Die dood is eintlik eenvoudig, maar die as bly ’n raaisel

DOODSAKE

Die dood is eintlik eenvoudig, maar die as bly ’n raaisel

In ’n kruik op die kaggelrak, by ’n gedenkmuur ingemessel of op ’n windstil dag op Paternoster in die see gestort? ANNELIZE VISSER wil weet wat maak mens met die as.

Image: 123RF7ROBERT HOETINK

EK het pas my testament in die kaggel gegooi omdat die vuur nie wou vat nie en dit die enigste stuk papier was waarop ek my hande kon lê wat ek hopelik nie vanaand gaan nodig kry nie.

Niks daarvan was in ieder geval meer geldig nie, insluitend die kêrel wat volgens my destydse begrafnisopdragte Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort-Wes by dié somber geleentheid sou moes sing en speel.

Afhangende van hoeveel glase wyn die bepalings vir die begrafnis vooruitgegaan het, sou daar skimpe wees oor 'n flash mob, iets soos die haka, maar natuurlik nie die haka nie. Ek het geen idee hoekom ek ’n op die oog af lukrake opvoering wat ’n perfek gechoreografeerde hoogtepunt bereik so ontroerend vind nie, maar noudat ek dood is, maak dit ook nie meer saak nie. Doen die haka as julle aan niks anders kan dink nie.

Ek het ook al heelwat moeite gedoen met die playlist vir die soort partytjie wat ek in lewe altyd op die laaste oomblik gekanselleer het (hou dit in gedagte).

Daar is sonder uitsondering ’n versoek vir ’n stoet, waarvoor ek nog altyd ’n swak plek gehad het. By aanskoue van ’n prosessie van bedroefdes met hulle hoofligte aan, moet ek altyd ’n traan wegpink, of huil ek soms snot en trane. By die afwesigheid van ’n begraafplaas as bestemming, is ek nie seker op watter roete die stoet sal beweeg nie, maak ’n plan.

Met my as mag julle natuurlik maak soos julle wil, maar hou in gedagte ek kan nie swem nie en woude maak my bedompig.

Spit my gerus in onder die moerbeiboom saam met Hailey Williams, ons gemmerkat wat haar lewe vier jaar gelede so tragies en onverklaarbaar in ons buurvrou Fatima se tuin verloor het. Hou net vir ’n tydjie daarna die honde dop asseblief, want ek en Hailey sal verkieslik in vrede rus.

Ek het nie nou of môre of oormôre of ooit die tyd om aanbevelings te maak ten opsigte van die beskikking van my stoflike oorskot nie; ek het eenvoudig nie daardie soort verbeelding nie, hoekom reken jy is daar vir die afgelope tien jaar ’n skoenboks met as in my klerekas?


Die boks was al oral: in kaste en laaie van Woodstock tot in Gordonsbaai, en selfs vir ’n tydperk waaroor ek effens berou het in die garage van my huurhuis in ’n nogal deftige buurt van Stellenbosch, waar dieselfde skelms wat my pa se boor gesteel het, met die Dove-boks gepeuter het en toe op die vlug geslaan het.

Ek moes by ten minste een of dalk twee geleenthede die boks stilweg verskuif na die blyplek van ’n niksvermoedende geliefde, en dit mettertyd ewe diskreet elders hervestig.

Die probleem met die rondreisende as is dat my pa eintlik ander planne gehad het. Toe ons klein was, het hy graag gesê dat hy eendag net eenvoudig sou opstyg en verdwyn, en die lekker ding van ’n hemelvaart is natuurlik dat jy nie met die as te doen kry nie. Jy hoef Dove hoegenaamd nie eens by die afskeid te betrek nie.

Later, toe hy reeds goed geweet het dat demensie sy voorland was, is die plan volgens die omstandighede aangepas. Hy gaan op ’n dag die see inloop, het hy gesê. Ek sal jou gaan aflaai, het ek gesê. Nie een van ons twee het op daardie oomblik aan as gedink nie.

Maar toe gaan hy in ’n hospitaal dood nadat ’n hand in die operasiesaal geglip het, en daar sit ons vier dae later in 'n roukamer by Durbanville Memorial Park met die geknars van die krematorium reg langsaan so luid dat ons skaars Brahms se Duitse Requiem op die draagbare CD-speler kan hoor.

Daarna ry ek nog ’n keer Bellville toe om by Dove die boks in ligblou papier toegedraai te gaan haal, en vir die tien jaar sedertdien wonder en stry ons soms oor waddefok om daarmee te doen.


Dis ’n frustrerende, futiele oefening dié:  om te probeer raai by watter kruising van lengte- en breedtelyne die mees sinvolle, die mees simbolies bevredigende, die mees vertroostende en veral mins verdelende rusplek vir die ligblou boks lê.

Ek is taamlik seker ek weet wat my pa met sy eie geliefde ma se as gedoen het: Paternoster se vulliswa het Donderdae verbygekom. Die inhoud van ons skoenboks, of in dié geval van wat die woordeboek sowaar ’n lykbus noem, het hom op geen manier geïnteresseer nie. Die lykbus kon sonder hom verder ry.  

So die raaisel is ons s’n om op te los. Die opdrag is om ’n waarde toe te ken aan al die plekke waar ons pa gewoon of waarheen hy gereis het, en aan alles wat volgens iedereen se herinnering vir hom getel het, en dan die som te maak.

Hy was ’n skilder; dalk is daar leidrade in sy werk.

Was dit die Roggeveld of die Sandveld? Die sandsteen-rotsformasies in die Sederberge, of sononder by Sossusvlei? Namakwaland in blomtyd, of die Swartland na oestyd?

Natuurlik weet ons al tien jaar lank presies waar die regte plek is.

September vanjaar kry ons mekaar dus in Parys se Latynse kwartier, reis ons uit drie rigtings soontoe op die datums van sy dood en geboorte wat gerieflik binne dieselfde week val. Hoekom dit na ’n oplossing lyk, bly ook ’n raaisel, want dis nie asof ons die Dove-boks kan saamvat en op die Pont Neuf gaan staan en die as oor die Seine-rivier uitskud nie.

Maar ons sal ten minste saam op die aangewese plek wees, en al sal dit nie die probleem met die as oplos nie, is die as dalk nie die probleem nie.


AVBOB stuur vir jou die as in ’n mooierige donkergroen sak wat nogal soos een van daardie giftbags lyk wat jy by PNA kan koop. Dit staan op ’n boekrak in die sitkamer waar die kinders dit neergesit het toe dit in Januarie uit Swellendam aankom. Dalk, sê een, moet ons maar hulle pa en my pa iewers saambêre, die ligblou boks langs die donkergroen giftbag. Sodat hulle mekaar geselskap kan hou, al het hulle nooit juis veel vir mekaar te sê gehad nie.

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.