verhoor moet hy nie net die gemanipuleerde bewyse van die aanklaer ontrafel en omgekoopte getuies ontmasker nie, maar ook homself beskerm teen ontmaskering – terwyl hy ook intussen nog ondergrondse weerstand probeer organiseer.

Wanneer die sekuriteitspolisie Fischer se dubbele rol uitsnuffel, kom hy voor ’n dilemma te staan: moet hy sy kliënte verdedig of moet hy eerder die welstand en veiligheid van sy gesin in ag neem?

Mandela het Fischer so beskryf: “Bram was a courageous man who followed the most difficult course any person could choose to follow. He challenged his own people because he felt that what they were doing was morally wrong. As an Afrikaner whose conscience forced him to reject his own heritage and be ostracised by his own people, he showed a level of courage and sacrifice that was in a class by itself.”

Kyk na die lokprent hier:

Peter Paul Muller (Alles is Liefde; Gooische Vrouwen) vertolk die rol van Fischer in An Act of Defiance, en Sello Motloung (Generations) is Mandela. Antoinette Louw, Izel Bezuidenhout en Morné Visser is ook te sien in die film.

An Act of Defiance was die openingsfilm by die Kaapstadse Internasionale Filmfees in 2017, waar dit die toekennings vir beste aktrise en beste draaiboek gewen het. Dit het ook reeds verskeie ander toekennings elders ontvang, insluitende beste akteur en beste draaiboek by die Nederlandse Filmtoekennings in 2017 en die kykerstoekenning by die 2017 Movies that Matter Film Festival in Den Haag, Nederland.

  • Indigenous Film Distribution het vir hierdie artikel betaal.