Hector Pieterson, ‘herontdek’, 45 jaar later

1976

Hector Pieterson, ‘herontdek’, 45 jaar later

In gesprek met Hector Pieterson se suster, Antoinette Sithole, ontmoet HEINDRICH WYNGAARD die jong martelaar van die Soweto-opstande as ’n stil seun wat lief was vir lag en Bruce Lee se karate-bewegings.

HECTOR Pieterson was mal oor karateflieks. Bruce Lee was sy held: “Hy het hom met sy hele hart lief gehad,” sê sy suster Antoinette Sithole. En hy kon hárdloop, ei, soveel so dat hy sy taxi-, bus- of treingeld skool toe of na sy ouma se huis, vyf lokasies verder, sou spaar deur die pad te vat of trein te steel nét ná die kaartjie-inspekteurs die laaste ronde gedoen het. Hy het Antoinette, vyf jaar sy senior, omgepraat om dit saam met hom te doen, een, twee, drie keer – hulle sou dan lekkergoed met die geld koop – maar toe hulle op 'n dag uitgevang word en hy sprint daar weg, wou die inspekteurs weet hoekom sy dié jong seun sulke verkeerde dinge leer. Anderkant die treinspoor het Hector haar gekoggel deur op en af te spring van vreugde.

Dit is ook sy spoed wat hom gehelp het om die tsotsi's van Soweto te ontvlug die dag toe hulle hom voorgekeer het met geld wat hy vir sy ma na sy ouma moes neem. Hy het besef hulle gaan die geld op hom vind en hom nie daarmee laat wegkom nie. “Hei, boeta, kom hierso,” roep hulle toe. “My ma het my gestuur,” het hy gekeer, maar hulle het min in dié verduideliking belang gestel. Hulle deursoek hom toe, vind die koevert met die geld en maak dit oop. Toe grýp hy dit terug en laat spaander. “Ek is mal oor die storie,” lag Antoinentte nou, “omdat hy toe die geld kon red.” Nie sy spoed óf Bruce Lee se karate moves – “snake slap”, “one-two kick”, “fruit ninja”, “smack and snack” – kon hóm egter red teen die aanslag van die polisiekoeëls wat hom op 16 Junie 1976 leweloos in die arms van Mbuyisa Makhubu verewig het met Antoinette wat histeries, gillend, huilend, langs hulle hardloop nie. Bang! Boom! Pop!

Sjoe, sê Antoinette, toe ek haar vra om haar voor te stel hoe ’n gesprek die afgelope Woensdag, 45 jaar ná #Soweto1976, tussen haar en Hector sou verloop het. Sy het nog nooit nodig gehad om aan so iets te dink nie, sê sy, want die media vra nooit werklik oor Hector nie. Hulle vra oor háár. Wat onthou sy van daai dag? Hoe voel sy nou? Het dinge verander? Weinig vra hulle: Wat sou Hector vandag gesê het as hy nog gelewe het? Seker omdat hulle hom nie as volwassene kan voorstel nie; seker omdat hy so jonk was, 12, 13, toe Sam Nzima sy ikoniese foto geneem het met Antoinette se een hand wat oopgesper na die kamera wys...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.