Nampo: vrou soek ’n boer

OESTYD

Nampo: vrou soek ’n boer

Die jaarlikse Nampo-Oesdag in Bothaville in die Vrystaat is ’n goeie plek om dié soektog af te skop. Maar MICHÈLE MEYER moet eers by kalkstrooi en springhaasrot verbykom voordat sy die Latha-broers ontmoet.


TUSSEN Klerksdorp en Bothaville begin ek ernstig wonder oor wat ek hier kom soek. Wat weet ek after all van boerdery?
Plaas-lite doen ek graag. Die warm brood met plaasbotter, wintervakansies op een of ander familielid se Karoo-of Bosveldplaas, naweke met perde en kampvure. Maar so teen Dinsdag is ek reg om huis toe te gaan. Stad toe.
Soos die skouterrein Nampo Park naderkom, flits woorde op kennisgewings verby. Woorde wat nie noodwendig deel uitmaak van my leksikon nie. Kalkstrooi. Springhaasrot. Ek wil nie eens begín dink hoe laasgenoemde verskrikking lyk nie. Die besef dat ek my op onbekende terrein begeef, groei met elke tree.
So vreemd as wat landbou-vaktaal op my oor mag wees, so gul is die ontvangs by Graan SA se ontvangslokaal. Dis ’n byekorf van bedrywigheid soos genooide gaste aankom en hul toegangskaarte ontvang.
Nampo 2019 se tema is “Platform vir jou landboutoekoms”. Susari Teubes van Graan SA noem dat vanjaar die 53ste Nampo-Oesdag is wat dié vereniging aanbied. Die geleentheid, wat een van die grootste ter wêreld is, het verlede jaar amper 83 000 mense gelok en vanjaar stroom hier weer duisendes deur die hekke.
Hier is 775 uitstallers en van hulle is 50 buitelanders – verteenwoordigend van landbouprodukte uit Argentinië, Amerika, Frankryk, Brasilië, Kanada, Turkye, China, Denemarke en die Verenigde Koninkryk.
Buiten die logistiek rakende vervoer, uitstal en beveiliging van letterlik duisende voertuie en implemente van buitengewone afmetings in die ses weke voor Nampo, is elke uitstalruimte onberispelik afgerond. Komplekse met netjiese kampe, stalle, ’n vee-ring asook ’n reeks saadplotte strek verder as wat die oog kan sien.
’n Ten volle toegeruste hoëdefinisie-ateljee met sitplek vir 80 gaste is ingerig tussen uitstallokale. Hier kook dit tydens lewende opnames van die Nasie in gesprek-televisiereeks wat op kykNet uitgesaai word. Francois Strydom, Senwes-groep se uitvoerende hoof en Nasie in gesprek se beskermheer, verduidelik hierdie paneelgesprekke weerspieël die geesdrif waarmee boere en landbou-vennote volhou te midde van verskeie uitdagings uit ’n politieke en klimaat-oogpunt.
Ek weet steeds nie of ek kom of gaan nie, want waar begin iemand wat nie die verskil tussen ’n brokkelblaser en ’n minimumbewerking-grootsaadplanter ken nie? Tyd is ook ’n faktor, want ek het minder as ’n dag om alles te probeer inneem.
Binne ’n oogwink word ’n gawe Senwes-verteenwoordiger opgekommandeer om my rond te neem op ’n indrukwekkende John Deere Gator. ’n Uur en vyftien minute lank deurkruis ons die 40 ha-terrein – sonder om by alles uit te kom.
Stropers, sleepwaens, spilpunte. Trekkers en tenks. Windpompe, leer ek, kom in drie groottes, en een met ’n 5.5 omtrek jaag jou R240 000 uit die sak. Beeskompleks, byekorwe en balers. Friesperde, Afrikanerstoet en BKB.
By die BKB-skaapkompleks/kleinveekompleks kan jy sien hoe word ’n skaap geskeer. Suid-Afrikaanse skeerders ken hul storie. Die Suid-Afrikrikaanse lem-skaapskeerspan wen sedert 1996 elke jaar die Golden Shears-wêreldkampioenskap. In Julie vanjaar sal die span weer dié titel verdedig in Le Dorat, Frankryk. Agter die skeerhok bondel skape erg tevrede met die herfsson teen hul skielik kaalgeskeerde lywe.Dis tyd om die verkenningskoets te groet, want die Senwes-man het ander draaie om te ry. Dus verder met dapper en stapper. Verby die Standard Bank-4 x4-baan waar nuwe voertuie gedemonstreer gaan word en verby die MAXXIS-avontuurbaan wat wemel van motorfietse, side-by-sides en kwadfietse.
Opeens voel dit of ek in ’n speelpark vir reuse beland het. Of binne-in die installasie van ’n kunstenaar met ’n ateljee sonder grense. Soos toringblokke rys yslike implemente indrukwekkend teen die blouselblou lug. Blinkrooi en goudgeel staan hulle daar, dinosourusse van staal wat gemaak is om te grawe, plant en sorteer. So van naby af is die vreemde werktuie onweerstaanbaar mooi. Mens kan nie help om nader te gaan, eerbiedig een se staal aan te raak nie. Hoe bly dit so blinkskoon met die Vrystaat-stoffies wat maar draal? En wat de hel noem mens die ding?
Dié landbougeleentheid is juis die plek om antwoorde op vrae te kry. JP Jonker, produkbestuurder van Jupidex, is onmiddellik by en noem dié 7 ton-masjien ’n CTC 527 “one-way machine”. Hy verduidelik: “Dis ’n primêre en sekondêre bewerkingmasjien. Voor het jy jou ry skottels wat onkruid sny. Dan drie rye tande wat jou grond losmaak, daaragter ’n stel mengskottels wat materiaal wat op die grond lê, eweredig uitstrooi. Heel agter het jy rollers wat jou saadbed maak.” Jy het net ’n gewone trekker nodig om die hele besigheid te maneuvreer.
Wie hang by Nampo uit? Veel meer as Boer-soek-’n-vrou-kandidate. Groepe leerders in skooluniforms word deur Bayer se gesofistikeerde biotegnologiese laboratorium cum agri-inligtingsentrum begelei. Troppies vriendelike kinders van alle ouderdomme in blou uniforms waarop ritse kentekens vasgewerk is, is tot my verbasing Voortrekkers. Die Voortrekkers het ’n makeover gehad sedert my standerd ses-dae! Gesinne hou piekniek op die grasperke, studente sit en bespreek groepprojekte. Dis ’n ongedwonge, natuurlike saamwees onder die sambreel van die enkele sektor wat alle Suid-Afrikaners saambind: die landbou.
Op ’n stoep waar ek mik vir ’n rusplek sit drie mans om ’n tafel, indringend aan die gesels. Ek kan nie help nie. Is hulle boere? Hulle is. Teen my derde vraag loop haal die jongste ’n ekstra stoel. Hulle neem nie aanstoot oor my nuuskierigheid nie. Die drie Latha-broers is gebore en het skoolgegaan in Taung in Noordwes, waar hulle oupa geboer het. Cornelias (45) voer die woord. “Ons boer al sedert 2004 saam met ons suster en ander broer in Hartswater in die Noord-Kaap.” Ek vra oor landboukundige opleiding.
Cornelias grinnik. “Ek het nie gaan leer om te boer nie, ek is gebore om ’n boer te wees! My oupa het my alles geleer.” Vuyo (29) het sakebestuur studeer. Leslie (37) sê: “Ek het nie gaan studeer nie. Ek is die slim een.” Die ander twee lag saam.
Hoe werk hul boerdery? Cornelias praat weer. “Ons elkeen besit ’n 20% aandeel in Ditaung Agricultural Co-operative. Ons sussie, Thandiwe (33), werk vanuit Johannesburg; sy is goed met administrasie. Norman (40) hou die fort op die plaas terwyl ons hier is.”
Die Lathas is graanboere. Hulle lewer mielies, gort en koring aan Senwes en lusern aan hul plaaslike koöperasie. Cornelias vertel hulle het pas pekanneutbome geplant. “Ons water kom uit die Vaalharts-waterskema.”
Hoekom is hulle hier? “Ons hoort hier. Dis ons tuiste. Ons is sedert 2010 elke jaar by Nampo. Boerdery is in my bloed.”
My sewe ure is om, dis tyd om te gaan. Agter my lê die hartklop van Nampo waarvan ek net ’n snars beleef het. Binne my ’n diep waardering vir dié bedryf waarvan ek so min weet, waarsonder hierdie land nie kan nie.
Ns. Ek weet darem nou springhaasrotte is ’n plaag in Vrystaatse graanlande en mens kan vir jou ’n groot kalkstrooier koop of huur om jou lande met kalk te bestuif sodat jy gesonde gewasverbouing kry.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.