SA ontwerper: Afrika, Miró en IKEA in dieselfde asem

PATRONE

SA ontwerper: Afrika, Miró en IKEA in dieselfde asem

Överalt is 'n Sweedse woord wat ‘oral’ beteken en is die naam van 'n nuwe IKEA-reeks wat deur 10 ontwerpers van oral uit Afrika geskep is. Een van hulle is Renée Rossouw, 'n Kapenaar met drie of dalk vier beroepe. ANNELIZE VISSER het met haar gesels.



IN Nando’s-winkels in Engeland staan kassies met patrone wat soos droplekkers lyk. In ’n kinderhospitaal in Koeweit loop die gange in veelkleurige kurwes sodat siek kinders nie vir 'n lang, vaal gang hoef te skrik nie. Oral waar daar IKEA-winkels is, kan jy vanaf vandeesweek bont kussings en kwilts koop wat deel is van die nuwe Överalt-reeks.
Die gemene deler in al hierdie kleurvolheid is Renée Rossouw, 'n argitek, kunstenaar en ontwerper wat na minimalisme verlang, maar nie van kleur kan wegkom nie.
Sy is een van tien ontwerpers uit sewe Afrika-lande wat in 2017 deur IKEA genooi is om saam met die groep se produkontwerpers te werk aan 'n reeks wat Skandinawiese gestrooptheid en doelmatigheid met Afrika se patrone, kurwes en warmte inkleur.
Dit was ’n uitgerekte proses. Die Johannesburgse tekstielontwerper en argitek Sindiso Khumalo, met wie Renée op die ou end sou saamwerk, was omtrent tien weke swanger toe die projek begin het. Teen die tyd dat die produkte by vanjaar se Design Indaba vir die eerste keer tentoongestel is, was haar dogtertjie twee jaar oud.
Renée het aanvanklik twee projekte voorgelê: 'n tekening van olifantmigrasie wat op wildstropery kommentaar lewer, en 'n app met Afrika-spreekwoorde en emoji’s. Sindiso se eerste voorlegging was 'n blokkiespatroon wat 'n soort abstrakte uitbeelding van Johannesburg is. Hulle is nie seker hoe dit gebeur het nie, maar Renée en Sindiso het olifante en patrone uitgeruil en teruggeruil, en mekaar se werk met hulle eie idees bygewerk, in wat Renée die “eerlikste collab” van haar loopbaan noem.
Daarna het IKEA se Johanna Jelinek hulle raad gegee oor hoe om patrone op produkte aan te bring. Die resultaat is 'n reeks kussings en 'n kwilt met kragtige patrone in uitbundige kleure (wat 'n Skandinawiër waarskynlik heelnag uit die slaap sal hou).
Renée is 'n werkende argitek wat patrone ontwerp en 'n patroonontwerper wat ook 'n kunstenaar is, en sy sê sy voel nie meer skuldig dat sy haar nie net op een ding toespits nie. In 'n vloeibare wêreld is dit amper logies om meer as een beroep te hê; haar loopbaan het seisoene eerder as 'n plan.
Argitektuur, kuns of ontwerp kry om die beurt voorkeur, en dit help dat sy elkeen van dié aktiwiteite op verskillende plekke bedryf. As argitek is sy meestal op ’n bouperseel slaags met kontrakteurs wat nie na vroue wil luister nie. Ontwerp doen sy in haar slaapkamer in 'n Victoriaanse huis in Tamboerskloof wat sy deel met vriende en twee taamlik bejaarde katte wat sy onlangs aangeneem het. Sy skilder in 'n ateljee in haar ouers se naweekhuis in St. James, Muizenberg, met 'n uitsig oor die see en die Simonstad-trein wat al om die uur verbykletter.
Muurskilderye, wat op die oomblik haar gunsteling is, doen sy natuurlik daar waar jou mure is. En tussendeur kan jy haar by een van Kaapstad se koffiewinkels of koöperatiewe werkruimtes raakloop waar sy studeer vir 'n kwalifikasie in holistiese voedingkunde en gesondheid. Sy het onlangs 'n aanlyn kursus in Humanising Healthcare – oor die ontmoetingspunt tussen die kunste en gesondheidsorg – aan die Universiteit van Kaapstad (UK) voltooi. Die wetenskap van hoe kuns die ruimte kan omskep waarin mense op hulle weerloosste is, het gespreek tot die argitek wat op sesjarige ouderdom ná 'n oogoperasie haar morsdood geskrik het vir die hospitaal se eindelose gange.
Dis daarom dat sy 'n paar jaar gelede krulle en draaie en bankies en kleur vir die gange van die Koeweitse kinderhospitaal ontwerp het.
Ná skool het sy gewik en geweeg tussen argitektuur en medies en nou word gesondheidsorg by haar lang lys beroepe gelas. “Ek is 33,” sê sy met 'n skouerophaling asof dit nogal oud is, “ek begin 'n nuwe storie.”
Daar is reeds 'n boek vol stories met 'n klomp hoogtepunte.
Renée is in 2015 by die 100% Design-uitstalling as die beste produkontwerper aangewys; haar droplekker-kassies wat sy saam met De Steyl-meubelontwerpers van George ontwikkel het, was 'n finalis in Design Indaba se Most Beautiful Object In South Africa-kompetisie, en in dieselfde jaar was sy die musiekfees Oppikoppi se resident-kunstenaar van die jaar. Lank voor dit alles was daar ook nog 'n eerste prys in 'n kortfilmkompetisie en 'n Silwer Loerie vir verpakkingsontwerp.
Sy het sedert 2008 aan meer as 30 kunsuitstallings deelgeneem, en drie alleen-uitstallings gehou.
Sy skrik ook nie vir 'n podium nie. Sy het in 2010 by die Madrid Design Net-konferensie oor ontwerp en ontwikkeling gepraat, in 2012 by die Design Indaba oor ontwerp en identiteit, en sy was vanjaar weer by die Indaba aan die woord, dié keer saam met haar mede-Afrikane en mede-ontwerpers van Överalt.
Miró, sê ek vir Renée, wat my altyd aan Modigliani se skilderye met hul lang, slanke koppe herinner, dís die kunstenaar waaraan haar ontwerpe vir die Överalt-reeks my laat dink. Sy skud haar kop vir my oor die Modigliani-stelling, maar ontken hoegenaamd nie dat die Spaanse skilder Joan Miró dalk haar werk beïnvloed nie. Of daardie ander Spaanse skilder, Pablo Picasso, haar groot held. Of basies net Spanjaarde.
“Ek weet nie hoekom ek so Spaans voel nie,” sê Renée.
Dalk was dit die boeke van Ernest Hemingway wat sy op hoërskool gelees het. Of 'n oupa wat altyd gemaak het of hy ’n bulvegter is. Of die Almodóvar-flieks wat sy later gekyk het. Die wilde, surrealistiese, abstrakte, naïewe, protesterende Spanjaarde het altyd na aan haar bloed gevoel. Ná haar meestersgraad in argitektuur aan die UK in 2010 is sy Madrid toe vir 'n meestersgraad in produkbestuur. Hier het sy elke Saterdag die Reine Sofía-museum met sy groot versameling werk uit Spanje se onstuimige 20ste eeu besoek en ure in die museumbiblioteek deurgebring.
Kan sy Spaans praat?
“Ja, maar die Spanjaarde praat te veel.”
Dis nie om daardie rede dat sy haar ná haar studies in Madrid in Kaapstad hervestig het nie. Sy is familievas, lief vir die Kaap en trots op Suid-Afrika. “Ek is eintlik 'n patriot,” bieg sy.
Hier is boonop meer geleenthede om 'n positiewe impak te maak en mense te help. Sy’s jammer as dit soetsappig klink, maar dit is soos dit is.
Die IKEA-projek, sê sy, het gewys dis moontlik en selfs maklik vir die wêreld om met Afrika saam te werk. Dis blykbaar minder maklik vir Afrika om met Afrika saam te werk, want al bied die Design Indaba 'n forum vir bespreking en debat waaraan ontwerpers uit talle Afrika-lande deelneem, en wat regstreeks na stede soos Kampala en Nairobi uitgesaai word, gebeur dit selde dat ontwerpers van verskillende Afrika-lande projekte saam aanpak.
Al was hulle net so ver uitmekaar as Kaapstad en Johannesburg, was Renée en Sindiso se uitruil van olifante en patrone dalk 'n stap in daardie rigting. Wie weet wat ’n mens kan verwag wanneer kreatiwiteit en verbeelding soos ’n olifantmigrasie geografiese grense oorsteek ...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.