Mamma, ek wil ’n boek skryf

STORIETYD

Mamma, ek wil ’n boek skryf

Watter boek, my liewe kind? MICHÈLE MEYER woon Riana Scheepers se kinderboek-skryfkursus by, waar sprokies op die kop gedraai, grense getoets en reëls verbreek word.



SEWE leerders en hul meester om ’n tafel. Deur yslike vensters roer die see befoeterd-grys onder lug wat lyk na lood. ’n Kaggelvuur gesels. Sewe potlode ghieghieghie dringend oor soveel notaboeke. Kort-kort ’n sug, vinnige kou aan die skryfding, skud van ’n pols wat meer weet van tik as skryf. Selfs die skietende takke in die kaggel eerbiedig die doodstil oomblikke voor teruglees aan die groep. Net Wildernis se see ruis konstant deur die skooldag.
Riana Scheepers het nie nodig om skryfskole aan te bied nie. Sy kan dit eenvoudig nie help nie.
“Wat hier gebeur, is die knetterende harmonie van kreatiewe siele in konflik,” verduidelik sy geesdriftig. Riana herinner aan ’n alchemis wat verskillende elemente byeenwarrel in ’n glasbeker tot sy die presiese formule van 'n edel konkoksie bemeester. Om haar tafel sit sewe uiteenlopende individue. Dit klink soos iets uit ’n rondte Cluedo. Advokaat, joernalis, musikant, restaurateur, sielkundige, visuele kunstenaar, vryskutskrywer.
Nie twee se koppe werk dieselfde nie en mens snuf dat dit presies is wat meester beoog het. Asof ons juis mekaar se idees en sienswyses moet kan bevraagteken. Hiernatoe word jy soort van genooi; die besluit of jy dit kan bywoon of nie, berus by jou. Hierdie spesifieke kort kursus fokus op die kinderverhaal, maar heelwat ander skryfelemente word ook aangeraak. Motiverings vir elkeen se hier-wees is eweneens uiteenlopend en fassinerend.Twee om die tafel is ma’s van kleuters, albei storievraatjies in eie reg. Een se vierjarige het haar toegelaat om te kom skryf sodat sy ’n ordentlike spookstorie kan terugbring huis toe. ’n Stel kleinkinders verdien elk ’n persoonlike slaaptydstorie, glo ’n toegewyde oupa. Daar is die soeke na heling en terapeutiese stories wat kinders kan help heelmaak. “Plein common leergierigheid” is een se rede. Sinchronisiteit ’n ander s’n.Riana deel die gedagte dat lees ’n kind voorberei op die lewe en ’n paspoort gee om uit die boks te kan ontsnap. Fantasie is vormend, bevrydend en noodsaaklik vir ’n gebalanseerde kinderlewe. Lees breek die taal oop, bou idioom, leer die raakhoor van ritme en rym. Sy verwys ook daarna dat ouerskap en daarna grootouerskap ’n klomp kreatiewe energie in ’n mens losmaak. Span dit reg in en siedaar: ’n storie!
Saam met haar uitdaging dat ons “waansinnig uitbundig” moet deelneem en skep, kom ’n soberende waarskuwing. Moet nooit dink om vir kinders te skryf laat ruimte vir kortpaaie nie. Ons lees aanhalings daaroor. Die Russiese skrywer Gorki se raad aan voornemende kinderverhaalskrywers is: “Jy skryf vir kinders soos jy vir grootmense skryf, net beter.” Ernest Hemingway praat van ’n kind as ’n “shit-detector”. Soos tallose kere deur die drie dae dawer ons lag deur die vertrek.
In die Zoeloe-kultuur is stories nooit gedurende die dag vertel nie, sê Riana. Dit onthou sy helder uit haar grootworddae in KwaZulu-Natal. Sou jy deur die dag na stories luister, groei ’n paar horinkies straks uit jou kop.
’n Wonderlike ritueel is die een van die verteller (gewoonlik die ouma) se verbale verklaring: “Hier begin die storie” en aan die einde van die verhaal weer: “Hier eindig die storie”. Ons verluister ons aan die Zoeloe-frases wat soos visse in ’n bergstroom uit haar mond spring. Tussen die begin en einde was daardie kindertydvertellings dikwels grusaam en juis daarom onweerstaanbaar. Maar as Ouma met die afsny van die vertelling in die vuur spoeg, beteken dit haar woorde word verbrand en kan geen houvas meer op die kind hê nie.
Ná elke intense inligtingsessie word ons met opdragte aangevuur. Dié hou gewoonlik verband met aktualisering van die teorie soos pas aan ons oorgedra. Nie een is gewoon nie. Grense word getoets, uitdagings gestel. Nes jy dink jy sit terug en verdiep jou in ’n pragvoorlesing, kom die verrassing: Jy gaan nou ook só een skryf.
Teruglees aan die groep is dapper werk. Jy byt op jou lip, maak nie verskoning vir wat jy probeer doen het nie. Jou stem hier binne en die see doer ver. Huiswerk is daar heelwat. Soos die hele aanslag rondom die kursus, bly vryheid van keuse deurslaggewend. Aan die begin van ons eerste teorielesing hoor ons: “Ek verwag van julle niks en ek verwag van julle alles.” Dalk is dit die druk van baie inligting verwerk, stimuli kanaliseer en opdragte vinnig aanpak wat kohesie in ’n oogwink laat geskied. Soos elk se storie voorgelees word, luister almal aandagtig. Ons staan telkens kollektief verstom oor die uiteenlopende skeppendheid en unieke aanslag van medeleerdeers. Die alchemis was reg: Ons andersheid is samebindend en stimulerend.
Riana raak meegevoer oor kreatiwiteit. “’n Kreatiewe lewe is interessant en positief. Niks gee dieselfde skop as skep nie.”
Tydens ’n onlangse besoek aan Italië ontdek sy die kuns van Verrocchio, Leonardo se leermeester. Verrocchio se eie talent is gou oorskadu deur dié van sy student. Leonardo loop ook nie oor van erkentlikheid teenoor die man aan wie se voete hy geleer het nie. Oënskynlik was die meester min geskeel. Sy vreugde berus in sy kreatiewe werksessies waar hy al wat kunstenaar is, byeenbring.
Riana is sonder twyfel besig om iets van daardie inspirasie hier lewe te gee. Sy maan: “Moenie jaloers wees nie – gun elke kunstenaar sy ruimte. Juis omdat julle so verskillend werk, kan julle veilig voel by mekaar.”
By slegs skryf bly dit beslis nie. Die kursus word ’n holistiese reis wat wemel van sensoriese prikkels. Een hele oggend werk ons binne die lieflike ruimte van Bistro Celerio naby Hoekwil. So stimulerend dat mens skaars weet waar om te kyk tussen die ongewone interieur en versameling kunswerke en die lesing vlieg verby. Net daar om die swaar tafel word middagete ’n fees van oorvloed en eenvoud tegelyk.
Pleks van huiswerk doen, hang ons Woensdagaand uit in Skotteljons, Hoekwil se joint. ’n Drieman-boereorkes kap dit uit en ons eet saam met die locals. Soos koshuiskinders wat móét terug voor tien, laat spaander ons terwyl derduisende sterre vir ons lag. Op ons laaste aand beleef ons in die bistro ’n eksklusiewe vertoning van die roerende Donkernag-pantoen, ’n samewerking tussen die Mosselbaaise duo Coffee Snobs, Marius en Vernette Wessels, met van Riana se pragtekste. Daarna is ons vir ’n slag besonder stil.
In drie dae het ons sprokies op die kop gedraai, gerym dat dit klap, en geskryf oor goed wat oë sal laat rek. Karakters geskep, reëls geleer, reëls verbreek. Geteken, vertel, geskater. Swaar afskeid geneem van die slim vrou met die groot hart, haar skaaphond en haar geelhoutboom vol dwergverkleurmannetjies.
Ek wonder wanneer ek ’n kinderboek gaan lees met een van my medeleerders se naam op die rugkant. Ek wonder oor die swetterjoel gloeiwurms langs die pad na ons Skotteljons-aand. En ek voel dit kriewel weerskante van my kop, daar waar dagstorie-horinkies groei.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.