Slaap klein beminde

WANT MY LIEFDE REIS MET JOU MEE

Slaap klein beminde

Konteks: HENK SERFONTEIN het vir ’n nag in die bed geklim met ’n eks se hond en Rooiborsduif, Breyten Breytenbach se versamelbundel met liefdesverse saamgestel deur Charl-Pierre Naudé.

'n Jong Yolande Ngo Thi Hoang Lien wat Breyten as 19-jarige in Parys ontmoet het.
ROOIBORSDUIF ... 'n Jong Yolande Ngo Thi Hoang Lien wat Breyten as 19-jarige in Parys ontmoet het.
Image: HENK SERFONTEIN

DIE Riebeekvallei is net meer as ’n uur se ry van Kaapstad en omdat die padwerke op pad nooit klaarkry nie, moet mens gewapen wees met ’n klankbaan wat kalmte bring. Net voor die lang wilde draai by Malmesbury druk ek Diana Krall en Tony Bennett se CD Love is here to stay in die speler.

Dit begin met ’n verwerking van Ira Gershwin se “'S wonderful” en ek sing saam “'S wonderful, 's marvelous (that)  you should care for me" terwyl die graansilo’s regs by my verbyflits in Malmesbury se hoofstraat. Die tyd het die soepelheid van Tony Bennett se stem aangetas en dit kraak soos liefde aan die einde van ’n verbrokkelende liefdesverhouding.

Van hier is dit 20 minute totdat ek moet links draai by Kloovenburg en voordat ek by my eks se huis, die oorspronklike bywonershuis van die plaas Allesverloren uit 1856, moet binnestap.

’n Versoek het in die week gekom of ek vir ’n aand die huis kan oppas en na die honde kyk. Die eks het baie mooi met ’n WhatsApp-boodskap gevra en emoji's van blommetjies bygevoeg. Ek het na my selfoonskerm gestaar en gedink dat ek en die skerminkels nog altyd oor die weg gekom het. Dit sou ook ’n geleentheid wees om my emosionele volwassenheid te demonstreer.

Maar om vir ’n nag in die bed te klim met 'n ander man se honde, veral ’n eks s’n, sal ek nie op my eie kan aandurf nie.

Gewapen met Breyten Breytenbach se pas verskene versamelbundel liefdesgedigte wat ek laas naweek by die Tuin van Digters op Wellington gekoop het, stop ek voor Allesverloren. Die twee olyfbome wat ek geplant het, staan steeds by die hek. Hulle was maar heuphoogte toe die liefde nog soos ’n duif sy vlug wou oopbreek.

Ek het nog altyd van die Napelsgeel huis met sy groot stoep gehou. Dat die tuin deur die jare gelos is om in ’n wilde oerwoud te verander, met riete en ’n outydse suurlemoenboom met takke wat laag hang, maak die boheemse in my wakker.

Die aand het soet geruik soos die bed van ’n geliefde, maar ek het na die kombuis gestap en vir die honde kos gegee.

Ek het ook aan die twee weeshonde hul name gegee. Daar is Coco alias Chanel wat nes haar naamgenoot ’n bevryde feminis is en as sy in ’n ander lewe ’n mens sou wees, eerder broekpakkies as frilletjiesrokkies sou dra. Sy was gendervloeibaar nog voor die term uitgedink is.

Sy benader my van agter en druk haar kop tussen my bene deur sodat haar ore deur my bene platgedruk word en ek haar nou gryswordende wenkbroue tussen die swart pels kan sien. Haar DBV-dae is lank vergete. Wanneer ek haar voorkop streel, wikkel my bene só saam met haar opgewondenheid dat ek byna my balans verloor.

Vandat ek die huis verlaat het, is sy die mevrou dokter.

Dan hol Bella by die bywonershuis se trappe af. Sy het ten spyte van haar ongelukkige kinderlewe haar gees herwin en intussen in die belle of the ball verander. Op pad na my hardloop sy die oorblyfsels van ’n gestorwe tortelduif deurmekaar sodat die vere in die wind flap.

Die voordeur van die huis kraak soos destyds en die plafonne is steeds hoog, maar hierdie eens gelukkige ruimtes waarin “'S wonderful” soms oor naweke weerklink het, het die mineurtoonaard van die oorspronklike plaas se naam vir my aangeneem: Allesverloren. Dit word ’n huis waarvan die mure verdwyn en die woorde in Ingrid Jonker se gedig “Ontvlugting" waar word:

my lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke
waar ons eenmaal was

Vroegaand stap ek deur die tuin waar ’n jasmynstruik voor die liefde verlep het, gebloei het soos die maan.

Die aand het soet geruik soos die bed van ’n geliefde, maar ek het na die kombuis gestap en vir die honde kos gegee. Die gebruiklike verhoudingspolitiek het tussen Coco en Bella uitgespeel en ek het ná die tyd droëwors en souterige meelkoekies vir hulle aangegee. In hul oë het my herinneringe van goeie tye geglinster.

'n Jong Breyten Breytenbach sois uitgebeeld deur Cloete Breytenbach op die voorblad van Rooiborsduif.
SOOS VAN VLERKE ... 'n Jong Breyten Breytenbach sois uitgebeeld deur Cloete Breytenbach op die voorblad van Rooiborsduif.
Image: HENK SERFONTEIN

Toe die maanlig deur die blare van die oorgroeide tuin skyn, vorm bewegende skaduwees teen die venster en klim ek met Breyten se Rooiborsduif in die bed. Op die buiteblad van die bundel liefdesverse is ’n foto wat Breyten se broer Cloete van 'n jong Breyten en Yolande op ’n trein in vermoedelik Parys geneem het.

Wanneer ek die boek toemaak, verdeel die buiteblad die geliefdes sodat net die woorde tussen hulle oorbly. Op die agterblad rus Yolande se kop op Breyten se skouer soos in die digter se intieme gedig “slaap klein beminde", waarin die digter oor die muse waak.

Terwyl ek vir die eks ’n WhatsApp stuur om te laat weet alles is veilig en in orde by die huis, kom klim Coco saam met my in die bed. Sy krul teen my op soos 'n naakte John Lennon teen Yoko Ono, soos op daardie ikoniese foto geneem deur Annie Leibovitz in 1980.

Ek het my boek neergesit en die bedlampie langs my afgeskakel, na Bella gedraai en haar styf vasgehou asof sy Yoko Ono is.

Op die foto lê Lennon opgekrul soos ’n fetus langs sy ten volle in swart geklede geliefde. Sy muse word vir ’n oomblik die Freudiaanse moeder terwyl hy onbewus is dat hy net vyf uur later hoër, ligter en vryer sal wees. ’n Bewonderaar sou hom later die dag doodskiet.

Met daardie herinnering in my kop het ek besef dat spesiale oomblikke omtrent altyd van korte duur is. Ek het my boek neergesit en die bedlampie langs my afgeskakel, na Bella gedraai en haar styf vasgehou asof sy Yoko Ono is. Sy het my swart pelsjas geword. Daar, onder die lakens, het die pasgelese reëls uit Breyten se liefdesverse deur my kop bly spiraal.

Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif
want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie,
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ’n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

Coco Chanel het die nag saam met my in die bed deurgebring. Die skaduwees het bly flikker oor ons gesigte. Die maan het bly sweef in die helder, oop, swart lug. Ons het oor mekaar bly waak soos bemindes, maar iewers in die nag het sy gaan soek na haar eintlike pa, die een wat ’n verjaarsdag deel met Breyten.

Ek het die volgende oggend alleen wakker geword soos elke dag in my woonstel in die stad. Ek het opgestaan en poeierkoffie gemaak. Hy bêre dit nog op dieselfde plek.

Ek het na die slaapkamer gegaan waarin daar soveel skaduwees van my verlede lê.

Ek het vir die honde kos kosgegee en ’n WhatsApp aan my eks gestuur van ’n foto wat ek soos ’n wafferse Annie Leibovitz geneem het terwyl ek die honde meelkoekies uit my hande voer. Coco se kop het heen en weer beweeg en my foto was uit fokus, maar dit het nie saak gemaak nie.

Ek het gedink aan die woorde van Susan Sontag, die geliefde van Leibovitz. In haar boek On Photography, waarvan ’n getekende kopie op my bedkassie lê, skryf sy: “To take a photograph is to participate in another person’s mortality, vulnerability, mutability. Precisely by slicing out this moment and freezing it, all photographs testify to time's relentless melt."

Ek het na die slaapkamer gegaan waarin daar soveel skaduwees van my verlede lê. Ek het my nagklere gepak en my tas vir nog ’n laaste keer deur die huis gedra.

Ek het die voordeur agter my toegetrek en gesluit en by die trappe van die bywonershuis afgestap. Bella het uitbundig geblaf en Coco het 'n tjankgeluid gegee en agter my aangehol. Ek het hul koppe gevryf en die voorhek van Allesverloren agter my toegetrek.

Ek het Love is here to stay weer in speler gedruk. Dit het soos 'n verhouding van vooraf begin met “'S wonderful” en ek het gedink dat alles nie verlore is nie. Daar bly altyd iets oor.

Al is dit net die vriendskap wat nou al dakhoogte staan soos die olyfbome wat ek by die hek geplant het.

*Rooiborsduif – gedigte oor die liefde is saamgestel deur Charl-Pierre Naudé en deur Human & Rousseau uitgegee. Die gedig “soos van vlerke" verskyn op bl. 94. 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.