Teater: have Mercy, hier’s Kannemeyer!

VERHOOG

Teater: have Mercy, hier’s Kannemeyer!

Op 15 lees Mercy Kannemeyer die eerste keer Jeanne Goosen se ontroerende verhaal Ons is nie almal so nie. Op 24 debuteer haar skitterende verwerking daarvan tydens die US Woordfees 2019. MICHÈLE MEYER wil hê almal moet dit sien.



SY WAS maar ’n jong tiener toe sy ’n Goosen-bekeerling word. Dit was toe Ons is nie almal so nie in 2010 vir Mercy Kannemeyer se graad 9-jaargroep voorgeskryf is. In haar eerste jaar as letterkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) word die boek weer vir haar voorgeskryf. Sy is 19 jaar oud en weet “dis een van daardie boeke waaraan ek net wil vasklou”.
Mercy is diep geraak deur die jong Gertie van Greunen. In Jeanne Goosen se novelle woon sy saam met haar ma, Doris, en pa, Piet, in ’n armoedige werkersklas-woonbuurt in Parow. Die verhaal speel af tydens die 1950's met die Nasionale Party aan bewind.
Een van die groot redes waarom Mercy so aangetrokke is tot die verhaal, is Jeanne se vermoë om deernis te wek deur die manier waarop sy haar karakters uitbeeld.
“Die hedendaagse ‘woke'-kultuur sal wil hê dat jy die mense in die boek verdoem vir hul rassistiese en ander verkeerde gedrag, maar Jeanne kry dit reg om hul lewe só te skets dat jy hulle eintlik 'n bietjie jammer kry," sê Mercy.
Wanneer dit gebeur het, kan sy nie onthou nie, maar daar het by haar ’n begeerte ontstaan om die storie vir die verhoog te verwerk. Sy het dié droom gedeel met mense wat sy vertrou en dit was hul opgewondenheid wat haar die nodige selfvertroue gegee om te begin.
Sy vertel om as jong student die nuus aan haar gunsteling-skrywer te breek dat sy beoog om haar ikoniese boek as verhoogstuk aan te pak, is nie noodwendig wat sy “naweek-ontspanning” sou noem nie.
Hierin het die ervare aanbieder en regisseur Kabous Meiring haar geweldig ondersteun, vertel sy en saam het hulle by Jeanne gaan kuier. Mercy was senuweeagtig, grootliks uit heldeverering, maar ook omdat sy gehoor het die skrywer kan uiters reguit en eerlik wees.
“Ek was bang sy dink, wat soek die jong kind hier by my? Dit was toe allesbehalwe hoe die kuier verloop het. Jeanne het so 'n trek aan haar sigaret gevat, my stip aangekyk en gesê: ‘Gaaf. Ek voel gevlei.’”
Hierna het hulle heerlik gesels oor die lewe en herinneringe. Agterna het Mercy gevoel of sy sweef. “Ek wou heeltyd lag en huil tegelyk!”
Mercy vertel dat sy Jeanne as toeganklik ervaar het. En baie skerpsinnig en snaaks. “Die oomblik toe ek Jeanne Goosen hoor praat het, was dit vir my duidelik in watter rigting ek die verwerking moes doen.”
Hoe op aarde pak ’n mens so 'n uitdaging aan? Mercy verduidelik dit só dat dit na 'n eenvoudige formule klink: Weer 'n keer lees, dele uitlig en oortik. “Ek wou baie, baie na aan Jeanne se teks bly.”
Maar sommige van haar liefling-reëls en -tonele moes weggelaat word om die speeltyd by presies 60 minute te hou. Hierna het prof. Louise Viljoen van die departement Afrikaans en Nederlands aan die US na die voorlopige teks gekyk en vir Mercy raad gegee oor die verfyning daarvan. Kabous sou in opdrag van die Woordfees as vervaardiger van die stuk optree.
Van meet af aan was die idee dat dit ’n eenvroustuk sou wees. Die aktrise Daneel van der Walt se stem kom toe by. “Ek kon hoor hoe die woorde in haar mond sit en verdere verwerking het daaruit gevloei.”
Mercy en Kabous het lank gepraat oor hoekom hulle Ons is nie almal so nie op die planke wou bring. “Alles het teruggekom na die storie. Ons wou bloot die storie vertel.”
Ek vra oor hare-uit-die-kop-trek dae. Nie Mercy nie. “Die proses was byna naatloos.”
Spanwerk was die wagwoord. “Die hele span het hulself ten volle in die projek gegooi; dit was regtig-egtig net lekker!”
Haar grootste uitdaging benewens die teksverwerking was die feit dat sy so jonk is.
“Ek is nie so wyd belese soos ek al graag sou wou wees nie. Ek moes my instinkte vertrou dat die storie wat ek gewaag het om uit Jeanne se storie te skep, oukei gaan wees."
En so word Ons is nie almal so nie in Maart opgevoer in die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei, ’n oorwegend bruin buurt. Die gehore was oorwegend wit, maar daar was heelwat bruin mense wat kom kyk het. Hieroor sê Mercy: “’n Mens moet duidelik wees oor jou teikenmark, maar nie rigied nie.”
Sy erken hoe senuweeagtig sy was vanweë die verwagtinge rondom die stuk. Sy het bly hoop mense sou vir haar interpretasie van Jeanne se kragtoer ontvanklik wees.
Ek sal die debuutmiddag in die stampvol saal lank onthou. Daneel het my verslae gelaat met die meesterlike manier waarop sy as enkelkarakter al om en oor die oorgroot Formica-kombuistafel en -stoele op die stel elke karakter met haar saamsleep. Dit was 'n verstommende belewenis.
In Junie repeteer Span Kannemeyer weer vir die Vrystaat-kunstefees en daarna hoop hulle dit word ook deur ander kunstefeeste aanvaar.
“Mense wat van letterkunde hou, sal die verhoogstuk geniet. Dit is woordryk, so die gehoor moet fokus om nie nuanses mis te loop nie.”
Intussen werk die jong teksverwerker en regisseur hard aan haar meestersgraad in drama en teaterstudie wat sy vanjaar wil voltooi. Aanhou skryf is haar droom – joernalistiek en teater. Sy het lus om “iets te doen” met Lysistrata van Aristofanes, maar kyk nog hoe om dit te benader. Haar belangstellings sluit taalaktivisme in – haar dokumentêr, Die ander kant/The Other Side, oor Afrikaans as onderrigtaal, het in 2017 wyd opspraak gewek en is deur die Afrikaanse Taalraad met ’n Kokertoekenning vereer.
Mag almal wat Afrikaans magtig is, Mercy se weergawe van Ons is nie almal so nie sien.
Dit wás toe oukei.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.