Die balletster van Distrik Ses: Van die Alhambra na Covent Garden

KONINKLIKES EN GLANSRYKES AAN SY VOETE

Die balletster van Distrik Ses: Van die Alhambra na Covent Garden

Die 91-jarige Johaar Mosaval het eens saam met dame Margot Fonteyn gedans. En Rudolf Nureyev, oor wie se lewe die fliek The White Crow gemaak en onlangs in Suid-Afrika uitgereik is. Johaar het nie in sy eie land erkenning gekry nie, maar was die eerste swart danser in die Royal Ballet in Engeland. Hy het dr. Chris Barnard geïnspireer. Hy het by koningin Elizabeth II se inhuldiging in 1953 in Benjamin Britten se opera Gloriana gedans. MARGUERITE VAN WYK het met hom gesels.

Johaar Mosaval as Puck in A Midsummer Night’s Dream teenoor Nureyev se Oberon.
WÊRELD AAN SY VOETE ... Johaar Mosaval as Puck in A Midsummer Night’s Dream teenoor Nureyev se Oberon.
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

VERBY die skelrooi Mohammed Tikka and Meat Store in Kaapstad se Lansdowne, verby Ahmet Braai, Hassan Brothers Superette en die pers Suleiman’s Store woon ’n man wat koninklikes, adellikes en glanspersoonlikhede aan sy voete gehad het, wat gedans het met dame Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev in die Royal Ballet in Covent Garden, Londen.

Johaar Mosaval (uitgespreek Sjo-háár) groet formeel. Hy praat soos ’n Britse heer. ’n Outydse vyf-voet-vyf en oor die 90 is hy deftig in ’n taankleurige trui, pienk hemp met wit strepies, beskuitkleurige broek en bruin skoene.

Dié huis met sy loodglasvenstertjie by die voordeur, kleurryke plastiekblomme trots uitgestal en koperkandelare het hy in 1952 met sy eerste salaristjek vir sy ouers gekoop, vertel hy. “Toe was dit nog ’n goeie woonbuurt.” Die kraakskoon houtvloere ruik na politoer.

Ek verwonder my aan ’n magdom swart-en-wit foto’s, sommige in ou-ou vergulde rame: ’n jong dr. Chris Barnard glimlaggend langs Johaar met sy wit Russiese fes (1973); Margot Fonteyn, die Swanekoningin (1950), met ’n handgeskrewe boodskap: “To Johaar, with admiration to the artist.”

“Kyk na my en die koninginmoeder,” wys hy. “Sy was nogal danig oor my. Kan jy dit glo, ek was een van haar gunstelinge. Die Royal Ballet is ook dikwels na tuinpartye by Clarence House genooi.” Hy vou sy hande saam, trek asem in. “Die kristalglase, messegoed, borde met vergulde randjies en haar embleem en voorletters daarop. Die spyseniers het ons eetvoorkeure vooraf uitgevind. Een keer het ek vir lemoensap gevra. Met die heildronk loop die koninginmoeder na my en vra waar mý sjampanje is.

Johaar Mosaval kry die Winston Churchill Golden Award, toegeken deur koningin Elizabeth, van die koninginmoeder in 1975.
BEKROON ... Johaar Mosaval kry die Winston Churchill Golden Award, toegeken deur koningin Elizabeth, van die koninginmoeder in 1975.
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

‘Net ʼn goeie Moslem’

“Ek is net ’n goeie Moslem,” sê ek. Sy sit toe haar hand op my skouer, leun nader en sê: ‘Hoe bewonderenswaardig.’ Kan jy dit glo?”

Hy gesels aaneen. ’n Showman.

Vanjaar is dié kunstenaar uiteindelik in sy eie land – waar hy eens nie ’n verhoog met wit dansers kon deel nie – vereer toe hy die Orde van Ikhamanga van pres. Cyril Ramaphosa ontvang het, asook die Suidoosterfees se toekenning vir lewenslange prestasie.

Johaar is in 1928 in Little Lecirstraat in Distrik Ses gebore.

Sy ma was ’n naaldwerker, baie gelowig en lid van die Azzavia-moskee in Claremont, Kaapstad. Sy pa, ’n bouer van Distrik Ses, was nie juis gelowig nie. Dit slaan hom dronk hoe hulle bymekaar uitgekom het. “Die liefde,” was sy ma se kriptiese antwoord.

Daar is ’n groot ophef gemaak van Johaar, die oudste van tien. Sy ma het hom vertel hoe hy as baba op die tafel gesit en sy hande geklap en later daarop gedans het. “Kan jy dit glo?”

‘As kind was rugby en sokker nie vir hom nie, want dan het sy spierwit kortbroek, hemp en seilskoene vuil geword. Tog, omdat hy rats was, is hy gevra om rugby te speel.’

Sy ooms was goeie ballroom-dansers, vertel Johaar, en het hom as kleintjie op hul voete gesit en só saam met hulle laat dans.

Maar sy ouers moes hard werk om kos op die tafel te hou. En Johaar moes die jonger kinders bad, sy ma help stryk, kosmaak.

Johaar het ontvlug deur gimnastiek te doen. “By Muir Street Primary, ’n seunskool, het ek besef ek is beter daarin as almal. Beweging laat my goed voel. En ek het seker gemaak ek word raakgesien. As iemand een duikrol doen, doen ek twee.”

Hy was naby aan sy ma.

“Haar trourokke was ongelooflik. Ook dié vir die blomme- en strooimeisies. Die kralewerk was delikaat. Troues was groot gebeurtenisse. As klein seuntjie was ek sewe keer hofknapie.”

Ons gesprek dans vorentoe, agtertoe deur die dekades.

As kind was rugby en sokker nie vir hom nie, want dan het sy spierwit kortbroek, hemp en seilskoene vuil geword. Tog, omdat hy rats was, is hy gevra om rugby te speel.

Hy dink so bietjie na. Miskien is dit omdat hy altyd na beter dinge gestreef het dat sy familie vandag dink hy is “toffee-nosed”. Maar is hy dieselfde Johaar. Net dieselfde, sê hy.

Johaar Mosaval met die Orde van Ikhamanga wat onlangs aan hom toegeken is.
EER ... Johaar Mosaval met die Orde van Ikhamanga wat onlangs aan hom toegeken is.
Image: MARGUERITE VAN WYK

‘Beauty and the Beast’ was die begin

Dit is die pantomime Beauty and the Beast wat sy hele lewe verander het. Hy was in standerd 5 (deesdae graad 7) toe hy daar raakgesien is deur Dulcie Howes, alom beskou as die stigter van die geselskap wat tot die huidige Kaapstadse Stadsballet ontwikkel het. En sy wou hom afrig.

’n Paar keer sê hy hoe bevoorreg hy was dat dit gebeur het. “My ouers kon niks bydra tot my balletgeld nie.”

Hy vertel van die voorblad-koerantartikel oor sy pantomime-rol – waarvan hy toe niks weet nie, maar wat beland het by die sjegs van die madrassa waar hy en twee van sy broers smiddae in die Moslem-geloof onderrig is. Dan, grootoog, dramaties, verduidelik hy hoe hy ingeroep is deur die “owerstes” en moes verduidelik wat ballet is. “Hulle het gedink dis soos die Cape Coons.”

Johaar kom sit op die tafel voor my, demonstreer hande balletstyl geboog in die lug hoe hy dáár, vir die sjegs, gewys het ballet is harde werk. Hy het die venstertoonbank as ballet-barre ingespan.

Hy sou die port de bras, pirouette, arabesque vir hulle doen. Wanneer hy voor my sy gesig teen ’n hoek draai, sy been effens lig, sien ek as ’t ware die jong Johaar. “Ek het so ’n thrill gekry.” Die grand finale was die split. “Hulle kon hul oë nie glo nie, dog net meisies kan dit regkry.”

En daar begin sy balletloopbaan – maar die sjegs het een voorwaarde gestel: Hy móét die Moslem-geloof eerbiedig.

Om student te wees was eensaam. “Sielsalleen.”

Apartheid is in 1948 gewettig en hy studeer van 1947 tot 1949 aan die Universiteit van Kaapstad se balletskool. Dit was ongewoon en ongehoord vir ’n bruin student; Johaar was die uitsondering. Verhoë en sale was vir wit mense.

Johaar Mosaval en dr. Chris Barnard
INSPIRASIE ... Johaar Mosaval en dr. Chris Barnard
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

‘Nare’ manstudente

Daar was “nare” manstudente wat hom nooit gegroet het nie. Johaar moes agter in die klas staan. ’n Paar ballerinas, veral Editha Mills, met wie hy tot haar dood kontak gehou het, het hom bevriend. “Sy het my in haar Aston Martin ’n geleentheid gegee teen die steil Woolsackweg uit na die balletskool,” onthou hy.

Maar iets wonderliks gebeur in daardie tyd. Dr. Chris Barnard se loopbaankeuse is deur die karakter Dr. Coppélius in Coppélia beïnvloed, vertel hy.

“Ek moes dié rol in my eerste jaar dans, maar was so jonk. Só staan ek in Hanoverstraat, by die Seven Steps om te kyk hoe oumense loop.” Hy staan op en demonstreer dié skuifelstappie.

Die toekomstige en beroemde dokters Chris en Marius Barnard, toe nog op skool, was een aand saam met hul ma in die gehoor vir dié ballet. Jare later sou dr. Chris vir Johaar vertel hy is ná die ballet huis toe en kon nie slaap nie. Maar die volgende oggend het hy geweet wat hy wou studeer. En die deurslag was een van die poppe wat “lewend” word in die ballet. “Kan jy dit glo? Ek het besluit om vir die pop ‘’n hart’ in te sit. Magic.

“Toe ek Suid-Afrika in 1973 besoek het, het dr. Chris Barnard vir my ’n funksie gegee ... ek het net standerd 6 agter my naam.”

Lank voor dit, in 1949, is Johaar vir ’n oudisie ingesmokkel by die destydse Alhambra-teater in die Kaap, waar hy ’n beurs losslaan om by die Sadler’s Wells-balletskool, wat die Royal Ballet sou word, in Engeland te studeer.

Hy gee klein gilletjies van opwinding wanneer hy vertel van die “stunning bootreis” van die Kaap na Brittanje. Twee weke lank. Na daar waar hy ’n lewe sou maak.

Johaar Mosaval ontmoet prinses Margaret.
KONINKLIKES EN ADELLIKES ... Johaar Mosaval ontmoet prinses Margaret.
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

Engeland was vryheid

Vir Johaar het Engeland vryheid beteken. Hy kon konserte, die opera, kunsgalerye besoek. En hy het vriende gemaak.

Twee weke ná sy aankoms dans hy sy eerste hoofrol, Jasper in die ballet Pineapple Poll. In die Sadler’s Well-geselskap was hy ook die metgesel van Charlie Chaplin se dogter, Geraldine, wat later die karakter Tonya in die bekende film Doctor Zhivago sou vertolk. “Ek weet nie hoeveel keer ek dit gaan kyk het nie.”

Veertien-uur-werkdae, met oefeninge en optredes, min geld en min slaap, was sy lewe. Sousboontjies en blikkies spaghetti sy stapelvoedsel. Dit was immers ná die Tweede Wêreldoorlog, kos en geld was skraps. Maar buite Covent Garden het mense tou gestaan vir hul handtekening. As die balletdansers op straat geloop het, sou almal hulle uitwys, hulle was ’n gebéúrtenis.

Uiteindelik, ná Suid-Afrika se verloëning, erkenning.

In die opera Gloriana, vir koningin Elizabeth II se inhuldiging in 1953
UIT 100 DANSERS GEKIES ... In die opera Gloriana, vir koningin Elizabeth II se inhuldiging in 1953
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

Hy word trouens uit 100 dansers gekies om met koningin Elizabeth II se inhuldiging in 1953 in Benjamin Britten se opera Gloriana te dans, met die eerste uitvoering in die Royal Opera. Pres. Harry Truman van Amerika, Charles de Gaulle van Frankryk, Winston Churchill, konings, prinse – almal was daar. Op ’n wolk (sý woorde) ontmoet hy die bloubloedgaste tydens die pouse. Hy val bykans flou toe hy al die diamante in die tiaras sien.

“Daar staan hulle: die koningin, koninginmoeder en hertog van Edinburg. En ek buig en almal sê dit was so goed en so aan, en ek staar net.

“Mense het gesê ek sou nooit in die Royal Ballet dans nie, want ek was te kort, en toe word ek die eerste swart danser.” In 1960 word hy hoofdanser en in 1965 senior hoofdanser.

Margot Fonteyn en Johaar Mosaval
“DIE GRANDEST LADY OOIT" ... Margot Fonteyn en Johaar Mosaval
Image: FOTO UIT DIE BOEK BARON AT THE BALLET, ARNOLD L. HASKELL

Diplomaties oor Nureyev

Hy kies sy woorde versigtig oor Nureyev. Hulle het dikwels kleedkamers gedeel. Vir sy vaardigheid het hy net lof. Maar hy erken dat dié Rus “naar” kon wees. “Hy kon seker bekostig om arrogant te wees, want hy wás baie talentvol, maar ook bedorwe. Onthou, hy was die eerste danser wat van die Kirof na die Weste oorgeloop het.” Om met sy stilstuipe, skreeusessies en neuroses saam te leef was moeilik. Soms het Johaar sy eie grimeerkwasse geneem en na ander dansers se kleedkamers gegaan. Waarop Nureyev wou weet wat hy verkeerd gedoen het!

Een van die danse waarvoor Johaar baie bekend was, is Puck in A Midsummer Night’s Dream teenoor Nureyev se Oberon. Dit was uitputtend; ek het 40 minute aaneen gedans.” Hy en die Rus het ook die afsonderlike pas de deux in Doringrosie gedans, met Nureyev as prins en Johaar as die “Bluebird”. Die Bluebird was sy laaste dans, op 48, vir die Royal Ballet.

Johaar Mosaval maak tee in sy huis in Lansdowne, Kaapstad.
VYF ROSE ... Johaar Mosaval maak tee in sy huis in Lansdowne, Kaapstad.
Image: MARGUERITE VAN WYK ...

Die grandest lady ooit

Sy oë raak sag as hy praat van “Dame Margot, die grandest lady ooit”. Bedagsaam, empatiek, sag, plat op die aarde. “Met lang buitelandse vlugte het ons lank gesels terwyl sy langs my linte aan haar balletskoene vaswerk. Almal het van haar gehou.” Destyds het vlugte van Londen na Sydney in propeller-vliegtuie tot vier dae geduur. Dansers was doodmoeg by hul aankoms en moes eers ’n dag of twee rus voor uitvoerings.

Johaar was wêreldwyd gewild – net nie in Suid-Afrika nie. Hy is nie verbitterd nie, maar sê wel: “Ek is jammer dinge het so lank geneem om hier te verander. Vandag se jongmense is so gelukkig.” Hy het gereis na België, Spanje, Italië, Damaskus, Hongarye, Hongkong, die Filippyne, Sirië, Beiroet, Japan, Amerika, die destydse Joego-Slawië, Nieu-Seeland, Australië.

Eduard Greyling, wat Johaar Mosaval se biografie skryf. Greyling was ook 'n bekende danser (hulle het saam gedans in Petrushka) en resensent. Agter hulle is 'n afdruk van Johaar as Bluebird.
KUIER ... Eduard Greyling, wat Johaar Mosaval se biografie skryf. Greyling was ook 'n bekende danser (hulle het saam gedans in Petrushka) en resensent. Agter hulle is 'n afdruk van Johaar as Bluebird.
Image: MARGUERITE VAN WYK

Hy het saam met van die wêreld se groot ballerinas gedans – Svetlana Beriosova, Elaine Fifield, Lynn Seymour – en saam met die bekendste choreograwe gewerk, soos Kenneth MacMillan en Ninette de Valois. Twee van Suid-Afrika se voorste choreograwe, David Poole en John Cranko, is ook op dié lys.

In 1975 het koningin Elizabeth II die Winston Churchill Golden Award aan hom toegeken, waarmee hy jazz en kontemporêre dans in Amerika kon gaan studeer. Hy gaan haal die toekenning, geteken deur die koningin, waar dit op ’n tafeltjie in sy sitkamer rus, en wys dit trots vir my.

Die onderhoud trek nou op drie ure.

Kort voor lank klop Eduard Greyling, sy biograaf, en dit is tyd vir tee en botterkoekies. Eduard was ’n bekende dansmaat van Phyllis Spira. Hy was lank balletresensent van Die Burger, dosent in notasie aan die Universiteit van Kaapstad en solis van die Nederlandse Nasionale Balletgeselskap in 1974 en ’75.

“Johaar hou van praat,” vertel Eduard, wat soms van vroegdag tot laat by Johaar kuier.

“Sê ietsie van hom, soos dat hy so nederig is, ten spyte van sy internasionale aansien,” por ek.

“Maar hy ís nie,” terg Eduard. Johaar giggel so effe.

Johaar Mosaval in Petrushka
EERSTE SWART DANSER ... Johaar Mosaval in Petrushka
Image: JOHAAR MOSAVAL: PERSOONLIKE ARGIEF

Van Mekka na Londen

Ons praat oor die Koran en die berg Ararat en die hadj en Johaar se twee besoeke aan Mekka. In die laat 1950’s en met sy 80ste verjaardag het hy dié allerheilige stad besoek. Sy ouers het weer ná hulle pelgrimstog daarheen gaan kyk na een van sy balletuitvoerings in Londen. Dit was die eerste keer dat sy pa ballet gesien het.

In 1975 keer hy terug na Suid-Afrika. “Ek wou terugploeg.” Die eerste 18 maande was hy baie ongelukkig as balletinspekteur. “Ek hou nie van administrasie nie. Ek is ’n danser.” Daarna stig hy verskeie dansskole: in Parlementstraat, die Paarl en Mitchell’s Plain. “Daar was so baie talentvolle mense en nie genoeg onderwysers nie.”

‘Een van die bepalings in sy kontrak was dat hy met handskoene moes dans, want hy mag nie aan wit dansers geraak het nie.’

In 1976 het hy (die eerste swart danser tot nog toe) en Eduard saam in Michel Fokine se Petrushka in die Nico Malan (nou Artscape) gedans.

Eduard neem oor.

“Johaar moes ’n spesiale permit daarvoor kry. Piet Koornhof, destydse minister van energiesake toe John Vorster eerste minister was, het baie gehelp. Dit was tydens die Soweto-opstande ... Een van die bepalings in sy kontrak was dat hy met handskoene moes dans, want hy mag nie aan wit dansers geraak het nie. Ironies genoeg hét Petrushka, die marionet, in elk geval handskoene gedra.”

Eduard onthou ook toe Margot Fonteyn gevra is om die hoofrol in Swanemeer in die Nico Malan in 1972 te dans. Sy het daarop aangedring dat dit vir alle rasse oop moes wees. “Margot is gepaai toe sy hoor Swanemeer sou ook in die ikoniese Luxurama-teater in Wynberg vir ’n gemengde gehoor opgevoer word,” vertel Eduard.

Johaar het nie te veel pyne oorgehou van die liggaamlike “martelings” van balletdansers nie. Hy het as die karakter Jasper in Pineapple Poll, wat eintlik op punte moes dans, watte voorin sy balletskoene gesit om ratser te wees. Dit was erg seer. Hy sukkel vandag ook met knokkeltone en moet die regte skoene dra. “Maar jy oorleef. Balletbewegings werk téén die lyf se natuurlike vloei. Deesdae moet ek mooi buk en kan nie swaar goed optel nie. Jou enkels kan maklik swik of jou knieë kan onder jou padgee.”

Die ballerinas lyk dan so lig soos watte; is dit regtig so erg om hulle te lig? “Onthou, die mans moet dit maklik laat lyk om die ballerinas te lig, maar as hulle nie saamspeel en in die lug spring nie, kan jy jou rugstring of elmboog kraak as jy hulle oplig.”

Dit is vyfuur toe ek groet.

Johaar se geliefde Margot Fonteyn het eens gesê: “Great artists are people who find the way to be themselves in their art. Any sort of pretension induces mediocrity in art and life alike.” Sy kon hom in gedagte gehad het.

Ballet het Johaar laat vlieg, maar ook geanker.


PRAAT SAAM: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.