Die skrif aan die muur in Harringtonstraat

PROTES

Die skrif aan die muur in Harringtonstraat

Die een se double latte is dikwels ’n ander se ontheemding. Wanner kettinggroep-koffiewinkels hul intrek neem in ’n arm buurt, kan hulle netsowel geel stootskrapers wees. HENK SERFONTEIN teken beswaar aan.



DAAR was iets onheilspellends aan die anti-gentrifikasie-graffiti wat 'n paar maande gelede bykans oornag in Harringtonstraat in Kaapstad verskyn het.
Anders as meer konvensionele protesgraffiti wat in spuitverf op mure aangebring word, was dié medium nie permanent nie. Die beskeie bordkryt op die grond was iets wat maklik met die reën weggespoel kon word. In wit letters op swart teer het dit bykans poëties die herinnering aan die traumatiese gedwonge verskuiwing uit Distrik Ses herroep – soos dié greep uit die gedig District Six: Ghost Town deur Keith Adams uit sy bundel suck the bone:
My feet are awashwith red clayof windswept plainsof district six
Ek het verder in die pad afgeloop en naby die nuwe Bootleggers en Lekker Vegan het daar in hoofletters nog 'n ontroerende gedig in die pad geskryf gestaan:
THE HOUSES HAVE LONG GONEAND THE GHOSTSOF MY ANCESTORSPLAY HAUNTINGMELODIESON NAMELESSSTREETCORNERS 
In die byderwetse nuwe koffiewinkel het hipsters met wit Fila-tekkies en MacBooks voortgegaan met hul ontwerper-lewens.
Ek het teruggeloop na my ateljee by Monolith Studios op die hoek van Glynn- en Bo-Canterburystraat bo-op International Panelbeaters. Op die kaartvloer van die Distrik Ses-museum is Canterburystraat die eerste straat verby Primrosestraat net buitekant die grens van die ou Distrik Ses. Die verpleegsters van die Peninsula Maternity Home was destyds 'n klipgooi hiervandaan.
Ek het in die vier jaar wat ek bo die paneelklopper gewerk het, die gemeenskap baie goed leer ken. Daar is die werktuigkundiges met die delicious monsters en teen die mure sexy plakkate van bikinimeisies wat wydsbeen oor Harleys staan. Ek moes my innerlike feminis intoom hou wanneer ek daar verbygeloop het. 
Daar is die visuele kunstenaars wat raap en skraap en probeer genees deur hul werk. Daar is die Virgin Active 'n blok verder en ook die laaste flentertjies mense wat ná die gedwonge verskuiwings in Distrik Ses agtergebly het. Daar is Somaliërs in die hoekhuis wat heeltyd van kleur verander, en Harrington Halaal waar ek gereeld samoesas en Stoney Zero koop.
Daar is die Zimbabwiese Uber-bestuurders wat vlug van die xenofobiese aanvalle in die township, en die enkelma's met no-name-koffiewinkels wat hul kinders se skoolgeld betaal met familieresepte.
'n Ten volle geïntegreerde samelewing het ná 1994 organies hier ontstaan. Ons het saamgeleef in in ’n gemeenskap wat vir my Nelson Mandela se “Let there be work, bread, water and salt for all” vergestalt het.
Toe begin die dreigemente verlede jaar soos geel strootskrapers, die gerugte dat die munisipaliteit ons gaan kennisgee, en uiteindelik word my grootste vrees waar. Ons word uitgeskop en word deel van die statistiek wat daagliks in Kaapstad toeneem weens gentrifikasie onder die vaandel van ontwikkeling.
Dit is nie bloot toevallig dat die uitsetting gebeur kort nadat Bootleggers, RocoMamas en Lekker Vegan hul hier kort op die hakke van Vida e Caffè kom vestig het nie. Navorsing het gewys wanneer die grootnaam-koffiewinkels in ’n subekonomiese omgewing hul deure oopmaak, 'n nuwe grondwaarde en intree; eiendomspryse styg en aanvraag groei. Sulke koffiewinkels word dan die eerste teken van die gentrifikasie wat onvermydelik gaan volg.
DIE woord “gentrification” is in 1964 vir die eerste keer deur die sosioloog Ruth Glass gebruik met verwysing na die ontwikkeling in New York en San Francisco. In Afrikaans moet ons dit seker maar direk vertaal soos die Duitsers wat nie verder kom as “Gentrifizierung” nie. (Die Nederlanders lê meer verbeelding aan die dag met hul “yuppificatie”!)
Glass se aktivisme het die bewustheid geskep dat die een se double latte dalk die ander se ontworteling kan beteken, die een se luuksheid die ander se ontheemding.
Die argument wat die ontwikkelaars gebruik wat meedoënloos toeslaan op die mees weerlose dele van die stad, is sekerlik dat ekonomiese vooruitgang nie teëgestaan mag word nie. Maar dat dié soort vooruitgang noodwendig ‘n goeie ding is, is vir my 'n halwe waarheid.Ontwikkeling gebeur altyd ten koste van iemand en in die Suid-Afrikaanse samelewing behoort daar 'n spesifieke sensitiwiteit hierom te bestaan. Ons behoort samelewings te skep waarin diversifisering van gemeenskap ten op sigte van ras, gender en ekonomiese welvarendheid voorop gestel word. In plaas daarvan skep ons tans 'n stadskom in Kaapstad wat 'n speelplek word vir rykes, buitelanders en trustfondskinders wat in bachelor flats van R2,4 miljoen woon.
Dis asof daar 'n tweede kolonisasie onder ons neus plaasvind. Die ekonomies bevoorregtes geniet regte in die kern en die ander word stelselmatig uitgewerk.
Ons stedelike ontwerp word steeds grootliks bepaal deur die strukturele oorblyfsels van apartheid se stedelike beplanning waarvolgens die armstes verskuif is na die buitewyke van die stad. In die Kaap is dit die onherbergsame vlaktes met ironies idilliese name soos Lavender Hill en Ocean View. Distrik Ses is 25 jaar ná die vestiging van ons demokrasie steeds nie ontwikkel nie. Die mense van die Bo-Kaap het tot onlangs moes veg vir die erkenning van dié gebied as belangrike erfenis.
Die rol van graffiti as die stem van 'n gemeenskap moenie onderskat word nie. Vir my is openbare kuns dikwels die doeltreffendste wanneer dit ’n stem gee aan die mense in die onmiddellike omgewing. Dit weerspieël hul waardes en gee uitdrukking aan die belangrikste vraagstukke in daardie gemeenskap. Dit is ook 'n manier waarop individue eienaarskap neem van hul omgewing. 
Die anti-gentrifikasie-graffiti het uiteindelik verdwyn en die irritasie wat dit moontlik vir die ontwikkelaars inhou, is ook daarmee heen. Die gewete van Harringtonstraat is weggespoel in die reën. Daar het intussen ander openbare kuns in die omgewing verrys in die vorm van twee muurskilderye – die een 'n hoogstens oulike illustrasie van 'n mannetjie op 'n boot en 'n paar wolkies, die ander 'n tegnies vaardige realistiese beeld van 'n hond met 'n vlieënierhoed en bril op die kop soos 'n yuppie wat bo die stad vlieg. Dis op monumentale skaal geskep deur die Belgiese kunstenaar Bart Smeets.
Albei muurskilderye is in helder kleure geverf en is wat my betref gedepolitiseerd. Dit sê bykans niks oor die onmiddellike omgewing nie en is gestroop van enige sosiale kommentaar of sosiaal-politiese inhoud. Primêre kleure is nouliks 'n kopknik na die Bo-Kaap of Distrik Ses. Daar is geen protes hier te bespeur nie. Dis gedekontekstualiseerde billboards wat dien as visuele ontvlugting.
Dalk is dit ’n teken van die onrusbarende kollektiewe geheueverlies van 'n bevoorregte millennium-generasie met oppervlakkige kennis van die geskiedenis. Die narratief opgesluit in hierdie kuns is papierdun, al sal dit mooi lyk op Instagram. 
Ek wonder of die beelde as weerligafleiers moet dien sodat ons die ongemaklike vrae wat die anti-gentrifikasie-graffiti vra, vergeet. Moet ons nie eerder om die blok loop en kyk na die muurskildery van Mandela oorkant Charly's Bakery wat nou so verbleik is soos 'n droom nie? Dalk moet ons verby die Fugard-teater loop en herinner word aan Athol Fugard se Boesman en Lena waarin die ontheemde Lena van dorp tot dorp moes loop. Daarin word die psigologiese effek van die apartheidstelsel met 'n skalpel ontleed.
Ons moet dalk selfs 'n entjie verder om die hoek loop en kyk na die hek by die ingang van die District Six Homecoming Centre. Daarin word die grafiese interpretasie van 'n Langston Hughes gedig, Dreams, deur die kunstenaar Peter Clark verbeeld. Clark was self 'n slagoffer van die groepsgebiedewet en meegaande gedwonge verskuiwing. Hy het hom uiteindelik in Ocean View gaan vestig.
Op die hek word 'n vredesduif en 'n hand saam met die teks “hold fast to dreams, for if dreams die, life is a broken-winged bird” uitgebeeld.
Die omgewing rondom Harringtonstraat is deurtrek met 'n sosiale gewete. Het die tyd nie dalk aangebreek dat ons ons ontwerpersfietse parkeer, ons salm-en-roomkaas-bagels en ons single roast-cuppuccino's vir 'n oomblik neersit en vir 'n slag by die Distrik Ses-museum in Buitenkantstraat inloop nie? Daarbinne ontvou die geskiedenis wat nie herhaal moet word nie. Daar behoort ons te kyk na Aspeling-, Pontac- en Tennantstraat en te dink aan die trauma van die 60 000 ontwortelde mense en die kollektiewe trauma van die geslagte daarna.
Miskien is die Distrik Ses-museum die plek waar ons moet begin soek na die leidrade van hoe ons stede in die toekoms moet ontwikkel. Dis alles daar, maar 'n vliegbrilletjie op die kop sal ons nie help om dit raak te sien nie.
Soms in die aande wanneer ek laat werk en die MacBooks al die omgewing verlaat het, speel die kinders krieket aan die bopunt van Harringtonstraat. Dis die kleinkinders van vroedvroue van Distrik Ses en die Peninsula Maternity Home. Ek sien soms 'n enkelma, 'n kunstenaar, 'n mechanic of 'n Uber-bestuurder van Zimbabwe. Vir my is hierdie mense die sagte weefsel van ons stad wat stadig maar seker vernietig word. Wat sal oorbly in hul plek is slegs 'n kapitalistiese geraamte.
Dis dan wanneer ek lus voel om geheimsinnig in die nag soos 'n wafferse Banksy met 'n stukkie bordkryt in hoofletters voor 'n koffiewinkel te gaan skryf: REMEMBER DISTRICT SIX.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.