DIE rooi-en-wit Lewis-naambord het Bredasdorp toe gekom toe ek op laerskool was. Heimlik het ek gedink dié grootstad-winkel met sy stadsmeubels is nogal eksoties in vergelyking met die bestaande meubelwinkel op die dorp wat eintlik net ’n afdeling binne ’n algemene handelaar was.
Boonop was daar ’n lang afdraande gang tussen Lewis en die gebou langsaan. Dit loop van die een straat na die ander en het steps wat gemaak is om jou lekker spoed te laat optel op jou fiets of rolskaatse.
Die winkelmense het ons gereeld verwilder wanneer ons ná skool voor hulle vensters verbygejaag het. Op en af. Dit het Lewis net nog aanlokliker gemaak, maar hulle het uiteindelik ’n stok in ons wiele gesteek deur hekke aan weerskante van die gang op te sit. Tot vandag toe dink ek aan rolskaatsry à la Roller Boogie (die 1979-fliek waarin Linda Blair wulps rondwiel en haar Exorcist-beeld agterlaat) wanneer ek ’n rooi en wit Lewis-naambord sien.
Min het ek geweet dat ek dekades later by Lewis se hoofkantoor in Woodstock sou beland. Dit was my tweede kantoorwerk ná ’n hele paar maande as kelnerin voorafgegaan deur 10 maande se oorsee rondflenter. Om te sit en werk, en dit in my eie kantoor, was net so lekker soos om in die gang langs Lewis op Bredasdorp op en af te woer.
Ek was die redakteur van TeamTalk, Lewis se personeeltydskrif. Trouens, ek was die storie-uitdinker, die skrywer, die druppende kraan wat almal verpes het met vrae en my kamera. Ek het ook personeellede se troufoto’s, sportfoto’s, langdiensfoto’s, babafoto’s en foto’s van Saterdagoggende se tak-events met luide musiek en ballonne van regoor die land ingesamel met behulp van die interne posdiens. En terugbesorg, want voor selfone foto’s kon neem, was ’n foto ’n kosbare ding. Met ander woorde, ek was TeamTalk.
Dit is waarom ek vandag weet dat daar eens op die tyd ’n meneer Lewis was.
Meneer Meyer Lewis en die Engelse
In 1934 het Meyer Lewis, ’n gebore Letlander, ’n klein tweedehandsmeubelwinkel, The Woodstock Auction Mart, by Victoriastraat 124 in Woodstock, Kaapstad, gekoop. Twee jaar later voeg hy nuwe meubels by sy voorraad en sit sy eie naam op die winkelvensters: M. Lewis & Co.
Die besigheid floreer en teen 1946 is daar vyf takke: die oorspronklike Woodstock-winkel en een in Pleinstraat in die Kaapse middestad, Wynberg, Parow en Claremont. Die naam M. Lewis & Co. het om en by dié tyd verdwyn en Lewis Stores Limited is gebore.
In 1947 vang die besigheid die oog van Great Universal Stores (GUS) en Meyer Lewis verkoop dit aan dié Engelse maatskappy. Terselfdertyd koop GUS Barons Furnishers in die Johannesburgse middestad.
Tot vandag toe staan die Lewis-groep se hoofkantoor by Victoriastraat 53A in Woodstock bekend as Universal House. Die Lewis-winkel skuins oorkant die pad is waar The Woodstock Auction Mart en later M. Lewis & Co was.
Die GUS-faktor
Dit was onder leiding van Isaac Wolfson, wat GUS se destydse besturende direkteur en volgens oorlewering slim, uitgeslape en suinig was, dat die maatskappy na die Britse kolonies uitgebrei het. Wolfson het besef dat daar ’n groot vraag na eiendom gaan wees wanneer almal die nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog afgeskud het – en dat die groeiende middelklas meubels gaan nodig hê vir hulle nuwe huise. En dat die Depressiejare diep spore in almal se finansies getrap het en dat hulle op skuld sal moet koop.
Só skop GUS se uitbreidingsprogram in Suid-Afrika in alle erns in 1950 af en teen 1958 is daar 55 winkels met ’n duisend werknemers: Lewis Stores in die Wes- en Oos-Kaap en Barons Furnishers en Excelsior Meubels in die res van die land. Terselfdertyd verkoop Universal Stores Family Outfitters, nog ’n besigheid in die Suid-Afrikaanse GUS-stal, klere op skuld. (In 1972 het Edgars dit oorgeneem terwyl Lewis op sy beurt Dan Hands by Edgars oorgeneem het.)
In Engeland het GUS reeds hulle afbetalingstelsel vervolmaak: Klante het items uit ’n katalogus bestel en in weeklike kontantpaaiemente afbetaal, gewoonlik oor 20 weke. Hulle vroeëre tallyman-stelsel wat behels het dat rondreisende verkoopsmanne/skuldinvorderaars by klante se huise aandoen, is na Suid-Afrika uitgevoer.
In die uitgawe van TeamTalk waarin ek Lewis se geskiedenis naspoor, vertel ’n meneer H.M. Scrooby van sy loopbaan as tallyman: “Ek het op 1 Oktober 1952 by die Parow-tak van Universal Stores Family Outfitters begin werk en het ’n maandelikse toelae van £35 en ’n motortoelae van £15 ontvang. Ek het ook 10% kommissie op verkope ontvang en wanneer my totale kommissie meer as £50 was, het die toelaes weggeval.”
Kort nadat hy in April 1957 na die Wynberg-tak van Universal Stores verplaas is, is Universal se agente gevra om ook Lewis Stores se produkte te verkoop en betalings in te samel. Daarvoor het hulle 10% kommissie op verkope en 7% op insamelings ontvang. In ’n stadium het Scrooby meer as ’n duisend klante gehad: “Dit was ’n geswoeg om almal se paaiemente in te samel. My weeklikse ronde het Vrydagaand begin en heel Saterdag, Maandag en Dinsdag geduur. Die individuele bedrae wat ek ingesamel het, het gewissel van 5/- tot £1 per week. Terselfdertyd moes ek nuwe bestellings vir klere neem en opvolg op meubelverkope en -aflewerings.”
In die 1953/’54 finansiële jaar het meubelverkope sowat ’n derde van GUS se wins van £15 miljoen uitgemaak, die meeste daarvan op skuld.
Lewis, LSM’s en lojale kopers
Uit die staanspoor was Lewis se teikenmark tradisionele middelwerkers (vandag se LSM 4-7-inkomstegroep) en hul sakemodel is uit en uit gemik op kopers wat op krediet moet staatmaak.
Daar is ’n ou debat oor of winkels soos Lewis werklik winkels is aangesien ’n geweldige groot deel van hul inkomste aan die finansiering van hul verkope te danke is. Met ander woorde rente, versekering en dies meer.
Dit was daarom nie ’n verrassing toe die Nasionale Verbruikerstribunaal in 2016 beslis het dat Lewis onredelik optree deur te verwag dat pensioentrekkers en werklose klante versekering moet uitneem om hulle skuld te dek indien hulle hul werk verloor, en deur te verwag dat pensioentrekkers ongeskiktheidsdekking moet uitneem. Dié uitspraak is as ’n groot oorwinning vir verbruikers beskou.
’n Jaar later was dit weer Lewis en die tribunaal, dié keer omdat Lewis se verlengde waarborg- en klublidmaatskapgeld die koste van hul kredietverkope verder opstoot en mense dieper in die skuld dompel. Dié keer is daar in Lewis se guns beslis op grond van ’n tegniese punt.
Mens sou dink dat sulke slegte publisiteit nadelig sou wees vir die syfers in ’n besigheid se jaarverslag, maar in die 2017/2018-boekjaar het finansierings-, administrasie- en aanvullende koste (vir klublidmaatskap en verlengde waarborge) R2.7 biljoen van die groep se inkomste van R5.5 biljoen beloop. Ek onhou goed dat een van die bestuurders by Lewis op ’n dag vir my gesê het: “Onthou, ons is eintlik in die geldleenbesigheid.”
Teen 31 Maart 2018 het die Lewis-groep 779 winkels waarvan Lewis Stores die grootste gros uitgemaak het: 431 in Suid-Afrika en 68 in ons buurlande. Dit maak die groep die grootste meubelhandelaar in die land, ’n posisie wat, volgens Business Day, merendeels te danke is aan die feit dat hulle grootste kompetisie honderde winkels toegemaak het. Steinhoff het byvoorbeeld in 2016 (nog voor die Markus Jooste-gemors) begin om bykans 300 winkels toe te maak as deel van ’n herstruktureringsproses, en ’n sukkelende African Bank was genoodsaak om sowat duisend Ellerines- and Beares-winkels te sluit of verkoop. (Lewis het in 2016 57 Ellerines- en Beares-winkels gekoop toe die blikkie se boom by African Bank uitgeval het.)
Sedertdien het die Lewis-groep self begin om die Lewis Stores- en Beares-kettings af te skaal om op hoër inkomstegroepe te konsentreer deur middel van United Furniture Outlets in winkelsentrums in stede en groter dorpe.
Mooi meubels, maklike terme
So wat het dit alles met die prys van eiers te doen?
Ek het grootgeword in ’n huis waar alles kontant betaal is en het dus nooit die binnekant van Bredasdorp se Lewis gesien nie. Nogtans is dit net soveel deel van my soos die straat waar ek die aanskoulikste val met ’n fiets wat Bredasdorp nog gesien het, geval het.
Wanneer ek nou soontoe ry, stop ek op pad in Grabouw. Dan parkeer ek voor die Lewis om wors by die Grabouw-slaghuis om die hoek te gaan koop. In Caledon sit dit tussen die Standard Bank en FNB wanneer ek die dorp uitry en op Bredasdorp is Lewis nog net waar dit was toe ek met my niggies se ou rolskaatse in die gang langs die winkel op en af gery het.
Verder af in die straat is die kafee waar ons melkskommels gedrink het en wat nou ’n R5-winkel is. Skuins oorkant die winkel is die Victoria-hotel met sy lang stoep waar die dameskroeg met sy groen leunstoele en klein kanttafeltjies baie elegant gelyk het in vergelyking met die manskroeg met sy cowboy-swaaideure. Nou is die groen stoele weg en dames kom en gaan soos hulle wil waar hulle wil. Maar Lewis is nog op sy plek in Kerkstraat, en die hek voor die gang is nog daar.
Terloops
GUS is nie meer met ons nie. Die kleinhandelreus het in 2006 ontbondel en leef net voort in Argos en Experian, twee van hul voormalige filiale.
“Tallyman”, ’n Britse woord vir rondreisende verkoopsmense wat goedere op skuld verkoop, is die naam van Experian se gesofistikeerde skuldinvorderingsagteware.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net
vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.
HOOFSTRAAT
Daar’s ’n Lewis in elke dorp
‘Dis maklik om ons te kry. Kyk net in jou hoofstraat of dorpskern rond en soek die bekende rooi-en-wit Lewis-naambord.’ ERLA RABE vertel wie regtig jou oom in die meubelhandel was.
Deel

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.
Deel
-
Deel
Erla Rabe
BydraerErla Rabe werk met woorde en kruip na-ure in boeke weg. Naweke kry jy haar by BangBang Vintage-Market in Observatory, waar sy vintage klere verkoop.