Moedersdag: die kinders stuur groete

LIEWE MA

Moedersdag: die kinders stuur groete

TERENCE MAKAPAN sê dankie, MICHÈLE MEYER sê totsiens. Vir ANNELIESE BURGESS is haar ma soos asemhaal. HERSCHELLE BENJAMIN sê sy is soos sy slagaar.

“Agter die kasdeure skamele stapeltjies klere perfek in lyn gepak. Alles pas by alles.”
MY ma was 58 en so klein dat ek haar maklik kon optel. Haar oë so groen soos die eerste vyeblare is gelyk belig van snaaks en slim. Diep laglyne langs haar wye mond en fyn plooitjies soos waaiers oor haar elegante wangbene het haar asketiese gesig sag gemaak.
Ek het haar lewe in drie dae opgepak.
'n Kombuis is maklik. Op ’n manier. Jy sluk af en toe hard. Jy onthou 35 jaar gelede se Marmite-roosterbrood op die bordjies wat jy nou in koerantpapier toedraai. Jy sien hoe lelik die goedkoop bekers is wat jy vir haar vir Kersfees gegee het in 1981. Dat sy dit gehou het ... Nog erger, gebruik het. 'n Mankolieke kleuterskool-collage van elkeen van my twee kinders, trots gelamineer.
Die badkamer ook eenvoudig. In die badkamerkassie 'n voorraad Lux-sepe, sekerlik gekoop op 'n Buy Bulk & Save-promosie. 'n Reiniger en roompie. Haar geliefde Radox Relax-badskuim en die pienk waslappie. Die res was in haar badkamersakkie wat saam Groenkloof-hospies toe is.
'n Klein hokkie onderin die gang was haar naaldwerkkamer met die een lewensmaat wat aan my ma trou gebly het: die heilige Bernina. Toegedek in 'n stewige houthouer, die voorhangsel wat net sy kon lig. Haar kiertsregop stoeltjie. Die draadasblik waaroor sy so kon mor as garingdrade en toiings ongetem by die gate uitloer.
“Kry net 'n ander een, Ma!” sou ek die voor die hand liggende sê. “Mens krý nie net goed nie.”
In die leefarea haar sitkamerstel, die koffietafel en TV-kas van Fechter&Fechter waarvoor sy lank gespaar het. 'n Erg basiese televisie in die kas. 'n Videomasjien. Wie de hel kan 'n videomasjien onthou? Haar boeke. Die boeke was iets. En haar boekrak. Onmerkwaardige dennerak wat houding getrek het oor die kosbare vrag wat hy met flair kon vertoon. Groot Verseboek, Skrywers en Rigtings, Audrey Blignault, Ingrid Jonker, Eitemal. Alles wat F.A. Venter ooit geskryf het. M.E.R se My Beskeie Deel. Ritse kinderboeke; sy het kinderboeke verslind. Ure na prente sit en staar en detail bestudeer. Woordeboeke met lyste en lyste rare woorde en sinonieme in haar vloeiende handskrif oral ingevoeg.
Iewers op hoërskool wonder ek 'n keer hardop hoekom sy die spulle woorde so uitryg. “Omdat dit interessant is. As 'n mens ophou leer, is dit verby.”
'n Slaapkamer is 'n ander ding. Jou ma se plek van afsondering. Waar sy in vrede Ray Charles op die tape recorder kon luister. 'n Driekwartbed onder die seegroen (turkoois! hoor ek haar sê) bedsprei. Here, 'n driekwartbed is een van die sadste goed as jy hom so kyk en hy praat oor jare se alleenheid, die fatale aanvaarding dat niemand ooit weer langs jou sal lê nie. Tweeling-leeslampe met afdrukke van Doriese figure daarop. 'n Fyn goue wekker wat elke oggend voordag geskree het “Staan op gaan werk maak kos verdien geld maak reg maak groot!”
Agter die kasdeure skamele stapeltjies klere perfek in lyn gepak. Alles pas by alles. Lief vir bruin, navy en ivoor. Dit ruik soos sy. Na die inbraak by die ou huis het haar juwele in 'n Tupper-bakkie gepas: goue pand, goue kettinkie, pêreloorbelle, armhorlosie. Sy het dit die laaste ruk nie nodig gehad nie. Morfien en horlosies werk nie saam nie. Seker vier botteltjies Esteé Lauder Youth Dew-parfuum, onoopgemaak. Elke jaar se verjaardaggeskenk van my. Hou vir eendag. Was haar dienlike leerhandsak altyd so verslete? Hoekom het ek nooit vir my ma 'n handsak gekoop nie?
In haar bedkassielaai 'n petite notaboekie. Op die agterste bladsy twee lysies.
MOET: Nuwe lakens (2 x stelle). Braaipan. Goeie flits.
WIL: Reistas. CD’s. CD-speler.
Toe huil ek.
Michèle Meyer

“Ma het elke ander dag vir my ’n lekker soetigheid in my broodblik gesit.”
MY ma, Claredine Makapan, was 'n yster, 'n sterk vrou wat talle struikelblokke moes oorkom in haar lewe. Hoewel sy nooit klaargemaak het met skool nie, was sy 'n besonder intelligente mens. Sy’t my nooit net met my huiswerk gehelp nie, sy sou vir my interessante feite leer en my algemene kennis verskerp. Dis danksy haar dat ek op die ouderdom van 12 reeds my eerste Stephen King-boek gelees het.
Dit frustreer my as ek terugdink aan alles wat sy kon bereik het as sy 'n geleentheid gegee was, maar al het sy matriek gemaak, sou my ouma in elk geval nie kon bekostig om haar na 'n universiteit toe te stuur nie. Ek is is oortuig daarvan dat dit haar ook effens magteloos laat voel het.
Sy en my ouma was vir so lank as wat ek kon onthou huishoudsters (ek haat die word “bediende”). Van die dag wat ek gebore is, het hulle ander mense se beddens opgemaak, toilette geskrop en kosgemaak. Hulle twee het my grootgemaak. My pa was haweloos en het dus nie 'n groot rol in my lewe gespeel nie.
Dit het my nooit gepla nie. Ek was by die vrou vir wie ek die liefste was op hierdie aarde. Ek het 'n dak oor my kop gehad en het nooit honger gaan slaap nie. Ons kamer was nou wel 'n ses-by-vier-vertrek wat vier mense gedeel het, maar dit was my tuiste en ek was gelukkig. Ek het nooit gevoel ons is arm nie en Ma het ook sekergemaak dat die gedagte nooit in my kop opflits nie.
Op laerskool was ek omring deur kinders wat skool toe kom met 'n hele koelboks vir pouse, kinders wat net namebrands dra op civvie-dae en kinders wat elke tweede skoolvakansie oorsee gaan. En tog was ek nooit jaloers nie. Ek het beslis geweet ek was nie so ryk soos hulle nie, maar ek was heel tevrede.
Ma het elke ander dag vir my 'n lekker soetigheid in my broodblik gesit, naweke sou ons see toe gaan (ons het daai tyd in Bellville gewoon) en daai opwinding was al wat ek as kind nodig gehad het.
Soos enige ander mens het sy ook haar tekortkominge gehad. Sy was 'n alkoholis en was vir 'n geruime tyd by 'n rehabilitasiesentrum. Dit was 'n moelike tyd vir ons as familie, veral vir my omdat ek so jonk was. Ek het nie heeltemal verstaan wat aangaan nie. Ek wou net my ma terug hê. Daar was aande waar ek, op die ouderdom van agt, na die kroeë in Boston toe sou gaan om haar te soek. Ek was nie kwaad nie. Net desperaat. As ek nou terugflits na daardie dae, is ek oortuig daarvan dat sy aan depressie gely het. Al die tekens was daar. Ek wens iemand kon dit raakgesien het.
Sy sou verbeter en dan weer agteruitgaan en weer effens verbeter. In 2003 het sy 'n gewerk gekry (steeds as huishoudster) by 'n familie in Kampsbaai. Die Sanks. Goeie mense met goeie harte.
Ek onthou die dag asof dit gister was. 2006. Ek was in graad 7. Dit was 'n Vrydag. Toe ek by die huis kom, roep die Sanks my in vir 'n vergadering. My ma was besig om deur 'n rowwe tyd te gaan en het 'n breuk nodig gehad. Sy moes wegkom. Sy weet nie wanneer sy sou terugkom nie, maar sy het gevra dat die Sanks na ons kyk. En hulle het. Hulle het my en my suster soos hul eie kinders behandel. Agt maande later sou ek en my suster uitvind dat ons ma oorlede is.
Dit was 'n opoffering vir my en my suster se onthalwe. Sy het geweet ons voogde, die Sanks, sou vir ons 'n beter lewe kon gee as wat sy kon. Hulle het so baie vir ons gedoen en gegee. Beste skole, beste tersiêre opleiding, vakansies oorsee, 'n kar, noem maar op.
Natuurlik sal geen hiervan ooit die plek van 'n moeder kan vul nie, maar ek is steeds dankbaar vir wie en wat sy was, en hoe lief sy vir ons was.
Dankie, Claredine Makapan.
Terence Makapan

“Haar raad is altyd dieselfde: Maak ’n koppie tee en skryf ’n lys.”
MY ma. Sigrun, die Duitser. Die ysterhand met die klein hartjie. Die tuinmaker, hekelaar, seepkoker, melktertbakster, lappieskombersmaker, kasbouer, beesslagter, pottebakker, sokkiebreier, aalwynversamelaar, konfytkoker, bergstapper, vertrooster, vermaner, aanhitser.
Op 21-jarige ouderdom het my Duitse mamma oor die oseaan uitgespoel op 'n stofkolletjie op die rand van die ou Transkei – met 'n korttermyn-werkvisum en sonder 'n woord Engels. Meer as 50 jaar se Afrika het haar omvorm. Vandag is daar min van die Duitser te bespeur, buiten die laaste dowwe klanke van 'n aksent en haar onstuitbare werketiek.
Nadat ons 20 jaar gelede my ouma ter ruste gelê het in 'n sneeubedekte begraafplaas in Preetz, my ma se grootworddorp, het sy verklaar sy is klaar met Europa. Dat dit te vreemd geraak het – die maklikheid van die bestaan, die welgesteldheid van die mense, die ondeurdagte bevoorregting. Haar hart het gewortel geraak in die afgeleë klowe waar sy en my pa vir dekades geboer het, die golwende rooigrasheuwels aan die voet van die Drakensberge waar sy vier kinders grootgemaak het, en die mense van die Oos-Kaap.
Vandag trek my mamma sterk 80 se kant toe. Elke oggend trek sy 'n nuwe swart uitrusting aan, met bonkige juwele, lipstiek en die steeds blonde bolla netjies op haar kop gekrul. Dan klim sy in haar groot ou Isuzu-bakkie (met 'n mandjie en aktetas) en ry 'n stofwolk met die plaaspad af na haar winkel op die dorp. Wat begin het as soort van tuisnywerheid in 'n agterkamer in die onderdorp is nou Kwa-Burgess-supermark in Indwe se hoofstraat. Vir byna 30 jaar is sy die gom wat mense trek vir 'n geselsie oor die nuutste skeet of pyn, vir 'n vra-vir-krediet, oor hoe die kinders en kleinkinders doen, vir 'n spesiale versoek vir perskes of turksvye uit haar tuin.
My ma is die mees formidabele mens wat ek ken. Vreesloos en vegtend en omarmend. Dit was sy wat gekeer het dat ons, soos ander Engelse kinders, weggestuur word kosskool toe. Dit was sy wat gesorg het ons weet dit is oukei om nie altyd in te pas nie, dat weird goed is. Dit was sy wat ons familietradisies help vestig het – die Duitse Kersfees met regte kerse en 'n regte boom. Die Sondagpieknieks, die Paaseiers in die tuin, die tee-fles-kuiers in die veld.
My ma bly die mens wat ek bel as ek jammer voel vir myself, as ek raad soek, as ek woedend raak vir die lewe. En haar raad is altyd dieselfde: Maak 'n koppie tee en skryf 'n lys (jy kan duidelik die Duitser uit Duitsland vat, maar die meedoënlose maak-'n-plan-en-moenie-op-jou-gat-sit-gene bly vir ons almal daar). En as die lys-triek nie werk nie, is daar altyd “gaan stap 'n bietjie”. Dit het my al deur baie driwwe getrek. My ma is 'n deur-die-drif-trekker.
Elke aand bel ek. En sy antwoord altyd. Praat oor die nuwe aalwyn wat blom in haar tuin, of hoe mooi die spinasie groei, of bietjie dorpskinder. My ma voel so deel van my lewe soos asemhaal. En ek vrees die dag wat sy nie meer daar is nie.
Soms kyk ek na my 13-jarige dogter wat so sterk trek na haar ouma. Dieselfde fyn gelaatstrekke, die blonde hare en blou oë, die mooi prominente neus. Ek sien presies dieselfde glimlag wat soms om haar mondhoeke speel, en dieselfde droë humor waarmee sy die lewe aanpak. En dan weet ek dat ek altyd my ma by my sal hê. In my dogter.
Anneliese Burgess..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.