‘Sy wás ’n klein maagd’ – bespiegelings oor sekspeste, genieë en ...

BOEKBOHAAI

‘Sy wás ’n klein maagd’ – bespiegelings oor sekspeste, genieë en André P. Brink se spel van liefde

Leon de Kock se nuwe boek oor die liefdeslewe van André P. Brink behoort selfs sónder die irrasionele gedrag van sy skrywer heelwat verontwaardiging te ontlok, skryf DEBORAH STEINMAIR.


DIE gesiene akademikus, skrywer, digter en vertaler Leon de Kock se boek oor André P. Brink se liefdeslewe skroei die rakke en hou prokureurs besig.
Maar die boek is nie al wat regslui se kasregisters laat klingel nie. Die literêre en akademiese wêrelde gons gedemp: Het jy gehoor? Penny Sparrow én Harvey Weinstein is op 9 Mei in ’n restaurant in Observatory naby Kaapstad opgemerk. Natasha Vally het die storie só op Facebook bekendgemaak:
Ek het pas gesien hoe Leon de Kock, ’n volle professor aan Stellenbosch, ’n vrou die k-woord toesnou. Nadat hy ’n ander vrou seksueel geteister het, volgehou het dat sy sy babas wil hê en haar daarna ’n stupid meisie genoem het ... die polisie probeer hom in hegtenis neem.
En dan die uitklopreël:
Die vrou het haar dweil laat val en hom gejaag. (My vertaling.)
Hy het glo weggehardloop. Daar is ’n hofsaak hangend.
Ek snuffel verder op Facebook. Vroeg in Mei skryf Leon de Kock (in Engels):
Die boek het gearriveer. Ek is sprakeloos. Drie en ’n half jaar se werk.
En sy geliefde skryf:
Hy het dit gedoen! ... Geswelde voete, manie, trane en eindelose gevegte.
Op verkiesingsdag (een dag voor Die Voorval) skryf De Kock op Facebook:
Die dag het goed begin, maar toe besef ek my uitgewer het my afgeskryf ... Dit wil voorkom asof ek as amptelike bemarker van JBP (Jonathan Ball Publishers) aangestel is. Amper afgedank as skrywer, so problematies is ek, manies, ens. Onverwags, brutaal, maar o, wat ’n vreugde ...
Sy kinders vra op Facebook verskoning:
Hy beleef die afgelope drie maande ’n intense maniese episode ... Hy was onder die invloed van voorskrifmedikasie, slapelose nagte en drank ... Dit verskoon nie sy laakbare gedrag nie, maar sal die voorval dalk in konteks plaas ...
’n Ekskollega wat anoniem wil bly, deel teësinnig: “Dis vir my uiters moeilik, hierdie storie, want hoewel ek simpatiek wil wees, het Leon my persoonlik erg te na gekom en baie ander ook in die verlede, en is hierdie soort gedrag nie ’n uitsondering nie.”
Ander fluister, agter die hand, woorde soos “bipolêr", “alkoholis", “baie manies", “lang en voortdurende issues met seks". “Oorlas". “Akademies briljant". Na bewering.
Die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch het hulle kort ná die voorval in die restaurant gedistansieer van sy gedrag:
“De Kock se onaangename geskiedenis met die departement het tot sy vervroegde aftrede in 2014 gelei, met die gebruiklike titel emeritus. Ondanks die versagtende omstandighede rakende De Kock se psigologiese gesondheid waaroor berig is, skort ons onmiddellik enige verhouding met hom op.”
Sy uitgewer, Jonathan Ball, distansieer hom ook en laat weet onder meer:
“Voor hierdie voorval het De Kock se gedrag toenemend onvoorspelbaar geword tot die mate dat ons besluit het om alle bekendstellings van sy onlangs gepubliseerde boek te kanselleer.”
Die Kwêla-onderhoud wat Sondag uitgesaai is, was effe gaterig, soos ’n stuk breiwerk wat ’n paar steke verloor het – dis duidelik dat onuitsaaibare dele uitgeredigeer is. De Kock het sy fokus, humeur en kredietwaardigheid verloor toe hy gaan draai by ’n grief wat hy destyds teen Brink gehad het. Die immer minlike Hannes van Wyk, duidelik self kwaad, het hom ten slotte nors in die oë gekyk en gesê: “Wel, ek kan net sê dit was ’n ‘interessante’ onderhoud.”
Die boek André P. Brink en die spel van liefde behoort selfs sónder die irrasionele gedrag van sy skrywer heelwat verontwaardiging te ontlok.
Ons was almal begogel deur Vlam in die sneeu en You make me possible, die briefwisselings onderskeidelik tussen die jonger, onbeholpe, maar galante mannetjieskat en sy onmoontlike, onhubare muse, en in die tweede geval die ouer homme de lettres en sy vyfde jeugbruid – die sensitiwiteit, die teer erotiek, die sprokiesagtige romanse verwoord in taal wat die smal poort van die wonder deur is.
Nou word ons idille versplinter deur Brink se persoonlike joernale, genadeloos uitgestal voor die nuuskierige oë van die volk. (En van “the people” wat The Love Song of André P. Brink kan geniet.)
In die fassinerende boek The Silent Woman bekyk die joernalis Janet Malcolm biografieë oor die digter Sylvia Plath. Sy verwys na lesers se verstommende verdraagsaamheid jeens biografieë, verdraagsaamheid wat hulle nie toon vir enige roman wat halfpad so sleg geskryf is nie. Sy meen dit maak net sin indien dit beskou word as ’n soort sameswering tussen die leser en die biograaf; “ ’n opwindende verbode onderneming: om saam deur die gang te sluip, voor die slaapkamerdeur te gaan staan en deur die sleutelgat te probeer loer”. (MALCOLM, 1995, bl. 17).
Hierdie vaardige biografie het meer as lakensake om die lyf; tog sal die saamloerders moontlik later soos een van Brink se selfbeskuldigende inskrywings voel: “Nou was alles besoedel.”
Hoe het dit gebeur? Die vyfde mevrou Brink, Karina Szczurek, het Brink se hoogs persoonlik dagboeke van bykans ’n miljoen woorde aan De Kock toevertrou – waarskynlik onder die indruk dat hierdie skryfsels die Afrikaanse letterkunde sou verryk en vir die nageslag bewaar moet word. Hierdie leser is redelik seker dat sy dit nie vooraf gelees het nie, anders sou sy dit waarskynlik verbrand het. Daar is gerugte dat sy die publikasie van die boek probeer stopsit het. Want in sy dagboeke ontsien Brink nóg homself nóg enigiemand anders.
Die breë trekke van Brink se lewe is nie aan lesers onbekend nie. Hy was ’n liefling én swartskaap van die media en hy het immers ’n flouweg gefiksionaliseerde en gesaniteerde verslag van sy liefdeslewe in Voor ek vergeet en in sy outobiografie, Vurk in die pad, opgedis. Baie van sy boeke is ook skaars vermomde outobiografie.
Brink se private mymerings sorg nogtans vir ’n skottel koue water in die gesig. Ek dink nie hy kan as narsis getipeer word nie omdat hy oor selfinsig beskik. In sy eie woorde: “Ek het geleer om baie van my kleinhede ook in die oë te kyk.” Hy het presies geweet wat hy doen en noem homself “pervers” en sê dat hy pyn sóék: “Dat ek ‘eksperimenteer’ met menselewens, & dat hoe hoër die prys v. (ander se) seerkry is, hoe meer ek my daarin indwing.” (Bl. 103.)
De Kock se ontleding is: “Ten spyte van hoe naïef, kinderlik of speels sy gedrag oor sy lewe heen ook was, het hy homself en ander diep seergemaak. Dit wil selfs voorkom asof hy hom verlustig het in die wilde bokspronge tussen skuld en selfkastyding en vreugde en erotiese bevestiging.”
Hier volg die stertkant van ’n onnoembare voorval: “En sy het begin huil. God, die verfoeilike van my gedrag.”
Die leser leer Brink met ontsetting ken as ’n berekende reeksveroweraar en beheervraat; gemeen, manipulerend, selfsugtig, by geleentheid vals. Hy lees sy minnaresse en vroue se dagboeke en briewe (soos ons nou syne lees) en onderskep en sensor hul briewe voordat dit gestuur word.
Só het vriende en lovers hom beskryf: “Verlief op die liefde.” “Slegs gelukkig wanneer hy ongelukkig is.” “Sy voël ja hom.” “Hy slaap by jou, maar hy is net aan papier getrou.”
Hy het erken: “Ek kan nie eintlik lewe sonder om verlief te wees nie,” en: “ ’n Mens word vir my eers belangrik as ek hom/haar in woorde geskep het,” en: “Dis omdat ek myself so goed leer ken het, myself met so ’n knippie sout leer neem het, dat ek skaars meer ernstig met ’n vrou kan word. Nou word alles spel.”
Sy aandagspan was kort: “Namate die verhouding toeneem en die nuwigheid afslyt en dit wat sy met ander gemeen het die oorhand begin kry oor wat uniek is in haar, sal die verhouding begin verander.”
By sy meedoënlose eerlikheid is daar tog ook sprake van selfmisleiding en “speel vir ’n gehoor”. Soms val sy inskrywings vals op die oor, soos oor die versaakte, gestorwe Jonker: “Waak oor haar, Here. Ek was lief vir haar,” wat enigsins herinner aan Jeanne Goosen se opmerking eens toe die polisie ’n aggressiewe, besope eks van haar eiendom verwyder: “Werk sag met haar, sy’s ’n geleerde vrou.”
Sy opmerkings oor minnaresse getuig van harteloosheid, soos oor Ingrid: “Ek het my geskaam vir haar gedrag die aand by ..., haar gebrek aan smaak i.v.m. klere maak my ongemaklik en geïrriteer (veral in Parys het dit my opgeval)” – maar wie het nog nie kwetsend te velde getrek teen ekse nie?
Sommige name, soos dié van sy vierde vrou, is verander, maar is tog algemene kennis. Wat van sy kinders, wonder hierdie sleutelgatloerder skuldig en dink aan ’n gedig van Antjie Krog oor haar arme kinders wat moes lees van hul ma se poes en hul pa se piel.
Daar is inskrywings wat die leser laat terugdeins, soos die volgende, oor ’n baie jong meisie: “Sy wás ’n klein maagd. Bietjie pynlik, maar tog maklik.”
Die meeste hiervan is nie nuus nie: sy erotomanie, sy Lolita-kompleks, sy voyeurisme, sy swak vir pornografie. Ek stem met De Kock saam dat hy ’n versinnebeelding is van die tyd waarin hy geleef het. Beroemde rolmodelle was waarskynlik die geniale sater Sartre en die spulse vrouehater Henry Miller.
Leon de Kock slaag treffend daarin om die “gehawende, al hoe ouer wordende Don Quichot” vir die leser te laat lewe – die tyd haal hom in en die verrinneweerde ridder se rokjagtery degenereer toenemend tot ’n gejaag na windmeulens.
Sy voormalige bloedbroer Breyten Breytenbach het hom daarvan beskuldig dat hy pous speel oor die Afrikaanse letterkunde met sy Rapport-resensies in elke genre en dat hy gedurig aan sy beeld bou. Soos ons almal het Brink kritiek gehaat, maar in sy dagboek erken hy dat daar waarheid in steek.  
Die biografie bevat fel en gevatte kritiek deur gesiene letterkundiges oor sy styl, sy benoeming vir die Bad Sex in Literature-prys, sy stereotipering van vroue, sy dun storielyne, sy melodrama en purper landskapbeskrywings, maar ook erkenning van die hoogtepunte van sy oeuvre.
’n Geskende portret begin by blootstelling aan lig vorm aanneem: van ’n wellustige hedonis, ’n briljante smulpaap, ’n aandagvraat wat aan selftwyfel en ondraaglike eensaamheid ly, maar ook ’n kunstenaar en akademikus met ’n haas ongelooflike werketiek; in die woorde van Antjie Krog: “Hoe doen iemand dit? Skryf hordes romans, dramas, reisboeke, vertalings, veg anti-sensuurgevegte, beleef enorme roem, verskeie huwelike, maar antwoord self die telefoon, tik sy eie belasting uit op ’n gewone tikmasjien, nooi jou vir ete, kook self die kos, vertel die ongelooflikste grappe, het pas die beste boeke gelees, ’n kind aangery na buitemuurs, ’n eksvrou se hond park toe gevat.”
Die leser ervaar ook empatie met die oorwerkte skrywer wat hom met soveel gesinne en verantwoordelikhede opgesaal het en wat deur die sensuurraad gemuilband en deur die destydse Nazi-agtige veiligheidspolisie geviktimiseer is; vervolging wat hy volgens J.M. Coetzee met heelwat moed en integriteit verduur het.
Raymond Chandler het gesê: As jy van ’n boek gehou het, moenie die skrywer ontmoet nie. Sal hierdie boek skade doen aan Brink se onskatbare nalatenskap as vernuwer van ’n letterkunde, anti-apartheidsaktivis, teoretikus, kritikus, vertaler, resensent, kanoniseerder en aanmoediger van jong skrywers? Móét ons ander se vuil lakens besnuffel en teen die lig hou?
Daardie soort vrae hou my snags wakker. Mag ons Picasso se werk bemin ten spyte van die wyse waarop hy vroue behandel het? Gelukkig is Hitler se skilderye swak en Steve Hofmeyr se liedjies schmaltzy, maar moet ons Wagner saam met die badwater weggooi? Mag net die moreel onaanvegbares skep? Is daar iemand op aarde wie se hande skoon is?
Onvermydelik kom die biograaf, die loerder by die sleutelgat, self onder die loep. Op bl. 74 skryf De Kock oor: “... die onbeskroomde eerlikheid wat mens dikwels in private dagboekinskrywings vind. Hoe anders sou Brink kon erken dat hy ’n beskonke, bedwelmde vrou se borste gestreel en gesoen het? Maar in 1963 toe hierdie toneel afspeel, was feminisme en genderpolitiek nog maar net ’n skim en is sulke gedrag nie noodwendig as verkeerd beskou nie.”
Die leser verbind onvermydelik die kolletjies na die biograaf se beweerde seksuele teistering van ’n wildvreemde vrou in 2019, te midde van wêreldwye bewusmaking en die #metoo-veldtog.
Nog vier vrae:

Waar was feminisme en genderpolitiek op 9 Mei vanjaar in Obs?
Het die ondraaglike spanning van drie en ’n half jaar se intense fokus tot Leon de Kock se onverklaarbare gedrag aanleiding gegee? Het hy te lank na die afgrond gestaar tot die afgrond begin terugstaar het?
Kan sekere dinge ooit verskoon word?
Het feminisme al enige vordering gemaak?
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X