Johnny Clegg: die groot bul groet

ODE AAN 'N ROCK-IMPI

Johnny Clegg: die groot bul groet

Die Zoeloe-rocklegende Johnny Clegg het Dinsdag ná vier jaar die stryd teen pankreaskanker verloor. CHRIS DU PLESSIS, kunsredakteur van die oorspronklike Vrye Weekblad en byna vier dekades lank een van sy vriende, kyk terug op Johnny se merkwaardige lewensreis – van sy soeke na ’n vaderfiguur tot wetenskapfiksieflieks en ’n Zoeloe-stamhoof genaamd Queen Victoria.

  • 19 Julie 2019
  • Mense & Kultuur
  • 36 min om te lees
  • artikel 1 van 25
  • Chris du Plessis
Image: ROBERT TSHABALALA

JOHANNESBURG, JULIE 2019

Jonathan Paul Clegg se jare lange vriend en musikale bondgenoot Sipho Mchunu stik skielik aan sy woorde waar hy sy beste vriend vir oulaas langs sy graf groet. Hy gooi sy vuiste in die lug, amper asof in frustrasie, kyk hemelwaarts en laat ’n rou “Hamba Kahle!” uit. Dan soebat hy Johnny om nie sy volgende reis te vrees nie: “Moenie bang wees om jou vaders te ontmoet nie, Skeyi, en jou kamerade, my umfowethu (my vriend).”

Hy noem Johnny op sy stamnaam, Skeyi – dis geleen van die “skei”-deel van die woord jukskei en verwys na die houtstuk wat 'n  os aan sy juk vashou. Die bul is nou eindelik los van die juk, sê Sipho terwyl ’n tasbare stilte oor die groepie mense hier in ’n hoekie van die Hoëveld neersak.

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1983

Die bank swart donderwolke wat oor die Msinga-vallei saampak, skeel Mashiye Dladla skynbaar min wanneer hy by die tradisionele grasdakhut in sy volledige Zoeloe-krysgewaad uitstap. Hy kyk vlugtig na die lug, skud ’n bietjie poeier uit ’n leersakkie in sy hand uit en blaas dit weg. In die hut bereik die dreungesang ’n crescendo terwyl die poeier die donker lug inwarrel. 

Mashiye draai tevrede om en gaan sluit hom by sy kamerade aan, oortuig dat sy optrede die reën tot ná die dag se gebeure sal weghou. As die leier van die Indlamu-groep is dit sy plig om seker te maak dat die weer nie die belangrike verrigtinge belemmer nie.

Wanneer die krygers eindelik uit die hut tree, van kop tot toon in oorlogsdrag geklee, dra ’n jong Johnny Clegg dieselfde amaShoba (koeisterte wat om die boarms en onder die knieë vasgebind is), izinjobo (lang diervelle om die heupe gebind) en amaBheshu (’n lendedoek van kalfsvel) as die res, maar sy ligte vel vorm ’n sterk kontras met dié van sy broers van die Chunu-stam.

Agter hom staan Dudu Zulu, ’n goeie vriend en een van die groep se vurigste vegters. Dis 1983, nog voordat Johnny ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika en Frankryk geword het, nog voordat “Zulu” op die punt was om net nog ’n vierletterwoord te word, en nog voordat Dudu wreedaardig in die nabygeleë Keats Drift vermoor is.

Die krygers stap asof gehipnotiseer met ’n kronkelpaadjie af om hul opponente te gaan trotseer.

Soortgelyke groepies het onder die amaBomvu en amaTembu gevorm. Die stamme oorleef al hier sedert Shaka Zulu mede-Nguni-stamme wat teen die koninklike Zoeloehuis gekant was, na die buitewyke van sy ryk gedryf het.

Dis waar die moeilikheid begin het, en waar dit steeds broei. Vandag gaan ’n stryd vir die boeke wees ...

JOHANNESBURG, JULIE 2013

“Vandat ek klein was, wou ek ’n warrior wees,” sê Johnny Clegg doodernstig terwyl hy die skare mense fyn dophou wat vir sy 60ste verjaardag bymekaargekom het.

“En dit blyk dat ek my gesin aangesteek het. My seun Jesse en my vrou, Jenny, is al twee warriors. Hulle worry heeltyd. Op die ou end worry Jesse gewoonlik dat Jenny dalk worry oor iets waaroor hý worry ...”

Johnny kom gefokus en ontspanne voor waar hy staaltjies sommer so uit sy kop vir die groep vriende en kollegas staan en vertel.

Behalwe vir sy verjaardag is dit om nog ’n rede ’n besonderse geleentheid: Dis die eerste keer in jare dat Johnny en sy jare lange vriend en musikale bondgenoot Sipho Mchunu saam gaan optree.

Jesse Clegg en Johnny Clegg
Jesse Clegg en Johnny Clegg
Image: JESSE CLEGG/INSTAGRAM
‘Sipho & Garfunkel. Simon & Clegg. Wanneer die twee se harmonieë saamsmelt, word dit ’n tydlose Suid-Afrikaanse gesang.’

Ná soveel jare en rituele sorghumbiere is hulle steeds ’n formidable span. Tydens die klanktoets die middag het die personeel in verwondering staan en luister.

Die twee stemme het al soveel keer saam gedans dat dit feitlik onmoontlik is om die een van die ander te onderskei wanneer hulle die ou Zoeloe-ballades oor vroue, oorlog en beeskultuur sing.

Sipho & Garfunkel. Simon & Clegg. Wanneer die twee se harmonieë saamsmelt, word dit ’n tydlose Suid-Afrikaanse gesang.

Slegs ’n paar uur vroeër het dinge aansienlik doller gegaan.

“Ek voel soos ’n vreemde mens in ’n vreemde land,” het Johhny gemompel terwyl hy in sy vlootbou kombi rondgejaag het om ’n paar laaste take af te handel. “Sestig-wees voel vir my soos ’n onbekende terrein.”

Dit sál wees, het ek gedink, want jy jaag nog net so afkop rond soos toe jy 20 jaar oud was.

Op ’n normale dag sou Johnny nog vir Baf gehad het om hom met die rondryery te help. Maar min dinge in Johnny se lewe was eintlik normaal, en sy betroubare lyfwag van die afgelope drie dekades, Baf of Bafazane, was tydelik buite aksie.

Die skynbaar onstuitbare Baf – hy is die onderwerp van Juluka se liedjie “Bullets for Bafazane” – is die vorige week vir die vyfde keer geskiet, maar dié keer was dit deur sy eie toedoen. Hy het afgebuk om sy beursie uit te haal toe sy vuurwapen afgaan en hom deur die been skiet.

“Jy weet,” sê Johnny terwyl hy by ’n systraat indraai en sy hand op die paneelbord slaan om te keer dat die umhupe (’n tradisionele Zoeloe-musiekboog wat hy die middag vinnig van tou en stokkies vir die aand se uitvoering aanmekaargeslaan het) by die oop venster uitgly. “Die lewe is ’n alewige balanseertoertjie tussen sekuriteit en betekenis ...”

Voordat hy kan uitbrei, begin sy foon raas. Dis ’n persoonlike boodskap van Jacob Zuma, toe nog president in die tyd voordat hy wyd gediskrediteer is  – ’n lang verduideliking oor hoekom hy ongelukkig nie vanaand se verrigtinge sal kan bywoon nie. Ongesteur sit Johnny die foon af en hervat sy gedagtes.

“Dis ’n behoefte aan struktuur te midde van al die chaos. Te veel sekuriteit, en jy stomp af en sterf. Te veel soeke na betekenis sonder antwoorde kan jou ook doodmaak. Maar ons vind slegs betekenis deur struktuur af te breek ...”

Hierdie ontydige oefening in filosofiese dekonstruksie is tipies Clegg. Enige iets kan tot dié gedagtestroom lei: die skielike gedagte aan Bafazane se ontbering, ’n motorfietsryer wat verbyjaag, ’n verweerde duif wat op een van die verbyflitsende huise se dak gaan sit ... Sy ma is waarskynlik ook aan so ’n dekonstruksie van die gebeurtenis onderwerp toe Johnny die eerste keer uit sy bababedjie geval het.

Johnny Clegg en oudpres. Nelson Mandela voor die 46664-konsert in 2007.
SPESIALE OOMBLIK ... Johnny Clegg en oudpres. Nelson Mandela voor die 46664-konsert in 2007.
Image: TEBOGO LETSIE/THE TIMES
‘Maar wat Johnny verfrissend anders maak – op ’n goeie en ’n slegte manier – as die alledaagse glansgedrewe popster of gemiddelde rocker, is dat hy soms deur episodes van stroewe bepeinsing gegaan het.’

Wanneer sy gedagtes skielik so diep dwaal, verander hy oombliklik in die peinsende akademikus, die analitiese intellektueel – ’n gedaante waarin hy net so tuis voel as in sy gewilder openbare persona as Johnny Clegg, die musikale toonaangewer, die voetstampende danser, die vurige kampvegter vir menseregte, die bondel losbandige energie ...

Die afgelope vier dekades het Johnny en sy groepe Juluka en later Savuka meer as vyf miljoen opnames wêreldwyd verkoop en twee dosyn langspeelplate/CD’s uitgereik. Hy het die Orde van Ikhamanga ontvang – die hoogste eerbewys vir ’n Suid-Afrikaanse burger – hy is deur die Franse regering tot ridder (van kunste en lettere) verhef en hy is onlangs as die ontvanger van ’n Orde van die Britse Ryk (OBE) gelys.

Hy het die punt bereik waarna die meeste deelnemers in die Afrika/Wêreldmusiek-arena streef.

Maar wat Johnny verfrissend anders maak as die alledaagse glansgedrewe popster of gemiddelde rocker, is dat hy soms deur episodes van stroewe bepeinsing gegaan het, wanneer hy amper hardkoppig aangedring het om oor die duisterheid van die lewe te praat.

Die afgelope vier dekades moes hy die vooroordele van apartheid trotseer, deur die moeras van die kultuurboikot sukkel, in die genadelose internasionale sakewêreld struikel en weer op die been kom, ’n pa verloor en weer terugkry, van sy naaste vriende begrawe, die stukke optel ná Juluka se skielike ontbinding, en die verwerping van die Zoeloe-kultuur – sy primêre bron van inspirasie – verduur.

Jonathan Clegg het sy eerste lewenslig aanskou in die dorpie Rochdale in Engeland 66 jaar gelede. Sy pa, Dennis, was lid van die Britse Koninklike Lugmag en was op ’n basis in Gwelo (nou Gwedo) in die ou Rhodesië gestasioneer. Daar het hy Johnny se ma, Muriel, ontmoet wie se ouers in die omgewing geboer het.

Jare later, tydens 'n besoek aan Muriel in 'n ouetehuis in Johannesburg, word haar oë steeds glasig toe sy oor hul vroeë verhouding praat: “Honde was mal oor hom,” vertel sy liefdevol. “Hy het altyd rondloperhonde op pad na my huis toe opgetel, amper soos die Fluitspeler van Hamelin.”

Toe sy dienstyd verby was, het Dennis na sy tuisdorp teruggekeer en Muriel gevra om by hom te kom aansluit. Tydens haar besoek later is die verhouding hervat en het sy met Johnny swanger geraak.

Die grou weer en eng Britse kultuur het die joviale Muriel egter gou terug huis toe laat verlang. Sonder om vir haar ma te sê, het Muriel se pa na Rochdale gevlieg om sy dogter te gaan haal, en ná ’n paar “delikate onderhandelings” het hy met haar én die ses maande oue babaseun na Zimbabwe teruggekeer.

Nelson Mandela en Johnny Clegg vir Asimbonanga

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1983

Terwyl die krygers in rye deur die bosse na die oorlogsveld aangestap kom, deel Dennis Clegg – toe op sy eerste besoek aan Suid-Afrika – met my sý weergawe van die gebeure waar hy in ’n natuurlike borrelbad in die Mooirivier sit.

“Dit het gevoel asof Johnny se ma hom op vakansie geneem het toe hy ses maande oud was en nooit teruggekom het nie. Maar as hy by my gebly het, sou hy waarskynlik vandag ’n onderwyser of ’n boekhouer gewees het.”

‘As kind het Johnny in sy soeke na ’n vaderfiguur gou tuis gevoel in die Zoeloe-kultuur met hul fokus op manlikheid.’

Eers dekades later, ná Juluka se sukses, het Johnny die hulpbronne gehad om sy pa te gaan soek. In die Zoeloe-kultuur word ’n man deur sy manlike bloedlyn aan sy voorvaders verbind en dis in ’n seun se aard om sy pa te “vind”, volgens Johnny.

Toe hy eindelik vir Dennis in Rochdale opgespoor het, was dit bittersoet. “Ek het my lewe lank na daardie oomblik uitgesien, maar toe ek van die vliegtuig moes afklim, het die werklikheid skielik ingesink. Wie is hierdie mens? Hoe lyk hy? En hoe gaan hy reageer?”

As kind het Johnny in sy soeke na ’n vaderfiguur dit uiteindelik gevind in die kollektiewe subliminale krag en energie van Zoeloe-manlikheid. “Hierdie mans is fisiek ingestel en geleer om ’n gender-eksklusiewe energie uit te straal waarin al die ander kan deel,” verduidelik hy.

Dis omdat hulle ubukunzi – of bulgees – het. Dis ’n onstuitbare, onafhanklike en selfs hardkoppige innerlike krag wat elke man moet ontdek en moet leer om te beheer.

As die ubukunzi reg ingespan word - sodat dit in harmonie saam met die res van die gemeenskap kan werk, kan daardie individu die status van iqawe (militêre leier) of selfs inDuna (stamhoof) kry. Indien nie, word hy ’n shinga – ’n afvallige en moontlik ’n vernielende element. Maar dis ook dikwels die shinga wat die beste vegters, kunstenaars, digters en dansers maak …

Vandag word die ubukunzi hier in Msinga in al sy glorie verteenwoordig waar Johnny se pa se stem deur die tromme se eggo in die vallei uitgedoof word.

Wanneer die krygers die oorlogsveld bereik, trek die skare los met ’n gejuig. Elke stam vorm ’n kringetjie en begin soos bye dreun – dis ’n klank wat later in Juluka se musiek herhaal is.

Elke nou en dan sal ’n impi (Zoeloe vir kryger) van die kringetjie wegbreek en ’n giya (oorlogsdans) uitvoer wat sy persoonlikheid weerspieël. Iewers in die amaChunu-bondel veg Johnny nes die res vir ’n kans om sy staal te wys, om sy waarde in sy gemeenskap te bewys.

Wanneer elke groepleier ’n gepaste groep krygers geïdentifiseer het om sy stam te verteenwoordig, laat hy hulle in gelid staan, waarna hulle as ’n deeglik gechoreografeerde eenheid een van die ander groepe aanval.

Johnny Clegg en Savuka in 1988

YEOVILLE, JOHANNESBURG, 1962

Voordat Johnny vaderlike troos in die Zoeloe-kultuur gevind het, is die rol van die tradisionele pa vervul deur Dan Pienaar, ’n misdaadverslaggewer vir die Rand Daily Mail met wie sy ma getroud is nadat sy in die 1960’s na Johannesburg verhuis het. Maar sy stiefpa is ook toevallig die een wat hom aanvanklik aan Afrika-kulture blootgestel het.

“Dan was die een wat my aan die geheime van die ‘Donker Kontinent’ bekendgestel het,” het hy verduidelik. “Hy het dikwels na die noorde gereis en altyd maskers van die Kongo en Malawi teruggebring, asook tromme en ratels en allerhande ander goed.”

Maar weens sy tradisionele Afrikaanse agtergrond was Dan ook ’n streng dissiplineerder en Johnny het gereeld van kleins af in die agterkamer van ’n woonstelblok in die straat af gaan skuiling soek by die opsigter, Charlie Mzila, wat hom oor die seun ontferm het.

Johnny het Charlie ontmoet waar hy tradisionele Zoeloe-straatmusiek (masikande – ’n verdraaiing van die Afrikaanse woord musikant waarna deesdae meer as maskandi of maskanda verwys word) op ’n kitaar buite ’n koffiewinkel in Bellevue naby sy huis sit en speel het.

Die meeste mense dink Johnny se mede-Juluka-lid, Sipho Mchunu, het die jongman die eerste keer aan die wêreld van tradsionele Zoeloe-kultuur, -dans en -musiek bekendgestel. “Dit was Charlie wat vir my die deur na dié wêreld oopgemaak het,” het Johnny altyd aangedring.

Charlie het vir Johnny geleer hoe om masikande-musiek op die kitaar te tokkel en die basiese passies van die indlamu-dans geleer. Hy was saam met Johnny toe hy die geheime wêreld van die Zoeloe-trekarbeiderkultuur die eerste keer betree het. En hy was daar toe Johnny sy eerste Zoeloe-naam, Madlebe (groot ore), gekry het. Zoeloemans kry in hul leeftyd verskillende en soms baie letterlike byname wat as ’n tydlyn van hul persoonlike geskiedenis dien.

Nog een van Johnny se name, Wabaleka No-Chehasi (die seuntjie wat met die Checkers-sak weggehardloop het), het verwys na sy eerste ervaring van ’n tradisionele Indlamu-dansgroep by ’n hostel vir Zoeloe-trekarbeiders waarheen hy saam met Charlie is. “Jy voel hulle voordat jy hulle sien,” het hy aan my verduidelik tydens ’n onderhoud vir die Cape Times in die middel-80’s. “Die grond druis onder jou voete.”

Terwyl hulle vir die dansgroep gewag het, het ’n ander groep skielik opgedaag en daar het ’n hewige bakleiery uitgebreek. Die knopknieries en vegstokke, bloed wat spat en gevolglike chaos was te veel vir die jongman wat nog nooit ’n gewelddadige stryd tussen twee Zoeloe-groepe beleef het nie.

Hy het met sy Checkers-sak waarin sy mbatata (Zoeloe-sandale van ou motorbande gemaak) was na die oorkant van die pad laat spaander.

‘Johnny se laaste tradisionele naam, en die een wat hom bygebly het, was Skeyi – ’n Zoeloe-weergawe van die woord jukskei, die implement wat gebruik is om die vooros se strop vas te maak.’

In die jare daarna het Johnny al hoe dieper by die Zoeloe-trekarbeiderkultuur betrokke geraak en sy name gekry namate daar groot gebeurtenisse in sy lewe was, soos toe hy uitmekaar geslaan is in sy eerste poging tot dlala ’nduku (stokgevegte), en toe hy deur die apartheidspolisie huis toe geneem is omdat hy die Groepsgebiedewet oortree het toe hy op 17 na die Makabaleni-vallei in Zoeloeland weggehardloop het na die tuiste van sy jare lange vriend en Juluka-venoot, Sipho Mchunu.

Hoe onvleiend sommige van die Zoeloe-byname ook al was, is dit as erename beskou en dis dié name wat die gemeenskap tydens ’n seun se giya uitroep.

Daar is verskeie oorgangseremonies voordat ’n Zoeloeseun ’n volwaardige impi genoem kan word. Die eerste een is Iphape, wat verwys na die wors wat van ’n bees se long gemaak word. Dit word op ’n stokkie geryg en op warm klippe verhit, en is ’n delikatesse en beloning vir seuns so jonk as vyf jaar oud wat die kuns van stokgevegte leer in hul poging om hul uhukunzi (“bulgees”) te vind.

Wanneer hulle gereed is vir hul mondigwording as amaBungu (jong krygers), moet hulle ’n giya voor die hele gemeenskap uitvoer. Die giya is ’n soort skaduboksgeveg teen ’n denkbeeldige teenstander (of jou alter ego) met die izoliHauw (skild) en isiquili (stokke) as jou wapens, en die uboko (vegstok) vir beskerming. Maar die geveg is ook ’n bevestiging van die jong kryger se status as ’n manlike lid van die gemeenskap.

Tydens die giya sal die gemeenskap dié status uitdaag deur hom te tart en hom sy soms neerhalende byname toe te snou. Dis maak of breek vir die jong vegter.

Johnny se laaste tradisionele naam, en die een wat hom bygebly het, was Skeyi – ’n Zoeloe-weergawe van die woord jukskei, die implement wat gebruik is om die vooros se strop vas te maak. Dit verwys na hom as ’n leiersfiguur in die Chunu-stam, een wat die gemeenskap bymekaartrek.

En dis ’n gemeenskap wat nodig het om ’n bietjie bymekaargetrek te word ...

December Africa Rain met Juluka

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1820 – 1940

Die konflik tussen die stamme in die Msinga-vallei heers al sedert die dae van koning Shaka. Namate die stigter van die Zoeloeryk die onderskeie Nguni-faksies na die buitewyke van sy gebied verdryf het, het spanning tussen die stamme en in die koninklike Zoeloehuis begin ontstaan.

Dit was so erg dat die amaTembe van Msinga en Shaka se troepe mekaar twee keer die stryd aangesê het by die Mzinyathi-rivier (Buffelsrivier) en dat die amaTembe later selfs saam met die Britte teen die Zoeloehuis geveg het tydens die Slag van Isandlwana toe lord Chelmsford deur Cetshwayo verneder is – dit was ook die tema vir Johnny se liedjie “Impi”.

Hoe verder die Nguni-stamme na die rand van wit nedersettings gedryf is, hoe groter probleem het ruimte geword. Nie net omdat weiding ’n kwessie was nie, maar ook omdat ’n Zoeloe-stamhoof se vermoë om grond aan ’n naburige stamhoof te kan afstaan – dié handeling staan as khoNza bekend – die grondslag van sy mag vorm.

Hoe meer hierdie reg deur ’n tekort aan ruimte beperk is, hoe meer het die struwelinge onder buurstamme toegeneem. Aan die begin van die vorige eeu het van die Msinga-faksies toe ’n plan beraam om lede van die koninklike Zoeloehuis na die vallei uit te plaas.

Dié nedersetters wat veronderstel was om die oorspronklike inwoners te versoen en beheer oor die gebied te neem, het later as “Uthuli lwama Zulu” of die “Zoeloe-stof” bekendgestaan. Maar dinge het erger pleks van rustiger geraak totdat die wrywing ’n hoogtepunt in die eerste dekades van die 20ste eeu bereik het.

Daar het vir die eerste keer ’n bietjie verligting gekom toe ’n plaaslike stamhoof met visie in die vroeë 1940’s ’n einde aan die geweld gebring het. Hy was behep met die Britse monargie en het homself Hoofman Queen Victoria genoem – dit was hoegenaamd nie ’n komiese naam in ’n tyd waar selfs die geringste teken van ’n glimlag op die verkeerde oomblik jou jou lewe kon kos nie.

Dit was hy wat met die idee van ’n danskompetisie vorendag gekom het om die vrede onder die vyandige Msinga-stamme te herstel. “Laat hierdie slagting nou einde kry,” het hy aangekondig. “Pleks van onder mekaar baklei gaan ons van nou af teen mekaar dans.”

Die Indlamu-dans bevat elemente van die tradisionele Zoeloe-oorlogsdans, asook al die fisieke komponente wat ’n stryd verteenwoordig: die oorlogskreet, die skielike aantog, die harde voetstampery om ’n slag teen die vyand te simboliseer, die regterhand in die lug wat kamma ’n spies vashou, en die linkerhand wat ’n denkbeeldige skild dra. Die dansers wat op hul rug val – dit was altyd baie gewild onder Juluka en Savuka se gehore – is later by die choreografie ingewerk en kon op ’n oorwinning of ’n nederlaag dui.

Wat ook al die simboliese betekenis was, die paradoksale instelling van ’n oorlogsdans vir vrede het wonderbaarlik gewerk en gehelp om die konflik onder die Msinga-faksies te laat bedaar. Dit het tot en met 1975 geduur toe Hoofman Queen Victoria dood is en die soeke na sy opvolger begin het, met al die bloedige gevolge wat daarmee gepaardgaan ...

Fever. Johnny Clegg en Juluka.

JOHANNESBURG, 1982

Sogenaamde “crossover”-musiek het nie eintlik in Suid-Afrika bestaan totdat Johnny in die 1970’s met Juluka (“Sweat” in streektaal) op die plaaslike musiektoneel verskyn het nie.

Daar was oor die jare verskeie pogings om inheemse Afrika- en Westerse musiekstyle te vermeng, en dit het wel tot ’n paar skatte gelei in genres soos sichatamiya, masikande, Afrika-jazz, kwêla-fluitjie-jive (later meer bekend as kwêla) en mbaqanga, maar daar was ’n gaping: Niks het ewe veel aftrek onder die stedelike middelklas-hipster en die gewone township-inwoner gekry nie.

Daar was ook solo-probeerslae deur mense soos die plaaslike jazzman Steve Eliovson en Suid-Afrikaanse folksangers soos Tony Bird, Edi Niederlander en Paul Clingman. Party van hulle was meer suksesvol as ander.

‘Hier was hierdie jong wit man wat ’n “geheime” musikale erfenis vanuit “die Donker Kontinent” aangebied het in ’n formaat wat selfs vir wit Suid-Afrikaners aanvaarbaar was.’

Maar die Clegg/Mchunu-vermenging het meer opskudding in die kommersiële musiekbedryf veroorsaak as Joan Rivers by ’n Amiese Kersfeesete.

In die groep se gloriedae het selfs stoere Bloubul-rugbyondersteuners en hul vroue met hul groot blonde kapsels “Impi” rondom braaivleisvure van Groblersdal tot in Garsfontein gesing, terwyl die refrein van “Woza Friday” en ander voetstamptreffers van Zoeloe-popalbums soos Ubuhle Bemvelo in shebeens in stede in Suid-Afrika opgeklink het.

Dit was alles baie anders, met ’n hoofletter A.

Hier was hierdie jong wit man wat ’n “geheime” musikale erfenis vanuit “die Donker Kontinent” aangebied het in ’n formaat wat selfs vir wit Suid-Afrikaners aanvaarbaar was. ’n Algemene reaksie onder wit gehore op Juluka se debuutalbum was hoe “bekend” dit geklink het. Dit was omdat feitlik elke liewe voorstedelike Suid-Afrikaanse “Baby Boomer” sedert geboorte aan sulke melodieë blootgestel is.

Al daardie klingelende en fyn verweefde wysies was reeds in voorstedelike Suid-Afrika se onderbewussyn ingeëts danksy hul huishoudsters wat na die apartheidsbeheerde Radio Bantoe geluister het terwyl hulle die stoepvloere met Cobra blink gepoets het. En Clegg het dit reggekry om daardie melodieë saam te vat en in iets nuuts te verpak.

Die resultaat was ’n Engelsman, netjies “toegedraai” in ’n agtergrond van die Zoeloe-kultuur, maar met die geesdriftige, omvattende en humoristiese flair van ’n jong antropologiedosent in sy fleur. Vir die meerderheid van die Suid-Afrikaanse middelklas was dit hul eerste werklik insiggewende en veilige blik op die wêreld anderkant die (Mvubu-)rivier.

Die Juluka-konserte was legendaries, veral in sekere venues soos Kaapstad se Goeie Hoop-sentrum. Van dié optredes is in 1986 tot ’n baie suksesvolle album verwerk.

Nog lank voordat Suid-Afrikaners blootgestel is aan die geforseerde Castle-bieradvertensies en ander ongemaklike Reënboognasie-uitbeeldings waar wit en swart mense kastig in harmonie sosialiseer, het Juluka daarin geslaag om Suid-Afrikaners fisiek en sosiaal te verenig op ’n manier wat ons nooit kon indink nie.

En hoe vernederend dit ook al was om te ontdek dat wit mans nie kan dans nie, kon niemand dit nog voorheen regkry om hulle uit hul sitplekke te laat opstaan om dit so gewillig te bewys nie.

Die groep se tydsberekening was boonop perfek, met soveel gewone Suid-Afrikaners wat na ’n soort kulturele versoening gesmag het. Juluka was die eerste groep wat Suid-Afrikaners – en eintlik enigiemand wat wou luister – die geleentheid gegee het om werklik die wonder van multikulturele harmonie te ervaar.

Op en van die verhoog af was Sipho Mchunu (wat ook sonder sy pa grootgeword het) en Johnny Clegg die verpersoonliking van Ebony en Ivory, maar sonder die pynlik sentimentele afwerking deur kunstenaars soos Lionel Ritchie of Paul McCartney.

In 1983 is ek namens die Nasionale Pers gestuur om my eerste onderhoud met Johnny Clegg te voer. Hoewel al hy redelik bekend en vyf albums sterk was, het hy ietwat skrikkerig vir die wêreld voorgekom. Hy was entoesiasties en nuuskierig, maar daar was ook ’n onderliggende gevoel van ongemak en ongeduld.

Ek is rondom middagete na hom toe en eers teen skemer terug. Hy het verskoning gevra toe hy my by die deur afsien. “Jammer, maar as jy die knoppie druk en ek kom eers op dreef, sukkel ek om te stop ...”

As ’n kranige leser en iemand wat aktuele nuus verslind het, het hy oor alles gepraat, van die ontluikende digitale era tot Egiptiese mitologie. En daar sit ek met twee gratis kaartjies vir die Kaapstad-vertoning en wonder hoe op dees aarde ek dit alles vir ’n halfbladartikel gaan verwerk.

Maar tydens die onderhoud het ek ’n paar definitiewe karaktereienskappe opgemerk, waarvan een sy humoristiese waarnemingsvermoë is.

Jare later het ’n kennis my knaend gevra om Johnny te ontmoet en ek het eindelik ingestem. Die man was eens een van Suid-Afrika se beste uitvoerende bestuurders in die reklamebedryf en het saam met sy gesin na Kanada geëmigreer, waar hy ongelukkig aan chroniese depressie begin ly het.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika, skynbaar van alles behalwe haarverlies genees, het hy ’n lewensafrigter geword. Hy het gereeld op die TV verskyn as ’n aktivis vir positiewe denke en in ’n swart T-hemp met die woord “YES!” in groot, wit letters daarop gedruk.

Ek het die twee van hulle by ’n gim aan mekaar voorgestel.

Ná die tyd vra ek vir Johnny hoe die afspraak afgeloop het.

“Ek weet nie,” het hy skynbaar heeltemal ernstig gesê ... “Dit was vir my baie moeilik om te konsentreer op wat hy sê terwyl elke liewe haartjie wat nog op sy kop staan elkeen hul eie stelling wil maak.”

Ander staaltjies spreek weer van sy vrygewigheid wat soms aan gekheid gegrens het. En soms net gewoon menslik was. Nadat hy met sy eerste mentor in die Zoeloe-gemeenskap kontak verloor het, en toe hy ná Juluka se sukses die finansies gehad het, het hy na Charlie Mzila gaan soek.

Hy het hom in ’n trekarbeiderhostel in die Vosloorus-township in Ekurhuleni opgespoor, en toe hy sien in watter armoede sy ou vriend leef, het hy hom en sy gesin finansieel gehelp om op die been te kom sodat hulle vir die res van hul lewe gemaklik sou leef.

‘Johnny was allesbehalwe ’n engeltjie, maar volgens die musiekbedryf se standaard was hy silwerskoon.’

Dit spreek alles van Johnny se goeie, outydse lojaliteit en sy wil om die regte ding te doen.

Op pad na ’n Oujaarspartytjie in die vroeë 1990’s het een van die voertuie in ons entourage per ongeluk ’n hond raakgery en bloot aanhou ry. Johnny het verkies om die laaste minute van daardie jaar aan deure te klop in die Johannesburgse rykmansbuurt Houghton met die hoop om die eienaar op te spoor.

Mens kan jou net dié absurditeit indink:

“Wie is dit, liefie?”

“Johnny Clegg met ’n dooie cockerspanjoel.”

“Natuurlik, skat.” (Terwyl die man saggies vir sy ewe aangeklamde vriend sê: “Dank vader sy meng net een maal per jaar tequila en eggnog.”)

Johnny was allesbehalwe ’n hoofseun, maar volgens die musiekbedryf se standaard was hy silwerskoon. Hy was vir langer as drie dekades getroud en redelik drank- en dwelmvry (behalwe miskien vir ’n slukkie en trekkie hier en daar tydens die Zoeloe-rituele). Roem het hom nog nooit beïndruk nie, allermins sy eie.

Mense was dikwels verras oor hoe pretensieloos en sonder airs hy is. (“Hulle is baie oulike mense” het hy van Trudy en Sting gesê, en “sy's orraait, maar ek weet nie waaroor die bohaai gaan nie” het hy ná sy ontmoeting met Sharon Stone,op die kruin van haar beenkruising-faam, kwytgeraak.)

As dit nie vir sy vrou, Jenny, se modesin was nie, sou hy waarskynlik by vergaderings opgedaag het met een van daardie basketbalkeps met die propellertjies op. Jenny is ongetwyfeld die spil waarom al die Cleggs draai en die enigste een vir wie Johnny sou toelaat om die laaste woord in te kry. Sy sleutels en kouse sou nooit gevind word as dit nie vir haar was nie. 

Hierdie ietwat sosiale ongemaklikheid staan in skrille kontras met die gefokusde, selfversekerde onderhandelaar sonder tierlantyntjies in sy natuurlike habitats: die opname-ateljee, die verhoog, die toerbus of die lesingsaal. Sy aard om mense maklik te vertrou het hom egter al ’n paar keer met “kneusplekke” in die sakewêreld gelaat.

Volgens Jenny het sulke voorvalle egter die vegter in Johnny na vore gebring. “Hy gee nooit moed op nie, maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie.” Sy verwys nie net na die tyd wat Johnny se industriële-afval-onderneming vir 'n wyle gedreig het om skeef te loop nie, maar ook na Johnny se stryd teen kanker. (Johnny is een van 'n klein persentasie mense wat langer as vier jaar met die siekte geleef het.)

Scatterlings of Africa met Savuka in 1985 op Ellispark

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1983

Op die strydveld loop die skare opgewonde rond. Elke sosiale groep kan duidelik aan hul onderskeie tradisionele drag uitgeken word. Die kaalbors amaTshitshi (ongetroude maagde), die Xgisa (ongetroude nie-maagde) in hul pers mantels, en die getroude vroue met hul ronde, breë rooi hooftooisels (isicholo).

Die mans helder op en die vroue vermy skaampies hul kyke wanneer die tamaai Chunu Iqhawe (militêre leier) Mkhize sy verskyning maak. Hy is ’n legendariese stokvegter en onoorwonne in die hele Isifunda (streek). Die dreunsang, geneurie en fluitery kan skaars bo die oorlogstromme gehoor word.

Hierdie geneurie en dreunsang sou vir baie voorsate van die Afrikaner-pioniers en Britse troepe wat in die 1800’s hier gestasioneer was onheilspellend bekend geklink het. Dis wat Boereleiers soos Piet Retief-hulle gehoor het in die vroeë oggendure langs die Ncome-rivier (Bloedrivier) voordat die oorlogskreet “Bulalani Abathakathi (maak dié dood wat ander met medisyne doodmaak) met dagbreek weerklink het. Selfs vandag word die eerste aanslag van die dansers deur die kreet “Bulala Zonke!” (maak hulle dood) voorafgegaan.

Hierdie dans word slegs op een dag van die jaar, Welwillendheidsdag, uitgevoer. Soos die meeste ander plattelandse gemeenskappe in KwaZulu-Natal bestaan die Msinga-stam vir 11 maande van die jaar meestal uit vroue, kinders en senior inwoners. In Desember trek die trekarbeiders, tradisioneel mynwerkers, huis toe vir ’n blaaskans.

Teen dagbreek op die oggend van die dans word ’n os doodgemaak deur ’n kort mes in sy blad te druk. Hoe langer die dier sukkel om aan die lewe te bly, hoe beter. Dis ’n aanduiding van die krag van die gemeenskap. Daarna word die os geslag en die groot stukke vleis word in hope sout gerol en op die oop vuur gegooi vir die fees later daardie dag.

Today I'll be in studio on Kfm 94.5 just after 7.30am. Listen out! Stream it here: http://www.kfm.co.za

Posted by Johnny Clegg on Tuesday, January 30, 2018

JOHANNESBURG, 1988

“Daar was ’n tyd,” sê Johnny met ’n nostalgiese glimlag, “toe die Apartheidspolisie die grootste slag van hul loopbaan sou slaan as hulle op enige oomblik van die dag by my huis sou aanklop.”

Hy verwys na die middel- tot laat-1980’s toe die Nasionale Party se “geheime wapen” op sy walglikste, psigotiese beste was en Johnny homself midde-in ’n storm bevind het. ANC-kaders in KwaZulu-Natal was in ’n volskaalse stryd gewikkel met die tradisionele Inkhata-magte, en skielik is baie van sy vriende en kennisse in die Zoeloe-gemeenskap gedwing om kant te kies terwyl die gaping tussen die groepe al hoe groter geraak het. Dit was broer teen broer.

Danksy Johnny se diplomatieke vaardighede, sy vlotheid in Zoeloe en sy begrip van die komplekse sensitiwiteit van voetsoolpolitiek was hy in groot aanvraag as bemiddelaar en het hy gereeld onwettige byeenkomste vir die ANC-straatkomiteeleiers in sy huis in Kensington, Johannesburg, gehou. Dit was ’n uiters waaghalsige toertjie waarmee hy besig was.

Die sogenaamde kultuurboikot het sake net vererger. Die handelsboikot het sin gemaak weens die eenvoud daarvan. Maar daar was ’n geweldige opbloei in plaaslike agitpropteater, en kuns en protesmusiek gedurende dié tyd, en baie Suid-Afrikaners het gevoel ’n algemene boikot op kultuuraktiwiteite sou teenproduktief vir die struggle wees.

Thank you #London last night was a great show! I loved every minute, tonight is my last show at Eventim Apollo I am looking forward to seeing you there

Posted by Johnny Clegg on Saturday, August 19, 2017

Die debat is ontleed en uitmekaargetrek tot op die punt van verspotting, en Johnny en Juluka is by die toenemend belaglike twis ingesleep. Terwyl die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) en die Afrikaner Volkswag geleenthede gereël het om die herdenking van die Groot Trek te vier, het die eens eenvormige demokratiese kulturele massa in teenstrydige splintergroepe verdeel, elkeen met sy eie agenda en aandrag daarop om ’n stem te hê.

Weens die toenemend militêre omstandighede het woorde soos “kulturele guerrilla” en “musikale bevryders” begin opduik. Daar was sprake van ’n “selektiewe kulturele boikot” om die algehele kultuurboikot te vervang, en die onderwerp is tydens die Verenigde Nasies se Simposium oor Kultuur Teen Apartheid in Athene bespreek.

Volgens Clegg, wat aktief aan die simposium deelgeneem het, het die forum erken dat “daar onder die onderdruktes van Suid-Afrika ’n kulturele oplewing was en dat progressiewe kultuuraktiwiteite nie net nié geïsoleer moes word nie, maar tot elke prys ondersteun moes word.”

Daar is ooreengekom dat dit slegs moontlik sou wees as al die kunstenaars aan groter kulturele organisasies met progressiewe beginsels onderhewig sou wees en dat dié organisasies aan internasionale anti-apartheidsbewegings moes rapporteer. Hulle wou basies ’n netwerk van artistieke verantwoordbaarheid skep.

Dit het natuurlik die Suid-Afrikaanse anti-apartheidsbewegings senuagtig gemaak. “Hulle was met reg bekommerd oor hoe hierdie progressiewe kultuurbewegings geïdentifiseer sou word, en wie die identifisering sou doen,” het Johnny verduidelik.

‘Skielik wou elke Tom, Duduzile en Harry met ’n oom in selfopgelegde ballingskap Suid-Afrikaanse musikante voorskryf oor wanneer, waar en hoe hulle hul kuns moes beoefen.’

Die ooglopende gevaar was voorgeskrewe kunste en eindelik sensuur. Kunstenaars het hulself weer eens in ’n moeilike situasie bevind. Hulle kon nie hulself vrylik uitdruk nie uit vrees vir vervolging, en as hulle nie hulself sterk genoeg uitgedruk het nie, sou hul natuurlike vordering deur die demokratiese dryfkrag belemmer word.

“Hoewel kunstenaars nie hulself heeltemal kan isoleer nie – jy is of deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap of nie – is vryheid van uitdrukking en vryheid van assosiasie noodsaaklik vir ’n kunstenaar se groei,” het Clegg gesê.

Een van die gevolge van hierdie kopstampery was Johnny se stigting van die Samas (Suid-Afrikaanse musiekpryse) wat die probleem moes oplos van musikante se vervreemding van die voetsoolpolitieke werklikhede in die townships, waar struwelinge tussen die kunstenaars en die mense al hoe gewelddadiger geraak het.

Nadat die noodtoestand in 1986 aangekondig is, is ’n reeks konserte van Durban tot Sekunda deur militêre aktiviste ontwrig wat toerusting gesteel en aan die brand gesteek het, en selfs vername progressiewe kunstenaars soos Sipho “Hotstix” Mabuse met klippe bestook het.

Skielik wou elke Tom, Duduzile en Harry met ’n oom in selfopgelegde ballingskap Suid-Afrikaanse musikante voorskryf oor wanneer, waar en hoe hulle hul kuns moes beoefen.

Te midde van dit alles word Johhny van die BMU (Britse Musiekunie) geskors en verbeur hy die geleentheid om by die legendariese Nelson Mandela-konsert vir Vrede in Londen op te tree toe die organiseerders sien dat hulle nooit ’n toestemmingsbrief van Winnie Mandela ontvang het nie ...

The brand new single off of my album, "King Of Time" is available across all platforms. "I've Been Looking" which...

Posted by Johnny Clegg on Sunday, March 4, 2018

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1983

Toe Johnny van sy dansgroep losbreek en met sy roetine begin, sien hy vlugtig sy ou vriend en dansmaat Dudu Mntowaziwayo Zulu. Dudu was skraal, maar verrassend sterk en soepel. As ’n gesiene danser het hy ’n belangrike rol in Juluka se verhoogoptredes gespeel.

Wanneer die voetstampery eers in volle gang was, was dit soms moeilik om te onderskei of die skare jong vroue vir die groep as ’n geheel gejuig het, en of hulle net oë vir die aantreklike jong Zoeloe gehad het.

Maar hier waar Johnny nou voor die skare in Msinga optree, het hy geen idee dat die magstryd tussen die streke in die daaropvolgende jare weer sal opvlam en die toekoms van die danse en die stabiliteit van die gemeenskappe van Keats Drift sal bedreig nie.

Voor Hoofman Queen Victoria se dood was daar twee moontlike opvolgers – ’n Chunu-danser genaamd Nxele, en ’n Zoeloe-stamgenoot, Thibanisi. Toe die hoofman Thibanisi as sy “nommer een” aangewys het, was daar baie ontevredenheid in die vallei.

Selfs voor dit is die eeue oue onmin in die streek vererger weens die feit dat Johnny, wat eers saam met ’n Chunu-man genaamd Mvovo en sy groep gedans het, van groep verander het en saam met Dudu, ’n afstammeling van die “Zoeloe-stof”, begin dans het. Die vure van hierdie jare lange vetes is weer eens aangevlam en het tot ernstige onderlinge struwelinge tussen die dansgroepe van die amaChunu en die amaZulu gelei.

Dit was Dudu wat Johnny gehelp het om die Indlamu te her-choreograveer toe die stamhoof in 1975 oorlede is en die dispuut oor sy opvolger al hoe strammer geraak het. Hulle het die nuwe dans “Wonke Wonke” (almal vir almal) genoem.

En terwyl Johnny nou daar dans, weet hy ook nog nie dat Dudu in Mei 1992, nadat hy verhoë oor die wêreld heen met hom sou deel, in ’n koeëlreën naby sy huis in Keats Drift sou sterf nie – met ’n AK-47 in die rug geskiet.

Sy dood sou die gevolg van ’n dekade lange taxi-oorlog in sy streek wees – nog ’n konflik wat waarskynlik met die ou stammestryd in Msinga verband gehou het.

Johnny was teen die grond. Dudu se huis langs die Mooirivier, waarin ek en Dennis Clegg daardie oggend gewas het, het vir Johnny net so baie soos huis gevoel, Dudu se familie was soos sy eie. Jare later sou die liedjie “Osiyeza” (die oorgang) aan Dudu Mntowaziwayo Zulu opgedra word.

Maar waar Johnny op daardie oomblik die kollig steel, is hy salig onbewus hiervan. Die skare juig toe hy op sy rug val en in ’n stofwolk wegraak ...

In 2018 het van Suid-Afrika se beste kunstenaars Johnny Clegg se "Osiyeza" – The Crossing of Die Oorgang – opgeneem ter ere van die kunstenaar en sy werk.

JOHANNESBURG, 2012

Die blote beskrywing van Harrison Ford wat aan ’n dakrand hang net oomblikke voordat hy na sy dood val, is genoeg om enige gehoor te laat regop sit. Dis die toneel waar Ford as Rick Deckard deur die androiëd Roy Batty (Rutger Hauer) aangeval word in die 1982-kultusfliek Blade Runner, en Johnny is besig om die prentjie vir sy gehoor van twee te skets, voordat hy met ’n gedetailleerde ontleding van die filosofie agter Philip K. Dick se wetenskapfiksie lostrek.

“Daai toneel,” sê Johnny vir sy twee jong seuns, Jesse en Jaron, “is ’n keerpunt in die storie,” en dan begin hy vir hulle verduidelik hoeveel ander belangrike geheime van die wêreld daar in dié rolprent versteek is. By tye dra die knetterende vuur langs hulle tot die dramatiese verduideliking by.

Die seuns sit op afgesaagde boomstompe en staar na die vlamme terwyl hul pa praat. Ek verwag dat een gaan sug of lag, of een of ander teken van tienerjarige skeptisisme gaan wys, maar daar is niks nie.

‘Jesse, wat nou uit eie reg ’n bekroonde musikant is en stadig maar seker die Amerikaanse mark betree, stel in álles belag, nes sy pa.’

Hulle moes dit beslis al voorheen gehoor het, maar hulle weet daar is altyd ’n kinkel in die kabel as Pa eers wegtrek. En hy is vanaand goed op dreef terwyl hy die distopiese verhaal se hooftemas van sterflikheid en selfverheffing ontleed.

En dan, asof vooraf afgespreek, begin die seuns hul pa se siening en ontleding bevraagteken. In die gesprek wat volg, word daar onderskeid getref en verbindings gemaak tussen Ridley Scott se pre-kuberpunk-werk en alles van Mary Shelley se Frankenstein tot Bybelse verwysings en die Groot Vloed.

Soms raak die gesprek so vurig dat Johnny homself moet verdedig – dis ’n ongewone posisie vir hom om in te wees, en een waarin net Jenny hom gewoonlik plaas. (“Sy het die beste bullshit-radar wat ek al ooit teëgekom het,” sê Johnny graag.)

Jesse, wat nou uit eie reg ’n bekroonde musikant is en stadig maar seker die Amerikaanse mark betree, stel in álles belag, nes sy pa. Maar die huidige onderwerp is so reg in sy broer, Jaron, se kraal – hy is ’n groot wetenskapfiksie-aanhanger wat tans rekenaaranimasie in Vancouver studeer.

Hulle het my lankal, iewers tussen die morele implikasies van genetiese ingenieurswese en die invloed van moderne tegnologie op die omgewing, verloor.

Dié prentjie is so algemeen soos enige voorbeeld van interaktiewe storievertelling op enige ander plek in Afrika, soos dit al eeue lank geskied. Dis net die agtergrond wat verklik dat ons in die hartjie van voorstedelike Johannesburg is. Skielik voel die gesis van die vuur baie ongehoord terwyl mikrokosmos in makrokosmos verander ...

Jesse en Johnny Clegg http://vevo.ly/97Pj0V

MSINGA-VALLEI, KWAZULU-NATAL, 1983

Namate die dansery ’n hoogtepunt bereik, is dit asof die donker wolke bo ’n eggo van die dawerende tromme hier onder word. ’n Enkele ry impi’s strek oor die veld uit wanneer al die stamme as een groep bymekaarkom. Hulle stamp hul voete soos een man op die maat van die musiek. Later word hierdie tamaai, veelkleurige honderdpoot deels deur ’n stofwolk verswelg terwyl hulle al hoe vinniger trap.

Dan is dit verby. En soos elke jaar direk ná die laaste trap, begin die eerste druppels in die stof plons, asof dit so geprogrammeer is. Vir die Zoeloe-mense is die reënbui ’n seëning van die voorvaders. Die oorwinningsfees volg.

Groot stukke gesoute vleis word in die skare ingeslinger en die kinders skarrel vir die hande vol lekkergoed wat gestrooi word. Die gisgeur van emmers vol umqomboti meng met ander prominente aromas: vuurrook, sweet, bees- en bokmis, en modder.

Mashiye Dladla, die dansleier van die amaChunu, stap weg van sy spanmaats en lig sy gesig hemelwaarts. Terwyl reëndruppels op sy voorkop en oop handpalms val, lyk dit of sy gesigsuitdrukking sê: Die muti het gewerk. Dit het die reën tot op die regte oomblik weggehou. En daar sal vrede heers – vir nou.

NASKRIF

Dis reg om te sê Suid-Afrika het ’n majestueuse kultuur-ikoon verloor, maar vir dié wat hom as ’n toegewyde man, pa, broer, seun en vriend geken het, het die bul bloot die kraal verlaat vir ’n groter weiveld. Dit sal onmoontlik bly om hom te vergeet. 


KOM PRAAT SAAM: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om kommentaar te lewer op hierdie artikel. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.