Prins Albert se rieldansers vat die (as)koek

TRAP SUUTJIES

Prins Albert se rieldansers vat die (as)koek

MADELEINE BARNARD het na die hartjie van die Groot-Karoo gereis op soek na die storie agter die Prins Albert Vastrappers. Hier ontdek sy die trotse geskiedenis van die rieldans en gesels kopstukke met die ‘dinamiet' agter dié dorp se kampioen-stoftrappers.


DIS laatmiddag op Prins Albert. Die son lê laag op die horison en verander die gebreekte bottelstukke langs die pad in skitterblink diamante. Ek soek die oefenplek van die dorp se rieldansgroep op die soom van Noordeinde, Prins Albert se townshipgebied – hier praat die mense van Prins Albert as “Die Lap”.
Ná ’n paar heen-en-were sien ek iemand wat ’n lang elektriese koord oor ’n werf uitrol tot op ’n stowwerige stuk aarde waar ’n paar moedelose bome ’n lewe probeer klou uit die dor grond van die droogtegeteisterde Groot-Karoo.
Iemand kom met ’n keyboard onder die arm aan. Luidsprekers word reg langs ’n stormwatersloot staangemaak. ’n Babakatjie kom skuur teen my been. ’n Paar mense begin stoele uit die omringende huisies nadersleep. ’n Vrou kom kry haar sit met ’n beker koffie. Iemand anders dop ’n verfblik om vir sitplek. Daar is afwagting in die lug.
Dan kom die jongmense in groepies aan, uitgedos in die Prins Albert Vastrappers se kostuums.
Die meisies dra die tradisionele rieldansuitrusting: helderrooi en guitige pienk rokke met voorskote en kopdoeke. Die jongmanne dra gelapte klere – ’n huldeblyk aan een van die dorp se ontslape legendes, die buitestander-kunstenaar Jan Schoeman, alombekend as Outa Lappies.
Hy het as kind uit protes teen die gespot wat ’n vriend oor sy flenterklere moes verduur self gelapte broeke en hemde begin dra, tot laat in sy lewe. Die jongmanne dra ook hoede en rooi vellies.
Trotse geskiedenisDie rieldans het ’n trotse geskiedenis, van die dae wat die Khoi-San en Nama-mense in ’n sirkel om ’n kampvuur gedans het ter viering van groot geleenthede, soos ’n suksesvolle jag, ’n goeie oes of ’n bruilof. Selfs al is die kampvuur nie meer daar nie, het die sirkelvorm van die dans en die vlytige voetwerk gebly.Die woord “riel” is by die Skotse “reel” geleen. Die dansvorm se begeleiding het weer sy wortels in Boeremusiek, sowel as Skotse, Ierse en Hollandse volksdeuntjies. Dit het later jare die dans van plaaswerkers en skaapskeerders geword en stories van hul daaglikse aktiwiteite vertel.
Die Prins Albert Vastrappers bestaan nog net drie jaar, maar hulle het in 2018 feitlik skoonskip gemaak in die ATKV se Rieldanskompetisie.
Hul orkes het die eerste prys gewen en die afrigter, Sara van Rooi, se liedjie “Krullerige slang” (wat oor die Swartbergpas handel) het ook ’n eerste plek behaal. Hul o.14-spannetjie het in die eerste plek geëindig en hul o.20’s tweede. Carlton Sass was die beste o.20-danser en Zanadann van Rooi (Sara en orkeslid Andy van Rooi se seun) het in die o.14-afdeling geseëvier.
Die Vastrappers se storie het begin toe Ingrid Wolfaardt, die voorsitter van die Prince Albert Community Trust (PACT), voorgestel het dat Prins Albert sy eie rieldansgroep begin. Hierdie kunsvorm was besig om ’n sterk herlewing te beleef, veral nadat Clanwilliam se Nuwe Graskoue Trappers met ’n sak vol medaljes van die World Championships of Performing Arts in Los Angeles teruggekeer het.
Denise Ohlsson en Marlene Malan van die ATKV se Prins Albert-tak het die regte mens vir dié jop in gedagte gehad, en het afgesit na Prins Albert Primêr waar Sara van Rooi, wat destyds die skoolkoor afgerig het, toe as skoonmaker gewerk het. Denise vertel hoe van die koorlede toe alreeds begin passies maak het terwyl hulle sing.
Sara is kort, maar haar teenwoordigheid is lewensgroot. As sy sing, dans almal. As sy praat, luister mense. Sy vattie kakkie. Sy is dinamiet in ’n klein, vrolike pakkie.
“Ons ken rieldans,” vertel Sara waar ek en sy styf langs mekaar op ’n bankie in die laerskool se voorportaal sit. “My ma-hulle het destyds gedans. Ons het altyd daaroor gegiggel en ons maatjies het ons gespot as ons saamdans.” Maar toe Denise en Marlene met Sara kom praat, was sy die regte mens op die regte tyd. En Sara sê: “Dis dan ons kultuur. En ons het daar en dan besluit ons vat onse trots!”
Sara het ’n paar mense genader om te kom help. Haar ma, Dora Sass, het gewys hoe die askoek getrap word en ’n paar van die ouer garde, soos oom Willem Hinkman, het kom passies wys, veral die blitsvinnige en komplekse voetwerk van die riel. ’n Mens moet lig wees op jou tone. Soos oom Willem destyds vir die jong dansers verduidelik het: “Dis ’n touch en ’n los, my kind.”
Die Karoo het sy eie styl van rieldans. “Van die rieldansers in ander streke dans hande in die lug,” vertel Sara. “Ons streek trap die Karoo-plaasriel.”
Denise en haar man, Alf, het aanvanklik al die organiseerwerk gedoen. Hulle het selfs gaan musiek soek op Oudtshoorn, en aan die begin het baie van die befondsing uit hul eie sakke gekom. Toe besluit die PACT om die Graskoue Trappers Prins Albert toe te bring – hulle was die hoofvertoning by die Landbouskou in 2016.
Tydens daardie naweek het hulle drie werksessies vir die nuwe spannetjie dansers aangebied. “Ons het toe al geweet hier gaan iets gebeur,” sê Denise. “Hulle het met almal gewerk, stap vir stap, kind vir kind. Daardie naweek het hulle vlerke gekry. Die riel was in hul siel.”
Denise vertel hoe die PACT se Ingrid in 2016 besluit het om die Vastrappers Paarl toe te vat om na die uitdunne by die Taalmonument te gaan kyk. “Hulle het aan die einde sommer op die verhoog gespring en saamgedans!”
KKNK en Suidoosterfees
In 2017 het hulle vir die eerste keer amptelik ingeskryf. Die o.14’s het tot in die halfeindronde gevorder en die o.20’s tot in die kwarteindronde. Hul reuse-sukses van verlede jaar het tot baie ander geleenthede gelei – hulle het vanjaar al by die KKNK én die Suidoosterfees opgetree.
Sara se man, Andy, is ’n onontbeerlike deel van die Vastrappers se sukses. Hy het homself leer trekklavier speel en is deel van hul orkes. As daar iets vir die dansers gedoen moet word, is Andy daar. Sara vertel hoe hulle twee op die straathoek sit en liedjies sing het toe hulle nog sonder haar ma se medewete skelm gevry het. Sara se ma sorg vir die kleurryke kostuums en help ook met alles en nog wat.
Sara skryf self die liedjies waarop haar spanne dans. Rielmusiek het sy eie sonderlinge ritme. “ ’n Mens moet seker maak dat dit nie ’n langarm-swing het nie,” sê Sara. Sy verduidelik: “Langarm is teng-tê-ê-ê. Die riel is tieDIEtietie, tieDIEtietie.”
Omdat die riel stories met musiek en dans vertel, gaan Sara se liedjies oor die alledaagse lewe in die Prins Albert-streek. Behalwe vir haar pryswennerliedjie oor die Swartbergpas, is daar ook “Van Hasselt se skuur” wat oor die bekende angora-boer Gay van Hasselt se bokke handel. “Skeer hom, skeer hom!” sing Sara.
Dan is daar “Vrydag is pay-dag” (wat oor die plaas Swartrivier se olywe gaan), “Trou wil ek trou” (dié riel vertel baie stories oor hofmakery en trouery), “Outa Lappies onse trots” (oor Jan Schoeman wat ook deur die seuns se klere gedenk word) en “Ant Mieta vannie Lap”. As daar genoeg rielliedjies is, wil Sara graag ’n CD maak.
Befondsing
Die PACT behartig nou die Prins Albert Vastrappers se administrasie. “Ons hanteer befondsing, kleinkas, besprekings, betalings, kommunikasie en dies meer,” sê Ingrid. Haar broer Anton Koning is al drie jaar lank die hoofbefondser. “Ons is altyd daar, agter die skerms, om te verseker dat alles glad verloop, en om ’n gesonde finansiële platform te skep sodat die Vastrappers kan aanhou uitblink.”
Ingrid beskryf Denise as die “beskermvrou en moeder” van die Vastrappers. Denise word flink bygestaan deur Granville Griebelaar, wat as koördineerder van die Vastrappers se aktiwiteite optree.
In die laatmiddaglig, soos die dansers aanhou dans en hul voete vlytig oor die kurkdroë aarde wikkel, kom al hoe meer mense aangedrentel. Sommige bring sitgoed, ander staan rond of hurk in die stof. Sara sing, Andy speel keyboard, oom Andries Springbok (hulle noem hom Tallie) slaan die kitaar. Toeriste stop langs die pad en kom neem foto’s.
Toe ek wegry van die oefensessie en in die truspieëltjie kyk, lê daar ’n stofwolk oor die vlakte sover as wat die oog kan sien.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.