Ons eie Cinema Paradiso

STORIES UIT DIE VERLEDE

Ons eie Cinema Paradiso

Om in Graaff-Reinet in die 1950's groot te word was baie snaaks, soms vervelig – en by tye ietwat eienaardig en vreesaanjaend, sê SUZETTE McKERRON.

  • 26 April 2019
  • Mense & Kultuur
  • 4 min om te lees
  • artikel 30 van 31
  • Suzette McKerron


VIR ons wat in die 1950's in die Karoo grootgeword het, was daar nie veel opwinding in ons dorpie, die Juweel van die Karoo, nie, behalwe vakansies wanneer ’n klompie van ons die berg uitgeklim het om in die Vallei van Verlatenheid te gaan braai. Graaff-Reinet was ’n Christelik-Nasionale Afrikaanse dorpie met ’n paar Engelse boere wat Afrikaans en Engels deurmekaar gepraat het. “Bring me the gaffel, moenie worry I'll sommer do it myself.”
“Nico, don’t klou me vas so,” het Miesies Neser gesê toe haar kleinkind hom vrek geskrik het vir die gemonteerde leeukop in ons sitkamer.
Saans sesuur in helder sonlig het Afrikaners gesopper en die skottelgoed met ’n touel afgedroog.
Radio was net soms as ek by ’n maatjie kuier. Haar ma ’n weduwee wat in ’n donker kamer lê in ’n swart rok en ’n stywe borstrok met haar hande oor haar maag gevou. Bo haar bed ’n poster met ’n gebalde vuis en ’n dreigende voorvinger. Daaronder: “Het JY vandag jou Bybel gelees?”
Ons sit in die eetkamer onder ’n portret van die Slag van Bloedrivier en luister na ’n Springbok Radio-storie van “’n hond so groot soos ’n kalf.” Die bloedstollende gekerm van die hond met die paar dapper Voortrekkers bo ons met duisende swart mense wat op die grond lê en bloei – die Swart Gevaar – was nie bevorderlik vir my kindergemoedjie nie. Jare lank het ek ’n wegkruipplek in ons huis beplan om te skuil as die Swart Gevaar kom.
Sondagaande ná kerk was ’n hoogtepunt: die LM Hit Parade van David Davies. Toe ons my maatjie se ma ewe vroom vra of dit nie ’n sonde is om op Sondag Hit Parade te luister nie, moes sy lank dink voor sy kon sê dis oukei, solank julle nie met julle voete tyd hou nie.
Behalwe die biblioteek was daar darem die Keur en Fyn Goud as ons moeg gelees was aan Saartjie en Trompie en die Maasdorp-boeke en die enigmatiese Die hoof van Keurboslaan. Ons kon nie wag vir Braam Coetzee se Ek het die beker tot die droesem geledig wat weekliks verskyn het nie.
Die bedorwe buurseun, Peetsie, het elke comic wat op die mark verskyn het besit. Daar kon ons uit die bokse onder sy bed kies en keur.
En in ons toilet op ’n kissie was ’n stapel voosgeblaaide Scopes wat my seunsvriende te lank in die toilet besig gehou het.
Saterdagoggende was dit die Gem Bio en Saterdagmiddae matinee in die Plaza bioskoop.
Maar die hoogtepunt van die week, die absolute hoogtepunt, was Paulus se bioskoop op ’n Vrydagaand. Paulus van der Merwe was ’n skoolseun, ’n enigste kind, wat oorkant die straat gewoon het. ’n Introvert, begeesterd met die filmwêreld. Ons was ’n paar wat gereeld Vrydagaande in sy heiligdom op ’n ry stoeljies sitgemaak is. Ons eie Cinema Paradiso. Vir ’n sjieling kon jy eers ’n handgeskryfte advertensie sien van PAULUS SE BIOSKOOP, dan ’n comic en daarna die hoofprent met ’n soetkoekie en ’n glas Oros deur sy ma bedien in glase met blommetjietransfers op.
Ek onthou vae beelde van cowboys wat op perde jaag dat die stof so staan en poskoetse wat deur gegrimeerde Indiane beroof word. Hoogtepunte was egter Paulus se eie skeppinge. Een vernaamlik het ons almal op hol gehad. Paulus het ’n skyf met tinfoelie oorgetrek (of was dit ’n hubcap?), dit in die lug opgegooi en met sy walkie-talkie afgeneem, en sowaar: ’n Vreemde Vlieënde Voorwerp wat in die damkamp land. Volgende flits en ’n paar van die locals in sy klas spring op hul fietse en jaag vervaard dorp toe om die polisie te ontbied. Dan volg ’n kakofonie wat aan Alfred Hitchcock se The Birds grens.
Al meisie wat toegelaat was om in Paulus se movies te speel, albeit in ’n minderwaardige rolletjie, was Trudie Schroeder oor sy sulke mooi bene gehad het.
Die damkamp was daar vir familie-entertainment op Sondae. My pa sou vir ons ’n karos oopsprei op ’n oop stukkie grond tussen die doringbome en ’n vuurtjie aansteek, terwyl ons ons boeke lê en lees of na die geel doringbobbeltjies lê en staar. Met vol mae sou ons ’n ent gaan stap, voor ons oppak en huiswaarts keer na ons Sondagaand-depressie. Op een so ’n staptog, terwyl my ma en pa gholfballe slaan en ons die balle loop en soek – hulle het so pas met die sport begin – storm ’n trop beeste skielik op ons af. In slow motion sien ek hoe my pa sy gholfstok ’n paar maal bo sy kop swaai en die aankomende bul daarmee op sy horing tref, waarna die trop onverwags regs swenk. Gholfstok daarmee heen en baie lelike woorde uit pa se mond.
Terug by Petrus, ons eie Giuseppe Tornatore. Baie jare later het ek gehoor hy het ’n inrybioskoop buite die dorp begin. Ek was in verwondering oor die passie wat hom ’n lewe lank gedryf het en wat na ’n vervelige dorpie soveel plesier kon bring.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.